Geloofsvrae: Die sending

Geloofsvrae: Die sending Adrio König

Die sending

Die sending word dikwels as dié teken van die tye gesien, en wel in die sin dat die Here nog nie weer kan kom nie omdat alle volke nog nie die evangelie gehoor het nie. Daar word veral verwys na Jesus se woorde: `En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom’ (Mat 24:14). Met die eerste oogopslag lyk dit asof ons benadering tot die tekens van die tye hiermee ernstig bevraagteken word.

Dit is egter nie die geval nie. Die teendeel is waar. Daar is ‘n paar uitsprake wat besonder insiggewend is. Alreeds so vroeg as die Kolossensebrief lees ons van die evangelie wat in die hele wêreld vrug voortbring en versprei (1:5), `die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is’ (1:23), wat skaars iets anders kan beteken as ‘n vervulling van Jesus se profesie in Matteus. Dit word nog sterker gestel in ‘n later brief: `… sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor’ (2Tim 4:17).

Aan al die nasies …

Natuurlik roep dit vrae op. Dit is vandag tog duidelik dat al die heidennasies dit nog nie in daardie tyd gehoor het nie. Die grootste deel van die wêreld was in daardie tyd nog onbekend vir die vroeë Christene. Die meeste wat ‘n mens sal kan sê, is dat al die nasies waarvan Paulus geweet het, dit reeds in sy tyd gehoor het. En dieselfde moet ons van Jesus sê. Jesus het in sy uitsprake die wêreldbeeld van sy tyd gedeel. Wat Hy in Matteus onder `al die nasies’ bedoel het, is wat Paulus daarmee bedoel het in die briewe. Anders sou dit tot onhanteerbare misverstande gelei het as Jesus se uitsprake geheime kennis sou veronderstel en niemand van sy tydgenote dus regtig kon verstaan het wat Hy bedoel het nie.

Trouens die gedagte van al die nasies is tog juis ook die simboliek agter die gebeure op die Pinksterdag (Hand 2): die lys volke is ‘n aanduiding daarvan dat die hele wêreld simbolies teenwoordig was toe die Gees uitgestort is omdat God sy Gees gestuur het om die hele wêreld vir Hom te wen. Let op die beklemtoning van `al die nasies onder die son’ (Hand 2:5).

Wat Jesus en Paulus onder `die evangelie aan al die nasies’ verstaan het, is dus alreeds deur Paulus se sendingreise vervul, en daarom kon hy saam met die ander Christene met verwagting uitsien na Christus se koms wat toe al enige oomblik kon plaasvind.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die Antichris

Geloofsvrae: Die Antichris – Adrio König

Die Antichris

Die Antichris is ‘n teken dat die einde naby is. Paulus het in sy prediking dikwels nadruk hierop gelê (2Tes 2:5). Alreeds vroeg in sy bediening verwag hy hom dan ook enige oomblik (vgl die woordjies `nog’ en `al’ in 2Tes 2:6,7). Daarom is dit nie vreemd nie dat Johannes later kan aankondig dat hierdie profesie alreeds vervul is, en dat die Antichris alreeds in baie vorme in die gemeente teenwoordig is (1Joh 2:18-22; 4:3; 2 Joh 7). Dit is jammer dat die NAV sonder goeie gronde gekies het vir die vertaling `die gees van die antichris’ (4:3) Daar is geen getuienis dat Johannes iets minder bedoel het as die Antichris self nie.

As ons Johannes (die enigste skrywer wat die term Antichris gebruik!) ernstig neem, kan ons net een gevolgtrekking maak en dit is dat daar al baie persone in sy tyd was wat hy die Antichris noem, en dat hierdie Antichriste bevestig dat Johannes se gemeente in die laaste uur geleef het (2:18) sodat Christus enige oomblik kon kom.

Meer as een …

Die meervoud (Antichriste) in Johannes is nie vreemd nie omdat daar geen rede is om aan te neem dat die Antichris as net een persoon moet verskyn nie. Trouens hy word in die NT onder verskillende gestaltes voorgestel:

  • as iemand wat in die kerk optree (1Tes 2),
  • as ‘n aantal persone wat die kerk verlaat het (1Joh 2), en
  • as die gesag van die staat (Open 13).

Verder is dit duidelik dat Open 13 ‘n kollektiewe begrip veronderstel. In Dan 7 is daar vier diere waarvan die vierde een tien horings het. Dan verskyn daar ‘n ekstra klein horinkie tussen hulle en dié word dan gesien as die Antichris. Maar in Open 13 is al vier Daniël se diere verenig in een aaklige monster en dié is dan die Antichris. Johannes verenig dus al vier diere in Daniël wat op hulle beurt magte verteenwoordig wat oor ‘n lang tydperk optree. Ons het dus duidelik die neiging tot kollektiwiteit en tot meer as een Antichris.

Wat sê dit vir ons vandag?

Wat beteken hierdie teken van die nabye wederkoms van Christus nou vir Christene vandag? Presies soos in die tyd van die NT en sedertdien deur al die eeue heen, verskyn die Antichris vandag nog in verskeie gestaltes wat radikaal teen die gelowiges optree en die kerk probeer vernietig. Elke keer as ons van sulke magte bewus word, moet ons net soos die vroeë Christene weet dat die Here enige oomblik kan kom en dus altyd gereed wees.

Maar dit is vreemd aan die Bybel om te maak asof die `eintlike’ Antichris nog eers iewers in die toekoms moet verskyn en dat ons dan eers sal kan sê dat die koms van die Here naby is. Dit sou ‘n weerspreking wees van die oorweldigende getuienis van die NT dat die Antichris toe al gekom en die koms van die Here toe al naby was.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die tekens van die tye

Geloofsvrae: Die tekens van die tye – Adrio König

Die tekens van die tye

Die wederkoms was van die begin af naby.

Hierdie agtergrond dat Christus se wederkoms al in die tyd van die NT naby was, help ons om te begryp wat bedoel word met die tekens van die tye, die tekens dat Christus se koms naby is. Die beginsel is eenvoudig: Jesus en die apostels het nie dié tekens bedoel as aanduidinge wat die gelowiges sal help om te bepaal wanneer sy koms naby sal wees nie – immers sy koms was van die begin af naby – maar as staande herinneringe dat sy koms (altyd!) naby is en ons altyd gereed moet wees om Hom te ontvang. Wie dus die tekens (soos die Antichris of die wêreldwye verkondiging van die evangelie of die Jode) gebruik om te probeer bereken wanneer Christus gaan kom – ook net naastenby – misken die wese van die tekens.

Op net twee bladsye in die NT lees ons vyf keer dat ons nie die tekens moet gebruik om die tyd van sy koms te bereken nie, omdat dit eerder waarskuwings is dat ons altyd gereed moet wees (Mat 24:36,42,44,50; 25:13; vgl ook 1Tes 5:2ev; 2Pet 3:10ev). Die oproep van Jesus is duidelik: Julle weet nie wanneer die Seun van die mens kom nie, wees dus elke oomblik gereed, Hy gaan juis kom wanneer julle dit nie verwag nie.

Wat verder duidelik is, is die feit dat Jesus sy dissipels aanspreek as Hy oor die tekens praat. Daar staan nêrens iets soos: Wanneer ‘n geslag in die verre toekoms eendag dié tekens in vervulling sien gaan, moet hulle gereed wees omdat Jesus dan op ‘n onverwagte oomblik kan kom nie. Hy spreek direk sy dissipels aan – tereg, want sy koms was toe al naby (vgl `julle’ in Mat 24:6,9,15,20,23,26,32).

Elke interpretasie van die tekens wat daartoe lei dat ‘n mens nog eers sekere gebeurtenisse verwag voor Christus weer kan kom, is dus ‘n miskenning van die duidelike getuienis van die NT. Dit is die rede waarom ons nie aandag gee aan onderwerpe wat in ander kringe baie populêr is nie, soos die groot verdrukking, en Armageddon nie.

In hierdie lig sou ‘n mens kon verwag dat die tekens alreeds in die lewe van die vroeë Christene in vervulling sou gaan. Dit was immers allereers vir hulle bedoel. Dit is dan ook wat ons in die NT vind. Drie baie interessante voorbeelde is die Antichris, die sending, en die Jode, drie van die heel belangrikste tekens van sy koms.

Ons gaan elk van hulle afsonderlik hanteer.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Die nabyheid van Christus se wederkoms

Geloofsvrae: Die nabyheid van Christus se wederkoms – Adrio König

Die nabyheid van die wederkoms van Christus

Naas die aard van profesieë, moet ons ook iets weet van die nabyheid van Christus se koms voordat ons sinvol oor die tekens van die tye kan dink.

Al die belangrike tradisies in die NT beklemtoon die nabyheid van die wederkoms van Christus. Hierdie stelling kan egter misverstaan word. Dit beteken nie dat die hele NT ons leer dat die koms van Jesus juis nou naby is en iewers kort na die eeuwenteling moet plaasvind nie. Die NT leer met nadruk dat die koms van Jesus in die tyd van die NT naby was. Ons kan dit net op ons tyd toepas as ons eers verstaan wat dit beteken het vir die apostels en die vroeë Christene dat die koms van Christus alreeds in hulle tyd naby was.

Die groot aantal tekste wat volg, is net bedoel om te sê dat die hele NT beklemtoon het dat die koms van Christus alreeds in die tyd van die NT naby was (Mat 24:33; Luk 21:28,30; Mark 13:29; Rom 13:12; 16:20; 1Kor 7:29; Fil 4:5; 1Tes 4:17, 5:10; Heb 10:37; Jak 5:8-9; 1Pet 4:7; Open 1:1,3; 3:11; 22:7,12,22.) Dit is verder duidelik dat Paulus aanvanklik gereken het met die moontlikheid dat die Here nog in sy lewe weer sou kom (vgl die `ons’ in 1Kor 15:51; 1Tes 5:10).

Hoe naby?

Daar is heelwat Christene wat hierdie oorweldigende getuienis dat die koms van die Here toe al naby was, probeer wegredeneer. Dit is volkome begryplik omdat ons anders met die verleentheid sit dat Hy na 2000 jaar nog nooit gekom het nie.

  • Sommige probeer die indruk skep dat Jesus en die apostels eintlik nie oor hulle eie tyd gepraat het nie – al lyk dit so – maar oor ons tyd. Maar dit is duidelik ‘n verleentheidsoplossing.
  • Daarom het ander gesê die vroeë Christene was maar oorentoesiasties oor al die dinge rondom Jesus se dood en opstanding en daarom het hulle gedink dat sy koms naby was, maar dat die kerk na die koms van die Gees beter perspektief gekry het.

Die waarheid is egter dat hierdie oorweldigende nadruk dat sy koms alreeds kort na sy opstanding naby was, die sterkste getuienis lewer dat hulle verstaan het wat sy opstanding beteken het. Sy opstanding was die begin van die algemene opstanding wat aan die einde verwag is. Dan volg dit vanselfsprekend dat die einde by sy opstanding op hande moes wees.

Wanneer?

Intussen het Hy nog nie weer gekom nie, en elke poging om dit op ‘n goedkoop en maklike manier te verklaar, is eweneens ‘n verleentheidsoplossing. Daarom was daar selfs dié wat gemeen het dat ons eenvoudig moet aanvaar dat Christus nie weer sal kom nie, dat dit maar vreemde dinge was wat die vroeë Christene geglo het omdat hulle ‘n ander wêreldbeeld as ons gehad het. Hierdie `oplossing’ hang saam met die algemene weerstand teen die wonderwerke en ander `bonatuurlike’ verskynsels in die Bybel.

Daar is nie ‘n maklike, voor die hand liggende antwoord op die feit dat Jesus nog nie gekom het nie. Trouens daar het reeds onder die vroeë Christene vrae ontstaan oor die feit dat Hy na ‘n paar dekades nog nie gekom het nie (2Pet 3:3ev) – wat afdoende bewys is dat hulle Hom gou terug verwag het. Tot vandag het ons geen beter antwoord as die een wat in 2Pet gegee is nie: tyd werk anders vir die Here as vir ons. Wat vir ons ‘n vreeslike lang tyd voel, kan vir Hom baie kort wees. Maar die hoofmotief waarom Hy nog nie gekom het nie, is sy liefde vir sondaars wat beteken dat Hy vir mense tyd gee om hulle te bekeer.

Tot ons troos sou ‘n mens kon byvoeg dat die verskil tussen God se tydsbelewing en ons s’n al van vroeg af ‘n faktor was waarmee Israel rekening moes hou (Eseg 12:21-28).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König