Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(4)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(4) – Hennie Stander

Kledingstuk name en interessante uitbeeldings

 

Die klere en die kosmotiek van ‘n Romeinse vrou word op die hierdie paneel uitgebeeld wat deur vroulike amptenare van ‘n godsdienstige kultus toegewys is.

klerekosmetiek

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Romeinse Ivoorkam, met die naam van die eienares (Modestina) daarop uitgekerf

ivoorkam

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Mans

fang kleed

(haluk)

kort onderkleed

(nikli)

linne-onderkleed met kort moue

(kolbur)

gordel

(hasor)

beurs

(pundar)

halsdoek

(miktoran)

kopdoek

(ma’aforet)

mus

(pijlon)

hoed

(koba)

doek wat oor die kop gaan

(sudarin)

kortbroek

(abrition)

broek

(subrikia)

kouse

(empiljjot)

sandale of skoene

Vrouens

lang onderkleed van linne

(klanidja)

kort onderkleed

(kolbur)

mantel

(istomukhvia)

gordel

(pirsomath)

gekleurde gordel

(sonarim)

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(3)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(3) – Hennie Stander

Hoofbedekking

Die meeste mans het ‘n hoofbedekking gedra in die vorm van ‘n stuk materiaal wat soos ‘n band met ‘n opgeslaande kant gevou is. Dit is dan soos ‘n tulband rondom die hoof gedraai. Die vrouens het weer ‘n vierkantige stuk materiaal gedra wat so gevou is dat dit die oë teen die son kon beskerm en verder het dit oor die nek en skouers gehang om sodoende volkome beskerming teen die son te kon bied.

‘n Gevlegte koord het dit in posisie gehou rondom die kop. As ‘n vrou buitenshuis was het sy haar gesig gewoonlik deur ‘n ligte sluier bedek sodat haar gelaatstrekke nie in die openbaar deur almal gesien kon word nie, alhoewel die sluier deursigtig genoeg was vir haar sodat sy kon sien waar sy loop. So het ook Rebekka haar gesig gesluierd gehou en kon Isak haar gelaatstrekke nie voor hul troue waarneem nie (Genesis 24:65). Dit was eers met die huwelikseremonie dat die sluier van die bruid se gesig opgelig is.

 

Die kleredrag van ‘n ryk man en sy vrou. Kyk na sy japonagtige mantel met die wye moue en haar armbande, hangers, oorringe en hoofband.

Rykman

 

Die skoonmaak van klere

Klere is na stroompies water geneem en dit is daarin gewas sodat die vullis kon wegspoel. Die nat klere is ook op plat klippe geplaas en dan is die vullis daaruit gestamp. ‘n Soort seep is ook gebruik om die was van die klere te vergemaklik.

 

Basiese kledingstukke

Vir die meeste mense was klere nie maklik om te bekom nie en was dit ook baie duur. Dit was dikwels die geval dat die klere wat die armes aangehad het, ook al was wat hulle besit het. Dit het dus selfs gebeur dat ‘n behoeftige vir ‘n paar skoene verkwansel is (Amos 2:6). Johannes die Doper het dus ‘n hoë eis gestel toe by gevra het dat diegene wat twee kledingstukke gehad het, een daarvan moes gee aan hulle wat niks gehad het nie (Lukas 3:11). Dit is derhalwe interessant om te sien dat met die kodifikasie van die wet in die eerste eeu n. C., die Jode ‘n lys klere opnoem wat

 

 

wel op ‘n Sabbatdag gered kon word, sou ‘n huis aan die brand raak. Dit is ‘n interessante lys omdat dit die waarde van kledingstukke aandui en ook noem dit die kledingstukke wat op daardie tydstip bekend was. Die lys het uit twee afdelings bestaan: een afdeling handel oor klere vir die mans en die tweede deel oor klere vir die vrou. Klere was so belangrik en kosbaar, dat dit ‘n teken van intense smart en berou was wanneer iemand dit in stukke geskeur het (Job 1:20).

 

Versiering

Vrouens het hulself ryklik versier met allerhande persoonlike versiersels, grimering asook haarkapsels (vgl Esegiël 23:40). Dit was so belangrik vir die vrouens van die Nuwe Testamentiese tyd, dat Christenvroue vermaan is om hulself veel eerder met “beskeidenheid en ‘n kalmte van gees” te versier (1 Petrus 3:3-4).

 

Jesaja bespreek breedvoerig hoe die vrouens van sy tyd hulself versier het (Jesaja 3:18-21). In baie van die oorringe, armbande en hangertjies was daar edelgesteentes geset, maar dit is soms baie moeilik om uit die antieke tale die presiese soort edelgesteente te bepaal. Olie het as basis gedien vir die kleurstof waarmee vinger- en toonnaels geverf is. Die skoonmaakmiddels is of met die vinger of met ‘n houtspaandertjie aangewend. Mans het dikwels ‘n ring aan hul vinger gedra of aan ‘n ketting om hul nek, maar dit was meer vir verseëldoeleindes as vir versiering gebruik. Hulle seëlringe het amper dieselfde funksie gehad as wat die moderne mens se handtekening het. In OuTestamentiese tye is hare lank gedra en die sny daarvan is deur die Jode verag (Jeremia 49:32). Priesters se hare was egter van ‘n meer matige lengte (Esegiël 44:20). In die Nuwe Testamentiese tye was dit egter weer oneervol vir ‘n man om lang hare to dra (1 Korintiërs 11:6). So het modes ook maar gewissel.

 

Die feit dat vrouens gesluierd in die openbaar beweeg het, weerspreek egter nie die feit dat hulle hul ook versier en grimeer het nie. ‘n Mens moet onthou dat daar verskillende gebruike in verskillende omstandighede bestaan het. So lees ons byvoorbeeld dat Rebekka haar gesig met ‘n sluier bedek het toe sy Isak sien aankom. Tog was sy voor dit ongesluierd in die teenwoor­digheid van die dienskneg (Gen 24:65).

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(2)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(2) – Hennie Stander

Die gordel:

Die onderkleed.is om die persoon se middellyf met ‘n gordel vasgemaak wat van leer (Matteus,3:4) of van ‘n growwe kledingstof gemaak is. Omdat die gordel so lekker breed was, is dit dikwels so gevou dat geld of ander besittings daarin gebêre kon word (Markus.6:8 – die Griekse woord wat hier in die Afrikaanse vertaling met “.beursie vertaal word, beteken eintlik gordel). Hierdie gordel was baie handig en ‘n mens kon ook wapens of ander werktuie daarin steek (1 Samuel 25:13).

As enigiemand meer vryheid van beweging wou hê om te kon werk of te hardloop, het hulle bloot die pant van die onderkleed opgelig en in die gordel ingesteek. Dit het hulle “die omgord van die lendene” genoem, en hierdie uitdrukking het later ‘n idioom geword met die betekenis van “jouself in gereedheid te bring”. Petrus, byvoorbeeld, vermaan die Christene om heldere en nugtere denke aan die dag te lê wanneer by hulle aanraai om “die lendene van hul verstand te omgord” (1 Petrus, 1:13). Ook die vrouens het die pant van hul onderkleed opgelig wanneer hulle iets van een plek na ‘n ander daarin wou dra.

 

Die bokleed (of mantel)

‘n Mantel het bestaan uit ‘n lang strook materiaal wat los om die liggaam gehang is en bo-oor die onderkleed gedra is. So ‘n mantel kon een van twee soorte wees. In gebiede waar daar behoefte was aan warm bedekking, is n omhangsel van dik wolstof gemaak. Dit was by die skouers. vasgewerk met splete aan die kant vir die arms. Die ander vorm van ’n .mantel het byna soos ‘n japon gelyk en het wye moue gehad. Mantels van systof gemaak was as baie kosbaar beskou en die rykes het dit gedra wanneer hulle in die openbaar verskyn het.

 

Die soom van die mantel kon ongetooid of ook geborduurd wees. Die ongetooide soom was die algemene gebruik. Dit was waarskynlik hierdie soom van Jesus se kleed wat die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, aangeraak het (Matteus 9:20).

 

‘n Leersandaal uit die eerste eeu n.C. gevind in die Masada vesting.

 

Sandaal

In navolging van Numeri 15:38-41 het die Fariseërs se mantels some gehad met tossels wat aan die vier hoeke vasgemaak is. Hulle het dikwels ook die soom en die tossels baie prominent en opvallend gemaak om daardeur die aandag op hul piëteit te vestig. Dit was dan juis ook hierdie grootdoenerigheid van hulle waarteen Jesus horn uitgespreek het (Matteus 23:5).

 

Hierdie mantel is ook as kombers gebruik. Snags het die mense hulle daarin toegewikkel en vir baie mense was hierdie kleed die enigste vorm van beskerming wat hulle gehad het. Gevolglik, in gevalle waar so ‘n mantel verpand is, was die houer daarvan verplig om dit aan die eienaar terug te gee voor sononder sodat laasgenoemde daarin kon slaap (Eksodus 22:26-27). Om hierdie selfde rede sou ‘n Joodse hof nooit op iemand se mantel beslag nie.

 

Skoeisel

Die armes het dikwels kaalvoet geloop, maar ander weer het eenvoudige sandale gedra. Die sool daarvan is van beesvel gemaak om by die vorm van die voet te pas. Dit is aan die voet vasgemaak deur ‘n lang riem wat deur die sool gegaan het, tussen die groottoon en die toon langsaan deur, en dit is dan om die enkel vasgebind (vgl Lukas 3:16). Soms het die riem die lussies verbind wat rondom die sool aangebring is en dan het dit heen en weer oor die boog van die voet gestrek.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(1)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(1) – Hennie Stander

Die kleredrag van ‘n persoon wat in die Bybelse tyd geleef het, was redelik eenvoudig. Dit het basies bestaan uit ‘n onderkleed en ‘n bokleed en daar was ook een of ander vorm van hoofbedekking. Die dra van skoeisel of ‘n lendedoek was opsioneel. Die geringe variasies wat daar in hierdie patroon bestaan het, het meer gegeld ten opsigte van die kleur, materiaal en styl as van die soorte kledingstukke, omdat bogenoemde klere die mees geskikte vir ‘n relatiewe warm klimaat was.

