Geloofsekerheid – Francois Malan

’n Leser vra:

Hoe weet ‘n mens verseker dat jy hemel toe gaan?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Dit is ‘n geloofsekerheid. Die Johannes Evangelie praat van die lewe in hemel as die ewige lewe wat nou reeds begin vir hulle wat in Jesus Christus glo as die Seun van God wat vir hulle sondes gesterf het.

 

1 Johannes 5:10-13 sê: Wie in (Jesus) die Seun van God glo, besit die getuienis in homself, die getuienis wat God oor sy Seun gelewer het, naamlik dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek (Johannes) aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam (dit is in die persoon) van die Seun van God glo.

Die ewige lewe is aan Jesus, die Seun van God verbind. Wie glo dat Jesus self God is wat vir al die sonde van die wêreld gesterf het, het reeds aandeel aan die ewige lewe. Elkeen wat aan Jesus verbind is deur in Hom te glo, word deel van die ewige lewe wat in Hom is omdat Hy, soos die Vader, die ewige God is (vgl Johannes 1:1-4).

 

Johannes 3:16 sê: Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

 

Die Heilige Gees het gekom om die wêreld te oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel (Johannes 16:8-11):

16:9 van sonde omdat hulle nie in Jesus glo nie,

 

16:10 van geregtigheid – dit beteken om in die regte verhouding tot God die Vader te wees, deur te glo in Jesus wat as die lam van God vir die sonde van die wêreld gesterf het (Johannes 1:29). Die Heilige Gees oortuig ons deur die Woord van God dat Jesus as God en mens vir ons mense se sondes gesterf het, en dit is ons verantwoordelikheid om te besluit om dit te glo en daarvolgens te lewe.

Efesiërs 2:8 sê: ‘Uit genade is julle verlos, deur geloof. En dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God.’ Ons geloof in die Here Jesus as ons Verlosser kom deur die oortuigingswerk van die Heilige Gees wat in ons kom woon sodat ons in Jesus as ns Verlosser van sonde kan glo.

Jesus is die Seun van God, en almal wat aan Hom verbind is deur geloof in Hom word saam met Hom kinders van God, deel van God se gesin (lees Romeine 8:14-17).

 

16:11 van oordeel, omdat die heerser van hierdie wêreld (die Satan) reeds geoordeel is – daarom kom ons nie in die oordeel nie. Johannes 3:36: Wie in die Seun glo het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op hom.

 

In Johannes 14:23 sê Jesus: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ Dit het Hy gesê nadat Hy reeds in 14:16-17 belowe het: ‘Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Helper gee sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.’ Deur die inwoning van die Heilige Gees in ons, is die Vader en die Seun ook teenwoordig in ons.

 

In Johannes 17:3 sê Jesus in sy gebed tot sy Vader: ‘En dít is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus.’ Die ewige lewe is ‘n lewe in die liefdesgemeenskap van God: Vader, Seun en Heilige Gees – God is liefde (1 Johannes 4:8,16), dit is die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Gees, en van hulle tot die wêreld (Joh 3:16).

Jesus het die nag voor sy sterwe vir ons sonde, vir sy dissipels gesê: ‘Ek gee julle ‘n nuwe opdrag: julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het’ (Johannes 13:34-35); en: ‘groter liefde as dít het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende’ (15:12-14).

 

Aan ons liefde vir mekaar, en selfs vir ons vyande (Matteus 5:43-48) kan ons weet dat ons kinders van God is, deur ons geloofsverbondenheid aan sy Seun en aan mekaar deur die liefde wat God in ons werk deur sy Gees (vgl. die vrug van die Gees se werk in ons volgens Galasiërs 5:22-23).

 

In Johannes 10:27-28 sê Jesus: ‘My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.’

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Geloof wat misplaas is

 

O Lord, what am I to myself without you, but a guide to my own downfall. — Augustine

Geloof wat misplaas is

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Willie James Jennings praat in sy boek The Christian Imagination van “disembodied” godsdiens en die skadelike gevolge van so ‘n vorm van godsdiens. Dit verbeel ‘n Christelike identiteit wat bo die land, diere, plek en ruimte sweef. Hierdie tipe godsdiens ontken die werklikhede van plek.

Dit verseker dat ons interaksie met die skepping deur materialisme, kapitalisme en individualisme dikteer sal word – iets anders as die Skrif. Dit lei tot baie sosiale en ekologiese ongeregtigehde.

Hierdie toename in mobiliteit lei tot ‘n verandering in die organisasie van die kerk. In die verlede het die mense die kerk naaste aan hulle bygewoon. Nou is keuse primêr. Die gevolg is dat gemeentes gou deur hulle homogeniteit gedefinieer word. Vooruitgang in tegnologie en infrastruktuur, saam met die etos van verbygaandheid, maak dit baie maklik om net ‘n nuwe gemeente te kry as konflik ontstaan. Ons bly nie meer en werk deur die konflik nie. As ons voorkeur aan ons storie eerder as aan die storie van God se werk in die kerk gee, verloor ons die motivering en later die vermoë om deur moeilike omstandighede te werk.

Soos ons dieper in ons geloofsgemeenskappe groei – meer gewortel in ‘n plek word – is dit belangrik om ruimte te skep waar ons openlik kan praat. Ons moenie weghardloop van konflik nie, ons moenie dit vir die teenstanders so moeilik maak dat hulle sommer net oorgee nie – ons moet saam deur ons probleme werk. Gesprekke lei nie altyd tot ‘n ooreenkoms nie, maar dit bou vertroue – veral met diegene van wie ek verskil het.

