Geloofsvrae: Die dood in die Nuwe Testament

Geloofsvrae: Die dood in die Nuwe Testament – Adrio König

Die dood in die Nuwe Testament

In die NT verkeer ons in ‘n ander wêreld. Wat in die OT ondenkbaar was, lees ons hier uitdruklik: `Om te sterwe is vir my wins’ (Fil 1:21). Totaal verskillend van die weersinwekkende dood in die OT! Waarom? Omdat daar intussen iets met die dood gebeur het: die leë graf. Jesus Christus het uit die dood opgestaan en só die mag van die dood gebreek. `Die dood het nie meer mag oor Hom nie’ (Rom 6:9).

Jesus het nie maar net weer lewendig geword nie, maar deur die dood deurgegaan, en anderkant uitgekom. Hy het die dood nou `agter die rug’! Hy het die sleutels van die dood en die doderyk (Openb 1:18). Daarom dink gelowiges in die NT anders oor die dood as dié in die OT.

Dit alles beteken natuurlik nie ‘n terugkeer na Plato nie. Omdat hy nie die moed gehad het om die dood in die oë te kyk nie, het hy ‘n goedkoop uitweg gesoek: daar is iets in die mens, die siel, wat sterker is as die dood – het hy gehoop – en daarom hoef jy nie die dood te vrees nie. Die gelowiges in die OT het nie hierdie volstruispolitiek gevolg nie maar die dood vierkantig in die oë gekyk en eerlik bely: ons sien nie kans daarvoor nie. En toe het God ‘n antwoord gestuur: nie iets in ons wat tog sterker as die dood is nie, maar sy Seun wat die mag van die dood gebreek het. Ons hoop lê dus in Hom, nie in ons nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die dood in die Ou Testament

Geloofsvrae: Die dood in die Ou Testament – Adrio König

Die dood in die Ou Testament

Ons dink meestal aan die dood as ‘n toestand: ‘n mens is dood. Maar die Ou Testament dink aan die dood allereers as ‘n plek (as ‘n mens doodgaan, gaan jy in die dood in, wat ook die doderyk of die graf genoem is), of ‘n mag (die dood kry ‘n mens in sy mag en dan sterf jy – Ps 71:20).

 

Die dood kan ‘n mens ook al in sy mag begin kry nog voordat jy regtig dood is. Die dood dring soos ‘n monster in ons lewe in sodat iemand wat in lewensgevaar verkeer of siek is, alreeds in die mag van die dood is. Daarom noem ons siekte ‘n voorvorm van dood.

 

Oor die dood of die doderyk as ‘n plek waar die dooies is, word ook baie realisties gedink. Daar is heelwat beskrywings van hierdie plek in die OT, en hierdie beskrywings is almal baie donker en negatief. Ook mense wat in lewensgevaar verkeer, het alreeds in die ruimte van die dood (die doderyk) ingegaan en verkeer alreeds tussen die dooies (Psalm 88:4-7; 40:2-3; 30:4 OAV). Die dood is ‘n magtige monster (Ps 18:5,6,17; Jes 5:14; Hab 2:5), een van die choasmonsters wat uit `die waters onder die aarde’ kom (Ps 69:2,3; 124:4,5). (22.3)

Wat is die houding van die gelowiges in die OT teenoor die dood? Daar is enkeles wat die dood as ‘n redelik natuurlike lewenseinde sien, maar vir die groot meerderheid is die dood ‘n skrikwekkende, weersinwekkende einde.

‘n Paar persone aanvaar die dood as die voltooiing van hul lewe, as iets natuurlik: Abraham, Dawid, Job (Gen 25:7,8; 1 Kon 2:2; 1 Kron 29:28; Job 5:26; 42:17). Dit beteken nie dat enigeen van hulle regtig na die dood uitgesien het – so ‘n siening kry ‘n mens nie in die OT nie – of die dood bo die lewe verkies het nie. Hulle het net gelate die dood aanvaar omdat hul lewe verby was. Hulle is egter die uitsonderings wat die reël bewys: die dood is negatief, sinloos, gemeenskapsverbrekend, afstootlik, vreesaanjaend.

Waarom? Omdat die dood die mens van God skei en vervreem. Die sin en die diepste betekenis van die lewe, die heil, is vir die gelowige in die OT hierdie lewe in gemeenskap met God. Gevolglik is die dood die einde van ons verhouding met God en van die heil. God dink nie aan dié wat in die dood is nie, en niemand in die doderyk sal Hom prys nie. Daar heers die ewige, sinlose, donker stilte (Ps 115:17; 94:17; 88:11-13; Job 10:20-22).

Die ervaring van koning Hiskia (Jes 38) is een van die aangrypendste voorbeelde van die negatiewe reaksie van gelowiges teen die dood, totaal negatief – juis omdat hulle gelowiges is.

Tot kort voor die einde van die OT is daar geen sprake van die opstanding uit die dood nie. Daar is ‘n paar uitsonderings van mense wat nie gesterf het nie, maar deur God in heerlikheid opgeneem is (Henog, Elia), maar dit skep geen verwagting by die ander gelowiges nie, behalwe in die een geval (Ps 73:24) wat egter nie duidelik is nie en ook nie ‘n algemene verwagting word nie.

Om van `lewe na die dood’ in die OT te praat, is om te vergeet dat lewe gemeenskap met God is en dat die dood dit afbreek. Dit is om te vergeet dat mense geskape is as bondgenote van God, en dat hulle daarom die sin van hul bestaan verloor as hulle sterf en uit die gemeenskap met God weggeruk word. Die skimbestaan in die doderyk is nie meer gemeenskap met Hom nie en juis daarom nie lewe nie – daarom is dit so weersinwekkend vir die gelowiges.

Die verwagting dat dooies sal opstaan, kom eers baie laat in die OT voor. Dit staan nie regtig in Jes 24-27 of Eseg 37 nie. Dit is alles verwysings na Israel wat weer `lewendig word’ by die terugkeer uit die ballingskap. Dan 12:2 is die enigste duidelike getuienis dat daar ‘n opstanding sal wees. Dit is ook heeltemal begryplik dat dit eers hier na vore kom, omdat dit deel is van ‘n ander wêreldbeskouing, die apokaliptiese of `bonatuurlike’ siening van wêreldgebeure wat eers tydens die ballingskap ontwikkel het.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die dood volgens Plato

Geloofsvrae: Die dood volgens Plato – Adrio König

Die dood volgens Plato

Om te verstaan wat in die Bybel aangaan, is dit dikwels nodig om eers na bepaalde strominge in die Griekse wysbegeerte te kyk. Die vroeë Christene se denke is in baie opsigte sterk deur hierdie oortuigings beïnvloed, en hierdie invloed werk tot vandag toe sterk deur. Dit is dus nie altyd so maklik om te onderskei wat werklik uit die Bybel tot ons gekom het, en wat nie.

Plato het aanvaar dat die mens uit twee dele bestaan wat nie goed by mekaar pas nie: ‘n stoflike, sterflike, minderwaardige liggaam, en ‘n geestelike, onsterflike siel wat oneindig meer waarde het. Die siel is ons eintlike `ek,’ en sy beweging en lewensruimte word sterk beperk deur die liggaam wat ‘n soort tronk is waar die siel straf uitdien vir oortredings in ‘n vorige lewe. Daarom is die dood die groot verlossing wanneer die siel bevry word en na die wêreld van die Gode kan sweef.

Volgens hierdie beskouing verloor die dood sy bedreigende en vernietigende karakter en word iets om na uit te sien.

Dit is nie die enigste oortuiging oor die dood wat onder die Grieke bestaan het nie. Homerus het byvoorbeeld die lewe ver bo die dood verkies omdat hy oortuig was dat ons ná die dood ‘n aaklige skimbestaan sal voer – ‘n standpunt wat baie nader is aan die vroeë OT. Daar is ook ‘n materialistiese Griekse tradisie waarvolgens die siel, net soos die liggaam, uit atome saamgestel is. By die dood ondergaan die siel dus dieselfde lot as die liggaam: albei disintegreer in atome.

Alhoewel daar dus onder die Griekse filosowe ook ander beskouings as dié van Plato was, het syne die vroeë Christene so beslissend beïnvloed dat dit belangrik is om dit te verstaan.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die verband tussen dood, siekte en hel

Geloofsvrae: Die verband tussen dood, siekte en hel – Adrio König

Die dood

Die verband tussen dood, siekte, hel

Tradisioneel word die dood en die hel in die leer oor `die laaste dinge’ behandel. Dit is egter beter om dit onder die sonde te doen omdat dit nie deel is van God se skeppingsdoel nie, maar eerder deel van die mislukking van sy doel met ons. As ons onder die voleinding die verwesenliking van God se skeppingsdoel verstaan, is dit dus nie gepas om die mislukkings wat mense deur hul sonde veroorsaak, daarby in te sluit nie. Daarom hoort siekte, dood en hel tuis onder ons sonde.

Die dood en die hel is in werklikheid presies die teenoorgestelde van wat God met ons bedoel het. Hy het ons bedoel as bondgenote, as mense wat die sin van hul lewe in verhoudings vind, en dan juis in die liefdesverhouding met Hom, met ander, en met die natuur. Die dood is juis die teendeel van dit alles, die verbreking van alle verhoudings en die beëindiging van alle gemeenskap, en daarom die beëindiging van alle sin en betekenis in ons lewe. Daarom is die dood ‘n skrikwekkende gedagte. En die hel is niks anders as die uiterste konsekwensie en finale verseëling van die dood nie: finaal uit die gemeenskap van God uitgesluit, finaal van die sin van ons lewe (bondgenote van God) vervreem.

Siekte is ‘n voorvorm van die dood, dit is die begin van die dood se oorwinning oor ons. Daarom word dit saam met die dood en die hel behandel.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König