Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Oorlog(1) – JP Louw

Oorlog is altyd ‘n duur onderneming. Wanneer troepe uit hulle eie land gaan om oorlog te maak, word die mannekrag aansienlik verminder. Verder moet wapens, klere, kos, vervoer en alle ander onkostes van ‘n leër betaal word. Geen koning kan oorlog voer as daar nie voldoende ekonomiese hulp voorhande was nie. Eers in die tyd van Salomo kon Israel bekostig om ‘n leër in stand te hou, selfs met strydwaens en perde. Voor die tyd was oorlog­voering maar weinig meer as bendes wat oral opgetree het of ‘n monstering van stamme vir n bepaalde geveg. Dan is die weerbare manne opgeroep om te kom met wat hulle self kon voorsien. Wanneer die Jode aan ander volke onderhorig was, moes hulle belastings betaal vir die uitgawes van daardie regerings en so indirek ook vir hulle veldtogte. In die tye voor die koningskap moes elke man na homself omsien om vaardig en gereed te wees om te veg. Oorlog was dus grootliks selfbesker­ming en plundering. In Genesis 14:14-16 lees ons dat toe Abraham se neef Lot gevange geneem is, Abraham 318 manne bymekaar gemaak het. Hulle was almal slawe uit sy familiegeledere. Met hierdie bende het Abraham vir Lot bevry.

In die tyd van die Rigters was dit al effe beter. n Rigter van Israel kon al die weerbare manne ouer as twintig jaar oproep om te gaan veg. Toe Debora en Barak die Kanaäniete weerstaan het, het hulle manne opgeroep uit die stamme van Efraim, Benjamin, Sebulon, Issaskar, Ruben, Dan, Aser en Naftali (Rigters 5:14-18). Hierdie oproep was ‘n versoek en kon nie afgedwing word nie, want in Rigters 5:23 lees ons dat die manne van Meros nie wou deelneem nie. Dit is opvallend dat die stamme van Simeon en Juda nie toe ook opgeroep was nie.

Toe Saul koning was, het by volgens 1 Samuel 11:7 die stamme opgeroep deur te dreig met vergelding. Saul het twee osse geslag en in stukke gesny wat oral rondgestuur is om aan te toon wat met iemand se vee sou gebeur as by weier om saam op te trek om oorlog te maak. By hierdie geleentheid is Jabes in Gilead deur Nagas die Ammoniet beleer en Saul het opgetrek om Jabes te bevry.

Om saam op to trek was aan die anderkant nie net ‘n versoek met of sonder dreigement nie, want om jou mense te help beskerm, was ‘n godsdienstige plig. Daarom is van Meros in Rigters 5:23 gesê dat hulle vervloek is omdat hulle geweier het om vir die Here te veg. Die Joodse stamme het hulle oorlogvoering gesien as hulle reg deur God aan hulle verleen. In 1 Samuel 15:2 sê Samuel aan Saul dat die Here vir Amalek wil straf en dat dit hulle opdrag is om hom uit te delg. In 1 Samuel 17:26 word die Filistyne beskuldig dat hulle Israel tart en sodoende die lewende God verkleineer. Oorwin­ning in ‘n oorlog was destyds deur alle volke gesien as die bewys van die krag en vermoë van hulle gode.

jerigo

Jerigo-groen teen ‘n bruin woestynland

Die val van Jerigo, soos beskryf in Josua 6:1-5, word op voorskrif van die Here self uitgevoer. Die silwer en goud, asook ander metaal voorwerpe wat gebuit is, het na die huis van die Here gegaan wat in die tyd byna die funksie van ‘n reserwebank vervul het en so staat, godsdiens en oorlog in een pakket beskou het. Ook Ai is ingeneem op die woord van die Here (Josua 8:1). Verder is die banvloek waar­mee hele dorpies uitgewis is-man en muis-in die Ou Testament meestal beskryf as in opdrag van die Here. In Josua 10:9-11 stuur die Here ook hael om die vyand te tref sodat meer deur die hael as deur die manskappe self doodgemaak is.