Volgende keer kyk ons na die mobiliteit van kerke.




Die Christelike geloof versprei vinnig

Are you too bad to receive grace? How could you be too bad to receive what is for the bad? —David Powlison

 

Die Christelike geloof versprei vinnig

Candida Moss is Professor in Nuwe Testament en die Vroeë Christendom aan die Universiteit van Notre Dame. Sy het op CNN se Belief Blog ‘n artikel oor ‘n ernstige siekte in Egipte geskryf.

 

Argeoloë in Egipte het onlangs oorblyfsels opgegrawe van ‘n pessiekte wat sommige mense geglo het die einde van die wêreld ingelei het. Hierdie idee het gehelp om die verspreiding van die Christelike geloof te bevorder.

 

‘n Span van die Italian Archeological Mission to Luxor het onlangs die oorblyfsels van ‘n begraafplaas in die stad ontdek. In die begraafplaas kry hulle liggame bedek met ‘n dik laag kalk. Die kalk is betekenisvol, want in die antieke wêreld is dit gebruik as ‘n ontsmettingsmiddel om die verspreiding van die siekte te verhoed. Daar was ook die oorblyfsels van ‘n groot vuur waar die oorblyfsels van die slagoffers verbrand is, asook die oorblyfsels van drie oonde wat gebruik is vir die produksie van kalk.

 

 

Potte gevind in die oonde het die wetenskaplikes in staat gestel om die ontdekking in die middel van die derde eeu te dateer. Dit kon hierdie ontdekkings dateer met wat bekend staan as “die pes van Siprianus.” Siprianus was in die middel van die derde eeu die biskop van Kartago. In ‘n skrywe – De mortalitate – beskryf hy hierdie siekte: “Die derms word deur aanhoudende braking geruk; die oë is aan die brand met die geïnfekteerde bloed; in sommige gevalle word die voete of ander dele van die ledemate weggevreet deur verrotting.” Baie siekes word blind en doof.

 

Toe die epidemie op sy ergste was, sterf 5 000 mense per dag in Rome alleen. Dit sluit in twee keisers: Hostilianus en Klaudius II Gothicus. Die sosioloog, Rodney Stark, skryf dat tot twee-derdes van die bevolking van Aleksandrië gesterf het

 

Moderne wetenskaplikes glo dat hierdie epidemie pokke was. Vir Siprianus was die egter ‘n teken van die einde van die wêreld Hy sê dat alhoewel Christene ook gesterf het, dit net nie-Christene was wat iets te vrees gehad het. Dionysius, die biskop van Aleksandrië skryf dat hierdie’n tyd van “ongekende vreugde” vir Christene was.

 

Hoe is dit moontlik? Die feit dat keisers gesterf het en dat heidense priesters nie die siekte kon verduidelik of voorkom nie, het die posisie van die Christene versterk. Wydverspreide siekte en dood, en die wete dat hulle self mag sterf, maak die Christene gewillig om martelaarskap te aanvaar. Hierdie epidemie het ook saamgeval met Romeinse wetgewing gerig teen Christene. Martelaarskap word dus ‘n redelike opsie. As die dood dan net om die draai is, laat jou dood tel.

 

Die aaklige beelde van ontbindende lyke en brandstapels van lyke, het ook die vroeë Christene se beskrywing van die hel beïnvloed – die hel was immers alreeds vol vuur en swawel. Soos die siekte versprei het, het hierdie bedreiging – die hel – al hoe meer na ‘n werklikheid gelyk. Nou dat die hel ‘n plek op aarde geword het, word Christene toenemend angstig om die hel in die nadoodse lewe te vermy.

 

Die epidemie wat soos die einde van die wêreld gelyk het, bevorder in werklikheid die verspreiding van die Christelike geloof!




Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word: Waar of vals?

Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word: Waar of vals? – Kobus Kok

Chantelle vra:

Iemand het my gevra om hulle te help met ‘n vers in die Bybel. Ek self is nie seker of dit so staan in die Bybel nie. “elkeen sal volgens hul eie geloof salig/gered word”. Waar staan dit in die Bybel? Of is dit net ‘n stelling wat mense maak en dit met verskeie ander verse in die Bybel koppel?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

 

Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word:

Waar of vals?

Mens hoor dikwels dat mense sê: “Elkeen sal volgens sy eie geloof gered word”. Daarmee bedoel sommige mense dat dit eintlik nie saak maak in watter geloof of hoe jy glo nie, want almal gaan uiteindelik hemel toe. So ʼn begrip van redding is universalisties van aard – dit is, almal sal uiteindelik gered word. Hierdie tipe siening is al so oud soos die kerk self en word al van die vroegste tyd af  verwerp.

 

Die Christendom verstaan redding Christosentries – dit beteken dat daar buite geloof in Christus nie redding te vinde is nie (Joh 14:6). Mense wat universalisties oor redding dink, glo dat almal gered gaan word ongeag of hulle Christus as persoonlike verlosser aanvaar of nie.

 

Indien iemand op ʼn universalistiese wyse ʼn stelling maak soos “almal sal volgens hulle eie geloof gered word”, kan die Christen hulle antwoord met Johannes 14:6 en argumenteer dat hulle saamstem dat die aard van jou geloof die aard van jou redding gaan bepaal. Kwalifiseer dan jou stelling deur te sê dat indien jou geloof nie Christus as die sentrum het nie, sal jy volgens die aard van jou geloof, nie gered word nie.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok