Geloofsvrae: Jesus Christus: Sy aardse optrede (1)

Geloofsvrae: Jesus Christus: Sy aardse optrede (1) – Adrio König

Die aardse optrede van Jesus

1 Die apokaliptiek

Wat die Evangelies ons oor Jesus vertel, is vir ons so bekend dat ons nie besef watter vreemde wêreld ons betree nie. Dink maar vir ‘n oomblik terug aan die OT. Alles is gewoon en bekend. Die verhale van Dawid, die beloftes en dreigemente van die profete, kan ons ons so maklik voorstel. Die Here sal die volk seën met goeie reëns, groot aanwas onder die vee en goeie oeste, met vrede met die buurvolke. Of die Here sal die volk straf met droogte, hael, pes onder die vee, buurvolke wat hulle onderwerp. Dit is alles gewone ervaringe en deel van ons eie wêreld.

En Jesus? Soveel is skielik heeltemal anders. Ons word oorweldig deur die aantal wonderwerke, deur sy duiweluitdrywings, deur sy profesie dat die aarde gaan verbrand, dat sterre op die aarde gaan val, die dooies sal opstaan, God alle mense sal oordeel, dat daar ‘n ewige vuur is waar mense gepynig gaan word, en ‘n nuwe aarde waarop geen onreg meer sal wees nie. In vergelyking met die gewone, historiese wêreld van die OT is dit ‘n nuwe, vreemde, bonatuurlike wêreld. Waar kom dit vandaan?

Ons praat van ‘n apokaliptiese wêreldbeeld, en ons kan heelwat van die belangrikste fasette van Jesus se aardse optrede en van sy toekomsbeeld net verstaan teen hierdie `bonatuurlike’ agtergrond. In die volgende bladsye gaan ons kyk waar dit vandaan kom.

Ons kan apokaliptiek `bonatuurlik’ noem al is dit ‘n oorvereenvoudiging. Daar is net een apokaliptiese geskrif in die OT, die boek Daniël met sy onwerklike, fantastiese beelde. Daar is ‘n paar kleiner dele van ander boeke wat ook apokaliptiese trekke vertoon soos Sag 9, 12-14, Jesaja 24-27. Die vroeë Christene het egter baie meer sulke geskrifte in hul Bybel gehad omdat hulle die Septuagint as Heilige Skrif aanvaar het waarin baie meer apokaliptiese geskrifte opgeneem is. In die NT is net een boek voluit apokalipties, Openbaring, maar daar is kleiner dele in ander boeke soos Mark 13.

Apokaliptiese geskrifte word maklik uitgeken, veral aan die bonatuurlike beelde. Die verlede, hede en toekoms word nie in bekende beelde beskryf soos ons dit gewoonlik ervaar en soos dit altyd in die profetiese en historiese geskrifte van die OT gedoen was nie, maar in beelde wat heeltemal onwerklik en vergesog is: ‘n dier met ystertande en elf horings waarvan die een horing mense-oë en ‘n mond het, en begin praat – totaal onwerklik (Dan 7).

Waarom dié vreemde voorstellings? Omdat dit wat hulle wil sê, die werklikheid wat hulle moet beskryf, so oorweldigend is dat gewone beelde dit nie meer kan uitdruk nie. Dit is dinge wat buite ons ervaring lê sodat ons nie in ons ervaring beelde het om dit mee te beskryf nie.

Vanwaar hierdie neiging? Dit het waarskynlik veral teen die agtergrond van die ballingskap ontwikkel. Ons dink gewoonlik die groot oorgang in die Bybel is tussen die OT en die NT. Maar dit is goed moontlik dat die oorgang van die profetiese (natuurlike) wêreldbeeld na die apokaliptiek (bonatuurlik) groter en ingrypender was. En dit is juis by hierdie wêreldbeeld wat Jesus en die vroeë Christene aangesluit het.

Ons besef nie maklik watter aardbewing die ballingskap in Israel se lewe was nie. Alles wat vir hulle waarde gehad het en waarop hulle vertroue gevestig was, is vernietig. Lees ‘n paar van die Sionspsalms soos Ps 46,47,48,84. Daar is ‘n heerlike jubeltoon in hierdie Psalms. Die Here is die groot koning van die hele aarde. Die nasies is soos niks voor Hom. Die stad Jerusalem is oninneembaar, die tempel op die berg Sion troon bo alles uit in sy skitterende heerlikheid. Alles is vas en veilig.

As die profete die volk oor hulle ongehoorsaamheid aan die Here begin waarsku, verwys hulle na hierdie onwrikbare (maar valse!) vertroue by die volk. Volgens Jeremia is die volk gerus want hulle sê: `Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!’ (7:4) Hulle is oortuig dat die Here so groot en sterk is dat niemand ooit vir hulle ‘n bedreiging kan wees nie. Solank hulle naby die tempel is (wat die aardse woonplek van die Here was!), kon niks hulle bedreig nie.

En dan kom die ballingskap. Die mure van Jerusalem val! Die tempel word met die aarde gelyk gemaak! Hulle beste en sterkste jongmanne en jongdogters word as slawe weggevoer! Die jakkalse speel tussen die oorblyfsels van die tempel rond! Hulle is uitgelewer aan ‘n heidense volk wat afgode dien. Hoe kon hierdie `nikse’ (‘n heidense God is ‘n `niks’ genoem, Jes 41:24) die Here oorwin? Wat het van die oorwinningskrag van die Here en van al sy wonderlike beloftes geword? Die hele grond van hulle geloof is vernietig.

Aanvanklik was daar natuurlik die profete se verklaring van die situasie. Hulle het oor ‘n lang tydperk die ongehoorsame volk gewaarsku dat die Here hulle gaan straf. Sommige van hulle het spesifiek met die ballingskap gedreig. En ná die ballingskap het die profete bevestig dat dit in werklikheid die Here self is wat hulle gestraf het oor hulle ongehoorsaamheid.

Maar teveel is teveel. Op die lang duur kon die volk nie aanvaar dat die enigste oorsaak van die vreeslike lot wat hulle getref het die Here se oordeel is nie. Dit sou die troue Verbondsgod in ‘n chaosmag verander, ‘n mag waarvoor hulle net kan vrees.

Hierdie situasie is waarskynlik die een groot aanleiding tot die apokaliptiese wêreldbeeld wat onder hulle ontwikkel het. Tydens die ballingskap het iets veel erger en dramatieser gebeur as maar net die Here wat sy volk straf om hulle terug te roep na Hom. Israel het tot die oortuiging gekom dat bonatuurlike magte die wêreld oorgeneem het en dit probeer vernietig. Dit was nie heeltemal ‘n nuwe gedagte vir die Israeliete nie. Hulle was altyd bewus van chaosmagte wat die skepping van God bedreig, en in hierdie sin was daar altyd apokaliptiese trekke in hul geloof. Hulle het van vroeg af geglo dat die Here sy skepping van die begin af teen die chaosmagte moes beskerm (22.3). Maar nou het die oortuiging deurgebreek dat die bose magte eenvoudig die hele aarde by God gesteel het en dat die ballingskap deel is van die totale chaos wat hulle skep.

Dit is ‘n situasie wat die Here nie op die ou bekende wyse sou kon hanteer nie: met oordele soos hael en pes en sprinkane, en seëninge soos reën, goeie oeste, en vrede met die buurvolke nie. Daarvoor was ‘n ingrypender daad van God nodig, iets wat nie deel van hul ervaring was nie, en waarvoor hulle gevolglik nie beelde of simbole gehad het nie. En vandaar dan die behoefte aan die dramatiese, onwerklike, bonatuurlike beelde en voorstellings wat die bladsye van die apokaliptiese literatuur vul. (Lees gerus Dan 7 en Open 12 en 13).

Op hierdie wyse is die oortuiging uitgespreek dat daar ‘n totale, omvattende ingryping en verandering in die wêreld sou moes kom. Die duiwel het oorgeneem op aarde. Dit het ‘n volkome chaotiese situasie van totale ontreddering geskep wat net met ‘n ingrypende en omvattende nuwe, onvoorstelbare daad van God beantwoord sou kon word. Die aarde sou met vuur gereinig moes word, die totale mensdom sou voor God moes verskyn om geoordeel te word, en daar sou ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde (‘n nuwe skepping) moes kom.

Die bestaande was so verwring deur die bose magte dat van ‘n gewone herstelproses nie meer sprake kon wees nie.

Teen hierdie algemene agtergrond moet ons die talle vreemde dinge in Jesus se optrede verstaan, en ook sy opstanding en bonatuurlike voorstellings van die toekoms. Trouens selfs die begrip `die koninkryk van God’ word eers teen hierdie agtergrond duidelik.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Jesus Christus: Sy maagdelike geboorte

Geloofsvrae: Jesus Christus: Sy maagdelike geboorte – Adrio König

Sy maagdelike geboorte

Die maagdelike geboorte van Christus het gedurende die laaste eeu of meer onder sterk kritiek gekom. Daar is gewys op die feit dat net twee evangelies daarna verwys, en dat dit van Jesus ‘n soort halfmens/wondermens maak terwyl dit juis sy volle menslikheid is wat vir ons heil belangrik is.

Die verdediging van die maagdelike geboorte van Jesus was nie altyd so oortuigend nie. Van die vroeë kerkvaders het gemeen dat dit die grond was vir die sondeloosheid van Jesus. Volgens hulle gaan die seksdaad met sy `wellus’ onvermydelik met sonde gepaard. Dit is dan ook gesien as die wyse waarop ons aan die erfsonde deel kry: ons word almal as gevolg van ‘n seksdaad gebore. Christus moes dus noodwendig gebore word sonder dat daar ‘n seksdaad tussen man en vrou was. Dan alleen kon Hy sonder erfsonde wees. Gelukkig het hierdie oortuigings lankal in onguns verval.

‘n Ander argument ten gunste van die maagdelike geboorte was dat die menslike bydrae uitgeskakel is. Net die vrou, wat die ontvangende persoon sou wees, was betrokke. God gee haar die kind, sy (die mens) ontvang net. Dit is die wyse waarop God ons in die heil laat deel, en daarom sou die maagdelike geboorte ‘n duidelike illustrasie wees van die wyse waarop die heil werk. Ons kan niks bydra nie, ons word gered.

Dit is ‘n pragtige gedagte, maar die model van die verhouding tussen man en vrou is die ou gedagte van die aktiewe man en die passiewe vrou, van die leidende man en die onderdanige vrou – ‘n kwalike model!

Die maagdelike geboorte kan twee teenoorstaande reaksies by ‘n mens uitlok. ‘n Mens kan negatief daarop reageer as iets wat die volle menslikheid van Christus problematiseer, iets wat nie mag gebeur nie omdat ons heil inderdaad daarvan afhang dat Hy ‘n mens was. Dat Hy waarlik ‘n mens was, is een van die heel oudste belydenisse van die kerk.

Maar die teenoorgestelde reaksie is ook moontlik, en dit is dat die maagdelike geboorte ‘n juweel is in die evangelie omdat dit daarvan getuig dat Jesus nie op die normale manier gebore is nie, maar ‘n nuwe mens is, ‘n nuwe (skeppings)daad van God, nadat sy ou skepping misluk het. So wonderlik as wat die oorspronklike skeppingsdaad was, is hierdie een: God begin oor. Dit is onnodig dat die maagdelike geboorte ‘n skadu oor sy volle mensheid werp omdat sy volle mensheid duidelik in die res van die NT geleer word.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Jesus Christus: God en mens

Geloofsvrae: Jesus Christus: God en mens – Adrio König

Christus: God én mens?

Hier sal ons nie in besonderhede ingaan op die goddelikheid en die menslikheid van Christus nie, maar op een besondere probleem: hoe is dit moontlik dat een persoon tegelyk God en mens kan wees?

Een van die oudste kerklike belydenisse oor Christus is dat Hy God én mens is, die ware God en ‘n ware, regverdige mens, wat ook beteken dat Hy God én mens openbaar, d.w.s. dat ons in sy optrede leer wie en hoe God is, én wie en hoe ‘n mens is.

Hoe is dit moontlik? In ‘n vorige artikel het ons kritiek uitgespreek oor die verdeling van sy lewe in twee dele: ‘n deel waarin Hy in sy goddelike natuur sou optree en waarin Hy dus vir God openbaar (bv in sy wonderwerke), en ‘n deel waarin Hy as mens optree en openbaar hoe die mens is (bv dat Hy nie weet wanneer sy wederkoms sal wees nie).

As ons standpunt reg is dat die Bybel nie sy lewe so in twee dele verdeel nie, maar sy lewe as ‘n eenheid voorstel, beteken dit dat Hy in een en dieselfde Persoon, en in dieselfde dinge wat dié Persoon sê en doen, tegelyk openbaar wie en hoe God is én wie en hoe die mens is.

Hoe is dit moontlik? God en mens verskil tog heeltemal. God is ewig, almagtig, onveranderlik, en die mens is tydelik, swak, veranderlik. Hoe kan Christus in sy een lewe tegelyk God én mens openbaar?

Speel ons Godsbegrip ons nie `parte’ nie, soos die ou mense gesê het? Ons het twee dinge vergeet: eerstens dat God nie Plato se onveranderlike, in sigself genoegsame, onbeweeglike wese is nie, maar die lewende God van liefde wat vir mense omgee; en tweedens dat ons as sy beeld geskep is met die roeping om Hom te verteenwoordig, d.w.s. iets van sy manier van lewe in ons lewe te openbaar. In terme van die NT: ons moet soos God en soos Christus optree. Maar dan sal ‘n lewe waarin God sigbaar word, vanselfsprekend ook wys hoe die mens behoort te lewe.

Die probleem lê dus nie by Christus nie, maar by ons. Deur ons sonde word dit onmoontlik om in ons lewe te wys hoe God is. Maar Jesus was juis sonder sonde, en daarom het sy lewe God én mens geopenbaar. God is liefde, en ons moet Hom en ons naaste liefhê. Dus sien ons in Jesus se lewe van liefde God én mens geopenbaar.

Soos reeds gesê het ons tradisioneel Jesus se lewe in twee dele verdeel, en gewoonlik sy wonderwerke aan sy goddelikheid toegeskryf. Maar waarom nie ook aan sy menslikheid nie? God het mag oor die natuur en daarom sien ons Hom daarin. Maar ons is geskape om namens God oor die natuur te heers. Daarom kan ons in die wonderwerke óók dit sien wat God met ons bedoel het.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Jesus Christus: Doelgerigte Christologie

Geloofsvrae: Jesus Christus: Doelgerigte Christologie – Adrio König

Doelgerigte Christologie (Christologie van voor)

Ons kan ook van voor af na Christus kyk, dit beteken om van die einde af terug te kyk na Hom in terme van die doel wat God met die wêreld beoog. ‘n Mens sou dit ook eskatologiese Christologie kon noem.

Aan die begin van hierdie hoofstuk het ons gesê Hy is self die einde, die doel van al God se werke. In die Nuwe Testament is sterk getuienis hiervoor. Hy is die Een onder wie se heerskappy God alle dinge wil verenig, Hy is die Een op wie alle dinge by die skepping gerig is (Ef 1:10; Kol 1:16: `alles is vir Hom geskep), Hy het die Een deur wie God se doel met die wêreld bereik is (Joh 19:30: `Dit is volbring’ – ‘n uitspraak wat sonder beperkinge is en wat in ‘n konteks staan waar drie keer sprake is van voltooiing of die doel wat bereik is – afgelei van die Grieks telos wat elders juis vir Christus self gebruik word), Hy is die alfa en die omega, die eerste en die laaste, die begin en die einde (Open 2:8; 22:13). Hierdie drie uitdrukkings vir Christus het ‘n merkwaardige inklusiewe betekenis. Dit is maar net nog ‘n voorbeeld van die neiging om alles op Hom te betrek en in Hom in vervulling te sien gaan (60).

Maar die begrippe `einde’ en `laaste’ verdien besondere aandag in hierdie verband omdat dit dui op Christus se eindbetekenis. `Laaste’ (eschatos) is juis die Griekse woord waarvan ons woord eskatologie afgelei is en wat dui op die afhandeling van die werke van God. `Einde’ (telos) het nie net met die einde van ‘n tydperk te doen nie, maar met die einddoel, met die doel wat uiteindelik bereik word. Christus is dus die Een deur wie God sy werk afhandel en sy doel op aarde bereik.

In hierdie lig is dit skielik duidelik waarom die NT met soveel nadruk leer dat Christus in die laaste dae gebore is (Heb 1:2; 1 Pet 1:20), dat die Heilige Gees in die laaste dae uitgestort is (Hand 2:17), dat die eerste gemeentes in die laaste dae geleef het (Jak 5:3) of in die einde (1 Kor 10:11 waar die NAV ten onregte die woordjie `al’ invoeg), ja, dat Johannes selfs kan sê die gemeente leef in die laaste uur! (1 Joh 2:18).

Dit is uitsprake wat gewoonlik nie in boeke voorkom wat oor die laaste dae en die einddinge handel nie eenvoudig omdat dit nie inpas in die oortuigings van die skrywers nie. Die meeste Christelike beskouings oor die einde gaan uit van die gedagte dat Christus so ongeveer in die middel van die tyd gebore is en dat Hy en die apostels van die laaste dae gepraat het as ‘n tyd wat ver in die toekoms gelê het en wat eintlik eers in ons tyd aangebreek het. Die profesieë oor die einde sou dan ook niks te doene gehad het met die tye waarin Jesus en die apostels geleef het nie, maar sou eintlik net op ons tyd betrekking hê omdat die eindtyd nou eers aangebreek het.

Dit is ‘n beskouing wat nie regtig steun het in die NT nie. In die NT is Jesus self die einde, wat beteken dat sy geboorte alreeds in die laaste dae plaasgevind het, en dat alles daarna deel is van die laaste dinge. Ons leef dus inderdaad in die laaste dae, maar dit is dieselfde laaste dae waarin Jesus en die eerste Christene geleef het. Die laaste dae is een enkele tydperk van Jesus se eerste koms tot by sy tweede koms en wat nie onderverdeel is in die NT nie. Daarom kan Johannes sê (1 Joh 2:18) dat die Antichris alreeds gekom het (96.1).

As ons dan van eskatologie (die einde) praat as die wyse waarop God sy doel met sy skepping bereik, moet ons begin by die Een deur wie Hy dit doen. Dan begin eskatologie by die geboorte van Jesus Christus – iets wat byna vanselfsprekend is, want is Hy dan nie self die einde, die laaste, die einddoel van al God se werke nie, die Een op wie alle dinge van die begin af gerig was nie?

Natuurlik vra dit ‘n taamlike heroriëntering van ons denke. Ons kan nie meer dink dat sy eerste koms en ons tyd los van mekaar staan en dat die einde nou eers bereik is nie. Ons sien sy lewe, die vroeë Christene, al die eeue wat intussen verloop het, en ons eie tyd as die een onverdeelbare eindtyd waarin die tekens van die tye vervul word. Dan word dit skielik duidelik waarom die eerste Christene die wederkoms van Christus enige oomblik verwag het en so dringend daarna uitgesien het (94-96). As die tekens van die tye regtig in hulle tyd net op ‘n verre toekoms geslaan het, kan ‘n mens nooit begryp hoe dit moontlik is dat hulle so ‘n dringende wederkomsverwagting gehad het nie.

Waarom die eskatologie eers by Christus laat begin en nie sommer al by Israel of selfs by die skepping nie? Net omdat Jesus die einde is, die doel van God met alle dinge, net omdat Adam en Israel misluk het en God ‘n nuwe bondgenoot moes voorsien om die verbond te kom vervul.

Nog ‘n opmerking is nodig oor Jesus Christus as die doel van alle dinge. Dit is op sigself ‘n ongewone gedagte. Dit hang direk saam met wat ons bespreek het onder God se skeppingsdoel (21.3). God maak die aarde om ‘n plek te hê waar Hy mense kan skep om in liefdesgemeenskap met hulle te leef. Hy wil in ‘n verbondsverhouding met hulle leef waarin Hy vir hulle verantwoordelikheid neem en hulle seën, en waarin hulle Hom in liefdesgehoorsaamheid dien en eer. Dus God en mense in liefdesharmonie.

En in Jesus gebeur presies dit! Hy is God én mens. In Hom is God en mens in volmaakte harmonie verenig. Dit is God se skeppingsdoel. In hierdie sin is Hy op voorbeeldige of verteenwoordigende wyse (dit beteken as verteenwoordiger van God en mens) die doel van God met alle dinge.

Maar Hy is dit nie net nie, Hy realiseer ook God se skeppingsdoel, en wel op drie maniere: vir ons, in ons, en met ons. Hy doen dit vir ons. Aan die kruis vernietig Hy die vyandskap en skep die vrede tussen God en mens én tussen mense onderling (Ef 2:14-16; vgl 2 Kor 5:18-20; Rom 3:24). Daarom kan Hy aan die kruis uitroep: `Dit is volbring.’ Dit is ‘n uitroep sonder enige beperkinge, en daarom het dit ‘n omvattende betekenis. Natuurlik is God se doel nog nie in elke moontlike betekenis verwerklik nie, maar deur die kruis maak Hy vrede vir ons, en bereik dus vir of namens ons God se doel om in vrede met ons te leef.

Desondanks volhard ons ná die kruis nog in hierdie (vernietigde!) vyandskap. Ons leef dus in ‘n leuen totdat Hy op nog ‘n manier God se skeppingsdoel bereik: deur sy werk in die Gees in ons. Die Gees werk in ons en nie meer net vir ons soos Jesus aan die kruis nie. Hy verander ons van binne en beweeg ons om hierdie vrede te aanvaar en in vrede met God en ander mense te (begin!) lewe.

Omdat ons egter selfs dan nog nie regtig op volmaakte wyse God se doel in ons lewe bereik nie, moet Christus uiteindelik die doel van God op ‘n derde wyse bereik en wel by sy wederkoms, hierdie keer met ons in die sin dat ons onvolmaaktheid uitgeskakel word sodat ons in elke sin volmaak word wat God ons bedoel het om te wees: sy troue bondgenote.

In hierdie sin is alles sedert Christus se geboorte eskatologie, die laaste dinge, en wel in die sin van dié dinge wat God met sy skepping bedoel het, die einddoel van alles. Dit is sedert Christus se geboorte só omdat Hyself die einde, die laaste, die doel van God is, en dit daarom ook verwesenlik.

Intussen het dit duidelik geword dat Christologie van agter en van voor op presies dieselfde uitloop juis omdat dit wat van agter beoog was, van voor bereik word: God se skeppingsdoel.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König