Mansklere. Van links na rags: ‘n werker met sy onderkleed wat in sy gordel ingesteek is; ‘n man wat ‘n dik wolmantel (bokleed) oor sy onderkleed dra; ‘n ryk man met ‘n kleurvolle mantel met ‘n brae soom.

 kleredrag1

Die lendedoek

Soms is ‘n lendedoek (of ‘n kort onderrok) gedra. Dit was ‘n strook materiaal wat.om die heupe gedraai is en die lyf was kaal. Dit was egter die algemene drag wanneer swaar handearbeid verrig moes word. Petrus het byvoorbeeld heel waarskynlik so ‘n lendedoek of onderkleed gedra toe hy “naak” was of sy klere uitgetrek het om in die familie se vissersboot to werk (Johannes 21:7). Met sy bokleed aan sou hy minder vryheid van beweging gehad het. Ons lees ook van ‘n jongman wat slegs so n lendedoek om sy naakte lyf aangehad het toe Jesus gevange  geneem is. Hy het dit egter laat val en nakend weggevlug (Markus 14:51). In teenstelling met moderne voorstellings van die kruisiging van Jesus, het Hy waarskynlik heeltemal nakend aan die kruis gehang omdat ons lees dat die soldate al sy klere uitgetrek het (Johannes 19:23). Dit was die gebruik dat die soldate al die klere wat ‘n veroordeelde aangehad het vir hulle geneem het as hulle die kruisiging voltrek het.

 

Die onderkleed (of lyfrok)

Die onderkleed (of lyfrok) was ‘n eenvoudige kleed wat van twee stukke materiaal gemaak is en wat horisontaal, op heupvlak, aanmekaar vasgewerk is. Wanneer daar strepe in die kledingstuk ingeweef is op die weefraam, was hierdie strepe altyd vertikaal in die eindproduk. Hierdie onderkleed het nogal baie na ‘n sak gelyk. ‘n V-vorminge opening is vir die kop ingesny en in die twee hoeke is daar snitte gemaak waardeur die arms kon steek. Die. onderkleed is van wol, linne of selfs van katoen gemaak, afhangende van hoe ryk die persoon was wat dit gedra het. ‘n Lyfrok (= onderkleed) wat van saklinne of van bokhaar gemaak was, was baie ongemaklik omdat dit velirritasie tot gevolg gehad het. Dit is dus in tye van roubeklag en boetedoening gedra. Die onderkleed van mans was gewoonlik kort en kleurvol; die van vrouens weer het tot op die enkels gehang en het versierde some rondom die kante van die V-nek gehad.

 

Die onderkleed wat Jesus gedra het, was egter sonder ‘n soom in die middel (Johannes 19:23). Dit is as een stuk geweef en is nie in die middel aanmekaar vasgewerk nie. Dit was dus blykbaar ‘n redelike waardevolle kleed. Miskien het van Jesus se volgelinge hom met so ‘n kleed vereer. Dit is dus te verstaan dat die soldate oor Jesus se kleed die lot gewerp het. Josefus, ‘n Joodse historikus wat omtrent dieselfde tyd as Jesus geleef het, vertel vir ons dat die hoëpriesters altyd so ‘n kleed gedra het. Die dertig “linnehemde” wat Simson beloof het om te gee aan diegene wat sy raaisel korrek kon beantwoord, was waarskynlik soortgelyk aan hierdie onderkleed (Rigters 14:12 ev). Die mense van die Bybelse tye het nie spesiale klere, soos nagklere, gehad waarin hul geslaap het nie. Hulle het net hul gordel losgemaak en elkeen het dan in sy of haar onderkleed gaan slaap, en as dit warm was, het hulle sonder klere geslaap.

 

Dit is egter baie belangrik dat ons duidelik sal verstaan wat ons met elke term bedoel aangesien dit nie altyd moontlik is om ‘n moderne ekwivalent uit te wys vir elke antieke kledingstuk nie. In die eerste plek moet ons nie dink dat die onderkleed die onderlyf bedek het en die bokleed weer die bolyf nie. Met onderkleed word bedoel dat dit onder die bokleed gedra is. Maar nog belangriker, ons moet nie die onderkleed met onderklere probeer gelykstel nie. Dit sou ‘n heeltemal verkeerde begrip wees aangesien dit in die Bybelse tyd heeltemal betaamlik was om net met jou onderkleed ‘aan in die openbaar te verskyn.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander