Perspektief op gebed (26) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Maar wat van die belofte: ‘Vra en jy sal alles kry?’

Die uitsprake in Mk 11:22-26 of  Mat 21:22,28 word dikwels deur mense gesien as ‘n ‘blanko tjek’ wat die Here vir die gelowige gee. Die gelowige se geloof moet net sterk genoeg wees, dan kan hy of sy enigiets met God regkry. Ons noem dit welvaartsgebede. Nou weet ons dit werk nie altyd so nie. Paulus was nie die rykste man op aarde nie. Die dissipels het ook maar swaar gekry. As hulle nou maar net kon bid en alles kon kry, sou hulle sitausies mos heeltemal anders daar uitgesien het. Wat sou makliker vir Paulus gewees het om te vra dat almal in Korinte tot bekering kom. Die uitnodiging om te vra en te kry is dus nie ‘n ‘blanko tjek’ nie. Maar wat is dit dan?

Die antwoord hierop lê in wat presies geloof is. Geloof is nie om vir God te sê: ‘Kyk hoe goed glo ek, wys nou wat U kan doen’ nie. Dit is ook nie om God met jou geloof te probeer hipnotiseer sodat Hy maar net op jou opdragte reageer nie. Nee, ons het mos gesien dat geloof is om God raak te sien vir Wie Hy is. Dit is om God as jou Vader te erken en laag aan sy voete te buig. Daar tel jou wil nie. Daar manipuleer jy nie vir God nie; jy staan maar net in oorgawe voor Hom. Daar bely jy dat jy graag deel van sy gesin wil wees en wil doen wat Hy vra. Jy wil op jou ‘tjek’ maar net invul wat Hy wil hê.

Geloof is dus nie iets waarmee jy God kan afpers nie, maar waardeur God geheel en al van jou besit neem. Dan sal jy aanvaar wat God oor jou pad stuur. In die sin is en bly gebed maar net ‘n versoek aan God om sy wil te laat geskied, ja, sy koninkryk te laat kom.

Daarmee moet ons nou ook nie weer die baba met die badwater uitgooi nie. God kan op spesiale maniere ingryp. Hy kan ons beker van goedheid en guns laat oorloop. Ons kan by Hom dinge vra en dit verwag. Dit moet net nie met ‘n ‘afpers’ of ‘beloonmentaliteit’ gedoen word nie.

Ons moet die Here ook nie tart nie.

Soms gebruik mense ook gebed om God te tart. Die persoon pak ‘n lang rit aan, maar weet sy kar is nie padwaardig nie. Nou wil hy hê die Here moet die parte wat so langs die pad verloor, aanmekaar hou. Of  jy bid vir goeie punte in die eksamen, maar jy het nie eintlik geleer nie. Miskien kan jy nog ‘n paar voorbeelde byvoeg. Wat gaan God antwoord?

Kom ons vra: Het die Here jou nou in die steek gelaat as jou motor om die eerste draai gaan staan of as jy slegte punte in die eksamen kry? Hier speel die natuurmatigheid van die skepping saam in die antwoord wat God gee. God het sekere ‘wette’ vir die goeie verloop van die alledaagse lewe neergelê. Daarsonder sal die ganse skepping in chaos verval. Daarvolgens moet die gelowige ook leef, omdat God se wil daarin ook gestalte vind.

God hou nie daarvan om in die natuurwetmatighede in te gryp nie. Hy het eenmaal die son laat stilstaan, Hy het reën gestuur en die aarde laat oopskeur. Maar dit was uitsonderlike gevalle. In ons gebede moet ons God nie probeer tart nie. Ons moet die wetmatighede wat Hy in die skepping neergelê het, ook in ons gebede respekteer.

Here, ek worstel!

Elke gelowige ken sekerlik die ervaring om met God te worstel. Dit is nou wanneer ‘n mens ‘n moeilike of belangrike saak het wat jy met God bespreek. Jy kry egter nie ‘n duidelike antwoord nie en die probleem gaan ook nie weg nie. Jy wil egter ook nie sommer gaan doen wat jy wil sonder om te voel dat dit die Here se goedkeuring wegdra nie. Dit kan ure se intense bespreking en praat en net moedeloos voel voor God afgee. Dan worstel ‘n mens.

Elke worsteling is natuurlik uniek, omdat dit ‘n unieke pad is wat God met ‘n mens loop. Die wonder daarvan is dat as ‘n mens deur die worsteling heen aan die ander kant uitkom, jy God se antwoord gehoor het. Daar gebeur gewoonlik ook baie ander dinge met jou wat jou geestelik ryper en meer volwasse maak.

Uiteindelik moet jy ook hier in rustige aanvaarding van die wil van God tot rus kom. In die sekerheid van die beloftes van God moet die onsekerheid van die worsteling opgelos word. Soos ‘n kind wat seergekry het, troos in die sterk arms van sy pa vind, so kan die gelowige ook deur die worsteling heen die liefde van God soveel duideliker ontdek en daarin tot rus kom. God lei ons stelselmatig om sy wil te sien, en dit is die blydskap waarop worsteling uitloop.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (25) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Deel 3: God, besluit U maar, maar oppas!

Gebed is nie ‘n agterdeur nie!

Soms wil mense nie aanvaar dat God ons deur ons verstand lei nie. Hulle wil ‘n spesiale ‘teken’ hê, soos Gideon se velletjie in die dou. Maar oppas dat hierdie ‘tekens vra’ nie jou manier word waarmee jy van God jou slaaf wil maak nie. Oppas dat jy Hom nie so aan jou besluite wil bind nie!

Hoe gebeur so iets? Heel maklik. Sonder dat ons dit eintlik mooi besef, trap ons in die strik! Ek moet ‘n besluit neem oor iets belangriks, kom ons sê of ek van werk moet verwissel. Ek voel ietwat onseker oor die saak. Daarbenewens wil ek graag doen wat die Here verwag. Nou begin ek bid. Uit my goeie bedoelings kom die versoek van die Here om my in die saak te lei. Hy moet vir my wys wat Hy verwag! Sonder dat ek dit dikwels besef, onttrek ek myself hier en plaas al die verantwoordelikheid op God. Hy moet nou sê wat moet gebeur en sommer ook die verantwoordelikheid daarvoor neem! Ek hardloop ‘weg’ en laat God met die besluite agter! Hy moet besluit en sommer sorg dat alles reg gaan.

Dan kom die volgende ‘fase’ van hierdie ‘afpersingsproses’. As die Here besluit wat moet gebeur, moet Hy darem ook instaan vir die sukses van die besluit. So ontsnap ek van alle verantwoordelikheid. Ek probeer God verplig om ’borg te staan’ vir my besluit. Iemand vertel my (die ware verhaal) van ‘n persoon wat ‘n nuwe huis wou koop. Op een of ander manier het hy gevoel die Here het hom gelei om dit te doen. Die prys van die huis was egter heeltemal bo sy vuurmaakplek. Teen alle redelikheid in koop hy die plek, want hy het mos een of ander ‘teken’ van God ontvang. Na ‘n ruk was sy geldsake natuurlik heeltemal in chaos. Toe draai hy om en sê: ‘Here, U het mos gesê ek moet die huis koop. Nou toe, U is besig om U huis te verloor!’ Daarmee het hy natuurlik sy eie verantwoordelikhede lekker ontduik. Hy kon die vinger reguit en beskuldigend na God wys! Die gemors waarin hy nou is, is mos God se skuld. God het dan gesê… God is nou die slegte een terwyl die man maar net die ‘goeie gelowige’ is. Hy wou mos maar net aan die Here gehoorsaam wees en kyk waar is hy  nou!

Ons mag miskien ons kop vir hierdie man skud, maar oppas! Wat hierdie man gedoen het is ‘n baie algemene fout in gebed. Die grens tussen werklike gehoorsame gebed en ‘n poging om God te probeer manipuleer is soms baie dun!

God is nie omkoopbaar nie! ‘n Mens hoor soms van mense wat allerhande beloftes aan God maak as God net iets belangriks vir hulle doen. Die gedagte daaragter is mooi as die ‘iets’ wat die persoon terug wil doen uit dankbaarheid is. Maar as daardie ‘iets’ ‘n omkoopgeskenk word, is dit ‘n perd van ‘n ander kleur. Dink wat lê daaragter. Daaragter lê die veronderstelling dat ek iets het wat God so graag wil hê dat Hy bereid is om ‘n ruiltransaksie aan te gaan. Verbeel jou, die lewende God, die Skepper van alles staan verleë voor my? Iemand wat met so ‘n gesindheid bid dink dat hy of sy God kan manipuleer. Eintlik is manipuleer nog ‘n te mooi woord. Die persoon wil God afpers! Oppas om nie die antwoord van God op gebede so te wil manipuleer nie!

Hierdie pogings tot manipulasie van God is onaanvaarbaar. Ons kan Hom nie so in die kettings van ons eie wil vasbind nie. Ons kan Hom ook nie gebruik om ons eie wil so te legitimeer nie. Gebed is nie die agterdeur waardeur ons ons verantwoordelikhede kan ontglip deur alles op die skouers van God te laai nie.

Gebed doen iets aan JOU, onthou!

Gebed is nie die laaizone waar ons stilhou om alle verantwoordelikhede op die skouers van God te gooi nie. Net so min is dit ‘n maklike manier om alles gedoen te kry. Ek kan nie daar bevele aan God uitdeel en dan verwag dat God eenvoudig moet reageer nie. Ek moet onthou dat God deur my werk. Ons het reeds gesien dat as ek bid vir sy koninkryk om te kom, dit onder andere deur my moet kom. Gebed doen dinge aan jou en op díe manier ook vir jou.

God antwoord ook dus jou gebede deur jou eie bereidheid om gebruik te word vir die oplossing van ‘n probleem. Neem byvoorbeeld jou gebed om die verhoudinge beter te maak by die werk. Pieter het sy mes in vir jou en boikot jou om elke hoek en draai. As jy nie self  bereid is om iets aan die stukkende verhouding te doen nie, sal jy miskien voel dat die Here te min doen! Maar is die feit dat die Here so ’min’ doen nie dalk sy antwoord aan jou nie? Is jy nie dalk die onwillige een nie?

Ek kan dus nie vir dinge bid waarvoor ek nie ook myself tot beskikking van God stel om dit te laat gebeur nie. As ek bid dat God my sal help met my finansies, moet ek weet dat my eie bereidheid om iets daaraan te doen deel van God se antwoord is. Dit help nie jy bid vurig dat God iets daaraan moet doen, maar jy gaan onverantwoordelik voort nie.

Dit beteken nie dat God nou van ons afhanklik gemaak word nie. Allermins. Natuurlik kan God op ‘n bonatuurlike manier ingryp as Hy wil. Hy het dit ook al telkens in mense se lewens gedoen. Maar as Towenaar wil God nie bekend staan nie. Hy wil nie alles vir ons reg ‘toor’ nie. Hy wil wel as ons Vader bekend staan. ‘n Vader doen nie alles vir sy kind nie, maar leer sy kind om dinge self te doen. Die Vader wys hoe, leer hom, help hom. Gebed is inderdaad ook so ‘n  leerskool van God!

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (24) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Goddelike leiding kom dikwels nie swart op wit nie.

* Die Here is egter nie in die Bybel toegesluit nie. Hy is elke dag ook saam met my. Hy is deel van my lewe! Daarom kan ek ook die spore van sy teenwoordigheid in my eie lewe aflees. Dikwels wil ek ‘n sekere ding hê of doen. Tog loop alles skeef. Dit verloop nie soos wat ek dit  beplan nie. Moet ek nie iets daaruit aflei nie? Of by ‘n ander geleentheid mag ek voel dat die Here van my verwag om ‘n spesifieke ding te doen. Ek is egter die een wat nie kans sien nie. Tog voel dit telkens vir my of die Here sy ‘hand op my skouer sit’ om juis my aandag op daardie saak te vestig. Wat nou?

Die probleem met hierdie manier van goddelike leiding is dat dit nie swart op wit geskryf staan nie. Ek werk met ‘gevoelens’, maar sê nou net my ‘gevoel’ is verkeerd?!

Om in twyfel te verval is seker die aakligste deel van gebed, as daar inderdaad ‘n aaklige deel is. Net as ek seker is God wil hê dat ek iets moet doen, slaan die twyfel my voete onder my uit. Ek begin wonder of dit regtig God is wat dit wil hê. Is dit nie miskien maar net ek wat dit graag wil hê nie. Nou dink ek sommer God wil dit ook hê. As dit so is, sê die twyfel vir my, dan sondig ek mos teen God. Dan gaan God mos hierdie saak nooit seën nie. As ek nou besluit om dit nie te doen nie, begin die twyfel weer aan daardie kant vreet. Sê nou maar net dit wás God wat wou hê dat ek die ding moes doen… Wat ‘n senutergende ondervinding is dit nie. Jakobus moes sekerlik deur hierdie proses gegaan het, want hy beskryf dit so goed:

Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie,

want iemand wat twyfel,

is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag

en heen en weer gedryf word.

So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is

en onbestendig is in al sy doen en late,

moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

(Jak 1:6-8)

Die ‘medisyne’ wat Jakobus vir die twyfel voorskryf, is geloof. Geloof  aanvaar die teenwoordigheid van God in jou lewe. Dit is die vertroue dat Hy ook betrokke wil wees by jou sake. Daarom kan ‘n mens met vertroue bid.

Ek gebruik my gesonde verstand.

Maar wat bedoel ‘n mens as jy sê dat geloof jou sal help as jy aan die twyfel raak oor die wil van die Here? Dit is een ding om te sê jy moet glo, maar wat moet jy glo? Hoe weet jy jy moet glo dat dit die Here is wat praat?

Iets wat ons baie kan help, nie net met hierdie probleem nie, maar ook in die algemeen, is dat die Here gewoonlik op ‘normale maniere’ met ons werk. Ons is geneig om die Here te sien as die Een wat altyd anders of  bonatuurlik werk. Hy doen dit wel soms, maar werk normaalweg deur die alledaagse, die natuurlike.

Hoekom is dit so? Die Here het die hemel en die aarde gemaak. Van vroeg af het almal erken dat jy Hom ook deur sy skepping kan leer ken. Hy sal mos nie iets maak wat totaal vreemd is aan Hom nie. As jy dus orde en harmonie in die skepping sien, kan jy ten minste daarvan aflei dat die Here van orde en harmonie hou. So leer jy iets van Hom. Die natuurwette en normale verloop van dinge staan dus nie teenoor God en sy wil nie. Daar is wel plekke waar die sonde gevaarlike wonde in die skepping van God ingeslaan het en daarvoor moet ons wel versigtig wees.

Dieselfde geld vir ons verstand. Die manier waarop die Here wil hê dat jy moet leef is met jou verstand. Jy moet met jou verstand en wil besluite neem en dinge laat gebeur. Dit is hoe Hy ons gemaak het. Sal God dan nou skielik as ons ‘n baie belangrike besluit moet neem ons verstand heeltemal wil uitsluit? Sal hy op baie belangrike oomblikke die gawe wat Hy vir ons gegee het om mee te besluit, ignoreer? Nee, God gebruik ons gesonde verstand om besluite te neem. Dit beteken dat ons al die elemente wat in die oorweging van die saak ‘n rol speel, goed sal weeg. Daarna moet ons die besluit neem.

God lei jou deur die Gees en jou gesonde verstand.

Jy moet altyd onthou dat die Heilige Gees in jou woon. As jy klaar gebid het, bly die Heilige Gees nie daar by die bed waar jy gekniel het, agter nie. Die Gees gaan saam met jou, waar ook al jy deur die dag mag gaan. Die Gees los jou nie alleen nie. Hoewel die Gees jou soms ook op ander maniere kan lei, maak die Gees gebruik van jou gesonde verstand om aan jou lewe rigting te gee. As ‘n mens dus die Gees se leiding gevra het, rig die Gees jou ook deur jou gesonde verstand.

Veronderstel dus dat jy  nou ‘n belangrike besluit moet neem. Verlaat die Here jou nou skielik? Onttrek die Heilige Gees Hom nou skielik op hierdie belangrike oomblik aan jou sodat jy een of ander spesiale teken van buite as antwoord moet verwag? Logies gesien is die antwoord: ‘Nee’. Dit is ons ongeloof wat dink dat God nou skielik van buite af moet ingryp. Ons sukkel om te glo dat God ons op die normale manier – soos Hy ons gemaak het –  sal lei om ‘n besluit te neem nie.

Maar hoe herken ek die leiding van die Gees deur my gesonde verstand? Een ding wat seker is, is dat die Gees jou nie sal lei om iets te doen wat teen die wil van God is nie. Daarom is die belangrik om jouself gedurig af te vra waarom jy die betrokke keuse maak. As jy voel God sal nie met die keuse gelukkig kan wees nie, is dit vir jou ‘n besliste aanduiding van ‘n verkeerde keuse.

As die keuse egter ‘neutraal’ is, met ander woorde as nie een van die moontlikhede jou verhouding met die Here sal benadeel nie of vir die Here sleg sal wees nie, moet jy die een neem wat vir jou die beste lyk. Die keuse moet egter in biddende afhanklikheid en toewyding aan God gemaak word, soos reeds telkens gesê is. Dit vereis van jou absolute eerlikheid in gebed.

Maar wat nou as ‘n mens ‘n belangrike keuse moet maak, byvoorbeeld of jy met iemand moet trou, of ‘n nuwe werk of besigheid moet begin? Die risiko’s lyk vir jou hoog en jy wil nie graag die verkeerde besluit neem nie. Dieselfde geld hier. Vra die Here se leiding en oorweeg die saak noukeurig. Neem dan die besluit. Maak met jouself vrede dat dit na die beste besluit op daardie stadium gelyk het.

Geliefdes, moenie dit vir jou te swaar maak nie. Gebruik jou gesonde verstand in afhanklikheid van die Gees. Dit is die belangrikste manier waarop God jou help om besluite te neem wat volgens sy wil is. Op jou knieë, in toewyding aan Hom, met ‘n helder verstand kan jy na die wil van die Here vra!

Uit bogenoemde is dit natuurlik meer as duidelik waarom ons nie ‘ver van God af’ moet begin leef nie. Ons toewyding aan Hom mag nie verslap nie. Ons kontak met die ’beheerkamer’ mag nie skade lei nie. Soos ons hele lewe onder die leiding van die Heilige Gees is, so moet ons ook glo dat ons besluite wat ons biddend en toegewyd neem, onder die beheer van die Gees is.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (23) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Deel 2: Die spore van  God in die geskiedenis.

‘n Mens sou nou in alle billikheid kon vra: ‘Is daar nie darem ‘n aanduiding van waar en hoe ons God se wil kan verwag nie?’ Ons moet mos immers ook weet wat God se wil is as ons volgens God se wil moet bid!

Dit is nou natuurlik nie altyd so dat God ons gebede op verrassende maniere beantwoord nie. Gewoonlik is dit duideliker en eenvoudiger om God se antwoord te herken as in die geval van Paulus hierbo. (So tussen hakies, dit is ‘n goeie idee om jou eie ‘gebedsantwoordboekie’ te hê. Daar sal jy duidelik kan sien hoe God jou gebede  beantwoord. Dit kan nogal baie vir jou geloof ook beteken!). Die vraag bly natuurlik hoe ons God se wil leer ken.

God se wil in die geskiedenis

Niemand het God nog ooit gesien nie. Wat ons wel van Hom sien, is sy dade in die geskiedenis. Daar kan ons sy wil leer ken en iets van sy hart sien.

* Dit is veral in die Bybel waar ons die voetspore van God deur die geskiedenis sien. Daar kan ons sy wil leer ken. Daarom is Bybelstudie onlosmaaklik deel van ons gebed. Die Bybel vertel van God se geskiedenis met ons. Daar kan ons sien waarvan Hy hou en waarvan nie.

Dit beteken dat jy die Bybel biddend moet lees. Daar moet en sal jy God se woord hoor. Nou moet ons ook nie die fout begaan om van die Bybel ‘n ‘toorboek’ te maak nie. Die gewoonte om die Bybel enige plek oop te slaan en dit dan as God se onfeilbare antwoord te sien, is nie aan te beveel nie. Dit kan soms selfs misleidend wees. (Dit is egter nie te sê dat God nie soms wel ook so met jou sal of wil werk nie. Dit is egter nie die normale manier nie). Jou bybelstudie kan veral op twee maniere vir jou help om God se wil te ontdek.

  1. God kan deur die loop van jou normale bybelstudie – of selfs deur iets soos ‘n preek – vir jou inligting gee wat Hy later wil gebruik. Op daardie oomblik is dit nie vir jou so belangrik nie. As jy later in ‘n situasie kom waar jy nie weet hoe verder nie, herinner God jou juis aan daardie woorde. ‘n Mens kan byvoorbeeld maklik lees dat die Here sê dat ‘n gelowige vir sy Christenskap kan ly. Hy beloof ook dat Hy jou in die lyding sal bystaan! Maar hoe ly ons nou eintlik vandag? Daar is niemand wat ons met swaarde vervolg of in tronke gooi vir ons geloof nie. Die woorde gaan eintlik op die stadium dat jy dit lees by jou verby.

Dan gebeur iets by die werk. Jou baas wil hê dat jy oneerlik moet wees om ‘n baie belangrike transaksie te beklink. Dit sal by die werk in alle opsigte vir jou voordelig wees om dit te doen. Nou wonder jy wat die Here wil hê. Jy bid daaroor en soek sy wil. Eintlik weet jy diep in jou hart dat die Here nie sy siel aan geld verkoop nie, veral nie deur oneerlikheid nie. Maar jy weet ook dat dit vir jou sleg sal wees om nie te doen wat die baas vra nie. En dan onthou jy wat jy destyds in jou Bybel gelees het: Daar mag oomblikke kom dat jou keuses vir Jesus vir jou baie sleg sal wees. Dit sal jou laat ly! Maar die Here se veiligheidsnet is onder jou gespan om jou op te vang as jy swaarkry. Dan weet jy sommer ook wat om te kies. So gebruik God sy woord om jou in sy wil te lei.

  1. As jy biddend met die Bybel voor jou sit, praat die Here ook soms net daar met jou. As ‘n mens met ‘n spesifieke vraag die Bybel lees, sien ‘n mens die antwoorde ook soveel makliker raak. Sê maar jy is ‘n tiener wat wil weet of jy na ‘n partytjie toe moet gaan waar al die ‘cool’ kinders ook sal wees. As dit van jou afgehang het, sou jy definitief gegaan het. Maar jy wil eers hoor wat die Here daarvan dink. Hoe gaan jy uitvind? In jou stiltetyd is jy juis by Kol 3:17: ‘En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.’ Biddend dink jy na oor hierdie woorde. Die Here antwoord jou nie reguit nie. Hy sê nie ‘ja’ of ‘nee’ vir die partytjie nie. Hy sê wel dat jy moet besluit of Hy ook daar tuis sal voel. Hy wil immers oral gaan waar jy gaan! God gebruik ook jou wysheid en insig in die antwoorde wat Hy gee.

Dit is natuurlik ook belangrik om te onthou dat die manier waarop God die sigbaarste met ons gepraat het, is deur Jesus Christus. Sy lewe moet vir ons die patroon en voorbeeld vir ons eie optrede wees. ‘Wie beweer dat Hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het’ (1 Joh 2:6). Deur die voorbeeld van Jesus wil God ons lei. Daar kan ons sien wat God van ons verwag.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt