Geloofsvrae: Die Wese van God

Geloofsvrae: Die Wese van God – Adrio König

Die Wese van God  

1 Die verbondsgod en die verbond

God is die God van mense, die God wat in verhoudings leef, die Gemeenskapsgod, die troue Verbondsgod. Hy leef allereers in gemeenskap met Homself, maar daarna en daarom ook in gemeenskap met sy skepsels, en in ‘n besondere sin met die kroon van sy skepping, die mens. Dit beteken dat God naby wil wees, dat Hy omgee en liefhet. Dit is trouens die een woord waarmee Johannes Hom beskryf: liefde (1 Joh 4:8,16).

In Homself is God alreeds liefde. Ons weet dat die Vader die Seun liefhet, en die Seun die Vader (Joh 15:9; 17:23-26). Daar is ‘n ou tradisie in die kerk wat die Gees die band van liefde tussen die Vader en die Seun noem. Dit is ook een van die wonderlike betekenisse van die triniteitsleer (die leer dat God drie en tog net een is): dat daar in die een ware God alreeds verhoudinge is, dat Hy in Homself as Vader, Seun en Heilige Gees gemeenskap het en in Homself in ‘n ewige verbond van liefde en trou leef. Dit beteken dat Hy nie eensaam is en mense gemaak het om sy eensaamheid te verdryf nie. Dat Hy ons gemaak het, is pure goedheid omdat Hy nie sy heerlike gemeenskap alleen wou geniet nie, maar dit met ander wou deel. Sy liefde is onselfsugtig.

As God van ewigheid af in Homself liefde is, kan ons met reg sê dat liefde sy wese is. Dan wil Hy ook met sy ganse skepping, en in besonder met ons as mense, in liefdesverbondenheid leef, en ons ‘n aandeel gee aan sy verbondsliefde en -trou.

Ons kan dus nooit oor God praat sonder om iets te sê oor die verbond waarin Hy met mense wil leef nie. Ons sal later sien dat ons dit kan beskou as een van die wyses waarop ons sy doel met die skepping kan beskryf: om in liefdesverbondenheid met mense op aarde te leef (21.3).

Behalwe al die ander dinge wat later in ander verbande oor die verbond gesê sal word, is twee sake van fundamentele belang: die inisiatief en die trou van God.

God neem altyd die inisiatief in sy verhouding met die mense. Uit die elf hoofstukke in hierdie boek, handel sewe uitsluitlik oor wat God is en doen, terwyl naas sy inisiatief ook ons reaksie net by drie na vore kom. Net in een hoofstuk, dié oor die sonde, gaan dit omtrent heeltemal om ons `inisiatief’!

Die geskiedenis wat God met die mensdom maak, kan ons saamvat in sy skeppingswerk, sy sorg vir sy skepsels en veral vir die mense, sy verkiesing van Israel en sy eeue-lange moeite en geduld met hulle, sy verlossingsplan deur Christus en die Gees, en die toekoms wat Hy vir ons beloof het – alles sy inisiatiewe.

Verder moet ons sy trou onthou, want juis dit gee ons moed as ons weer in sonde geval het. God leef nie maar net in ‘n verhouding met ons nie, maar in ‘n verbond. Wat ‘n verbond meer maak as ‘n verhouding, is dat ons seker is van God. Hy is getrou. Hy sal nie môre-oggend met die verkeerde voet uit die bed opstaan en die verhouding beëindig nie.

Trouens ons moet nie maar net so in die algemeen van sy verbond met mense praat nie, want uiteindelik het sy verbond finaal gestalte gekry in sy verbond met Abraham-en-sy-nageslag. Abraham is die vader van alle gelowiges (Rom 4:16), hy is die klassieke voorbeeld van hoe ons gered word (Rom 4:1ev), en Jesus kom juis die heidene in God se verbond met Abraham inlyf (Gal 3:14) sodat ook nie-Jode deur die doop in die Abrahamverbond ingelyf kan word (3:26ev). Wat hierdie verbond onvervangbaar maak, is die feit dat dit die genadeverbond is waarin mense net deur die geloof opgeneem word. Van ‘n ander verbond en ‘n ander heilsweg weet ons nie, en wil ons ook nie weet nie.

Daarom is dit ‘n misverstand om te neem dat die Abrahamverbond die ou verbond is wat afgeskaf is. Hoe sal ons dan nou gered word? Die ou verbond is die Sinaïwetgewing soos dit deur die Laat-Jodendom verkeerd geïnterpreteer is as sou dit die manier wees waarop God ons red (deur wetswerke). Daarteenoor stel Christus die nuwe verbond wat Hy met sy dood bevestig, wat juis die herbevestiging van die genade- en geloofsverbond is wat God met Abraham gemaak het (Gal 3:14).

In hierdie verbond gaan dit om die God van liefde wat Hom onherroepelik aan mense verbind het om hulle God te wees en hulle in sy vreugde te laat deel, en daarmee ook die mense aan Hom verbind het om sy kinders te wees wat Hom in onverdeelde liefdestrou geniet, eer en dien.

Is God net liefde? Nie ook toorn nie?

Nee. En ja.

Ja, God kan ook in toorn reageer op ons sonde. Hy haat sonde. As ‘n mens toorn en haat negatief wil noem, kan God ook negatief reageer. Al weet ons dat sy geduld merkwaardig lank hou, het daar selfs in sy geskiedenis met Israel ‘n tyd gekom toe Hy in toorn uitgebreek en sy volk in ballingskap weggevoer het. ‘n Boek soos Klaagliedere is ‘n skokkende verhaal van hoe God se toorn kan ontvlam. En die waarskuwings teen die verderf in die Nuwe Testament is selfs erger.

God kan in toorn reageer. `Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val … want ons God is ‘n verterende vuur’ (Heb 10:31; 12:29).

En tog moet ons dadelik ook sê: Nee. God kan wel in toorn reageer, maar Hy is nie toorn soos Hy liefde is nie. Ons gebruik doelbewus die woord `reageer’ want God se toorn is ‘n reaksie op wat ons doen, nie inisiatief wat Hy self neem nie. Anders gesê: Sy toorn is iets wat net voorkom in die geskiedenis wat Hy met ons maak, en Hy is net toornig omdat ons sy liefde minag. Hy sou nooit toorn geken het as ons nie in sonde volhard het nie. In sy ewige wese is daar geen toorn nie. Sy toorn is ‘n reaksie op ons volhardende ontrou en verwerping van sy genade. Maar sy liefde is sy wese. As ons nooit sonde gedoen het nie, sou daar nooit van sy toorn sparke gewees het nie, maar altyd net van sy liefde.

Ons moet dus versigtig wees om nie die `eienskappe’ van God (soos liefde en toorn) in balans te probeer hou nie. Sy liefde en sy toorn lê glad nie op dieselfde vlak nie. As Hy in toorn reageer, doen Hy dit traag en teësinnig en net na eindelose geduld, maar Hy het ons spontaan lief, selfs sonder enige aanleiding van ons kant af. Dit is hoe Hy in Homself is. Ons hoef Hom nie te beweeg om ons lief te hê nie. Maar tot toorn kan ons Hom alleen met die uiterste inspanning van volhardende sonde beweeg.

2 Die Koning se mag 

Maar ons lees in die Bybel nie net van die verbond en die liefde en nabyheid van God nie. Ons lees, veral in die NT, dikwels van die koninkryk van God wat verband hou met die boodskap van veral sekere Psalms dat God Koning is (o.a. Ps 24, 47, 48, 68, 84, 95, 98, 99). Veral Jesus kondig aan dat die koninkryk van God op hande is en selfs dat dit (in sy optrede) reeds gekom het (Mk 1:15; Luk 17:21).

Die koninkryk van God is die heerskappy van God oor sy skepping. Hy is die regmatige eienaar daarvan en daarom het niemand anders enige aanspraak daarop nie. Wanneer ons oor Jesus dink, sal ons nader ingaan op wat die koninkryk beteken en hoe ons dit vandag moet verstaan. Nou is dit net belangrik om te weet dat God reg het op alles en dat niemand sy heerskappy mag minag nie. Sy mag is so groot dat ons selfs lees dat Hy spot met die konings wat teen Hom in opstand kom en sy heerskappy verwerp (Ps 2:1-6).

Ons het hier te doen met die mag van God. Hierdie eienskap van God is net so belangrik soos sy liefde omdat liefde alleen nie ‘n noodsituasie kan hanteer nie. Liefde is onontbeerlik, en as ‘n mens tussen die twee moet kies, is liefde altyd beter. Dis minstens veiliger. Maar in nood is albei eintlik nodig. Daar is ‘n bekende beeld waarmee mense verduidelik wat dit beteken dat Jesus die openbaring van God is. Twee bedelaars loop in hul ellende langs die pad. ‘n Derde sluit by hulle aan, uiterlik in net sulke vodde soos hulle. En eers later, nadat hy hulle vertroue gewen het, sê hy wie hy regtig is: die prins van die paleis wat hulle uit hul ellende kom help.

‘n Pragtige verhaal. God openbaar Hom in Iemand wat netsoos ons lyk, anders sou ons so geskrik het as Hy in sy heerlikheid gekom het dat ons sou weggehardloop het.

Maar die derde bedelaar kan net help omdat hy die prins is, omdat die mag van die koning agter hom is. As hy self ook maar net ‘n bedelaar was, sou sy simpatie met die twee bedelaars hulle misklien wel ‘n bietjie getroos het, maar nie regtig hul probleem opgelos het nie. As God nie mag het om te red nie, sal sy liefde net troos, nie regtig help nie.

Daarom is die Bybel se boodskap oor die mag van God ‘n wonderlike boodskap. En al sal ons later aantoon dat daar ook ernstige probleme in dié verband is, neem dit niks weg van die onontbeerlikheid van hierdie boodskap dat God die Koning is wat met mag regeer nie.

Van ‘n ander kant af bekyk: dit sou nie regtig ons probleem opgelos het as Jesus uit liefde aan die kruis vir ons sonde gesterf het, maar nie die mag gehad het om uit die dood op te staan nie. Dan het Hy nie die mag gehad om ons te verlos van die bose magte van sonde, duiwel en dood nie.

In God gaan verbond (liefde) en koninkryk (mag) saam: Hy wil ons verlos omdat Hy liefde is, en Hy kan ons verlos omdat Hy magtig is.

3 Oorredende mag 

Die verband tussen liefde en mag is egter nog inniger. ‘n Mens kan op twee maniere daarna kyk. Omdat die koning van Israel die verteenwoordiger van God by die volk is en namens God oor hulle moet regeer, word hy opgeroep om soos God aan die verdruktes reg te laat geskied, die armes te hulp te kom, hom oor die swakkes en behoeftiges te ontferm, en die lewe van die arm mense te beskerm (Ps 72:2,4,12-14). Hy moet dit alles doen omdat hy die volk moet regeer volgens God se wil (v 1).

God is dus nie ‘n koning wat net mag het en verder is sy volk maar aan sy grille oorgelaat nie. God is ‘n koning wat omgee, wat sy volk liefhet. Daar is nie by God so iets soos neutrale mag wat dan agterna deur liefde in die regte rigting gestuur moet word nie!

En dit kon ‘n mens ook verwag het. Want – en dit is die tweede manier om hierna te kyk – God se eienskappe staan nie los van mekaar asof Hy hulle een vir een in werking moet stel of hulle dalk selfs apart kan laat funksioneer nie. Omdat Hy een is, funksioneer sy eienskappe ook as ‘n eenheid. Daarom werk sy liefde en mag nie net saam nie, maar is sy mag liefdesmag. Dit beteken dat God met oorredende mag werk, dat Hy beloof, uitnooi, vermaan, dreig, straf – alles om te probeer oorreed. ‘n Mens moet ook van God se oorweldigende mag praat, maar een van dié kenmerke van God se omgang met Israel is dat Hy hulle op verskillende maniere probeer oorreed, nie dwing nie, omdat Hy die magtige koning is wat vir hulle omgee.

Miskien is die aangrypendste voorbeeld hiervan die kruisdood van Jesus. Ons as mense het deur ons sonde God se vyande geword. God besluit om teen sy vyande op te tree. In die OT is die aandrang dat God sy vyande moet vernietig. Hy moet die getroues red en die goddelose verdelg. Die wraakpsalms is bekend daarvoor (o.a. Ps 52:7-9; 101:8; 143:12; 145:20;). In Jesus besluit God om wel sy vyande te `vernietig,’ maar om dit op sy manier te doen: om hulle sy vriende te maak. Dit is die effektiefste manier van `vernietiging’: om jou vyande te `wen’ deur hulle jou vriende te maak (Rom 5:10: 2 Kor 5:19, kyk TEV).

Maar oorredingsmag vra geduld, en geduld vra tyd, maar gelukkig het God albei. Daarvan is sy lang geskiedenis met Israel – om nie te praat van sy 2000 jaar met die kerk nie – die sprekende voorbeeld.

Ons sou dus van God kon praat as die Een in wie mag en liefde saamwek. God se mag is mag wat omgee en nadertrek.

4 Die drie-enige God 

Ons het alreeds kortliks daarna verwys dat God tegelyk een en drie is.

Ons dien net een God. En tog glo ons in die Vader en die Seun en die Gees. Daar is net een, en tog is daar drie. Die kerk het dit in 325nC probeer formuleer deur te bely dat daar net een Goddelike Wese is, maar dat ons Hom in drie Goddelike Persone leer ken. Dié beslissing is bereik na verskille oor hoe ons Jesus moet verstaan. Daar was die gedagte dat Jesus wel iemand besonders is, selfs heeltemal uniek, die eerste van alle skepsels, maar dat Hy nie self God is soos die Vader God is nie. Daarteenoor het die kerk uiteindelik besluit dat Hy netsoos die Vader God is, maar dat Hy ook van die Vader onderskei kan word, dat Hy nie dieselfde Goddelike Persoon as die Vader is nie. Die kerk wou hul eendersheid én eenheid, maar ook hul andersheid beklemtoon eenvoudig omdat ons dit só in die Bybel kry. Jesus sê dat Hy en die Vader een is, die skrywers van die NT noem Jesus `God,’ en Paulus skryf dat Hy die hoogste Naam kry wat daar is (wat net die Naam Jahwe kan wees, die Naam van God in die OT, sodat die implikasie is dat Hy self ook God is, Joh 10:30; 1:1,18; Fil 2:9).

Nadat die beslissing in die kerkgeskiedenis geval het dat Jesus saam met die Vader die een ware God is, was dit byna vanselfsprekend dat die Gees ook daarby ingesluit sou word.

‘n Mens moet dit nie misverstaan nie. Daar is geen besondere waarde in die getal een nie. Monoteïsme (een God) is nie vanself beter as politeïsme (meer as een God) nie. En boonop is daar ook ander godsdienste wat net een God aanvaar. Dit maak hulle nie beter as godsdienste wat meer as een God aanvaar nie.

Daar is net een rede waarom Christene in net een God glo, en dit is omdat daar net een ware God is: Israel se God. En ons glo dat die Vader én die Seun én die Gees al drie saam hierdie een God is net omdat ons dit uit die Bybel aflei.

Die leer dat God drie-enig is, het heelwat betekenis vir ons, veral vir die wyse waarop ons ons verhoudings moet inrig.

Dat God drieënig is, beteken dat Hy in Homself gesag en gehoorsaamheid ken. Die Vader beveel, en die Seun gehoorsaam. Maar dit is ook wat nodig is in enige menslike samelewing. Sonder gesag en gehoorsaamheid verval ons in losbandigheid. Kinders wat sonder reëls groot word, kan nie ‘n stabiele lewe lei en krisisse hanteer nie. Gehoorsaamheid bring dissipline en deursettingsvermoë in ‘n mens se lewe. Ons leer dus by God hoe ons as mense moet leef – wat nie vreemd is nie omdat ons in elk geval sy beeld is.

Maar gesag en gehoorsaamheid is nie net goed nie, dit is ook gevaarlik. Gesag word maklik tiranie, en gehoorsaamheid slaafse onderworpenheid. Daarom moet ons weer na God kyk. Daar is nie net gesag en gehoorsaamheid in God se lewe nie, daar is liefdevolle gesag, en liefdevolle gehoorsaamheid in Hom. Die Vader beveel die Seun in liefde, en die Seun gehoorsaam die Vader in liefde. Gesag wat in liefde uitgeoefen word, is opbouende, vormende gesag. En gehoorsaamheid wat in liefde gegee word, is liefdesdiens wat die adel in ons na vore laat kom. In enige samelewing, in watter faset daarvan ookal, is vorme van gesag en gehoorsaamheid onontbeerlik, maar altyd in ‘n verhouding van onderlinge begrip en sorg.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König





Geloofsvrae: Die Naam van God

Geloofsvrae: Die Naam van God – Adriö Konig

Die Naam van God

In die Bybel word baie waarde aan ‘n naam geheg. Daar is gevalle waar mense oortuig was dat ‘n naam die wese van ‘n persoon aandui. Ook God se Naam word met groot eerbied behandel. Trouens daar is ‘n gebod wat net aan sy Naam gewy word: `Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie’ (Eks 20:7).

Volgens hierdie gebod het God ‘n Naam. Wat is sy Naam?

Ons het ongelukkig deur die vertaling van die Bybel die besef verloor dat God ‘n Naam het. As iemand die woord `God’ onnodig gebruik, miskien as stopwoord, sal ons sê hy of sy gebruik die Naam van God ydelik. Maar die woordjie `God’ is nie die Naam van God nie. `God’ is nie ‘n eienaam nie. Dit is ‘n soortnaam soos mens. Wat is die Naam van God?

In die tyd van die OT was daar baie gode. Een van hulle was Israel se God. Volgens die OT is Hy die ware God. Verder het Israel geglo hulle God het ‘n naam. Maar sy Naam was vir hulle só heilig dat hulle dit vir eeue lank glad nie uitgespreek het nie (n.a.v. die derde gebod). As hulle by sy Naam in hulle Bybel kom, het hulle die Hebreeus vir `eienaar’ gelees. Die gevolg is dat ons vandag nie presies weet hoe hulle sy Naam uitgespreek het nie.

In ons Bybel word die woord `Here’ as vertaling van hierdie Naam van God gebruik. Maar daar is baie probleme in dié verband. Eerstens word `Here’ ook vir ‘n ander Hebreeuse woord gebruik, een wat heer, eienaar, besitter beteken.

Tweedens is `Here’ nie ‘n eienaam nie. Dit is eerder ‘n titel. En nou het ons vertalers dit gebruik om ‘n eienaam te vertaal. Nou besef ons nie meer goed dat God ‘n naam het, soos ons name Piet of Sannie nie. Sy Naam word in die Hebreeuse Bybel Jhw geskryf (sonder klinkers). Die ou mense het dit Jehowa (spelling Jehova) uitgespreek, maar dis waarskynlik verkeerd. Die moontlikheid is groter dat dit iets soos Jagwe uitgespreek moet word, met ‘n sagte g. Ons skryf dit vandag meestal Jahwe.

Die derde gebod sou dus duideliker gewees het as dit ongeveer soos volg vertaal is: Jy mag die Naam van jou God: Jahwe, nie misbruik nie, want Jahwe sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

Laat ons net om die gevoel van ‘n naam te kry, in die volgende paar sinne die naam Jahwe in plaas van Here gebruik.

Die betekenis van God se Naam Jahwe is ook ‘n interessante saak. As Moses Hom by die doringbos ontmoet, en Jahwe aan hom die opdrag gee om sy volk uit Egipte te bevry, vra Moses vir Jahwe wat sy Naam is. Moses het dus nog nie sy Naam geken nie.

Jahwe sê dan vir Moses wat sy naam is. In ons vertaling lui dit: `Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: `Ek is’ het my na julle toe gestuur’ (Eks 3:14).

Die Hebreeus vir `Ek is’ is ‘n werkwoordvorm en hou direk verband met die Naam Jahwe. Dit is egter van vroeg af vertaal met ‘n Griekse woordjie wat nie ‘n werkwoordvorm is nie en iets soos `die syn’ of `die bestaande’ beteken. Daaruit is dan afgelei dat God die ewige bestaande is, die een wat selfgenoegsaam is.

Hierdie vertaling het saamgehang met ander oortuigings waarvolgens verandering sleg is terwyl dit wat nooit verander nie, goed is. Dit het eeue lank die voorstelling gevestig dat God onveranderlik is, dat Hy deur niks geraak word nie, geen emosies het nie, en nie reageer op wat mense doen nie

Daarteenoor is ‘n mens baie nader aan die waarheid as jy by die oorspronklike werkwoordvorm bly en hierdie Naam verstaan as ‘n aanduiding van iemand wat by jou is, wat betrokke is, wat dinge laat gebeur, wat getrou is. Die Hebreeuse werkwoord waarvan die Naam van God, Jahwe, afgelei is, word gewoonlik gebruik as die inleidende woordjie om te vertel dat daar iets gebeur het. Jahwe laat dinge gebeur!

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adriö Konig




Geloofsvrae: Die duidelikheid van die Bybel

Geloofsvrae: Die duidelikheid van die Bybel – Adriö Konig

Die duidelikheid van die Bybel

As ‘n mens eers eenmaal besef het dat die Bybel ‘n sentrale boodskap het, kan jy omtrent al die kenmerke van die Bybel in terme daarvan probeer verstaan.

Die duidelikheid van die Bybel is ‘n ou probleem. Dit het altyd maklik gelyk om dit te bevraagteken met die argument dat al die Bybelkommentare en hoeveel ander boeke wat die Bybel verduidelik, nie nodig sou gewees het as die Bybel regtig so duidelik was nie. Die Katolieke Kerk het dan ook vir eeue die teendeel geleer: dat die Bybel moeilik is om te verstaan en gewone lidmate dit maklik verkeerd kan verstaan en verdraai. Daarom het hulle nie die Bybel vertaal en aan die gelowiges beskikbaar gestel nie. Die priester moes die evangelie aan hulle verduidelik.

Dit was ‘n radikale deurbraak toe die Kerkhervormers geleer het dat die Bybel aan almal beskikbaar gestel moet word, en Luther selfs sover gegaan het om ‘n vertaling in Duits te maak. ‘n Mens kan dié Luthervertaling vandag nog koop. Die kerk het nie voorheen vertalings van die Bybel gemaak of toegelaat nie. Die Bybel was net in Latyn beskikbaar (die sg. Vulgaat) wat omtrent net die priesters kon verstaan.

Die Katolieke Kerk het sy posisie verder verdedig met ‘n verwysing na die talle dwalings wat deur die eeue heen ontstaan het. As selfs priesters die Bybel verkeerd kan verstaan, hoeveel te meer die `leke’ wat nie die geleerdheid en agtergrond het nie. Die Kerk kon ook nog wys op dele in die Bybel wat bo alle twyfel besonder moeilik was soos Daniël en Openbaring.

Dit alles was egter ‘n misverstand van die Hervormers se posisie. Dat daar moeilike dele in die Bybel is, en dat daar aaklige dwalings deur die eeue heen ontstaan het, het hulle goed genoeg geweet. Trouens hulle was oortuig dat hulle juis op daardie tydstip voor die allerergste dwalings van die amptelike leergesag van die kerk te staan gekom het. Dit was dus nie net ongeleerde en oningeligte leke wat kon dwaal nie!

Wat het hulle dan bedoel met die duidelikheid van die Bybel? Dat dit waaroor dit in die Bybel gaan, so duidelik is dat selfs die eenvoudiges dit goed kan verstaan. Hulle was goed bewus van hierdie gerigtheid van die Bybel, van die sentrale plek wat die verlossing deur Jesus inneem, en na hul oortuiging het dit so duidelik in die Bybel gestaan dat `selfs die blindes dit kon sien.’ Daar word dikwels gepraat van die `religieuse’ duidelikheid van die Bybel. Die besonderhede, histories, aardrykskundig, taalkundig, is dikwels moeilik, maar die boodskap dat Jesus die Redder van die wêreld is en dat ons die ewige lewe beërwe as ons in Hom glo, is duidelik. Sover die posisie van die Hervormers.

Dit is natuurlik nie so seker dat hulle posisie onaanvegbaar is nie. Een van die sentrale sake waaroor dit juis in die Hervorming gegaan het, was die regverdiging net deur die geloof in Jesus Christus. Van die bekende slagspreuke was: net Christus (solus Christus), net deur genade (sola gratia), net deur geloof (sola fide). Dit is die duidelike kern van die Bybel, die hart van die evangelie. En juis hieroor het hulle teen die Katolieke Kerk gestaan. Dis oor hierdie duidelike kern dat die geskil gegaan het, so skerp dat die Katolieke Kerk uiteindelik die ban oor hulle uitgespreek het.

En hierdie verskille het nie daarna verdwyn nie. Vir eeue skei dit ons en die Katolieke Christene. Eers gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu het daar Katolieke stemme begin opgaan wat beweer het dat daar heelwat misverstande op die spel was en dat die Katolieke en Protestante se standpunte in werklikheid baie naby aan mekaar is.

Maar hierdie feite maak van die Bybel se duidelikheid ‘n groot probleem. As die Hervormers reg is, sou ‘n mens tog verwag dat alle Christene so ongeveer oor die hart van die evangelie saamstem – al verskil hulle dan oor kleiner sake soos die manier waarop Daniël of Openbaring uitgelê moet word. Dit beteken dat die verdeeldheid van die kerk ‘n ernstige uitdaging is aan ons leer oor die duidelikheid van die Bybel.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adriö Konig




Geloofsvrae: Die Tradisie

Geloofsvrae: Die Tradisie – Adrio König

Die tradisie

Die meeste Protestante dink baie negatief oor die begrip tradisie. Dit is verstaanbaar in die lig van die algemene oortuiging dat die Katolieke Kerk in die tyd voor, en selfs na, die Kerkhervorming belangrike leerstukke suiwer op die kerklike tradisie gebou het sonder enige noemenswaardige steun in die Skrif. Daarteenoor stel ons dan `net die Heilige Skrif’ wat beteken dat net die Bybel die finale maatstaf vir ons leer en lewe is (2.3).

Maar ons kan ook positief oor die begrip tradisie dink. Die begrip kan in minstens drie verskillende betekenisse gebruik word: die enger betekenis, ‘n ruimer betekenis, en die omvattende betekenis. Die enger betekenis is die leertradisie van die kerk waarna reeds verwys is. Maar dit sluit nie net die negatiewe ervaring in wat Protestante met die amptelike Katolieke leer gehad het nie. Daar is onder verwys na die vroeë belydenisse van die kerk waarop Luther hom juis téén die Katolieke Kerk beroep het. Hierdie belydenisse is deel van die leertradisie van die kerk en sluit die formulering van die drie-eenheidsleer en van die twee nature van Christus in – leerstukke wat deur omtrent alle kerke in ere gehou word. Die probleem met die tradisie loer eers om die hoek as dit gaan oor leerstukke waarvoor daar nie genoegsame Skrifgetuienis is nie.

Die tweede betekenis van tradisie is ‘n ruimer betekenis. Dit is die ganse geestelike lewe of spiritualiteit van die Christelike kerk en nie bloot die formele leerstellings nie. As ons die Bybel lees, lees ons dit deur ‘n bepaalde bril. Ons sien dinge raak omdat ons van kleins af daarop gewys is. Kinders onder die Jehovagetuies sal van kleins af tekste onderstreep waarin Jesus sê dat Hy minder as die Vader is, tekste wat die meeste van ons dalk nooit sal onderstreep nie. Kinders in ‘n kerk wat die nuwe Afrikaanse vertaling verwerp, sal baie gou tekste in die ou vertaling onderstreep wat in die nuwe vertaling weggelaat of anders vertaal is.

Tradisie in hierdie sin het groot betekenis en tegelyk groot gevare. Die betekenis is ooglopend. Die Bybel is ‘n dik boek. Dit is moeilik om rigting in hierdie boek te kry sonder leiding. Om eenvoudig by Genesis 1 te begin lees en aan te hou, mag ‘n mens baie lank onder verkeerde indrukke laat. Jy kon jou al lankal laat besny het en offers in Jerusalem gaan bring het voor jy eendag by die Nuwe Testament uitkom. Daarom gee ons aan nuwe bekeerlinge riglyne: begin met die Markusevagelie of met Johannnes, lees dan die Romeinebrief, begin in die Ou Testament met die Psalms, ens. Vir ons kinders vertel ons die evangelie lank voordat hulle self kan lees. Natuurlik beklemtoon ons dié dinge wat in ons groep belangrik is.

Ons bring ook in die prediking en onderrig van ons kinders sekere sake na vore: die verbond as God se reëling van hoe Hy met ons as mense wil omgaan, die verlossing deur Jesus, sy kruis en die vergifnis van ons sonde, die Gees wat ons ‘n aandeel in Jesus se nuwe lewe gee. In die Pinkster- en Charismatiese tradisies sal die doop met die Gees en die gawes van die Gees ook sterk na vore kom. Dit is wat ons verstaan onder die kerklike tradisie waarin ons staan. Dit is byna onontbeerlik om sinvol in die Bybel en in die Christelike geloof in te kom. Maar dit is duidelik dat sekere dinge ten koste van ander beklemtoon kan word.

En juis daarom loer hier ook gevare om die hoek. Ons word selde blootgestel aan kerke wat anders as ons dink. Ons dink ons `opsomming’ van die evangelie is sondermeer gelyk aan die evangelie. As ons iets hoor wat anders is as dit waaraan ons gewoond is, is ons dadelik op ons hoede: Oppas!

Dit beteken dat ons die heilsame invloed van ander benaderings tot die evangelie mis. Ons laat ons voorskryf deur ons tradisie sonder om opnuut te oorweeg wat die Bybel sê. Byna soos die Katolieke in die tyd van die Kerkhervorming. Trouens wie van ons het al ooit ‘n ernstige studie van elke relevante teks onderneem om seker te maak dat ‘n mens net deur die geloof in Jesus gered word sonder enige bydrae van ons kant? Ons aanvaar dit op grond van die preke wat ons hoor, die katkisasie wat ons gehad het, en die manier waarop ons ouers ons die Bybel leer lees het – dus op grond van die tradisie waarin ons leef.

Wat ons moet besef, is dat die Bybel ryker is as enige enkele interpretasie daarvan of enige tradisie. Dit is so ‘n ryk dokument met so ‘n lang geskiedenis wat onder sulke verskillende omstandighede ontstaan het, dat daar altyd aspekte oorbly wat ons nie volledig in ons leer of geloofslewe opgeneem het nie. Verder is daar soveel nuwe situasies en uitdagings waarvoor ons staan, wat uiters moeilik sinvol met enigiets in die Bybel in verband gebring kan word, dat dit net heilsaam kan wees as ons ernstig oorweeg wat ander groepe in dié verband glo.

Iemand het gesê: My grootste kerklike `vyande’ is my beste vriende. Dit is hulle wat eerlik en reguit vir my sal sê watter probleme hulle met my leer en lewe het. Deur die jare heen het ek dit geleer in my ondersoek oor die doop. Ek het my beste insigte oor die doop gekry deur die probleme en die uitdagings waarvoor ek gestel is deur gesprekke en geskrifte van mense wat die kinderdoop verwerp.

Die laaste betekenis van tradisie wat ons moet oorweeg, is die omvattende betekenis: die totale oordrag van die evangelie vandat Jesus dit aan die apostels begin oordra het. Om nie teveel aandag aan hierdie saak te gee nie, beperk ons ons nou tot die NT. Maar dieselfde beginsel is waar van die OT.

In ‘n sekere sin was daar tradisie voordat daar ‘n NT was of selfs voordat daar ‘n enkele geskrif geskryf is wat later in ons Bybel opgeneem is. Jesus het ‘n groep dissipels om Hom vergader en hulle begin leer. Ons lees dikwels dat Hy alleen gegaan het met sy dissipels. En na Pinster het die dissipels nie gaan sit en boeke skryf nie, maar gaan verkondig, wat niks anders is as om die evangelie oor te dra (tradisie) nie. Trouens dit is die hoofsaak wat die Here wil hê dat met die evangelie moet gebeur: dit moet oorgedra word aan ander. Luther het graag van die lewende Woord (viva vox) gepraat. Die Bybel is nêrens so ontuis as tussen sy toe buiteblaaie nie. Die Bybel is soos ‘n leeu wat pas gevang en in ‘n hok gesit is. Hy spring met al sy krag teen die tralies om uit te kom. Die geskrewe Woord is ‘n onnatuurlike vorm van die Woord. God het nie vir ons ‘n Bybel gestuur nie, maar ‘n Mens wat kom praat en doen het. En Jesus het nie skrywers opgelei deur wie Hy sy werk op aarde wou voortsit nie, maar apostels, mense wat Hy uitgestuur het om te gaan verkondig.

Die Bybel is ‘n noodmaatreël – en ‘n wonderlike een. Goddank vir die Bybel! Maar net solank dit net ‘n noodmaatreël bly en nie die permanente vorm van die Woord word nie. Die boeke van die NT is net geskryf omdat hulle nie gepraat kon word nie. Paulus skryf net vir die gemeentes omdat hy nie persoonlik by hulle kan wees nie. En sommige van die evangelies en briewe word net geskryf omdat die skrywers oud word en na hulle dood nie meer die evangelie sal kan verkondig nie (2 Pet 1:12-15).

Die Bybel was dus eers tradisie, en moet altyd weer `tradisie’ word, verkondigde evangelie, die Woord wat oorgedra en deurgegee word aan ander. Dit is die beste betekenis van tradisie. En in hierdie sin is die Bybel ‘n deel van die tradisie, ‘n fase in die oordra van die evangelie.

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adriö Konig