Loop jou geloof

“The very love of God is fleshed out in our local churches.” D.A. Carson

Loop jou geloof

Julle moet net ‘n lewe waardig aan die evangelie van Christus lei (Filippense 1:27 – Direkte Vertaling in Interliniêre Bybel)

Hoe leef ons ‘n lewe wat waardig aan die evangelie is? Jy moet so loop dat die boodskap van die evangelie in jou beliggaam word. Die nie-Joodse gelowiges in Filippi het geweet dat as jy ‘n nuwe filosofie navolg dit ‘n veranderde lewe vereis. Daarom glo hulle dat ‘n gelowige se optrede uit sy nuwe lewe in Jesus Christus moet voortvloei.

 

Ongelukkig glo baie Christene vandag dat as ek die evangelie verkondig dit nie nodig is om binne sekere morele grense te loop nie – grense wat deur Jesus Christus daargestel is nie. Ons glo nie dat God sonde in ‘n ernstige lig sien nie. Dit is nie waar nie. Sonde is vir God so ernstig dat Hy sy enigste Seun na die aarde gestuur het om hier vir ons sondes te sterf. U het die reg lief en u haat die onreg (Psalm 45:8). Haat is ‘n baie sterk woord.

Die gelowige se fokus moet wees op hoe hy sout en lig vir die wêreld kan wees. Dit vereis ‘n lewe wat radikaal van dié van die nie-Christen verskil. Sout en lig werk vir verandering in die omgewing. Net so moet die Christen werk vir verandering is sy omgewing. Verlossing is soos ‘n huwelik: dit is nie een spesifieke dag wat belangrik is nie, maar ‘n hele lewe wat verander.

Om waardig aan die evangelie te lewe, beteken nie ‘n sondelose lewe nie. Dit beteken wel dat ek vorentoe moet gaan: Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles as het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is (Filippense 3:13).

Daar is egter ‘n voorwaarde: hulle moet in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie (1:27). Dit beteken nie dat almal dieselfde moet dink nie. Dit beteken wel dat almal een doelwit het en dat hulle hierdie doelwit met passie nastreef. Hierdie doelwit is die verkondiging van die evangelie en daarvoor is ‘n lewe wat die evangelie waardig is, nodig.




Ek het my geloof verloor

‘n Evangelis vra vir ‘n man wanneer hy verlos is. Hy antwoord: “Twee duisend jaar gelede, maar ek het dit eers onlangs uitgevind.”

Ek het my geloof verloor

‘n Priester maak ‘n afspraak om met Karl Barth oor ‘n persoonlike saak te gesels. Na ‘n tydjie kom hy tot die punt: “Die probleem, Dr Barth, is dat ek my geloof verloor het.”

Karl Barth antwoord: “Wat op aarde het jou die indruk gegee dat dit joune was om te verloor?”




Le Chambon-sur-Lignon

When we are devastated by someone’s critique it usually shows how addicted we are to their praise. – Tullian Tchividjian

Le Chambon-sur-Lignon

Tydens die Tweede Wêreldoorlog daag die Franse dorpie Le Chambon-sur-Lignon die Nazi’s uit. Andre Trocme was ‘n leraar wat besluit het om hom nie te onderwerp aan enigiets wat teen die Bybel is nie. Hy weier om die invallers se vlag te salueer en die kerkklok vir hulle te lui. Die hele dorp doen dieselfde. Hulle besluit ook dat hulle die Jode sal beskerm.

 

 

Die dorp was so uitdagend dat die kinders ‘n brief vir die regering geskryf het om te verduidelik dat daar Jode tussen hulle woon en dat hulle geen onderskeid tussen Jode en nie-Jode maak nie, want dit is teen die evangelie. Hulle voeg by: “As julle hulle probeer kry, sal ons hulle wegsteek.”

 

Die mense was gereed vir die ergste. Vroeëre vervolging deur onder andere die Rooms-Katolieke het hulle geleer om saam te staan en sterk te wees. Belangriker: dit het hulle die krag van geloof geleer. Toe kom die Nazi’s en hulle sê: Ons het al erger gesien. Hoekom sal dit nou anders wees?”

 

Daar was een vrou wat Jode gehuisves het. Sy sê: “Ek het nie geweet dit is gevaarlik nie.” Sy sien haarself nie as die underdog nie. Daar was baie ander Christene in Frankryk wat nie so opgetree het nie. Hulle het hulleself as die underdogs gesien

 

Om die krag van ons geloof te onderskat het gevolge vir die wêreld.




Die noodsaaklikheid van geloof

The Shema means that you have to love God intellectually (“with all thy heart), emotionally “with all thy soul”) and practically (“with all thy might) – Mordecai Kaplan

Die noodsaaklikheid van geloof

Die woorde geloof en glo word algemeen in ons taal gebruik. Politici vra dat ons in hulle beleid moet glo; die huwelik is basies ‘n geloofsband tussen twee mense wat mekaar ken, vertrou en in mekaar glo. Omdat die lewe so onseker is, kyk ons na mense, instellings en idees waarin ons kan glo. Geloof, vertroue, hoop spruit voor uit ‘n lewe van teenstrydighede – lewe en dood, trou en ontrou, behoort en verraad, ens. Ons hele lewe is een van geloof in onsself of ons familie of ons vriende, planne, mense instellings, ens. Ons soek vir iets of iemand om ‘n rots of anker te wees waaraan ons kan vashou terwyl die wêreld buite beheer is – altans so voel dit vir ons.

 

Geloof is ‘n onvervreembare eienskap van die mens se bestaan. Ons het wel ‘n keuse in wie of in wat ons glo. Maar of ons nou in iets of in iemand glo, dit is ‘n noodsaaklikheid – dit is deel van menswees in die wêreld. Dit is ons aard om ons hand uit te steek na die onbekende en te hoop vir wat ons mag kry.

As die Apostoliese Geloofsbelydenis met Ek glo … begin, vra dit van mense wat die belydenis lees om hulle behoefte aan kennis, vertroue en aan iets te behoort, te erken – iets buite hulleself. Ons het baie behoeftes – kos, skuiling, doel en vriendskap. Ons kan self sekere van hierdie behoeftes hanteer. Daar is egter ‘n behoefte wat in elke mense ingebou is – om God te ken. Augustinus stel dit so: U het die ewigheid in ons harte geplaas en ons harte is rusteloos totdat hulle in U rus. Hierdie gevoel van ontevredenheid word net bevredig as ons ontdek dat ons gemaak is om God te ken en lief te hê. Geloof is as ons geestelike honger bevredig word. Die Apostoliese Geloofsbelydenis sê vir ons wat ons behoefte is – ‘n behoefte om in God te glo.