Perspektief op gebed (2) – Oor biddeloosheid en barometers. – Jan van der Watt

Ons geestelike barometer.

Gebed kan as die barometer vir jou geestelike lewe dien. As dit nie so goed gaan met jou geestelike lewe nie, is gebed gewoonlik die eerste plek waar jy dit begin agterkom.

Biddeloosheid is dus nie ‘n goeie teken vir jou geestelike lewe nie. Dit is byna soos om ‘n mens te sien versmoor omdat hy nie wil asem haal nie. So ‘n bietjie suurstof kan al die verskil maak. So kan gebed ook al die verskil maak. Dit kan weer lewe in ‘n geestelik versmoorde mens bring.

Daarom is dit nie verbasend dat iemand soos Luther gesê het dat hoe besiger hy is, hoe meer bid hy nie. Immers, hoe meer dinge jy moet doen, hoe meer hulp en leiding het jy van die Here nodig en hoe meer sal jy hê om met Hom te bespreek!

So kan ‘n mens deur die geskiedenis stap. Al die ‘groot bidders’ in die geskiedenis van die kerk was gedissiplineerde bidders. Hulle het gereeld en ernstig die genadetroon van God gaan opsoek! Hulle het ten minste geweet waar hulle krag vandaan kom.

Ons verkeerde verwagtings ‘n lekker wapen vir die duiwel.

Daar is krag in die gelowige se gebed! Dit sê die Bybel vir ons. Tog skep hierdie woorde dikwels allerhande verkeerde verwagtings by die gelowige! Hy of sy begin dink dat gebed die kraan is waarmee hulle maar soos hulle wil God se krag kan tap. As hulle die kraan draai, moet God spring! As God nie spring nie, of die kraan nie wil loop soos hulle wil hê dat dit moet loop nie, dan sê hulle sommer sou ‘gebed werk nie’.

Vir hulle is daar ‘n verrassing: Gebed werk nie so nie! Dit is nie ‘n kraan nie!

God sal sekerlik nie ‘n klomp kinders in ‘n wapenfabriek met allerhande bomme, gewere en kanonne loslaat en sê hulle kan maar aangaan soos hulle wil nie. Die krag van God is ontelbaar maal sterker as dit wat mense in ‘n wapenfabriek kan opsluit. Daarom moet die bidder goed verstaan wat presies met gebed bedoel word. Gebed is nie die plek waar die bidder God ‘laat spring’ nie. Tog bly dit die plek waar die volheid van God se genade en krag ervaar kan word. Soos F. Huegel gesê het: ‘Dit is wanneer mense op hulle knieë gaan en God aanroep dat hulle in ‘n sekere sin net so ‘magtig’ word as die almagtige God’. Dit gesê, moet ons egter weet wat om te verwag. Gebed maak ons nie die ‘almagtige God’ self nie. Ons word nie die voorskrywers nie. Nee, gebed maak ons mense wat alleen maar op ons knieë voor die almagtige God kan staan en uit sy genadige hand kan ontvang wat Hy wil gee!

 Verkeerde verwagtinge het al te veel gelowiges baie seer gemaak. Omdat hulle dink hulle is kinders in ‘n wapenfabriek of dat hulle maar net die kraan kan draai en God moet spring, is hulle al dikwels teleurgestel. Gebed bied dikwels nie so ‘n kitsoplossing as wat hulle gedink het nie. Dikwels besluit God om sy kinders op ‘n ander manier te help as wat hulle in gebed ‘voorskryf’. Omdat dinge dan nie so uitwerk soos hulle dit wil hê nie, verloor hulle vertroue in gebed. Hulle bid al hoe minder en later glad nie meer nie!  So sny hulle hulle eie geestelike suurstof af. Een ding is seker: Dit is nie die suurstof wat klaar geraak het nie, maar hulle wat nie die suurstof op die regte manier wou inasem nie!

