Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (3) – Hennie Stander

Gewig

In Hebreeus is die werkwoord “om te weeg” shakal, en daarom het die “sikkel” die basiese gewigseenheid geword. Absalom se hare het tweehon­derd sikkels geweeg (2 Samuel 14:26). Volgens die syfers wat in Eksodus 38:25-26 gegee word, kan ons uitwerk dat ‘n beka gelyk gestaan het aan ‘n halwe sikkel; ‘n talent was driehonderd sikkels. Op ‘n later stadium is ‘n ver­dere gewigseenheid bygevoeg wat as ‘n mina bekend gestaan het. Dit was ongeveer dieselfde as vyftig sikkels. Ons kan dus die volgende tabel saamstel:

2 bekas               = 1 sikkel

50 sikkels           = 1 mina

60 minas             = 1 talent

 

Die name in die voorafgaande tabel is ook deur ander lande oorgeneem, maar die veelvoude en die werklike gewigte daarvan het verskil. Wat die saak verder ingewikkeld gemaak het, was die feit dat dit lyk of die handelaars twee soorte gewigte gebruik het: ‘n ligte en ‘n swaar stel. Die een stel is gebruik wanneer daar aangekoop is en die ander stel wanneer daar verkoop is (Deuteronomium 25:13). Dit het verseker dat die handelaar ‘n sekere persentasie wins verkry en dit op sigself was nie verkeerd nie. Die probleem was egter wanneer vals gewigte doelbewus gebruik is ten einde ander mense te bedrieg (Levitikus 19:35-36; Miga 6:10-11). Die gewigte self was dikwels klippies wat tot een of ander vorm gemaak is, soos byvoorbeeld diere of ander objekte, met die gewig daarvan daarop aangebring. Die gewigte is op weegskale gebruik (Jesaja 40:12). Dit word bereken dat die talent tussen 28 en 30 kg geweeg het. Dit het sy naam ontleen aan die groot en swaar deksel van ‘n houer.

Skrywer:  Prof Hennie Stander




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (2) – Hennie Stander

Inhoudsmates

Die inhoudsmate is oorspronk­lik op net so ‘n eenvoudige wyse bereken. Die naam van die houer is gebruik as ‘n benaming van die inhoud. Die grootste mate wat vir droë items gebruik is, was die homer, wat ‘n “donkievrag” be­teken het, en dit is gebruik om graansoorte mee af te meet (Levitikus 27:16). Die efa was ‘n groot houer met ‘n deksel en volgens Sagaria 5:6-7 was dit groot genoeg vir ‘n vrou om daarin te kon sit. Dit was een tiende van ‘n homer (Ese­giël 45:11) en dit is ook ge­bruik om graan mee af te meet (Rut 2:17). Die gomer (“die gerf”) was die kleinste maat­eenheid waarmee graan afge­meet is en dit was ‘n tiende van ‘n efa (Eksodus 16:33). Dit was dus omtrent dieselfde grootte as ‘n issarion, wat soms met “tiende” vertaal word in moderne Bybelverta­lings; dit is gebruik om meel mee af te meet (Eksodus 29:40). Die vloeistofmaat wat met die efa gelyk was, was die bat. Die volgende tabel kan dus saamgestel word:

10 gomers/issarion = 1 efa/bat 10 efas/bat        = 1 homer

Die hin het egter geensins met bogenoemde verband gehou nie en dit is gebruik om olie­ en wynofferandes mee of te meet (dit was ongeveer 4 liter). Een sesde van ‘n hin was die minimum water wat vir een dag nodig was (Esegiël 4:11). Dit lyk of daar later meer akkuraatheid in die stelsel ingebou is. Die Assiriërs het ’n sisteem met die syfer ses as basis ontwikkel. Hulle stelsel het so gelyk:

6 ka                       = 1 situ

30 situs                 = 1 gur

Hierdie woorde klink baie soos die Hebreeuse woorde kab, seah en kor, en dit mag dus wees dat die Jode hierdie stelsel oorgeneem het en dit naas hulle eie stelsel gebruik het. Dit sou beteken dat:

6 kab                     = 1 seah

30 seahs               = 1 kor

Die kab word in die verhaal van die beleg van Samaria genoem, en ‘n kwart kab duiwemis is toe vir vyf sikkels silwer verkoop (2 Konings 6:25). Die seah is gebruik om meel of graan mee af te meet (2 Konings 7:1). Die kor is weer gebruik vir die afmeet van groot hoeveelhede vloeistowwe. Dit was die ekwivalent van die homer (Esegiël 45:14). Dit is egter nie moontlik om die presiese ekwivalente daarvan volgens ons stelsel te bereken nie, maar dit word geskat dat die “donkievrag” of die kor ongeveer tweehonderd en twintig liters was.

Skrywer:  Prof Hennie Stander




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (1) – Hennie Stander

Handelaars was ten nouste gemoeid met mates, gewigte en geld. Voordat ons kyk na hoe handelaars gewerk en geleef het, moet ons eers die mates, gewigte en geldeenhede van die Bybel van nader bekyk.

Lengtemates

Lengtemates was geskoei op die afmetings van die menslike liggaam, naamlik van die vinger, die palm, die span (die afstand van die punt van die duim tot by die punt van ‘n pinkie van ‘n oopgestrekte hand), die el (afstand van die elmboog tot by die punt van die middelvinger), en die vaam of vadem (die afstand van die punt van die middelvinger tot by die punt van die ander mid­delvinger wanneer die arms heeltemal oopgestrek is). Die volgende lengtemaattabel kan dus opgestel word:

4 vingers             = 1 palm

3 palms               = 1 span

2 spanne              =     1 el

4 elle                   = 1 vaam

Hierdie stelsel was nie sonder sy probleme nie. Die afmetings van liggaamsdele verskil van een persoon tot die ander, en daar is aanduidings dat daar verskillende lengtes van ‘n el was, wat gewissel het vanaf ongeveer 45 cm tot ongeveer 52 cm. Daar was ook ‘n lang of “koninklike” el van 7 palms of 28 vingers (alle “koninklike” mates was langer as die standaard mates); verder was daar beide ou (2 Kronieke 3:3) en nuwe ellemates (Esegiël 40:5). Oor die algemeen egter was die stelsel baie duidelik en die lengtemates kon redelik akkuraat bereken word.

Langer afstande is op ‘n meer vae basis bereken. Dit is byvoorbeeld gedoen in terme van die aantal dae wat dit geneem het om van die een punt tot by die ander te reis (bv Genesis 30:36). Baie later het die Grieke ‘n lengtemaat gebruik wat bekend gestaan het as ‘n stadion (of stadia in die meervoud), wat net oor die 180 m lank was en wat in die apokriewe boek Makkabeërs genoem word. Anders as by ons, is daar in die Bybelse tyd nie van lengtemate gebruik gemaak om ‘n oppervlakte se grootte te bereken nie. ‘n Akker was die grootte van die land wat ‘n os in een dag kon ploeg (Jesaja 5:10). Die maksimum afstand wat op ‘n Sabbatdag geloop kon word (‘n Sabbatsreis: Handelinge 1:12) was 2 000 tree, m.a.w. ‘n mens kon op ‘n Sabbatdag ‘n afstand van 1 000 tree (‘n Romeinse myl) heen en weer loop (ongeveer 880 m).

Skrywer:  Prof Hennie Stander




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(11) – Hennie Stander

Medisyne in die tyd van Jesus

In. die Nuwe Testament lees ons van talle soorte siektes. Daar was melaatses, dowes, blindes, lammes, stommes asook mense wat koors gehad het of epileptiese aanvalle gekry het, of aan vrouesiektes gely het, ens. Dit blyk duidelik uit Markus 1:32-34 dat daar baie siektes aan die orde-van die dag was. Mense wie se siektetoestand versleg het, het, soos verwag kan word, dokters gaan opsoek. In die tyd van Jesus was daar ongetwyfeld baie geneeshere. Ons lees byvoorbeeld dat die vrou wat aan .bloedvloeiing. gely het, baie onder die behandeling van die dokters gely het en .dat sy alles wat sy gehad het, daaraan bestee het (Markus 5:25-26). Verder het Jesus ook die spreekwoord aangehaal wat soos volg lui: Geneesheer, genees jouself” (Lukas 4:23). In die ruïnes van Pompeii is daar ‘n groot versameling chirurgiese instrumente gevind wat uit die eerste eeu: n.C. dateer. In die Bybel self lees ons nie van enige operasies wat gedoen is nie, uitgesonderd die besnydenis. Laasgenoemde moet egter veel eerder as ‘’n godsdienstige rite gesien word en nie soseer as ‘n mediese aksie nie. Benewens die fisiese siektes wat genoem is, was daar waarskynlik ook etlike siektes wat aan psigiese toestande toegeskryf kon word. Die doofstomheid van Sagaria, die pa van Johannes, is as ‘n teken deur God gegee, maar dit lyk nie of dit aan fisiese oorsake toegeskryf moes word nie. Dit vertoon veel meer ooreenkomste met psigiese toestande, soos byvoor­beeld wanneer ‘n mens groot skrik.

Jesus se houding teenoor sonde het nie die Ou Testamentiese siening weerspreek nie. Dit lyk of hy wel siektes beskou het as die gevolg van die Satan se aktiwiteite in die wêreld, en dat dit as sodanig teen­gegaan moes word. Hy het egter nie geglo dat alle siektes noodwendig altyd as gevolg van die persoon se individuele sondes op horn gekom het nie. Dit blyk duidelik uit Johannes 9:2-4: “Sy dissipels vra Horn toe: `Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?’ En Jesus antwoord: `Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar by is blind sodat die werke wat God doen, in horn gesien sal kan word.‑

Jesus het aanvaar dat sommige siektes wel aan duiwelbesetenheid toegeskryf kon word en Hy het dienooreenkomstig daarteen opgetree (bv Matteus 12:27), maar Hy het nie alle siektes op hierdie wyse behandel nie. Jesus het die oë van die blindes geopen en die dowes laat hoor. Een van die eien­aardige genesings was toe Jesus die blinde man in Betsaida genees het. Hierdie genesing het in ver­skillende stadia verloop: In die eerste stadium was sy visie nog nie heeltemal duidelik nie en eers nadat Jesus weer Sy hande op sy oë gesit het, kon hy duidelik sien wat om horn aangegaan het. Die houding wat Jesus teenoor siekte openbaar het, het ‘n groot rol gespeel op die eerste Christene se houding teenoor siektes en geneeshere. Lukas, ‘n dokter, was die reisgenoot van die apostel Paulus (Kolossense 4: 14). Hy was natuurlik ‘n Griekse dokter en daar was ‘n groot mate van ontwikkeling van medisyne in Griekeland. Dokters het ‘n eed afgelê, geskoei op die leringe van Hippokrates, dat die lewe van ‘n pasiënt altyd eerste gekom het, dat hulle nooit hul verhouding met vrouepasiënte sou uitbuit nie, dat hulle nooit aborsies sou bewerkstel­lig nie en dat hulle nooit vertroulike inligting bekend sou maak nie. Daar was ‘n groot mediese skool in Aleksandrië.

In die verhaal van die Barmhartige Samaritaan, is daar olie en wyn op die beseerde man se wonde gegooi (Lukas 10:34). Die vroeë Christene het hierdie praktyk voortgesit en siek mense met olie gesalf terwyl hulle ook vir hulle gebid het (Jakobus 5:14).

Jesus het bale mense genees van hul siektes en kwale en daardeur het Hy getoon dat Hy waarlik die Messias was (Lukas 7:20-22).

Skrywer:  Prof Hennie Stander