Die Apostoliese Geloofsbelydenis (7)

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (7)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

Opgestaan: Ek glo in Jesus Christus … wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode, wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader.

 

Jesus oorwin finaal die dood met sy opstanding. Christene kom op Sondae bymekaar. Dit is ‘n weeklikse herdenking van die opstandig. Dan is daar een Sondag per jaar waar ons spesifiek Jesus se opstanding vier. Ongelukkig beteken dit vir baie Christene paashasies en paaseiers.

Die opstanding van Jesus Christus is die spilpunt in die belydenis. As die opstanding nie ‘n historiese feit was nie, val die res van die belydenis inmekaar. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos, en is julle nog gevange in julle sondes (1 Korintiërs 15:17). Dan is Jesus wat gesê het dat Hy uit die dood sou opstaan, ‘n bedrieër.

Tydens sy bediening maak Jesus daarop aanspraak dat Hy God se enigste Seun is. God self het Hom as sy Seun by Jesus se doop verklaar. Op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here (Romeine 1:4). Die opstanding is die bewys dat Jesus God se Seun is en ook die Here van hemel en aarde is. Alles wat ons in verband met Jesus glo, hang af van die waarheid en geldigheid van die opstanding.

Baie mense is skepties oor Jesus se opstanding. Maar: Hoekom sou Jesus se vroeë volgelinge oor sy dood gejok het? Hoe kon hulle ‘n hele nuwe godsdiens op ‘n leuen gebou het? Hoekom het so baie mense as martelare gesterf omdat hulle in Jesus en sy opstanding geglo het?

Die opstanding van Jesus gee aan ons nuwe geloof – ons kan Hom vertrou. Jesus se opstanding fokus opnuut ons hoop. Ons hoop is op lewe na ons dood. Ons sal ook eendag die opstanding beleef. Die opstanding van Jesus gee aan ons herstelde liefde. God het ons so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, nie om ‘n nuwe godsdiens te begin nie, maar om die liefdesverhouding tussen Skepper en skepsel te herstel.

Na sy opstanding verskyn Jesus aan sy volgelinge vir 40 dae. Daarna vaar Hy op na die hemel. Daar beklee Hy die ereplek aan die regterhand van God. Jesus het sy Vader goed gedien en daarom verheerlik God Hom na ‘n posisie van eer, waardigheid en gesag. Die hemel is God se bevelspos.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (3)

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (3)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

Vader: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde

 

God is die magtige Here van hemel en aarde, maar dit beteken nie dat ons Hom nie kan nader nie. Ons kan Hom nader, met Hom praat, na Hom luister en Hom ken. Jesus het God aan ons geopenbaar, nie as ‘n rots soos ons in die psalms lees nie, maar as ‘n Persoon. Daarom kan ons ‘n persoonlike verhouding met God hê, maar dan moet ons verstaan dat Hy die Vader en die Almagtige is. Ons verhouding met Hom is op sy voorwaardes en volgens sy waardes.

(Jesaja 40:28) As ons glo dat God die Skepper van hemel en aarde is, ontdek ons betekenis in die lewe.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (1)

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (1)

In baie gemeentes word die Apostoliese Geloofsbelydenis elke Sondag hardop opgesê deur die gemeente tydens die erediens. Is dit nie ‘n waardelose ritueel nie? Moderne mense stel tog nie meer in belydenisse belang nie – hulle soek ‘n ware ontmoeting met God. Maar die Apostoliese Geloofsbelydenis is een van die stabiliserende elemente in ons geestelike reis. Is dit nie tyd om weer in diepte hierna te kyk nie?

 

Ons klem vandag is op ondervindings, maar dit mag gou in sentimentaliteit verval – ‘n soort “voel goed godsdiens.” In ‘n wêreld wat toenemend sekulêr, selfs vyandig teenoor godsdiens, word, moet gelowiges helder en diep oor hulle geloof kan dink. Een aspek is om weer die belydenisse met nuwe oë te lees. Sommige Christene glo nog: Geen belydenis, net die Bybel – so asof die belydenis die Bybel gaan verplaas of die Bybel weerspreek. Die geloofsbelydenis staan in harmonie met die Bybel en het die vermoë om ons in die Bybelse storie in te lei – dit help ons om deur die NT te navigeer.

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

Die rol van die Apostoliese Geloofsbelydenis

William James,sielkundige en filosoof (1842-1910)

Die rol van die Apostoliese Geloofsbelydenis

[Ek gaan volgende jaar ‘n reeks oor die Apostoliese Geloofsbelydenis skryf. Hiermee ‘n kort inleiding en agtergrond tot die reeks.]

 

Baie mense sê (vandag nog) dat die regte leer noodsaaklik is en dat ons dit slegs in die Bybel kan kry. Baie van die kerke wat so sê het ‘n baie kort geskiedenis. Daarom kry ons dat belangrike leerstellings – soos byvoorbeeld die Drie-eenheid – vir hierdie jong kerke nie baie belangrik is nie. Die korrekte leer is belangrik vir die kerk. Hiermee kan die geloofsbelydenisse ons help.

Die waarde van die Apostoliese Geloofsbelydenis

Die Apostoliese Geloofsbelydenis rangskik die noodsaaklike waarhede van die Christelike geloof in terme van ‘n natuurlike en logiese vooruitgang. Die orde van die Goddelike openbaring, gebou op die fondament van die Drie-eenheid, word getrou gevolg. Die belydenis beweeg van God die Vader en sy skepping na die persoon en werk van Jesus Christus – sy bonatuurlike geboorte, lewe, dood en opstanding. Daarna kom ons by die Heilige Gees, die kerk en ander toekomsgebeure. [Die Belydenis van Nicea volg dieselfde orde.]

Die Apostoliese Geloofsbelydenis is nie ‘n logiese beskrywing van abstrakte leerstellings nie, maar ‘n belydenis van feite wat leef en red. Augustinus het na die belydenis verwys as a brief and grand regulator of true faith. Luther glo dat die Christelike geloof nie in ‘n korter en duideliker manier gestel kan word nie. Calvyn noem dit ‘n korrekte opsomming van die Christelike geloof.

Die kern van die Apostoliese Geloofsbelydenis

Hierdie vroeë en kort belydenisse word uitgebrei om die implikasies duidelik uit te bring. Ons weet ook dat die kerke in die vierde eeu almal stellings en belydenisse gebruik het om te verduidelik wat hulle geglo het. Hierdie belydenisse was almal feitlik identies.

Drie eienskappe van die Apostoliese Geloofsbelydenis

  • Die belydenis in primêr ‘n ware geskiedkundige verhaal. Kyk net na die name wat gebruik word: Maria Pontius Pilatus, Jesus. Dit verwys ook na spesifieke gebeure in die geskiedenis – Jesus se dood, begrafnis en opstanding. Dit berus op werklike geskiedkundige gebeure. Die belydenis is nie abstrakte teologie nie, maar goeie nuus.
  • Die belydenis praat van die Drie-eenheid lank voor ‘n kerkvergadering hierdie leer bespreek het.

Gevolgtrekking

Alle kerke behoort die belydenis te gebruik, maar dan nie as ‘n gewoonte nie, maar as ‘n uitdrukking wat ons geloof bevestig. Ons moet dit leer, aan ander leer en dit uitleef. Ons moet die kop en die hart verbind. As ons ons geloof reg verstaan, kan ons in die wêreld uitgaan en ons naaste liefhê en dien in die Naam en krag van Jesus Christus.