Perspektief op gebed (10) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Deel 3: Lof uit ‘n traan maar sonder ‘n vals noot.

Here, hoe kan ek by ‘n  oop graf lofsange sing?!

MAAR, wat daarvan as dit nie met my goed gaan nie? Moet ek die Here dan nog loof; nee, KAN ek Hom nog loof? Hoe kan ek by ‘n oop graf lofsange sing? Hoe kan ek daar by die grens van die lewe waar ek voel of ek gaan afstort, lofsing asof niks besig is om te gebeur nie?

Hierdie vrae sou geldig  gewees het, as die Here nie daar was nie. Omdat Hy daar is, kan die slae van die lewe ons nooit verwoestend van koers slaan nie. Te midde van jou pyn en smart kan en moet jy nog jou hart in vertroue voor God uitstort. Nooit mag die trane jou oë so vul dat jy die Here nie meer kan raaksien nie (Heb. 13:15). In jou nood moet jy jou na die toekoms uitstrek waar die trane in vreugde sal verander; dit het God mos beloof. Daarvoor kan jy Hom grootmaak en loof. Want waar hierdie hoop en lof uitbly, sterf  gebed. Om God te loof, bind jou aan God se toekoms vir jou. Daaruit kan jy leef, soos Habakuk (3:17-19):

Al sou die vyeboom nie bot nie

en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,

al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie,

al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie

en die beeskrale sonder beeste wees,

NOGTANS SAL EK IN DIE HERE JUBEL,

SAL EK JUIG IN GOD, MY REDDER.

Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van ‘n  ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Dink maar op praktiese vlak wat ‘lof’ in nood en swaarkry aan jou doen. Veronderstel iets baie slegs het met jou gebeur. Dit voel vir jou of hierdie ding alles in jou stukkend maak, ook jou geloof. As jy dan jou fokus in lof weer instel op die Brandpunt, wat sien jy? As jy daar in sak in as vir God kan sê dat jy dankbaar is vir wat Hy al vir jou gedoen het, of wat Hy nog vir jou gaan doen, sal jy skielik agterkom dat die wêreld nie so donker is nie! Jy sal agterkom dat God se nabyheid en beloftes alles in waarde oortref. Ook in hierdie swaarkry kan jy jou kop op die skouer van God laat rus in aanvaarding van wat met jou gebeur.

Maar dit kan ook meer doen. Deur God ook vir die slegte te loof  kan jou help om na sy plan vir jou lewe te vra. Niks gebeur mos sommer maar toevallig nie. God is altyd daar. Miskien wil die Here jou iets leer, miskien wil Hy jou ‘n  weg wys. Daarvoor kan ons die Here mos altyd loof. En die belangrikste: elke woord van lof in nood is ‘n  belydenis, ‘n  getuienis van jou vertroue in God. Dan verstaan ‘n  mens ook wat die Here bedoel het toe Hy vir Jeremia (32:27) gesê het: ‘Ek is die Here die God van al die  mense. Is iets vir my onmoontlik?’

Loof die Here ook in jou nood en dan sal jy uitvind waarom jy werklik die Here in jou nood kan loof!

Laat ons dan oponhoudelik deur Jesus aan God

‘n offer van lof bring,

dié lof wat aan Hom gebring word

deur die lippe wat sy naam bely.

(Heb 13:15)

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (9) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

Here, U wil ek loof.

Here, aan U alleen die lof.

Aanbidding dwing jou in verwonderdering op jou knieë voor God. Daar erken jy God vir Wie Hy is. Maar dit is maar die eerste treë in groot avontuur van gebed.

Die saad van aanbidding ontkiem in die blom van lofprysing. Dit is twee sye van dieselfde munt.

‘n  Mens sou kon sê dat aanbidding veral fokus op Wie God is en dat lofprysing klem lê op wat God vir ons gedoen het en nog doen. Die onderskeid is natuurlik nie waterdig nie. As jy besef Wie God is, sal jy ook noodwendig aan alles dink wat Hy vir jou doen en natuurlik omgekeerd.

‘Goeie woorde uit die diepte van die hart…’

Kom ons loof en prys die Here! Maar wat beteken dit?

Die Griekse woord wat veral vir ‘lof’ gebruik word, kan so omskryf word: ‘om goeie woorde te praat’. Maar lof is nog veel meer. Dit is om goeie woorde te wil praat, te moet praat. Om die Here dus te loof en te prys beteken om in ‘n  rykdom van goeie woorde met en van Hom te praat. Dit is egter nie woorde wat op die punt van die tong ontstaan nie. Dit is woorde wat uit die diepte van die hart kom.

Kom ons luister na iemand wat die Here loof…

Ek wil U lof verkondig, my God en Koning,

ek wil U naam altyd loof.

Die Here help almal op wat geval het,

Hy ondersteun die wat bedruk is.

Die Here is regverdig in al sy handelinge,

getrou in alles wat Hy doen.

Die Here is naby almal wat Hom aanroep.

Laat al wat leef sy heilige naam vir altyd prys!

(Dele uit Ps. 145)

Die brandpunt…

Waarom is lof dan nou juis so belangrik? Wat beteken dit vir God? Om regtig die wese van lof te verstaan moet ons teruggaan na die tyd van Jesus.

In die tyd van die Bybel was die samelewing in baie duidelike ‘klasse’ ingedeel. Die meeste mense was maar arm en het min mag gehad. Hulle het tot die onderste vlakke van die samelewing behoort. Hierdie mense is dikwels onderdruk en uitgebuit deur die rykeres. Daarom was hulle afhanklik van belangriker persone in die samelewing om hulle te help. Dit was dus destyds gebruiklik om by die groep of familie van so ‘n  belangrike persoon aan te sluit. Jy moes lojaal wees teenoor hom, terwyl hy jou weer beskerm en gehelp het. Nou was dit ook gebruiklik om aan hierdie weldoener jou dank en afhanklikheid te ‘bewys’. Dit het jy gedoen deur die persoon se belangrikheid en status te erken. Daarin het lof ‘n belangrike rol gespeel. As jy dus in die teenwoordigheid van so ‘n belangrike persoon is, het jy baie ‘goeie woorde’ vir en oor hom. Veral as daar ander by is, vertel jy hardop wat hierdie ‘heer’ van jou alles doen en kan doen. Hoe meer jy kan sê, hoe ‘belangriker’ word jou ‘heer’ natuurlik in die oë van die omstaanders en hoe groter word sy status en eer! Jou lof is dus daarop gemik om met jou woorde die grootheid van jou weldoener so goed moontlik voor te stel. Jou weldoener word die brandpunt waarop jy jou woorde laat saamtrek.

So moet Bybelse lof ook verstaan word. Die brandpunt van lof is die Drieënige God en Hy alleen. Lof wil die grootheid van God beskryf. Dit wil aan elke omstaander vertel hoe belangrik, ja, onbeskryflik God is. Tegelyk wil dit ook vertel hoe gelukkig jy self is om so ‘n  God te hê. Deur te vertel wat Hy aan en vir jou doen, word die eer van God net groter en groter. Daarom kan lof nie van die punt van die tong af kom nie. Dit  moet uit die hart kom, want

* lof vertel van daardie intieme ontmoetings tussen jou en God;

* dit vertel van die oomblikke toe jy verslae was en jy juis toe sy vertroostende teenwoordigheid ervaar het;

* dit vertel van die oomblikke toe jy besig was om te sink maar juis toe God se verlossende hand kon voel;

* dit vertel van die oomblikke van benoudheid, van alleenheid, van vreugde, van vertwyfeling… en God was dáár!

* dit vertel van Golgota…

Lof is dus baie meer as net ‘n  gevoel. Lof ontluik uit die diepgewortelde bewustheid van God wat intens in jou lewe betrokke is. Dit is die oortuiging dat God LEWE omdat jy dit in jou lewe kan sien en ervaar. Daarom  is lof iets wat uit jou vloei soos ‘n  fontein wat onkeerbaar opbruis. Jy kan dit nie keer nie, omdat dit wil vertel van God wat jou lewe vasgryp. En juis daarom wil jy loof , wil jy hierdie God grootmaak, wil jy hierdie God eer en prys. God is die brandpunt waarop jy jou woorde van eer en lof uitstort.

God maak dit vir ons maklik om Hom te loof.

Lof  is dus aan die dade van die een wat lof ontvang vas soos ‘n  skoen aan sy sool. Om te sê iemand is sterk is maklik. Enigiemand kan dit sê. Maar as daardie persoon regtig ‘sterk dinge’ doen is dit ‘n  perd van ‘n  ander kleur. Dan kan jy praat van ondervinding. As hierdie sterk persoon vir jou sê dat hy  hierdie of daardie groot daad gaan doen, kan jy hom maar glo. Hy kán mos! Groot dade is dus die sool wat die ‘skoen’ van lof oral saamdra waar dit gaan.

Met lof vir God is dit net so. Natuurlik kan ons God loof vir Wie Hy is. Maar dit is as ons na sy dade vir ons kyk dat die stroom van lof onkeerbaar begin vloei. Daarom verbaas dit nie dat ‘lof’ in die Bybel gewoonlik met die groot dade van God saamgaan nie. God gee ons rede om Hom te loof. Hy maak dit vir ons maklik om Hom te loof, want Hy doen soveel vir ons.

 Dit beteken natuurlik dat lof nie regtig ‘lof’ kan wees los van jou eie lewe, jou ervaring, jou pad saam met die Here nie! Lof wil juis eer bring vir wat Hy in jou lewe gedoen het en nog doen! Daarom vra ‘lof’ diep nadenke van jou oor jou verhouding met Hom.

Om dit prakties te stel: As jy regtig die vreugde van lof in jou gebedslewe wil ervaar moet jy vooraf eers vra waaroor jy God wil loof. Wat het Hy vir jou gedoen sodat jy die ‘lysie’ van sy groot dade wat eer aan Hom bring kan aanvul. Hy het sy Seun vir jou gegee, jou gered; maar nou is Hy ook elke dag by jou… besig met jou.. goed vir jou. Daarvoor kan jy Hom eer en loof.

Kom ons loof die Here

Skryf drie dinge neer wat die Here vir jou gedoen het. Loof Hom daarvoor deur aan Hom al die erkenning daarvoor te gee wat Hy verdien.

 

*……………………………………………………………………………………………………..

*……………………………………………………………………………………………………..

*……………………………………………………………………………………………………..

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 




Perspektief op gebed (8) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

HOOFSTUK 4: OP MY KNIEë IN AANBIDDING EN LOF.

Aanbidding laat jou ook sien wie jy is!

Daar op jou knieë sien jy jouself ook baie duideliker. As jy in die troonsaal sien dat God aan jou die guns bewys het om by Hom te wees, wéét jy ook wie jy is. Jy is die een wat van God afhanklik is. Daar is geen moet dat God na jou moet luister nie. Eintlik staan jy voor Hom as arme bedelaar. Dit is Hy wat besluit het dat jy maar daar mag staan. Jy is nie die een wat in trots voor God kan staan asof  Hy aan jou iets verskuldig is nie. Soos die sondaar van ouds kan jy maar net op jou bors slaan, oorweldig deur jou eie tekortkominge. Aanbidding draai maar net telkens weer jou oë in bewondering na die God wat jy aanbid:

Kom ons val in eerbetoon woor Hom neer,

kom ons buig,

kom ons kniel voor die Here ons Skepper!

Hy is ons God en ons is sy volk,

sy kudde, sy skape,

deur sy hand versorg.

(Ps. 95:6-7)

Gebed groei uit aanbidding.

Dit is nou sekerelik verstaanbaar waarom daar gesê kan word dat gebed uit aanbidding groei. Met die paal van die paalspringer word hy tot by die dwarslat gelig… met die aanbidding word die gelowige tot aan die voete van die lewende God gebring. Daar sien hy nie alleen Wie God is nie, maar ook wie hy of sy self is. Wie kan dan anders as om uit dankbaarheid God te aanbid.

En wie sou dan nie ook verder wou bid nie…

Immers,  As jy voor die almagtige God staan…

                        kan jy dan nog wonder of daar iets is wat vir Hom nie moontlik is nie?

             As hierdie God sê dat Hy jou liefhet…

                        kan jy dan nog wonder of Hy jou in jou nood sal bystaan?

             As Hy sê dat Hy elke haar op jou hoof getel het…

                        kan jy Hom dan nog daarvan verdink dat Hy jou sal vergeet?

             As Hy jou uitnooi om in gebed van Hom te kom vra…

                        sal Hy dan in stilte wegdraai?

             As Hy beloof om jou trane af te droog…

                        Kan jy dan ooit voel dat Hy jou met sy troos sal oorslaan?

 

Aanbidding is inderdaad die bedding waaruit gebed groei. Op jou knieë in verwondering voor die Een op die troon, groei die avontuur van  jou saamwees met God.

 Aanbidding in die praktyk

 Word ‘n oomblik stil. Fokus nou jou gedagtes op Wie God is! (Skryf dit in die eerste kolom neer). Vra jouself dan af wat dit prakties vir jou beteken, met ander woorde wat kan jy van God verwag? (Skryf dit in die tweede kolom neer).

 

*………………………………………………..   *……………………………………………………..

*………………………………………………..   *……………………………………………………..

*………………………………………………..   *……………………………………………………..

*………………………………………………..   *……………………………………………………..

*………………………………………………..   *……………………………………………………..

Aanbid nou vir God vir Wie Hy is en wat Hy vir jou beteken!

 Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 




Perspektief op gebed (7) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt

HOOFSTUK 4: OP MY KNIEë IN AANBIDDING EN LOF.

Hierdie hoofstuk word in vyf dele onderverdeel:

                                                Deel 1: Aanbid Hom, kniel voor Hom neer.

                                                Deel 2: Here, aan U alleen die lof!

                                                Deel 3: Lof uit ‘n traan, maar sonder ‘n vals noot.

                                                Deel 4: Dankie Here!

                                                Deel 5: Ons Vader.

Gebed is daar omdat God daar is. Die wonder van alles is dat ons vry met God kan praat. Maar nou is God nie sommer enigiemand nie! Dit is nou nie sommer asof ons met een van die kinders of met die buurman oor die draad gaan praat nie! Om regtig te bid beteken om te weet met Wie jy praat.

Deel 1: Aanbid Hom, kniel voor Hom neer.

In die troonsaal van God.

Gebed nooi ons in die troonsaal van die lewende God in! Uit Open. 4 kry ons nogal ‘n goeie ideë hoe dit in die troonsaal van God lyk.

In die middel staan ‘n groot troon met Iemand – God self – wat daarop sit. Rondom die troon is daar ouderlinge, verteenwoordigers uit die hele wêreld en baie engele. Dit is egter wat hulle doen wat ‘n mens beïndruk. Nag en dag, sonder rus roep hulle uit:

Heilig, heilig, heilig

is die Here God, die Almagtige,

Hy wat was en wat is en wat kom.

(Open. 4:8)

Hulle aanbid Hom terwyl die ouderlinge in erkenning en toewyding  hulle krone voor Hom neersit:

Here, ons God, U is waardig

om die heerlikheid

en die eer

en die mag te ontvang

omdat U alles geskep het;

deur u wil het alles ontstaan

en is dit geskep.

(Open. 4:11)

Wie regtig besef  dat gebed jou na die troonsaal van God voer, sal weet dat om net daar toegelaat te word, eintlik een groot stuk genade is. Juis God sê vir jou dat as jy op jou knieë gaan, jy kan weet: Hierdie God aan wie die eer en die heerlikheid en die mag toekom, is JOU GOD! Hy wat op die troon sit het ook vir jou ‘n plekkie by Hom. Wat ‘n voorreg! JY mag daar tussen al die engele en ouderlinge en skares staan en ook jou stem saam met hulle in AANBIDDING laat hoor.

AANBIDDING is die wegspringblokke vir gebed. Dit is soos die paal vir die paalspringer – dit moet jou help om die hoogte te bereik om oor die dwarslat te kom. Dit is daardie plek waar hemel en aarde ontmoet. Aanbidding maak dat jy sien Wie God is, maar maak ook dat jy sien wie jy self is.

Aanbidding laat jou sien Wie God is!

Die Griekse woord wat vir ‘aanbidding’ in die Bybel gebruik word, beteken om op jou knieë te val of om laag te buig. Daar, laag op jou knieë, sê jy eintlik hoe belangrik die een voor wie jy buig vir jou is. Presies dit is aanbidding. Dit is om laag voor God te buig in erkenning vir Wie Hy is, maar ook vir wat Hy doen!

Die eerste stap in jou gebed is dus om jou oë op te slaan en in die verblindende son van God se genade en goedheid te probeer instaar en net te prewel: ‘Dankie Here dat ek hier mag staan! Here, ek maak U groot vir Wie U is. Ek eer en aanbid U as my God.’ In die sin is elke gebed ‘n avontuurlike ontdekkingstog. Elke gebed laat jou opnuut die grootheid, ja, die majesteit van God ontdek en ervaar. Aanbidding is daarom die hoogste vorm van bewondering wat ‘n mens teenoor God kan uitspreek. Dit is byna soos ‘n klein seuntjie vir wie sy groot sterk pa alles is. Elke beweging van sy pa lok bewondering uit. Elke blik van sy pa in sy rigting laat hom oorweldig van trots en vreugde.

Maar dit is nou maar eenmaal so dat ‘n mens nie altyd op dieselfde manier voor die lewende God kan kniel nie. Soms mag jy bloot in stille verwondering voor die grootheid van God staan, sonder om ‘n woord te sê. ‘n Ander keer mag dit wees dat jy die stortvloed van woorde nie kan keer nie. (Die gawe van spreek in tale kan hier selfs aan jou gegee word). Dit mag ook gebeur dat ‘n mens se gedagtes partymaal so dwaal of deurmekaar is, dat jy sukkel om God met helder oë raak te sien. Maar om die werklike rykdom uit jou gebed te put mag daar geen rookdamp van sonde of bekommernis tussen jou en God kom staan nie. Jy moet God helder raaksien – die Een wat op die troon sit!

Die Here is die ewige God…

Ons moet dit nou maar een maal erken. Dit kan gebeur dat jy net nie met jou gebed op dreef kom nie. Dit is asof jy jouself net nie kan voorstel dat jy in die troonsaal van God staan nie. Jy voel net nie so nie. Dit is asof jy nie kan sien wat daar aangaan nie.

Hier is ‘n praktiese wenk. Die Bybel kan ‘n mens dan nogal baie help. Daar is pragtige Psalms wat ‘n mens kan lees om ‘n mens reg in te stel  en jou oë helder op God te fokus (bv. Ps. 121, 125, 145, 146, 147 en so aan). Maar kom ons kyk hoe stel Jesaja (40:28-31) dit:

 Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie?

Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde.

Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie

en sy insig is ondeurgrondelik.

Hy gee die vermoeides krag,

Hy versterk die wat nie meer kan nie.

Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat,

Selfs manne in hulle fleur struikel en val,

maar die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.

Hulle vlieg op arendsvlerke,

hulle hardloop en word nie moeg nie,

hulle loop en raak nie afgemat nie.

Dink ‘n paar oomblikke oor hierdie woorde na…

So kan die woorde in die Bybel ‘n mens help om God helderder te sien. Dan kan jy aan Hom die glorie en eer bring wat Hom toekom (Open. 14:7). Dan maak dit vir jou sin om op jou knieë te staan, want dit kan nie anders nie. Voor so ‘n groot God is en bly dit vir jou ‘n genadige eer om wel op jou knieë te mag staan en jou aanbidding deel te maak van die engelesang wat God verheerlik.

Skrywer: Prof Jan van der Watt