Geloof is net die begin

I see it all perfectly; there are two possible situations—one can either do this or that. My honest opinion and my friendly advice is this: do it or do not do it—you will regret both.  – Soren Kierkegaard

Geloof is net die begin

Die president van World Vision, Richard Stearns, se nuwe boek Unfinished is pas gepubliseer. Daarin sê hy dat kerkleiers mense uitdaag, maar dit is nie genoeg nie. In sy boek verwys hy na die “verloor-sindroom.” Wat is dit? Dit is wanneer mense sê dat hulle nie slim of geestelik of vaardig genoeg is om ‘n verskil in die wêreld te maak nie.

“Daarom gaan ek net ‘n goeie lewe leef, elke dag werk toe gaan, aftree en gholf speel. Ek is verlos en sal eendag as ek doodgaan hemel toe gaan”. Daar is ‘n neiging by vandag se Christene  dat hulle die werk vir die professionele mense– die leraars en betaalde amptenare – moet los.

Hy glo daarom dat ons die mense wat in die kerkbanke sit, moet leer om te verstaan dat om te glo slegs die begin is. As mense nie hulle hele lewe op hierdie fondament van Christelike geloof bou nie, kompartementaliseer hulle altyd hulle lewens. Dan is hulle nie doeltreffend as Christene nie.

God wil nie mense wat nie toegewyd is, gebruik nie. God nooi ons uit, maar ons moet antwoord. Ons moet vir Jesus Christus sê: “Hier is al die dinge in my lewe: my geld, huis, beroep, vaardighede. Gebruik dit.” Baie mense sê dat hulle ‘n verskil vir God wil maak. Maar hoekom sal God jou gebruik as jy nie eers die eenvoudige dinge doen nie – dinge soos gehoorsaamheid, Bybelstudie en gebed. As jy hierdie klein dinge doen, sal God jou groter geleenthede om te dien, gee.

In die kerk praat ons graag oor die korrekte leer. Hoeveel aandag gee ons aan hoe hierdie leer ons gedrag moet beïnvloed. Ons is baie goed om die Skrif deeglik te verduidelik, maar die oproep-gedeelte laat ons uit. Ons moet die Skrif so toepas dat die lewens verander. Ons moet hoër verwagtings aan volgelinge van Jesus stel.

Hoekom gebeur dit? Kerkleiers is so behep om ‘n instelling te bou in plaas daarvan  dat hulle ‘n revolusie lei. God het ons geroep om ‘n revolusie te lei. Instellings kan gebruik word om die revolusie te steun, maar dit is nie die primêre doel nie. Ons doel is nie om ‘n groter kerk wat meer gemaklik vir mense is, te bou nie.

Hy glo dat een ding wat die kerk moet besef, is dat ons nie genoeg doen nie. God het ons geroep om die wêreld te verander. En wat doen ons? Ons sit in ons groot kerkgeboue en kyk na PowerPoint skyfies. (Dit is goed gestel.)




Het ons ons godsdiens afgewater? Glo eis verkondiging

. —Thomas Watson

Het ons ons godsdiens afgewater? Glo eis verkondiging

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

As ek Jesus Christus volg, glo ek in Hom; as ek in Hom glo, moet ek Hom verkondig.. ‘n Private geloof is tog ondenkbaar, maar tog is dit iets wat ons vandag baie algemeen kry.

Hoe dikwels hoor ons nie: “Ek aanvaar dat Jesus Christus my verlos het en dat sy Woord in my werk, maar wie is ek om vir ander te sê wat hulle moet glo. Ek kan tog nie vir hulle sê my geloof is reg en hulle s’n is verkeerd nie.” Klink nogal bekend.

Jesus Christus was nie net ‘n uitstaande Leermeester nie. Hy is ons Verlosser en Koning; Hy is die opgestane Here. Net Hy het vir die ewigdurende verlossing betaal. Ek moet mos vir ander hiervan vertel. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê (Galasiërs 2:20). Net voor sy hemelvaart verskyn Jesus aan sy dissipels en sê vir hulle: Die Christus moes ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word (Lukas24:46 – 47). Dit is duidelik dat dit goeie nuus is en nuus moet verkondig word.

Die verbasendste belofte in die Bybel is seker Johannes 15:7: As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. Maar wat is die konteks hier? Kort vantevore het Jesus met sy dissipels oor sy kruisdood gepraat. Maar Hy belowe hulle dat die Vader vir hulle ‘n ander Voorspraak sal stuur wat vir ewig by hulle sal wees – die Heilige Gees. Hy sê dat die Heilige Gees in en by ons sal wees. Hy sal ons alles leer en ons herinner aan alles wat Jesus vir ons gesê het.

Die Heilige Gees gaan ons bemagtig om uit te gaan en dissipels te maak. Jesus belowe dus hier dat Hy vir ons alles sal gee wat ons nodig het om uit te gaan en sy Woord te verkondig en dissipels te maak. Hierdie belofte sal God waar maak.

Die volgende vraag is of ons as dienaars of as kinders uitgaan. Daarna kyk ons die volgende keer.




Het ons ons godsdiens afgewater? Volg = Glo

Beware that you are not swallowed up in books! An ounce of love is worth a pound of knowledge. —John Wesley

Het ons ons godsdiens afgewater? Volg = Glo

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

Baie Christene glo nie meer dat God die oppermagtige Skepper en Heerser van die heelal is nie. Meer as 50% van Christene glo nie meer dat die Heilige Gees en Satan werklikhede is nie; 50% glo nie meer dat die Bybel waar is nie.

Is hierdie mense werklik Christene? Ons kan nie vir Jesus Christus volg en sy Woord verontagsaam en diskrediteer nie. Om Jesus Christus te volg in om aan Hom te glo.

Maar geloof is meer as intellektuele kennis: Glo jy dat daar net een God is? Die bose geeste glo dit ook  (Jakobus 2:19). Wat moet ons dan doen? Paulus gee die antwoord: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Romeine 12:2).

Christene se lewens verander radikaal – ook die manier waarop hulle lewe en dink; Julle het met die ou sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God (Kolossense 3:9 – 10).

Alles goed en wel, maar waar kom Jesus Christus se gesag vandaan? Daarna kyk ons volgende keer.




Wat glo ons vandag?

“Men always hate most what they envy most.” ~ H.L. Mencken

Wat glo ons vandag?

God helps those who help themselves. 82% van Amerikaners glo dat hierdie gesegde van Benjamin Franklin iewers in die Bybel staan. Baie kerkmense glo dat alle godsdienste dieselfde G(g)od aanbid en as ons genoeg goeie dinge doen, verdien ons ons plek in die hemel. Kom ons kyk na die moderne mens:

 

  • Ondervindings is vir hom belangriker as kennis;
  • Hy verkies keuses bo absolute waarhede;
  • Hy verkies voorkeure eerder as waarhede;
  • Hy soek gemak eerder as groei;
  • Hy beklemtoon sy onafhanklikheid en individualiteit – hy hoor elke dag dat hy uniek is.

Hierdie lysie kan ons heelwat verder uitbou.

Christian Smith, ‘n sosioloog aan die Universiteit van North Carolina, sê die dominante godsdiens vandag is moralistiese, terapeutiese deïsme. (Net sosioloë wat sulke name sal gebruik.) Wat is dit:

  • God het die wêreld gemaak, maar Hy is nie meer betrokke by die instandhouding daarvan nie.
  • God wil hê dat mense goed en regverdig moet wees. Dit is immers wat die Bybel en meeste ander godsdienste tog glo.
  • Die sentrale doel van die lewe is om gelukkig te wees en om goed oor jouself te voel.
  • God hoef nie in ons lewens betrokke te wees nie, behalwe as ons Hom nodig het om ‘n krisis vir ons op te los.
  • Goeie mense gaan hemel toe as hulle doodgaan.

Geen sprake van iets soos genade en versoening nie. In hierdie terapeutiese wêreldsiening is daar geen sprake van sonde en skuld wat vergewe moet word nie. Daar is net laste en skuldgevoelens omdat ons lewens nie aan ons en ander mense se verwagtings voldoen nie. Al wat nodig is, is dat ons iemand anders daarvan vertel. Geen wonder die webblad dailyconfessions.com kry daagliks 1,3 miljoen treffe (hits) nie. Hier kan jy dit wat jou ontstel, kom bely.

Kom ons vergelyk hierdie benadering met koning Dawid se skuldbelydenis in Psalm 51: Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en U oordeel regverdig … Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit. Dawid het met Batseba oortree, maar hy sê dat sy oortreding teen God was. Besef ons dit nog?