Praktyke wat die geloofsgemeenskap ondersteun

It is no use walking anywhere to preach unless our walking is our preaching.” ~ Francis of Assisi

 

Praktyke wat die geloofsgemeenskap ondersteun

Die geloofsgemeenskap is dikwels nie verenig nie, maar ons het praktyke en aktiwiteite wat ons moet saambind. Christine Pohl beskryf in haar onlangse boek –  Cultivating Practices That Sustain Us – vier belangrike praktyke.

 

  • Betoon dankbaarheid as ‘n lewenswyse. Ons verstaan dat ons lewens  bevry is deur genade. Daarom, as gemeenskappe, kan ons reaksie slegs een van dankbaarheid wees – dit ten spyte van dinge wat ons frustreer en teleurstel. In die Psalms lees ons dat aanbidders in God se teenwoordigheid met dankbaarheid en lof ingaan. As ons dink aan Jesus Christus se offer vir ons is dankbaarheid ‘n logiese gevolg daarvan.
  • Maak en hou beloftes. As ons dink aan ‘n kontrak soek ons maniere waarop ons hierdie kontrak kan verbreek; as ons dink aan ‘n verbond dink ons aan dinge wat ons saambind. ‘n Verbond het geen ontsnapklousules nie.
  • Leef en praat die waarheid. Dit geld nie net vir die individu nie, maar vir die gemeenskap in sy geheel. Die beste getuienis van die waarheid van die evangelie is ons lewens saam as gemeenskap. Die geloofsgemeenskap weet hoe om interpersoonlike spanning te hanteer. Om die waarheid te praat open die pad na vergifnis toe.
  • Gasvryheid aan vreemdelinge. Al drie bogenoemde praktyke is hierby betrokke. Genade, trou en die waarheid skep gemeenskappe waar dit vir ons veilig is om verskille te hanteer. Sulke gemeenskappe groei deur plek vir ander te maak – vriende en vreemdelinge. As ons mense in ons huise of gemeentes innooi, openbaar ons wie ons werklik is.

 

Hierdie is belangrike aktiwiteite vir gemeentes wat daarna streef om die wese van God te weerspieël.

 




Die geloofsgemeenskap is belangrik

The weakness of man sets the stage for the display of God’s strength. —Janice Wise

 

Die geloofsgemeenskap is belangrik

Jean Vanier (Community and Growth) was die stigter van die L’Arche gemeenskap. In hierdie gemeenskap het mense wat fisies en/of geestelik gestrem was saam met mense sonder gestremdhede gewoon. Henri Nouwen, bekende teoloog en akademikus, het by hierdie gemeenskap aangesluit.

 

 Vanier skryf in sy boek onder andere waarom gemeenskap so moeilik, maar tog baie belangrik, is. Sy insigte is ook van toepassing op geloofsgemeenskappe. As jy hierdie lees, dink aan jou eie gemeente.

 

Die gemeenskap is die plek waar ons beperkings, ons vrese en ons egotisme geopenbaar word. Ons ontdek ons armoede en ons jaloesie, ons onvermoë om met sekere mense oor die weg te kom, ons verstands- en emosionele hindernisse, ons oënskynlike onbevredigbare begeertes, ons frustrasies en jaloesie, ons haat en ons begeerte om te vernietig. As ons alleen is, kan ons ons verbeel dat ons almal liefhet. As ons met ander is, saam met hulle leef, besef ons ons onvermoë om lief te hê, hoeveel ons ander ontsê, hoe geslote ons in onsself  is.

 

Is hier nie heelwat waarheid in hierdie gedeelte nie?