Die kerk en geestesongesteldhede

When you are angry, you will make the best speech you will ever regret.” –William Ury

 

Die kerk en geestesongesteldhede

Die afgelope aantal dae word daar baie oor hierdie onderwerp geskryf. Rick Warren se seun Matthew het selfmoord gepleeg as gevolg van ‘n geestesongesteldheid – waarskynlik depressie. Die vraag: Is die kerk en Christene voorbereid om geestesongesteldhede te hanteer?

 

 

Baie jare gelede is gesê dat geestesongesteldhede die gevolg van sonde of demone of ‘n gebrek aan geloof is. Hierdie dinge is werklikhede, maar geestesongesteldhede is ook ‘n werklikheid. Hulle is nie dieselfde ding nie. Kerke se reaksie op geestesongesteldhede kan ten beste as verwarrend beskryf word.

 

Wat moet gemeentes en Christene doen?

  • Ons moet ophou om geestesongesteldhede weg te steek – praat openlik daaroor.
  • Die gemeente behoort ‘n veilige hawe te wees vir diegene wat probleme het.
  • Moenie bang wees vir medisyne nie.
  • Dit is nie nodig om skaam te wees as jy ‘n geestesongesteldheid het nie – jy is tog nie skaam as jy longontsteking het nie!

 

Hier is ‘n paar dinge wat ons moet onthou:

  • Daar is elke week mense in die kerkbanke – en leraars – wat een of ander geestesongesteldheid of depressie het.
  • Christene weet dat God verwag dat hulle ander mense sal liefhê. Dit geld vir almal, ook vir diegene wat ons nie verstaan nie.
  • Christene aanvaar dat mediese behandeling vir geestesongesteldhede van waarde is.
  • Deernis en versorging help hierdie mense om te weet hulle hoef nie weg te kruip nie.
  • Geestesongesteldhede het niks met jou of jou gesin se geloof te doen nie – almal kan dit ontwikkel.

 

Hierdie dinge lyk vanselfsprekend, maar dit is nie. Ons moet weer en weer daaraan herinner word. Dit is baie belangrik om te onthou dat geestesongesteldhede nie net die individu raak nie, maar die hele familie. Beide individue en families moet weet en voel dat God en die kerk hulle, te midde van hulle probleme, liefhet.

[Ek het onder andere van Ed Stetzer se blog gebruik gemaak.]

 

 




‘n Vriendelike gemeente vir mense met geestesongesteldhede

‘n Vriendelike gemeente vir mense met geestesongesteldhede

  • ‘n Skriftelike dokument wat beskikbaar is en wat dit duidelik stel dat geestesongesteldhede nie sonde of as gevolg van ‘n gebrek aan geloof of iets is wat sommer sal verdwyn as jy jou net regruk nie, is van groot waarde.
  • Nie net Sondae nie. Steungroepe en aktiwiteite gedurende die week is ook belangrik.
  • Aanvaarding. Miskien is my depressie so erg dat ek nie juis ‘n bydrae kan maak nie, maar as jy by my sit en my aanvaar is dit vir my van groot waarde.
  • Hulp as ek in die nood is. Daar is ‘n lys van mense na wie ek kan gaan – mense wat vir my sal bid en met wie ek oor my probleme kan praat. ‘n e-posadres waarheen ek my gebedsversoeke kan stuur help reeds.
  • Mense wat oplet. Party dae voel ek te sleg om die erediens by te woon. Is daar iemand wat sal vra waar ek is? As ek wel die Sondag kom, is daar iemand wat sal vra hoe dit gaan en my tuis sal laat voel?
  • Goeie luisteraars. Mense wat nie sommer instorm en raad gee nie. Mense met geestesongesteldhede kry baie advies. Soms is dit lekker as iemand net luister.
  • Geen kitsoplossings nie. Geestesongesteldhede word selde oornag genees – genesing kom met tyd. Sommige word nooit genees nie. Moenie gefrustreerd word as ek nie vinnig herstel of gereeld terugvalle kry nie.
  • Liefde. Om mense met geestesongesteldhede lief te hê, is nie altyd maklik nie. Onthou altyd hulle kry seer en probeer hulle beste. Daarom wees altyd vriendelik en liefdevol met hulle.
  • Hierdie is waarskynlik die mees verwaarloosde groep in ons gemeente. Is dit nie dalk waar God wil hê jy moet jou bydrae lewer nie?