 

Baie van die aanvalle is in die nag gedoen en gewoonlik by wyse van hinderlae om die vyand te verras. Oorlogvoering was meer ‘n tipe guerrillastryd as ‘n georganiseerde troepe-inval soos in moderne tye. Gedurig is nedersettings oor en weer geplunder. Selfbeskerming was ‘n groot taak en daar moes gedurig op die wag- en uitkykposte goed gelet word of daar gevaar aankom. Daarom was dorpe en stede sterk ommuur en op hoë veilige plekke gebou.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Regering en Samelewing (7) – JP Louw

Was Dawid ook Elganan genoem? (2 Samuel 21:19).

Hier lees ons dat Elganan vir Goliat, die Gattiet, doodgemaak het tydens ‘n geveg teen die Filistyne en dat Goliat se spiessteel so dik soos die dwarsbalk van ‘n weefstoel was. Dieselfde word gesê in 1 Samuel 17:7 van Goliat afkomstig uit Gat wat deur Dawid tydens ‘n geveg met die Filistyne doodgemaak is. Was daar twee Goliats of het Dawid ook die bynaam Elganan gehad? In 2 Samuel 23:24 word een van Dawid se helde Elganan, die seun van Dodo genoem, maar die Elganan van 2 Samuel 21:19 heet die seun van Jaare-Oregim. In 1 Kronieke 20:5 lees ons egter dat Elganan seun van Jail’ vir Lagmi, die broer van Goliat verslaan het en dat die ook so ‘n dik spies gehad het. Die tweede deal van die naam Jaare-Oregim kan ook vertaal word as “die wewer” sodat 2 Samuel 21:19 en 1 Kronieke 20:5 dieselfde vader in gedagte het. Verder staan daar in 2 Samuel 21:19 “Jaare-Oregim van Betlehem”. Sommige skrifverklaarders meen dat die woorde “van Betlehem” ‘n skryffout is en dat dit “Lagmi die broer van” moet lees. Die Hebreeuse teks in 2 Samuel 21:19 lees “bet halagimi”. Ander meen weer dat daar sowel in 2 Samuel 21:19 as in 1 Kronieke 20:5 oorspronklik kon gestaan het “van Betlehem vir Lagmi die broer van” en dat die tout gekom het deur weglating in die oorskryf van die ou manuskripte.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Regering en Samelewing (6) – JP Louw

Die Romeinse Ryk

Die Romeinse Ryk was ‘n baie belangrike instelling wat die regering en samelewing in die tyd van die Nuwe Testament oorheers het. Die geboorte van Jesus word in Lukas 2:1 ingelei met die vermelding dat keiser Augustus ‘n bevel gegee het dat ‘n sensus (of volkstelling) gehou moes word. Rome self het met Augustus ‘n nuwe periode begin. Vir eeue was die Romeinse ryk ‘n republiek wat deur ‘n senaat regeer is-‘n soort parlement dus. Soos die ryk uitgebrei het, veral deur oorlog, het leërowerstes uiteraard baie mag en invloed gekry en eindelik van die magtigste figure in die Romeinse samelewing geword. Kort voor die koms van Jesus het veral drie militêre leiers die Romeinse lewe oorheers: Pompeius (wat verantwoordelik was daarvoor dat die Jode onder Romeinse bewind ingebring is), Crassus en Julius Caesar. Dit was onvermydelik dat dit eindelik tot botsing en stryd sou lei. Julius Caesar het die mededinging gewen en voor sy dood bepaal dat sy neef Octavius hom sou opvolg. Dit het nog ‘n stryd tot gevolg gehad tussen dié wat ‘n republiek en regering deur die senaat voorgestaan het en Julius Caesar se moord bewerk het, en aan die anderkant ondersteuners van ‘n keisergedagte wat Julius Caesar en dus Octavius, ondersteun het. Octavius het eindelik die oorhand gekry en die senaat het in 27 v. C. aan horn die titel Augustus gegee.

Roemeinseryk

Om die. groot Romeinse ryk te regeer is ooreen­gekom dat die keiser, Augustus dus, veral toesig sou hou oor die gebiede waar daar onrus was onder die plaaslike bevolking, of ‘n bedreiging ontwikkel het om Rome of sy areas aan te val. Hierdie plan het horn voorgedoen omdat Octavius die leër beheer het. Die keiser het die leër en landstreke deur middel van goewerneurs regeer. Lukas 2:2 meld Sirenius as goewerneur van Sirië waarvan Palestina die grootste deel uitgemaak het. Die naam Palestina is nie deur die Romeine as sodanig gebruik nie. Die hele gebied vanaf Antiogië in die noorde tot by die Arabiese woestyn suid van die Dooie See was die Romeinse provinsie Sirië. Wanneer kleiner areas betrokke was, het ‘n procurator of stadhouer die goewerneur bygestaan. So was Pontius Pilatus deur keiser Tiberius as stadhouer van die provinsie Judea in ongeveer 26 n. C. aangestel en dus was by in Jerusalem, hoofstad van Judea, die Romeinse bevelvoerder ten tye van Jesus se verhoor. Die hele gebied bekend as Sirië het die stad Sesarea Mari­tima, in die provinsie Samaria aan die Middellandse See, as Romeinse hoofstad gehad. Judea was die provinsie suid van Samaria. Die hele Sirië was direk aan die keiser verantwoordelik omdat dit bekend was as ‘n oproerige gebied en omdat die Partiërs aan die oostelike grense van Romeinse ryk, ver oos van Palestina, (Sirië dus), altyd ‘n probleemarea en bedreiging vir die Romeine was.

Wanneer daar in ‘n Romeinse verowerde gebied ‘n tradisionele koning was, het die Romeine nie so ‘n koning summier afgesit of verban nie, maar ­indien hy natuurlik met die Romeine wou saam­werk en na hulle pype wou dans hom gebruik as ‘n demper en skyn van onafhanklikheid, maar ook as informant en lakei. Herodes die Grote het vanaf 40 v.C. tot 4 v.C., as so ‘n koning regeer. Die hele Palestina was onder sy beheer en hy was die een wat die kindermoord in Betlehem gepleeg het (Matteus 2:16). Kort hierna is hy dood. Sy gebied is toe deur die Romeine onder drie van sy seuns (Antipas, Filippus en Argelaos) verdeel. In die Nuwe Testament lees ons van Antipas wat Johan­nes die Doper onthoof het en wat in Matteus 14:1 en Markus 6:14 Herodes genoem word, maar ons lees ook van Filippus (Lukas 3:1) en van Argelaos (Matteus 2:22). Dit is baie belangrik om daarop te let dat die eerste man van Herodias (Markus 6:17 en Lukas 3:19) ‘n ander broer as die Filippus van Lukas 3:1 was, want hierdie eerste man van Herodias is nooit in die Nuwe Testament en in ander ou bronne “heerser” genoem nie. Daar was dus twee broers met die naam Filippus, seuns van verskil­lende moeders. Argelaos is later deur die Romeine vervang met ‘n reeks stadhouers. Pontius Pilatus was die vyfde stadhouer (26-36 n.C.). Antipas was die Herodes na wie Pilatus vir Jesus gestuur het omdat Antipas oor die provinsie Galilea regeer het (Lukas 23:67). Later het hy in onguns by die Romeine geraak en is hy verban.

In Handelinge 12:1 lees ons van nog ‘n ander Herodes. Sy naam was Agrippa, dikwels genoem Agrippa I of Herodes Agrippa I. Hierdie Herodes het Jakobus gedood en Petrus in die gevangenis gesit om in guns by die Jode te wees (Handelinge 12:1-3). Hy het horn in sy grootdoenerigheid goddelike eer laat welgeval waaroor hy deur ‘n engel van die Here getref is sodat hy deur wurms verteer is en gesterf het (Handelinge 12:21-23).

In Handelinge 25 vind ons weer die naam Agrippa vir die seun van Herodes Agrippa I, ook genoem Herodes Agrippa II. Waar sy vader, wat in groot guns was by die Romeine, die eertydse ryk van Herodes die Grote as’t ware teruggekry het, is sy seun Agrippa II net oor die noordelike deel van Palestina aangestel. Die ander dele het die Romeine weer deur ‘n goewerneur laat regeer, naamlik Fe­liks (Handelinge 24:2, 24-26) wat later deur Festus opgevolg is (Handelinge 24:27). In Handelinge 25:13-26:32 lees ons hoe Herodes Agrippa II en Festus saam Paulus se saak hanteer het wat uitge­loop het op Paulus se uiteindelike verblyf in Rome (Handelinge 28:16-31).

In Filippi, ‘n ander Romeinse provinsie in Mase­donië (Handelinge 16:12) waar dit rustiger gegaan het as in Palestina, het twee prokonsuls as stadsbe­stuurders regeer. Hulle was direk aan die Romeinse senaat verantwoordelik. Daarom het hulle groot geskrik (Handelinge 16:38) toe hulle agterkom dat hulle Paulus en Silas, wat self Romeinse burgerskap besit het, laat slaan en in die tronk gesit het sonder verhoor. Dit gee ons ook ‘n beeld van die benarde posisie van mense wat nie burgerskap gehad het nie.

In Handelinge 19 vind ons Paulus in Efese in n opskudding betrokke wat Demetrius die silwersmid veroorsaak het. Hier lees ons van ‘n stadsklerk wat die skare tot bedaring gebring het (Handelinge 19:35) en die mense aangeraai het om ordelik na die regters te gaan om hulle griewe te besleg. Die regters was waarskynlik die prokonsuls wat oor die provinsie Asië (Handelinge 19:22), waarin Efese n stad was, regeer het.

Stede van groot belang, soos Athene, is deur die Romeine toegelaat om hulleself te regeer solank daar vrede bewaar is. So ‘n stad was meestal ook van belasting vrygestel wat ‘n slim gebruik van die Romeine was om groot sentra se guns te koop. In Athene was daar ‘n Raad wat net soos die Sanhe­drin in Jerusalem sekere magte gehad het. Die Raad was bekend as die Areopagus en voor hulle het Paulus (Handelinge 17:19) sy leer verkondig en verdedig. Die Romeine het hulle nie baie gesteur aan ‘n plaaslike area se sosiale en godsdienstige opvattings en gebruike nie-solank alles net rustig bly. Dit is nie seker waar die Areopagus vergader het nie. Die markplein in die noordweste van Athene was die aangewese plek. Net langs die mark is daar ‘n groot kalksteenrots wat tradisioneel as die vergaderplek van die Areopagus uitgewys word en vandag ‘n groot toeriste-aantreklikheid is. Die rots se naam beteken “heuwel van Ares” en in die ou Griekse periode het die Griekse Raad dikwels op die heuwel vergader en het waarskynlik so sy naam gekry, maar hulle het ook in die markplek verga­der. In die Romeinse tyd het hulle hoofsaaklik morele en godsdienstige kwessies aangehoor, maar hulle het nie gesag gehad om enige straf uit te deel nie. Dit is onmoontlik om te weet of Paulus deur die Areopagus op die kliprots of in die markplek aangehoor is. Handelinge 17:34 toon duidelik dat die woord Areopagus na die Raad verwys. In verse 19 en 22 egter kan dit die rots of die Raad wees. As dit na die Raad verwys kon Paulus se toespraak goed moontlik in die Raad se vergaderplek op die mark plaasgevind het.

Al het die Romeinse oorheersing van so ‘n groot deel van die antieke wêreld vir baie volke ‘n swaar juk opgelê, het dit ook ander voordele gehad. Dit het veral relatiewe vrede gebring sodat kleiner volke mekaar nie aanhoudend beleër het nie. Die Romeinse oorheersing het veral reise makliker ge­maak deur rowery te beheer en beter paaie te voorsien. Dit is egter ook waar dat die Romeine enige teken van verset teen Rome of ‘n godsdiens­tige optog wat vir die Romeine “gevaarlik” vir die rus en vrede gelyk het, wreed onderdruk het. Maar hulle het ook oordaad gestraf. So is Pilatus byvoor­beeld teruggeroep Rome toe nadat by op ‘n gods­dienstige byeenkoms in Samaria toegeslaan het. Pilatus en die Jode het nie goed oor die weg gekom nie. Toe Pilatus ‘n aantal goue skilde in Jerusalem in Herodes se paleis ter ere van die keiser opgerig het, kon die Jode daarin slaag om die keiser te laat beveel om dit na Sesarea te verskuif. Pilatus was dus versigtig om nie te ver teen die Jode te gaan toe hulle hom weer met Jesus se verhoor met die keiser gedreig het nie.

Die Romeinse oorheersing van die antieke wê­reld het ook meegebring dat ‘n groot ryk meer geboue en dienste kon lewer-veral waterwerke. Romeinse burgerskap is aan baie nie-Romeine ver­leen en het die alledaagse lewe vergemaklik al moes baie dit met geld koop wat die Romeine se koffers gevul het (Handelinge 22:27-28).

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Regering en Samelewing (5) – JP Louw

Die regters

In die dae voor die koningskap was elke stamhoof of leier ‘n regter in sy eie reg. So het Josua vir Akan verhoor en veroordeel (Josua 7:19-20). Later was daar profete wat reg gespreek het soos Samuel, wat selfs rondgegaan het en regsake aangehoor het (1 Samuel 7:15-17). Dan was daar ook weer die plaaslike oudstes wat in die poort gesit en regspraak gelewer het (Deuteronomium 21:18-21). Toe die koningskap gekom het, was regspraak een van die funksies van ‘n koning (2 Samuel 12:1-6, 15:2-4, 1 Konings 3:16-18). Moses het reggespreek, maar ook persone aangestel om minder belangrike sake te verhoor (Eksodus 18:25-26). In Deuterono­mium 16:18-20 word verdere voorskrifte gegee oor regters en amptenare wat aangestel moet word om reg te laat geskied. Later het dit meegebring dat regters oral aangestel is, spesifiek vir regspraak, soos koning Josafat gedoen het (2 Kronieke 19:5-7).

In Jerusalem weet ons uit die Nuwe Testament dat daar Joodse howe was wat bestaan het uit priesters, skrifgeleerdes, uit Leviete en uit familie­hoofde (oudstes) wat in die stad regspraak gedoen het oor verskeie sake wat die Joodse gebruike en tradisies geraak het. Die Romeine het dus binne hulle eie oorkoepelende reg ‘n mate van eie reg­spraak oor kleiner sake toegelaat. In Handelinge 4:5-7 word so ‘n raad wat mense verhoor het, beskryf. Hierdie raad was dus in wese die Sanhe­drin waarvan die volle lede uit 71 persone bestaan het, die hoëpriester en sewentig lede uit owerpries­ters, familiehoofde, skrifgeleerdes, ens.

‘n Besondere faset van regspraak was die borslap, of beter borssak, wat die hoëpriester gedra het wanneer by uitspraak gelewer het. Eksodus 28:15-30 beskryf die maak en uitleg van die bors­sak waarin twee voorwerpe geplaas is tydens die uitspraak. Hierdie voorwerpe, genaamd urim en tummim (Eksodus 28:,30), was blykbaar die simbool van God wat as regter spreek deur die hoëpriester. Wat die voorwerpe presies behels het, is onbekend.

Skrywer:  Prof JP Louw