Dit gebeur ook dat gelowiges kan dink dat maar sal gebeur wat moet gebeur, bid of te nie! Uiteindelik maak dit nie vir hulle meer saak of hulle bid of nie. Hulle dink in alle geval dit sal nie soveel verskil maak nie. Die ernstige suurstoftekort in hulle geestelike lewe kan nie lank weggesteek word nie!

Jesus gee aan ons die voorbeeld.

Natuurlik het die Here Jesus self aan ons die voorbeeld gegee om te bid (Mat 14:23; Mk. 1:35). Hy het nie alleen aan ons die ‘Ons Vader’ gegee nie, maar het self op belangrike tye in sy lewe gebid (Luk. 3:21-22, 6:12; 22:39-46). By geleentheid het Hy sommer die hele nag deur gebid (Luk. 6:12). Hy het nie net vir Homself gebid nie (Joh. 12:27), maar ook vir ander, vir sy dissipels (Joh. 11:41; 17:1vv) en per geleentheid selfs vir sy vyande (Luk. 23:34). By ander geleenthede het Hy met enkele sinne die Vader vir kos gedank (Joh. 6:11).

Jesus het ook belangrike kritiek op die gebede van ander gehad. Hy het die Fariseer wat so vol van homself was, se gebed gekritiseer (Luk. 18:9-14). Ook die mense wat op die hoeke van die strate gestaan en gebid het, het onder die tong van Jesus deurgeloop (Mat. 6:5-8).

As ‘n mens so na die lewe en voorbeeld van Jesus kyk blyk dit dat gebed baie belangrik is. Tog kan ‘n mens die pad ook byster raak met gebed. Jy kan ernstige foute begaan!

Laat ons dan nou eers gaan kyk na wat die hart van gebed is en dan na gebed self. Aan die einde sal die foute wat met gebed gemaak word, bespreek word.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Perspektief op gebed (1) – Oor biddeloosheid en barometers. – Jan van der Watt

Manie die Marsman kom kuier.

Kom ons begin met ‘n verhaaltjie. Veronderstel Manie die Marsman kom land met sy vlieënde piering iewers hier naby ons. Die eerste persoon wat hy raakloop is sowaar ‘n dominee!

So in die gesels vertel die dominee hom wat hy doen. Hy vertel vir Manie die Marsman dat ons hier op aarde die groot Skepper, die God van die heelal ken! Hy het ons lief. Deur sy Seun, Jesus, het Hy ons kom besoek. Meer nog, Hy bly elke dag naby ons en gee ook aan ons sy krag. Manie is verstom! Wat ‘n wonderlike voorreg. Op Mars ken hulle so iets nie. Dit moet seker wondere in mense se lewens werk. Manie wil dadelik  meer weet.

Ja, sê die dominee, God is so naby ons dat ons met Hom kan praat en alles van Hom kan vra… soos ‘n kind na sy pa kan gaan, so kan ons na God gaan!

Hy is nou juis oppad na so ‘n biduur, vertel die dominee. Die hele gemeente het een maal per week kans om saam te kom en net met God te praat, vir Hom alles te vertel en vir Hom hulp en leiding te vra! WONDERLIK, sê Manie.  Mense moet seker nie kan wag om daar te kom nie.

Manie was verstom! Van die duisend mense in die gemeente sit daar ‘n skrale twaalf… gereed vir die groot gesprek! Manie begin vrae vra… dink die mense nie die gesprek met God is belangrik genoeg nie? Glo hulle nie God wil met hulle praat nie, of nog erger, wil hulle nie eers tyd maak om met God te praat nie!? Miskien dink hulle in hulle harte nie dat gebed regtig meer werk nie?!

Daardie aand gaan loer Manie by ‘n paar huise ook in. Die dominee het aan hom vertel dat mense voor hulle gaan slaap eers met hulle God praat. Dan bespreek hulle alles van die dag en vra hulp en raad. Dat die grote God Homself so beskikbaar stel vir persoonlike gesprekke was vir Manie byna ongelooflik. By die eerste huis kry Manie egter sy eerste verrassing. Die persoon was skaars op sy knieë en toe is hy alweer klaar. Het hy dan niks om vir God te sê of te vra nie, het Manie gewonder. In die tweede geval het die gebed heeeeelwat langer geduur. Maar toe Manie mooi luister en die snorkgeluidjies hoor, besef hy die persoon is nie besig met ‘n gesprek nie.

Nou het Manie begin wonder oor hierdie ding wat GEBED genoem word. As dit regtig waar is dat gebed die krag van die gelowige se geestelike lewe is, waarom neem die mense dit skynbaar nie so ernstig nie? Waarom bid mense nie meer en langer nie, het hy gewonder.

As gebed die sluise van God se krag vir die gelowige is…

Manie se vraag is juis die vraag wat Andrew Murray per geleentheid aan ‘n saal vol predikante gevra het. Hy het verduidelik dat gebed ‘n belangrike manier is waarop God sy krag oor die bidder uitstort. Dit is waar die gelowige hom of haarself weer in die teenwoordigheid van die lewende God versterk. Natuurlik sal al wat gelowige is dit beaam. Hy vra toe hoeveel van die predikante spandeer ‘n uur per dag in gebed. Dit was doodstil in die saal. Die uur word toe ‘n halfuur, ‘n kwartuur, tien minute… en toe begin die hande stadig opgaan. ‘n Mens wonder wat dit sê van die vertroue wat mense in gebed stel?

Dit is eintlik ‘n vraag wat ons elkeen aan onsself moet vra. Hoeveel tyd spandeer jy in gebed per dag? En wat sê jou antwoord vir jou van wat jy van gebed verwag?

As jy saamstem dat gebed die sluise van God se krag vir jou oopmaak… hoe beïnvloed dit jou gebedslewe?

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




SAGTE GEBEDE – Francois Malan

Anna vra:

Waar in die Woord staan geskrywe dat God die aarde gaan
oprol soos n stuk lap?

Nog iets asb. Is dit waar dat wanneer jy satan in jou gedagtes bestraf
hy jou nie kan hoor nie? Ook as jy saggies bid, kan hy inbreuk maak op jou gebed,
want hy kan jou nie hoor bid nie. Dankie.

 Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

In Jesaja 34:4 voorspel die profeet
dat die Here in sy toorn oor al die nasies die hemel soos ’n boekrol sal
toerol. Die hele skepping word geraak deur die sonde van die nasies en die
noodsaaklike reaksie van God op die nasies se verwerping van die Here met die
eindoordeel. In Openbaring 6:14 word dit aangehaal as die aanbreek van die dag
van die Here se oordeel wat die einde van die huidige hemel en aarde sal wees
om plek te maak vir die nuwe hemel en die nuwe aarde van Openbaring 21. 

Jesus het belowe dat die Heilige Gees
vir ewig by ons en in ons sal wees (Joh 14:15-17). As jy vir Jesus liefhet en
sy opdragte uitvoer sal sy Vader jou liefhê en Hy en die Vader sal na jou toe
kom en by jou woon (Joh 14:23). As die Vader en die Seun en die Heilige Gees in
jou woon kan Satan jou nie raak nie, maar as jy jou rug op God draai en jou eie
kop volg, vir jouself liewer het as vir God, gee jy aan die Satan vatkans en sal
jy hom nie kan bestraf nie. Hy word slegs deur God, die Skepper van die hemel
en die aarde oorwin. Kyk hoe goed God jou ken deur Ps 139 te lees.

Ons kan nie die duiwel bestraf nie,
dit kan die Here alleen doen, en ons kan Hom vra om ons van die duiwel te
verlos (vgl. Mattheus 17:18). Maar Jakobus 4:7 sê: ‘Weerstaan die duiwel, dan
sal hy van julle af wegvlug.’ Dit kan ons doen omdat die Heilige Gees van God
in ons woon om ons die krag te gee om die versoekings te weerstaan wat uit ons
begeertes ons wil oorweldig (vgl. Jakobus 4:5-6, 8-10).

Selfs as ons saggies bid is dit juis ons eie begeertes wat inbreuk maak op ons gebed. Jakobus 1:14 sê: Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word.

Skrywer: Prof Francois Malan




Hoe het die vroegste Christene se tafelgebede gelyk? ‘n Venster op die jaar 100-150 n.C.

Hoe het die vroegste Christene se tafelgebede gelyk? ‘n Venster op die jaar 100-150 n.C. – Kobus Kok

Sommige mense bid nie elke keer by elke ete nie, omdat hulle glo een keer per maand bid as hulle die Pick en Pay of Woolies trollies vol kos koop en sê sommer dankie by voorbaat vir die hele maand. Ander mense vat gou ‘n happie kos voor hulle bid, net om seker te maak dat die kos waarvoor hulle nou gaan bid wel lekker is en mens daarvoor kan bid. Laasgenoemde is sommer ‘n paar grappies.

Van kleins af leer ons ons kinders dat ons bid voor ons eet, en dat ons vir die Here dankie sê vir die kos wat ons nou gaan geniet. Dit is vir ons baie belangrik, omdat ons vir die Here erkenning en dank gee, en erken dat alles wat ons het van hom af kom. In die Nuwe Testament sien ons nie werklik hoe die vroeë Christene gebid het vir kos nie, behalwe op een of twee plekke waar Jesus die brood breek en die Vader dank.

 

In die Buite Bybelse (apokriewe) boek “Die Didagé” word daar vir ons gewys hoe die vroegste Christene gebid het voor hulle geëet het. Die Didagé is in 1875 ontdek deur Breyennius in Konstantinopel nadat hy antieke Griekse manuskripte in die biblioteek van die Klooster van die Heilige Graf in Jerusalem ontdek het. Die Didagé was een van die manuskripte. Volgens geleerdes dateer die inhoud van die Didagé uit ‘n tyd tussen 100-150 n.C., ‘n tyd wat baie naby is aan sommige boeke wat ons vandag in ons Bybel het.

In hoofstuk 9 van die Didagé verduidelik die skrywer hoe daar gebid moet word aan die Nagmaalstafel [Ek haal enkele grepe uit]. Wanneer die brood gebreek is, sê hy, moet mens soos volg bid:

Ons Vader, dankie vir die lewe en die kennis wat u aan ons bekend gemaak het deur Jesus, u dienaar.

Ons prys u vir altyd!

As hulle klaar geëet, na die nagmaal, moes hulle so bid en dankie se vir die kos:

Dankie, Heilige Vader dat Uself in ons harte kom woon het.

Ons dank U vir kennis, geloof en ‘n ewige lewe wat u aan ons bekend gemaak het deur Jesus, u dienaar.

Ons prys u vir altyd

U het aan mense kos en iets om te drink gegee sodat hulle dit kan geniet en u kan loof, maar vir ons was U so goed dat U vir ons geestelike kos en drank, en ewige lewe deur u Dienaar Jesus geskenk het.

Bo alles dank ons u dat u almagtig is

Ons prys u vir altyd…

Maranatha (Kom, Here [Kom vinnig weer terug, Here])

Die gebruik wat ons vandag het, om te bid voor ons eet, en in sommige huise om te bid nadat ons geëet het, is ‘n gebruik wat twee duisend jaar teruggaan. Dit het veral gebeur tydens die gemeenskaplike liefdesmaaltyd van die gelowiges.

Mag ons die aflosstokkie nie laat val nie, en ons kinders leer om te bid. Miskien kan hierdie gebed uit Didagé gebruik word as u weer aan tafel bid. So eggo die stem van die vroeë Christene weer nuut in ons huise, en vat ons hande met die eerste Christene, diegene wat vervolg was vir die geloof en wat die geloofsgetuies is wat ons voorgegaan het.

Lees gerus meer:

Van der Watt, J.G., & Tolmie, F., Apokriewe Ou en Nuwe Testament, CUM.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok