1 Petrus 3:19 – 21

1 Petrus 3:19 – 21 – Francois Malan

Willie vra:

 

My vrae handel oor 1 Petrus 3:19-21 “So het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en Sy oorwinning daar aangekondig ( alternatief – en vir hulle gepreek ).Hierdie geeste is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy baie geduldig met hulle was”. 1) Wanneer sou Jesus Christus na die Geeste in die gevangenis gegaan het ? 2) Hoekom sou Hy Sy oorwinning aan hulle wou gaan verkondig want is die nie die geeste van mense vir wie die genadetyd reeds verby was nie ? 3) Is die vertaling van “Die doop red julle deur die opstanding van Christus” wel korrek vertaal uit die Grieks?

 

 

Antwoord

 

Prof. Francois Malan antwoord:

 

 

1 wanneer, 2 hoekom

 

Die skrifverklaarders stem almal saam, dit is van die moeilikste tekse in die Bybel, en die verklaring van elkeen van die oorspronklike Griekse woorde het ook probleme om te weet watter betekenis weergegee moet word.

 

 Daar was al baie uiteenlopende verklarings deur die eeue, wat veral in drie groepe verdeel kan word:

(1) dit verwys na Christus se verkondiging in die tyd van Noag, toe die mense nie na die boodskap van Noag se ark geluister het nie – so bv. Augustinus;

(2) dat dit geskied het tussen Jesus se sterwe en sy opstanding:

(2a) die Griekse Ortodokse kerk en die Roomse kerk sê dat Jesus na sy kruisiging na die doderyk gegaan het om die vromes van die Ou Testament se tyd uit die limbus patrem, die plek in die doderyk vir die vaders, na die hemel oor te bring;

(2b) die Lutherse kerk sê dat Jesus sy mag en oorwinning aan die Satan gaan bekend maak het; (2c) party verklaarders meen die geeste is gevalle engele aan wie Christus die oordeel aankondig; (3) dat dit  Christus se sterwe en opstanding is wat die verkondiging is, sy oorwinning oor die bose en die dood wat aangekondig is.

   

 

Die artikel in ons geloofsbelydenis ‘wat ter helle neergedaal het’ het o.a. uit hierdie tekse ontstaan teen die einde van die 4e eeu n.C., en is toe eers in die belydenis opgeneem. Calvyn se verklaring vir die artikel is dat Jesus die helse straf gedra het toe Hy aan die kruis uitgeroep het: My God , my God, waarop het U My verlaat. Die hel is volgens Matteus 25:41; Openb 19:20; 20:15 die plek wat God gereedgemaak het vir die straf van die duiwel en sy engele, en die ‘vervloektes,’ mense wat aan Jesus ongehoorsaam was (ook die mense in die Ou Testament se tye, want Jesus is en was nog altyd die Woord van God wat mense geglo het of verwerp het; vgl. Johannes 1:1-3. Die straf op die sonde van die hele wêreld het Jesus, uit selfopfferende liefde,  aan die kruis op Hom geneem (vgl. Johannes 1:29). So het God self die regverdige straf op mense se bose dade deur die eeue in ons plek gedra, die straf wat bly op die mense wat nie aan Jesus gehoorsaam is nie (Johannes 3:36).   

 

1 Petrus 3:18 kan verwys na die Heilige Gees wat vir Jesus lewend gemaak het; sommige vertaal vers 18 egter as: Christus is doodgemaak na die vlees en lewend gemaak na die gees.

 

vers19 begin met die Griekse woorde en hooi (in/deur wie – persoonlik, of: in/deur  wat – onsydig), wat dan vertaal kan word dat Christus deur die Gees wat Hom lewendig gemaak het, vir die geeste gaan preek het;

Die woorde kan egter ook onsydig vertaal word as ‘deur wat’ – dan kan beteken

(i)             dat Jesus na die gees (‘n onsydige woord; en nie met sy liggaam nie) vir hulle gaan preek het. 

(ii)            dat Jesus  se opstanding uit die dood, wat in v18 genoem word, vir die geeste die aankondiging van Jesus se oorwinning is. Dit sou pas by Calvyn se verklaring. 

 

Die Griekse werkwoord poreuomai beteken ‘gaan’ van een plek na ‘n ander; of ‘reis,’ maar verwys nie na opgaan of afdaal nie,; in 3:22 word daarby gevoeg dat Hy in die hemel ingegaan het. Daarom meen party verklaarders dat Jesus met sy hemelvaart vir die geeste in die lug (waarvan Ef 6:12 praat) gepreek/aangekondig het. Die antieke beeld van die heelal het gepraat van die wolke-hemel, die lugruim of sterre-hemel, en die derde hemel waar God woon (vgl 2 Kor 12:2). Maar in ons ruimte-eeu weet ons dat die hemel ‘n ander dimensie is, dat God alomteenwoordig is en dat die hemel daar is waar God is.  

 

Die woord pneumata geeste, kan verwys na bo-natuurlike wesens, engele of bose geeste (gevalle engele). Vers 20 verwys egter na hulle in die tyd van Noag, sy tydgenote, waarskynlik word gedink aan die geeste van die mense wat oorlede is in die vloed, as verteenwoordigers van almal wat reeds gesterf het van die begin van die mensheid af.

 

Die woord fulake kan verwys na ‘n gevangenis, of ‘n (nag)waak, of ‘n plek waar bose geeste bly. Volgens Ef 6:12 bly die bose geeste in die lug/hemelruim; volgens Openbaring 11:7 kom die dier uit die bodemlose diepte (abussos) waar die leier van die bose engele ook bly (Openb 9:11). In Bybelse tyd was die gedagte dat mense wat sterf na hades die ‘doderyk’ gaan.

Die woord gehenna word vir die hel gebruik, die Griekse vertaling vir die Hinnomdal by Jerusalem, na aanleiding van die ashope van Jerusalem in die Hinnomdal, wat altyd gebrand het, en waar kinders in die gloeiende arms van die beeld van die afgod Molek geoffer is (Lev 20:2)..

 

 Die Griekse werkwoord kerusso word gebruik vir ‘aankondig, vertel en preek’. Is dit ‘n boodskap van veroordeling vir die ongehoorsames, of ‘n boodskap van oorwinning vir die gehoorsames, of moontlik albei? Vir die verkondiging van die evangelie word gewoonlik die woord  euangelizoo gebruik. Dit laat dink dat Hy sy oorwinning oor die bose en die dood aangekondig het.

            1 Petr 3:22 sê van Jesus: Hy wat aan die regterhand van God is nadat Hy die hemel binnegegaan het, en engele, magte en kragte aan Hom onderwerp het.

            1 Kor 15:24-26 sê dat die einde kom wanneer Christus alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. Hy regeer as koning totdat Hy al die vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood.  

 

As die en hooi onsydig vertaal word, kan dit beteken dat Christus se kruisiging en opstanding sy oorwinning oor die sonde en die dood is wat aan die geeste in die gevangenis van die sonde en die dood aankondig, dat Hy die sonde en die dood met sy liefdesoffer oorwin het, en nou hulle Regter is aan die regterhand van God – aan almal wat nie in Hom wou glo nie, soos die mense van Noag se tyd.  

 

3. Doop – vertaling

 

1 Petr 3:20 verwys na die paar mense in Noag se ark wat deur die vloedwaters heen gered is. Daarby skakel vers 21 aan, letterlik met: ‘en waarvan die teenbeeld (antitupon iets wat in vorm en struktuur met iets anders ooreenkom, as ‘n vervulling van ‘n realiteit wat vooruit gewys het) julle nou red, die doop, wat nie die aflegging van die vuilheid van die liggaam (is nie), maar ‘n versoek (of: ‘n plegtige belofte) aan God  vir ‘n goeie gewete, deur die opstanding van Jesus Christus…’

