ChatGPT en ons Geloof – Kobus Kok

Rondom November-Desember in 2022 het die wêreld gegons oor ChatGPT en begin om met kunsmatige intelligensie te speel. Probeer dit gerus hier. Jy kan dit byna enige vraag vra. Selfs om vir jou ‘n dieet program te ontwikkel of ‘n oefenprogram. Idees vir ‘n ete. Vir nagereg. Selfs ‘n Bybelstudie waarin sommige skrywers se insigte verwerk is.

Ek sien nou die dag ’n berig van ’n dominee in Duitsland wat die eerste erediens gehou het waarin hy ChatGPT gebruik het om hom te help om die materiaal vir sy erediens te skryf. Sy kerk was stampvol om te sien wat gebeur. En mense was nogal baie positief oor hierdie belewenis. Ek het self daarmee begin werk en gevind dat dit ’n verbysterende vermoë het om onder meer gedigte te skryf, narratiewe te skryf en selfs ook moeilike konsepte te integreer en te verduidelik. Soms maak dit nog vreeslike foute. As mens die foute uitwys vra dit so ewe om verskoning.

Hierdie afgelope naweek het ek juis ’n gemeente retraite in België vir ‘n Evangelische Gereformeerde gemeente aangebied oor die uitdagings wat 2023 en kunsmatige intelligensie aan ons stel. Daar is onder meer in Kyoto in Japan’n kunsmatige intelligensie priester uit aluminium en silikon geskep met die naam “Mindar” (sien hier). Hierdie K.I. priester word gekodeer met die bepaalde religie se tekste en denke, en dit is noemenswaardig om te sien hoe goed die “priester” kan antwoord en ons besef dit gaan al meer gesofistikeerd raak in die toekoms. Veral as mens professor Michio Kaku se insigte in gedagte neem. Kaku verwys na die nabye toekoms en wat vir ons mag voorlê wanneer ons met quantum computing gaan werk. In ’n onlangse toespraak wat hy by Google gehou het, het hy gewys op die reuse implikasie wanneer K.I. mense gaan verbygaan (sien hier). So praat ons hierdie naweek in België oor hoe ons voel oor Kunsmatige Intelligensie Priesters. Sou ons ’n K.I. dominee wou hê? Die blote gedagte van die moontlike realiteit van ’n chatbot middelganger is soos ’n spieël vir ons wat ons help om te reflekteer op ons diepe waardes en ons grense. Deur die bank het die antwoord gekom dat daar iets belangrik ontbreek as dit by die gedagte van, of keuse tussen ’n K.I. entiteit, en ’n regte mens kom. Mense verkies eerder ’n dominee, met “issues” en persoonlike krake, selfs bó ’n K.I. entiteit wat bo-menslike kennis mag hê. Mense glo dat dit juis die gebrokenheid en krake van die mens is wat die ruimte is waar God se krag sigbaar word. Mense glo vas dat K.I. entiteite nie outentiek met genade en barmhartigheid sal kan omgaan nie. Al word dit kunsmatig geprogrammeer daarmee. Met alles wat Covey in sy boek “The Speed of Trust” noem. Gebrokenheid is vir ons ’n belangrike dimensie waarin ons glo dat iets extra nos – buite ons – moet deurbreek. Gelowiges glo dat die mensdom se masjiene, hoe slim ookal, selfs slimmer as ’n mens, nie die somtotaal kan wees van openbaring nie. Ons Bybelse wêreldbeeld laat ons glo dat God vanuit die geestelike of goddelike werklikheid inbreek in ons bestaan. Dat die Gees se krag nie in taal-algoritmes vasgevang kan word nie. Dat mense, in hulle gebrokenheid, juis die plek is waar God se Gees werk. Ons glo dat K.I. ons baie kan help met inligting. Selfs uitstekende nuwe inligting en perspektiewe, maar dat dit uiteindelik vir ons as mens ten diepste in die ruimte van gebed plaasvind dat ons God se stem hoor. Dat ware menslike resonansie in en deur ons kwesbaarheid juis gebeur. Mense voel dat die K.I. revolusie ons nie verder gaan wegvat van die behoefte om God se stem in gemeenskap met gelowiges en ons persoonlike verhouding met God te beleef nie, maar ons juis gaan laat terugbeweeg na verwondering en outentiekheid. Menslike, gebroke outentiekheid. Dit is eintlik met selfs meer verwondering dat ons dink aan Filippense 2:5-11 en Kolossense 1:15-20 en aan Jesus wat geïnkarneer het in ‘n die vorm van ‘n mens. ‘n Mens wat sy tent kom opslaan het onder ons en onder ons kom woon het (Joh 1:14). 

Skrywer: Prof. dr. Jacobus (Kobus) Kok

Professor and Head of Department New Testament Studies

Co-Director Research Centre for Early Christianity 

Professor Extraordinarius, University of Pretoria 

 

Evangelische Theologische Faculteit, Leuven

Sint-Jansbergsesteenweg 97 | 3001 Leuven | Belgium

+32 483753568

Kobus.kok@etf.edu  

www.etf.edu 

https://www.etf.edu/en/staff/kobus-kok/




Geloof en werk: Kan dit geïntegreer word?

Did Jesus say to Lazarus that if he did his best he would give him a lift so that together they would get him out of his grave? – C. Van Til

 

Geloof en werk: Kan dit geïntegreer word?

Hoe weet ek God wil hê ek moet daardie werk aanvaar? Hoe praat ek met my medewerkers oor Jesus? So kan ons aangaan. Doen gemeentes genoeg om hulle lidmate vir die lewe buite die kerkmure toe te rus? Die probleem is dat daar baie probleme is hiermee. Wat is die belangrikste  hindernisse wat kerkleiers ondervind?

  • Beperkte opleiding. Leraars en kerkleiers wil dikwels lidmate help, maar hulle is nie daarvoor opgelei nie – hulle is onseker oor wat hulle moet doen.
  • Die gemeente verwag die leraar moet dit doen – hy word immers betaal om die bediening te doen! Lidmate is daar om die produk te verbruik.
  • Leiers is onder druk om die instelling aan die gang te hou.  Vertroue in godsdiensinstellings is besig om af te neem. Leiers sukkel om mense by bediening betrokke te kry – veral mense om die leiding te neem. Maar as programme begin fokus om mense in die gemeente te hou in plaas daarvan dat hulle mense toerus om in die gemeenskap uit te gaan, verloor hulle hulle doeltreffendheid en kredietwaardigheid.
  • Die Sondag-Maandag skeiding. Mense verlaat die kerk, want wat daar gebeur “het geen relevansie vir my lewe nie.” Daar is sterk teenstand teen enige poging om die “geestelike” en die “heilige” wêrelde saam te voeg. William Diehl (The Monday Connection) sê:
  • Bestaande definisies van bediening is dikwels verwarrend. Die probleem is dat ons dikwels die definiesie van bediening verskraal tot “kerk werk” alleen – dit is werk wat binne die kerkmure gedoen word. Aktiwiteite buite die kerkmure word as bediening beskou slegs as dit evangelisasie is.
  • Probleme om doeltreffendheid te meet. Hoe weet ons ons het mense doeltreffend vir werk buite die kerk toegerus? In vandag se lewe is dit ongelukkig so dat alles gemeet moet word anders word dit nie as betekenisvol beskou nie.
  • Teologiese begronding. Die teologiese vrae wat dikwels gevra word, is: Wat is die aard en doel van die kerk?  Hoe pas mense en gemeentes in God se sending?  Wat is bediening?  Wat verlang God vir die wêreld? Ons moet duidelikheid oor hierdie vrae kry.



Geloof werk: Hebreërs 11

Preach Christ … He is the whole gospel. His person, offices, and work must be our one great, all-comprehending theme – Charles Spurgeon

Geloof werk: Hebreërs 11

Hierdie is waarskynlik een van die bekendste hoofstukke oor geloof in die Bybel. In hierdie heldesaal van gelowiges moet ons net oplet hoe dikwels hy die woord geloof gebruik. In vers 1 begin hy met ‘n definisie: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. In vers 6 lees ons dat sonder geloof is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

 

Daarna beweeg die skrywer sistematies deur die annale van die verlossingsgeskiedenis om te wys dat die gelowiges van ouds geglo het. Let daarop dat ons elke keer ‘n naam lees (Abel, Henog, Noag …) gevolg deur geglo het en daarna ‘n werkwoord wat dui op optrede. Geloof wat God tevrede stel, gaan altyd met optrede gepaard. Dit is natuurlik die punt wat Jakobus ook maak. Dade/werke is die noodsaaklik vrug van geloof. Ware geloof lei altyd tot vrugte van liefde en gehoorsaamheid.

Omdat Abel geglo het, het hy ‘n beter offer aan God gebring …

Omdat  Noag geglo het, het … hy die ark gebou.

Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek …

So kan ons hulle een vir een nagaan. Die boodskap van Hebreërs 11 is dat geloof elke keer met optrede gepaard gaan. Geloof lei tot werke.