Het ons ons godsdiens afgewater? Glo eis verkondiging

Sin has the devil for its father, shame for its companion and death for its wages. —Thomas Watson

Het ons ons godsdiens afgewater? Glo eis verkondiging

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

As ek Jesus Christus volg, glo ek in Hom; as ek in Hom glo, moet ek Hom verkondig.. ‘n Private geloof is tog ondenkbaar, maar tog is dit iets wat ons vandag baie algemeen kry.

Hoe dikwels hoor ons nie: “Ek aanvaar dat Jesus Christus my verlos het en dat sy Woord in my werk, maar wie is ek om vir ander te sê wat hulle moet glo. Ek kan tog nie vir hulle sê my geloof is reg en hulle s’n is verkeerd nie.” Klink nogal bekend.

Jesus Christus was nie net ‘n uitstaande Leermeester nie. Hy is ons Verlosser en Koning; Hy is die opgestane Here. Net Hy het vir die ewigdurende verlossing betaal. Ek moet mos vir ander hiervan vertel. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê (Galasiërs 2:20). Net voor sy hemelvaart verskyn Jesus aan sy dissipels en sê vir hulle: Die Christus moes ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word (Lukas24:46 – 47). Dit is duidelik dat dit goeie nuus is en nuus moet verkondig word.

Die verbasendste belofte in die Bybel is seker Johannes 15:7: As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. Maar wat is die konteks hier? Kort vantevore het Jesus met sy dissipels oor sy kruisdood gepraat. Maar Hy belowe hulle dat die Vader vir hulle ‘n ander Voorspraak sal stuur wat vir ewig by hulle sal wees – die Heilige Gees. Hy sê dat die Heilige Gees in en by ons sal wees. Hy sal ons alles leer en ons herinner aan alles wat Jesus vir ons gesê het.

Die Heilige Gees gaan ons bemagtig om uit te gaan en dissipels te maak. Jesus belowe dus hier dat Hy vir ons alles sal gee wat ons nodig het om uit te gaan en sy Woord te verkondig en dissipels te maak. Hierdie belofte sal God waar maak.

Die volgende vraag is of ons as dienaars of as kinders uitgaan. Daarna kyk ons die volgende keer.




Het ons ons godsdiens afgewater? Volg = Glo

Beware that you are not swallowed up in books! An ounce of love is worth a pound of knowledge. —John Wesley

Het ons ons godsdiens afgewater? Volg = Glo

Daar het die afgelope aantal jare heelwat boeke verskyn waarin gesê word dat die kerk sy boodskap afgewater het. (Michael Horton se  Christless Christianity en David Platt se Follow Me. A call to die; a call to live is goeie voorbeelde hiervan) Ons aanvaar sekere waarhede en bid die sondaar se gebed en glo alles is reg – ons is nou Christene. Maar dit is nie waar nie.

Baie Christene glo nie meer dat God die oppermagtige Skepper en Heerser van die heelal is nie. Meer as 50% van Christene glo nie meer dat die Heilige Gees en Satan werklikhede is nie; 50% glo nie meer dat die Bybel waar is nie.

Is hierdie mense werklik Christene? Ons kan nie vir Jesus Christus volg en sy Woord verontagsaam en diskrediteer nie. Om Jesus Christus te volg in om aan Hom te glo.

Maar geloof is meer as intellektuele kennis: Glo jy dat daar net een God is? Die bose geeste glo dit ook  (Jakobus 2:19). Wat moet ons dan doen? Paulus gee die antwoord: Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Romeine 12:2).

Christene se lewens verander radikaal – ook die manier waarop hulle lewe en dink; Julle het met die ou sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God (Kolossense 3:9 – 10).

Alles goed en wel, maar waar kom Jesus Christus se gesag vandaan? Daarna kyk ons volgende keer.




Wat glo ons vandag?

“Men always hate most what they envy most.” ~ H.L. Mencken

Wat glo ons vandag?

God helps those who help themselves. 82% van Amerikaners glo dat hierdie gesegde van Benjamin Franklin iewers in die Bybel staan. Baie kerkmense glo dat alle godsdienste dieselfde G(g)od aanbid en as ons genoeg goeie dinge doen, verdien ons ons plek in die hemel. Kom ons kyk na die moderne mens:

 

  • Ondervindings is vir hom belangriker as kennis;
  • Hy verkies keuses bo absolute waarhede;
  • Hy verkies voorkeure eerder as waarhede;
  • Hy soek gemak eerder as groei;
  • Hy beklemtoon sy onafhanklikheid en individualiteit – hy hoor elke dag dat hy uniek is.

Hierdie lysie kan ons heelwat verder uitbou.

Christian Smith, ‘n sosioloog aan die Universiteit van North Carolina, sê die dominante godsdiens vandag is moralistiese, terapeutiese deïsme. (Net sosioloë wat sulke name sal gebruik.) Wat is dit:

  • God het die wêreld gemaak, maar Hy is nie meer betrokke by die instandhouding daarvan nie.
  • God wil hê dat mense goed en regverdig moet wees. Dit is immers wat die Bybel en meeste ander godsdienste tog glo.
  • Die sentrale doel van die lewe is om gelukkig te wees en om goed oor jouself te voel.
  • God hoef nie in ons lewens betrokke te wees nie, behalwe as ons Hom nodig het om ‘n krisis vir ons op te los.
  • Goeie mense gaan hemel toe as hulle doodgaan.

Geen sprake van iets soos genade en versoening nie. In hierdie terapeutiese wêreldsiening is daar geen sprake van sonde en skuld wat vergewe moet word nie. Daar is net laste en skuldgevoelens omdat ons lewens nie aan ons en ander mense se verwagtings voldoen nie. Al wat nodig is, is dat ons iemand anders daarvan vertel. Geen wonder die webblad dailyconfessions.com kry daagliks 1,3 miljoen treffe (hits) nie. Hier kan jy dit wat jou ontstel, kom bely.

Kom ons vergelyk hierdie benadering met koning Dawid se skuldbelydenis in Psalm 51: Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus. Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en U oordeel regverdig … Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit. Dawid het met Batseba oortree, maar hy sê dat sy oortreding teen God was. Besef ons dit nog?




Woorde uit die Bybel – Geloof (4)

Take away the cross of Christ, and the Bible is a dark book. —J.C. Ryle

 

Woorde uit die Bybel – Geloof (4)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

 Hoe lyk ‘n lewe van geloof? Geloof vat die hele lewe van die Christen saam. Julle moet ophou om julle te gedra soos mense wat nie die Here ken nie. Daar is niks wat die moeite werd is in sulke mense se koppe nie (Efesiërs 4:17).

Die Hebreërbrief het baie oor geloof te sê. Kom ons kyk daarna:

  • ‘n Definisie van wat geloof is: Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel nie dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur (12:1).
  • Ons eer God deur sy woord oor dinge te aanvaar: Tog het Abraham op die Here vertrou en pa geword. Hy het geglo dat God die belofte wat Hy gemaak het, nie sou breek nie (11:11).
  • Geloof beteken ons benader God deur Jesus Christus sonder vrees: Ons hoef dus nie bang te wees of te wonder of ons na God toe mag gaan nie. Ons kan maar gaan, want God sal baie goed wees vir ons. Wanneer ons dit nodig het, sal God vir ons meer gee as wat ons verdien en ons met sy liefde ontvou (4:16).
  • Deur geloof kry ons krag om die geestelike stryd te wen (11:32 – 38).
  • Deur geloof verduur ons vyandigheid van binne: Hulle moedig ons aan om gelowig vol te hou met die wedloop. Laat ons dan ontslae raak van enigiets wat ons hinder om die wedloop van die lewe behoorlik te hardloop (12:1).
  • Deur geloof verduur ons vyandigheid van buite: Dink aan alles wat hy moes deurmaak, ja, aan al die slegte dinge wat die sondige mense aan Hom gedoen het. As julle sy voorbeeld volg, sal julle nooit moedeloos word en tou opgooi nie (12:3).
  • Deur geloof skep ons moed uit voorbeelde van liefde: Moenie die geestelike leiers vergeet wat die boodskap van God aan julle vertel het nie. Kyk hoe hulle geleef het tot hulle dood is en vertrou dan op die Here net soos hulle op Hom vertrou het (13:7).
  • In geloof stry ons teen versoekings, ongeloof, apatie en ongehoorsaamheid: Moet dus nie toelaat dat daar ‘n krakie in julle vertroue op God kom nie. Wie op God bly vertrou, sal ‘n groot beloning by Hom kry. Julle moet tot elke prys vasbyt. As julle so aanhou om te doen wat God wil hê, sal Hy sorg dat julle kry wat Hy vir julle beloof het (10:35 – 36).

 

Ons versterk ons geloof deur ons oë op God gerig te hou. Ons dink aan alles wat Hy vir ons belowe het en ons dink terug aan alles wat Hy reeds vir ons gedoen het.