            Die woord eperootema word vir ‘n bede gebruik, maar ook vir ‘n bepaling in ‘n kontrak tussen twee persone, ‘n verpligting, ‘n bindende onderneming, ‘n belofte om ‘n bepaling getrou na te kom – Engels ‘pledge’ – wat die dopeling met God aangaan by die doop dat hy/sy hulle gewete sal skoon hou. Hierdie vernuwing/reiniging van die mens word nie bewerk deur die water of die doophandeling as sodanig nie, maar deur die opstanding van Jesus Christus. Die doop is die teenbeeld of uiterlike teken van wat die opgestane Jesus met ons doen as ons aan Hom verbind is, aan sy dood en opstanding verbind om te sterwe aan die sonde en te lewe vir God (Romeine 6:1-14). Ons is verbind aan Hom wat volgens 1 Petr 3:23 aan die regterhand van God is, as die regeerder oor die hele skepping.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Geeste van Afgestorwenes

Geeste van Afgestorwenes – Francois Malan

Willie vra:

My vraag handel oor Hebreers 12 vers 23, “Julle het gekom by God, die Regter oor almal ,en by die geeste van die verslostes in die hemel wat nou volkemdheid bereik het”.Vers 24 – ” ja julle het aangekom by Jesus die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en sy mense …” My oudste seun was n spastiese kwadrupleeg en is op 26 oorlede . My vrae is 1) Is Kobus( ek neem aan net sy gees) in Jesus Christus se teenwoordigheid op so ‘n manier dat hy met Christus kan praat? 2) Wat beteken die volkomendheid waarna hier verwys word?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Hebreërs 12:18-24 word ‘n vergelyking getref tussen die ou en die nuwe verbond as ‘n waarskuwing teen agteruitgang in die geloof en ‘n aansporing  om te volhard, met die oog gerig op Jesus, die Voleinder van die geloof. Aan die een kant word verwys na die openbaring van God wat sy verbond met Israel gesluit het by die berg Sinai nadat Hy hulle uit die slawerny van Egipte verlos het (Eksodus 19:16-19; 20:18-21). Daarteenoor staan die heerlikheid van God se openbaring in die nuwe hemelse Jerusalem en van die nuwe verbond wat God gemaak het deur die bloed van Jesus Christus wat by Sion gekruisig is. 

 

Volkomendheid?

By die Sinai-openbaring is die skrikwekkende gebeure en die volk se vrees op die voorgrond. Maar hoog bokant die berg Sion skitter die hemelse Jerusalem se vreugdefees rondom God die regverdige Regter en Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond. Hulle word geprys deur miljoene engele, al die Christus-gelowiges op aarde wie se name in die hemel opgeteken is, en die regverdiges wat reeds gesterf het en wie se verhouding met God, die Regter, volmaak reggestel is deurdat Christus, die Middelaar, hulle uit genade volkome van sonde vry gemaak het deur sy liefdesoffer aan die kruis.   

 

Met Jesus kan praat?

Al Christus se volgelinge, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het, kan daagliks enige tyd met Hom praat. In Johannes 14:23 sê Jesus: As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. In Johannes 14:16 het Hy reeds gesê Hy sal die Vader vra en die Vader sal die Heilige Gees vir ons gee sodat die Heilige Gees vir ewig by ons kan wees. Romeine 8:10-11 sê Christus is in ons, en die Gees van God wat ook die Gees van Christus genoem word, woon in ons. Die Here ken ook elke gedagte wat ons dink (Ps 139:2). 1 Korintiërs 13:12 sê: eendag sal ek ten volle ken, soos ek ten volle geken is.

 

Net sy gees?

In Filippense 1:23 sê Paulus oor sy dood: hy verlang om heen te gaan en saam met Christus te wees. Dit is immers verreweg die beste. Paulus as persoon sal saam met Christus wees. Hoe ons dan sal wees, kan ons mense op aarde nie mooi verstaan nie. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Met die helm gebore

Met die helm gebore – Francois Malan

Frikkie vra:

Wat beteken dit om met die helm gebore te word? Bestaan dit werklik? Is dit n gawe van God of nie? Hoekom kan hulle “geeste sien”?. Hoe hanteer jy die mense en wat sê jy vir hulle?

Hulle praat van slegte geeste en goeie geeste. Slegte geeste is net uit om moeilikheid te maak terwyl die goeie geeste daar is om wat hulle noem rus te vind? Hulle “die wat met die helm gebore is” reken hulle praat met die mense, verduidelik aan hulle wat ook al die omstandighede is en dan volgens hulle vind die geeste dan rus. Kan dit so wees? Verbied God nie dan sulke goed nie en hoekom sal hulle dan die geeste help/gawe?

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

HAT se definisie:

Helm is ‘n stuk van die eiervlies wat die kind se kop by geboorte soms bedek.Met die helm gebore te wees:

  • (a) die vermoë te hê om dinge soos voorbodes, naderende ontheil, ens. te sien;
  • (b) deur die geluk begunstig te wees;
  • (c) nie heeltemal normaal te wees nie.

 

Die drie groepe hoef nie noodwendig met ‘n stuk van die eiervlies oor die kop gebore te gewees het nie. Dit is eintlik ‘n spreekwoord wat in die spreektaal op verskillende mense toegepas word om ‘n naam te gee vir die ongewone eienskappe van die die drie groepe persone – om dit mee aan te dui.

 

(a)   Die mense wat die vermoë het om dinge soos voorbodes en naderende onheil te sien, loop nie daarmee te koop nie, en hulle dra ‘n las om vooraf te weet dat ‘n ongeluk of iets dergeliks iemand gaan oorkom, sonder om self iets daaraan te kan doen om dit te verhoed. Maar party mense sien voorbodes in dinge wat vir hulle onverklaarbaar lyk.

(b)   Die mense wat deur die Here begunstig is met onverwagte geluk, het ‘n groot verantwoordelikheid om dankbaar teenoor die Here te wees en so daarmee om te gaan.

(c)   Mense wat nie heeltemal normaal is nie, het ons simpatie en hulp nodig.

 

Maar die mense waarvan die vraesteller praat, is in ‘n ander kategorie, wat nie as ‘met die helm gebore’ geklassifiseer kan word nie. 

 

Die Bybel praat baie oor engele en duiwels, van goeie en bose geeste. Van engele wat in diens staan van God om sy wil bekend te maak en uit te voer: vgl. bv. Ps 91:11 om jou te beskerm; Ps 103:20 magtige engele wat die opdragte van die Here uitvoer en sy bevele gehoorsaam; Mat.13:49 by die voleinding van die wêreld sal die engele uitgaan en die slegtes van die goeies skei; 

 

Van ‘n bose gees wat oor Saul gekom het, word bv gepraat in 1 Sam.19:9; van Jesus wat bose geeste uitgewerp het uit die mense wat in die mag van duiwels was (Mat.8:16); van die man met ‘n bose gees wat na Jesus toe gekom het en genees is (Mark. 5:2); van bose geeste wat uit mense van Samaria uitgegaan het wat na Filippus se prediking oor Christus geluister het (Hand. 8:7,8); van Paulus wat in die Naam van Jesus Christus vir die waarsêersgees in ‘n slavin beveel het om uit haar uit te gaan (Hand 16:18); Paulus verwys na die gelowiges in Efese wat hulle voor hulle bekering laat lei het deur die vors van die onsigbare bose magte, wat nou werk in die mense wat aan God ongehoorsaam is (Efes. 2:2) en hy waarsku die gemeente dat ons stryd is teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, daarom moet ons die volle wapenrusting van God aantrek sodat ons staande kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel; van die duiwel en sy engele word gesê dat God vir hulle ‘n ewige vuur berei (Mat. 25:41; Openb.20:10).

 

Die Bybel waarsku teen ‘n gespeel met bose geeste en waarsêery (Lev. 19:31; Deutr.18:10-14; Jes.8:19).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Huisskoonmaak

Huisskoonmaak – Jan van der Watt

Lititia vra:

Ek verwys na die huisskoonmaak artikel.My dogter is nou 10 jaar oud. Sy het so twee jaar terug alleen begin slaap in haar eie kamer. Dit is nou twee jaar van hel. Sy slaap glad nie deur nie. Party aande slaap sy saam met my en my man op die bed. Partykeer op die grond langs ons bed of in ons badkamer op die vloer. Ek het haar al gevra wat fout is en dan praat sy net van die oom wat haar nie wil uitlos in haar kamer nie. Nou ek kan glad nie sulke goed voel of sien nie en my man glo nie aan die bonatuurlike goed nie. Maar om my kind te help het ek al mense rondom my gaan vra vir raad. Ek het al my huis met olyfolie geseën en sout gegooi. Ek het die Bybel ook al oop op haar bedkassie gelos. Niks help nie. Die naweek was een van ons vriende se ma hier gewees om iets te kom haal. Toe sy hier inkom het sy sommer dadelik na Elani se kamer gegaan en die deur toe gemaak. Sy het ‘n half uur later uitgekom en gesê sy sien goed. Sy het ‘n man, vrou en twee kinders gesien en gevra om uit die huis te gaan, maar hulle het geweier. Wat moet ek nou doen ek is so magteloos. Môre begin die skool en ek sal graag iets wil doen voordat die skool uitkom. Dit begin regtig ons as familie beinvloed. Ons baklei baie wat ons nooit voorheen gedoen het nie. Elkeen is iewers in die huis maar praat glad nie meer met mekaar nie. Boonop alles is my skoonpa ook nou die 11de Desember oorlede. Dit vat verskriklik aan my. Ek moet al sy goed alleen uitsorteer en niemand besef hoe erg dit vir my is nie. Hy was my eie pa gewees. Ek kon alles met hom deel. My regte pa wil ek nie oor praat nie. Ek is nou op antidepressante gesit en slaappille want die dokters het gese ek is baie erg depressed. Dit voel net nie meer of ek lus is vir die lewe nie. op hierdie stadium raak alles net te veel. Partykeer voel dit vir my of ek net ‘n einde aan my lewe wil maak. Ek voel regtig dood en my twee dogters praat nie eers meer met my nie. Hoe kan ek die mense uit my huis uit kry dat ek weer kan vrede in my huis he. Hoe kan ek bid?

Antwoord:

Bybelkennis.co.za is ‘n webblad waar ons oor Bybelse sake probeer inligting deurgee. Ons kan ongelukkig nie berading oor die internet doen nie. Tog het ons baie simpatie en empatie met mense wat deur moeilike tye gaan. Daarom het ons met ‘n baie goeie beradingsinstansie gereël om ons lesers te help, naamlik Coram Deo in Pretoria. Ons stuur e-posse waarin mense vir hulp vra aan hulle deur. Hulle sal help sover hulle kan en hulle vermoëns strek.

Wat bogenoemde saak betref, net ‘n paar opmerkings.

A) moenie die krag van suggestie vergeet nie. Ek kan onthou dat ek as kind ook soms bang was vir die donker en ook allerhande dinge gesien het (wat geblyk het nie daar te wees nie). (Vandag se kinders in ons traumatiese samelewing het dit nog baie moeiliker omdat die vlakke van vrees in ons land baie hoër is). As iemand toe vir my gesê het dat dit werklik geeste was en sout en olie ens. begin strooi het, sou ek begin glo het in die geeste, en dit sou vir my ‘n realiteit geword het soos wat my familie vir my was. Ek sou dan net banger geword het. ‘n Mens bou dus so ‘n realiteit vir jouself op waarvoor jy dan self bang word.

B) Die geeste wat gesien word in die kamer weet blykbaar nie hoe om by ‘n deur uit te gaan nie, wat hulle is net in die kamer. Waarom is hulle nie ook elders nie? Dit hang tipies saam met suggestie. As jy die hele tyd suggereer daar is ‘n gees in die kamer gaan almal hom daar soek – omdat daar nie gesuggereer word dat die gees buite die kamer is nie, sien jy hom ook nie daar nie.

C) Die patroon van suggestie gaan moeilik afgebreek word en daarvoor is hulp nodig.

D) Almal sukkel soms met slaap – sommige meer as ander. As jy wakker lê en nog bang is ook, kan jou gedagtes wilde draaie met jou loop. Die feit dat die dogter by haar ouers tog aan die slaap raak is bewys dat sy daar sekuur en veilig voel. Die vrees en angs is dan weg en dit speel nie parte met haar gedagtes nie.

E) Onthou dat die Bybel duidelik sê dat die Here en sy Gees sterker is as enige ander geestelike mag. Om die waarheid te sê, die Heilige Gees woon in ons – ons is sy tempels (1 Kor 3:16). Al sou daar geeste rondom ons wees, die sterkste Gees van almal woon in ons.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt