Geloofsvrae: Die Tweede Genadewerk

Geloofsvrae: Die Tweede Genadewerk – Adrio König

Die tweede genadewerk (second blessing)

Dit is ‘n baie ou beskouing wat in verskillende vorme deel van die Heiligheidsbeweging is. Daar is verskillende beklemtonings, en dit is nie moontlik om hier aan die fynere nuanses reg te laat geskied nie. Die tweede genadewerk word beskou as ‘n daad van die Gees waardeur Hy die bekeerde mens instaat stel om die sonde te oorwin en heilig te leef.

Dit word aanvaar dat daar twee vorme van sonde is, verkeerde dade en die mag van die sonde, wat beteken dat daar twee dinge in die sondaar se lewe moet gebeur: die sondaar moet vergewe word om ‘n kind van God te word, én daarna moet die kind van God van die mag van die sonde verlos of vrygemaak word.

 

In elke mens is daar ‘n ou natuur wat geneig is tot die sonde. Hierdie `ou mens’ moet deur ‘n spesifieke daad van die Gees uit die mens se lewe verwyder word. Dit word gewoonlik aanvaar dat dit in beginsel gelyktydig met vergifnis (weergegoorte, bekering of redding) kan gebeur, maar dat dit in die reël eers daarna gebeur omdat, net soos in die geval van vergifnis, ‘n mens dit spesifiek van die Here moet vra, en die meeste mense by hul bekering nog nie daarvan bewus is nie. Hierdie ou mens of ou natuur of sondige natuur of vlees of sondige neiging is in ons ingebore. Dit word soms met die erfsonde in verband gebring.

Wanneer die ou natuur nog nie uit die bekeerde se lewe verwyder is nie, lei hy of sy ‘n `val-en-opstaan-lewe’ waarin herhaalde terugval in die sonde die bekeerde se geestelike lewe strem, en tot algehele terugval in die sonde (backsliding) kan lei. Die groot probleem met die kind van God wat net bekeerd is maar nog nie `geheilig’ nie, is dat die sonde nog ‘n aansluitingspunt binne-in hom of haar het, sodat die versoekings nog `van binne’ kom en daarom so dikwels te sterk is. Wanneer die ou natuur egter verwyder is, kan die versoekings net `van buite’ kom en kan die geheiligde die versoekings makliker weerstaan. Dit beteken egter nie dat hy of sy nooit weer sal sonde doen nie. ‘n Mens kan nog altyd ook aan die versoekings van buite toegee, en daarom bly ook die lewe van die geheiligde ‘n stryd, maar dit is ‘n stryd wat vanuit ‘n oorwinningsposisie gevoer word. Dit word die oorwinningslewe genoem.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: ’n Tweede werk van die Gees?

Geloofsvrae: ’n Tweede werk van die Gees? – Adrio König

‘n Tweede werk van die Gees?

Daar is ‘n redelike ou tradisie in die protestantse wêreld dat daar ‘n tweede werk van die Gees is nadat ‘n persoon tot geloof gekom het.

Normaalweg kan tussen drie sieninge onderskei word: die tweede genadewerk (van die Heiligheidsbeweging), die doop met die Heilige Gees (van die Pinkster- en Charismatiese bewegings), en die vervulling met die Heilige Gees. Dié wat verkies om van die tweede genadewerk te praat, beklemtoon dat dit lei tot heiligheid, oorwinning oor sonde, die `oorwinningslewe.’ Dié wat die term `die doop met die Heilige Gees’ verkies, beklemtoon dat dit gaan om krag tot getuienis. Oor die vervulling met die Gees is daar hoofsaaklik twee standpunte: die een sien dit ook as ‘n bepaalde afgehandelde tweede ervaring, en die ander sien dit as ‘n voortgaande proses van herhaalde ervaringe.

 

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die gawes van die Gees

Geloofsvrae: Die gawes van die Gees – Adrio König

Die gawes van die Gees

Die gawes van die Gees is nie opsioneel nie. Dit is nie so dat sekere kerke straffeloos kan kies om sonder die gawes en net met die vrug te werk nie, net so min as wat Korinte straffeloos kon kies om net met die gawes sonder die vrug te werk! Die gawes of die charismatiese struktuur van die kerk is die normale manier waarop God die kerk wil laat werk.

Dit gemeente van Korinte was nie ‘n uitsonderlike gemeente omdat daar gawes voorgekom het nie. Hulle was wel uitsonderlik in die sin dat die gawes onenigheid en verdeeldheid veroorsaak het. Paulus suggereer dan ook nie vir ‘n oomblik dat hulle miskien moet oorweeg om die gawes te los en liewer net met die vrug aan te gaan nie. Inteendeel, hy put hom uit om hulle te help om die gawes reg toe te pas sodat die gemeente die volle waarde uit die gawes kan kry (1Kor 12-14). Dit is ook opvallend dat hy nie in die tweede Korintiërbrief op hierdie saak terugkom nie. Skynbaar het hulle dit reggekry om die probleem op te los.

 

Die gawes vind aansluiting by die wonderwerke van Jesus en die opstanding van die liggaam, en is deel van die apokaliptiese wêreldbeeld. Dit verteenwoordig die bonatuurlike wyse waarop God in die wêreld werk. Daarom moet die gawes nie `onskuldig’ voorgestel word deurdat aan die sogenaamde `gewone’ gawes voorkeur gegee word nie (soos onderrig gee, bemoedig, leiding gee, help – Rom 12 – en wysheid, kennis, geloof – 1Kor 12). Dit gaan in die gawes van die Gees om buitengewone gawes, nie om `talente’ wat mense van nature het en dan in kerklike diens gebruik nie.

Die buitengewone aard van die gawes herinner ons daaraan dat ons nie die Gees moet `vergeestelik’ nie. Ons moet nie die werk van die Gees beperk tot sy vrug nie, hoe wonderlik dit ookal is, omdat dit in ‘n sekere sin inwendig en onsigbaar is, en net die uitwerking daarvan sigbaar is in ons lewe (nederigheid, vriendelikheid, geduld). Die gawes is opsienbarende werkinge van die Gees wat net soos die wonderwerke van Jesus aandag trek en mense laat saamstroom.

Andersyds is dit net so belangrik om te onthou dat die lyste gawes in die NT oop lyste is wat verander van situasie tot situasie (Rom 12:6-8; 1Kor 12:8-10,27-30; Ef 4:11; 1Pet 4:10-11). Die eis dat presies al daardie gawes net so in elke situasie moet voorkom, is ‘n miskenning van die doel wat die Gees met die gawes het: om in die lig van die behoeftes van ‘n bepaalde gemeente juis dié gawes te gee wat daar nodig is (1Kor 12:7,11). Dit moet in ons lewe en strewe uiteindelik nie om die gawes gaan nie, maar om die Een wat die gemeente wil bou.

Die belang van die gawes blyk uit die funksie wat dit het. Elke lidmaat kry ‘n gawe … om die ander lidmate daarmee te bedien. Die gawes is dus tot onderlinge opbouing. Die Gees weet watter gawes in ‘n bepaalde gemeente nodig is, en hierdie gawes gee Hy aan die lidmate. Hoe sal ‘n gemeente dan sonder dié gawes kan funksioneer? Hoe gaan hulle behoeftes ondervang word?

Die hele punt van die gawes is dat hulle die gemeentelede onderling aan mekaar verbind. Ons het mekaar nodig omdat die een ‘n gawe het waaraan die ander behoefte het. Net soos die vrug, staan die gawes ook in diens van die eenheid as God se skeppingsdoel wat Christus aan die kruis bewerk het en waaraan die Gees nou in die gemeente se lewe gestalte gee.

Dit is dan ook ‘n goeie vraag of dit reg is om so eensydig van die gawes van die Gees te praat. Skynbaar bedoel Paulus dit nie so nie. Hy verbind die gawes doelbewus aan die Vader, die Seun en die Heilige Gees (1Kor 12:4-6). Verder is dit juis die liggaam van Christus wat as beeld gebruik word om ons te help om die werking van die gawes te verstaan. Sowel in Rom 12:3-8 as in Ef 4:7-16 word die genadegawes nie aan die Gees verbind nie, maar aan Christus. Ons staan dus weer voor die `ineengevlegdheid’ van Christus en die Gees. Dit kan ook nie anders nie want die Gees is die Gees van Christus, en Christus is deur die Gees op aarde werksaam.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied. Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die vrug van die Gees

Geloofsvrae: Die vrug van die Gees – Adrio König

Die vrug van die Gees

`Die vrug van die Gees’ is ‘n uitdrukking wat aan Gal 5:22 ontleen is waar nege deugde saam `die vrug van die Gees’ genoem word. Dit is egter ‘n gedagte wat elders ook voorkom, met of sonder die benaming `vrug’ (1Kor 13; Ef 4:32-5:2; 5:9; Fil 4:8; Kol 3:12). Dit gaan nie om presies net hierdie nege deugde van Gal 5 nie. Daar word ook ander genoem soos geloof en hoop saam met liefde (1Kor 13). Elders is redelik breedvoerig ingegaan op sommige van die eienskappe: liefde, hoop, geloof.

 

Daar is dikwels daarop gewys dat daar in Gal 5 net sprake is van die enkelvoud: vrug, en nie van vrugte nie. Die betekenis sou dan wees dat die nege elemente ‘n eenheid is, en dat dit as ‘n druiwetros voorgestel sou kon word: ‘n aantal dele wat saamhoort en ‘n onverbreeklike eenheid vorm. Dit mag op die oog af gekunsteld lyk, maar daar is waarskynlik twee belangrike evangeliese waarhede hierin opgesluit: die vrug werk anders as die gawes, en dit gaan in die vrug nie om natuurlike aanleg of, erger nog, om ‘n swak selfbeeld nie.

 

Die vrug werk anders as die gawes. Een van die basiese beginsels i.v.m. die gawes is dat die Gees aan elkeen ‘n ander gawe gee om in diens van die hele liggaam te beoefen. Een persoon sal dus nie al die gawes hê nie – dit sou die hele beginsel ophef van onderlinge afhanklikheid, diens en verbondenheid. Maar in die geval van die vrug ontvang elkeen juis alles omdat dit ‘n eenheid is. Die volle vrug vorm ‘n volwasse Christelike lewe. Dit gaan dus ook nie daarom dat iemand nou maar eenmaal sonder inisiatief gebore is en daarom ook nooit haastig of ongeduldig is nie – so iets soos `sagmoedige Neelsie.’ Geduld as deel van die vrug is iets anders as dit.

Wat is die vrug van die Gees anders as ‘n beskrywing van die beeld van God waarvolgens ons geskep is en waarvolgens ons herskep word? Is dit nie wat God vir ons lewe beoog het nie?

Ons sou dit kon toets aan die vraag of dit is hoe God lewe. Ons het tog gesien dat ons sy beeld is om soos Hy te leef. Maar hoe sal ons weet hoe Hy leef? Sal ons dit nie in die lewe van sy Beeld kan sien nie, die Beeld wat Hy ons teruggegee het nadat ons sy beeld in ons lewe verwring het met ons sonde? Is Jesus nie die openbaring van God en dus ook van sy soort lewe nie? En hoe het Jesus geleef?

Die vrug van die Gees is ‘n beskrywing van Jesus se lewe. Wat sien ons in die Evangelies anders as Iemand wat vol liefde is, wat geduldig, vriendelik, goedhartig, getrou en nederig is en volkome selfbeheersing het?

Ons staan in die vrug van die Gees voor Jesus se lewe. Dit is hoe God lewe, én hoe Hy ons lewe bedoel het. Daarom het ons in die werk van die Gees net soseer met die laaste dae en die einddoel van God in die lewe van sy kinders te doen as in die optrede van Jesus. God wil sy doel in ons lewe bereik. Hy doen dit deur die vrug wat die Gees in ons lewe dra. Dit is eskatologie (die doel wat bereik word) in die volste sin van die woord. Die doel wat bereik word het ons in Jesus se aardse optrede aangetref, en nou weer in sy werk deur die Gees. Daar is dus veel meer eskatologie (eindtyd, bereiking van God se doel) in die Christelike geloof as net ‘n paar `laaste dinge.’

Die feit dat ons in die vrug van die Gees voor Jesus se lewe staan, kan natuurlik die negatiewe effek hê dat ons in moedeloosheid vra wie daartoe in staat is om soos Hy te lewe? En ‘n eerlike antwoord sal wees: Niemand nie – in elk geval nie onder ons nie. Maar daar is wel één: Jesus. En wat doen die Gees anders as om ons ‘n aandeel aan sy lewe te gee?

Trouens dit is tog die hele punt in die uitdrukking: die vrug van die Gees. Dit gaan nie om ons reuse pogings om soos God te probeer leef nie. Dit gaan om ‘n gawe wat ons ontvang: die lewe van Christus waarin die Gees ons laat deel. Skryf Paulus dan nie iewers: `Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my’ nie? (Gal 2:19) En op nog ‘n ander plek: `Christus is ons lewe’! (Kol 3:4) En wat is dit anders as die beeld van die druiwestok en die lote (Joh 15)? Wie dra die druiwe? Die druiwe sit wel aan die lote, maar die lote (ons) kry al die sap uit die druiwestok (Christus), wat dieselfde beteken as dat ons ons nuwe lewe as ‘n gawe van die Gees ontvang.

Opnuut sien ons hier hoe Christus en die Gees aan mekaar verbonde is, en hoe hulle werk ineengevleg is. Eintlik kan ‘n mens nie regtig sê of ons nou met Christus of met die Gees besig is nie! En só hoort dit. Hulle is onafskeidelik aan mekaar verbonde. Jy kan nooit op die regte manier op die Een konsentreer sonder om ook met die Ander Een te doene te hê nie. Daarom is ‘n eensydige konsentrasie op Christus ten koste van die Gees (die historiese kerke?) net so vreemd as ‘n konsentrasie op die Gees ten koste van Christus (‘n beskuldiging wat soms aan die Pinkster- en Charismatiese kerke gerig word).

‘n Laaste saak wat nie ons aandag moet ontgaan nie, is dat die vrug van die Gees eenheid onder mense bewerk. In Galasiërs staan die vrug van die Gees skerp teenoor die `werke van die vlees’ (5:19ev OAV), die ou lewe in die sonde. Niks is opvallender in die vergelyking tussen die twee reekse eienskappe nie as die feit dat die ou lewe op verdeeldheid, wantoue, vyandigheid en vernietiging uitloop, terwyl die vrug van die Gees mense aan mekaar verbind en op mekaar laat steun. Liefde, geduld, vriendelikheid en al die ander verenig mense, skep onderlinge vertroue, terwyl onsedelikheid, jaloesie en woede mense uitmekaar dryf.

Dit klop natuurlik met een van die belangrike vrugte van die kruiswerk van Christus: dat Hy die vyandskap tussen mense vernietig het en vrede en eenheid bewerk het, ja, dat Hy selfs een nuwe mens uit die ou verdeelde mensdom geskep het, en dat die kerk hierdie (een!) nuwe mensheid verteenwoordig (Ef 2:15-18). Dit is net nog ‘n voorbeeld hoe die einddoel van God met die mense bereik word sowel deur die kruis van Christus vir ons, as deur die werk van die Gees in ons – dus eskatologie in die volste sin van die woord.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König