Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Weergeboorte

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Weergeboorte – Adrio König

Weergeboorte

Die begrip weergeboorte kom as sodanig nie dikwels in die NT voor nie (Joh 3:3-7 as `opnuut gebore word,’ Tit 3:5 waar dit aan die doop verbind word, en Mat 19:28 waarvolgens die hele skepping `nuut gemaak word’). In hierdie lig is dit nogal vreemd dat dit onder sommige groepe so ‘n sentrale begrip is.

 

Aan die ander kant sluit die betekenis daarvan mooi aan by ons vereniging met Christus sodat ons aan sy nuwe lewe deel het. Die begrip weergeboorte veronderstel dat ons saak hopeloos was. God kon nie maar net so hier en daar ietsie regmaak soos ‘n paneelklopper ‘n paar stampies aan die motor se deur en modderskerm nie. Hy kon by wyse van spreke nie eens die deur en die modderskerm vervang nie. Hy moes die motor opsmelt en heeltemal oor vorm.

 

Weergeboorte beteken dat Hy ons moes oormaak, voor met ons begin, ons ‘n nuwe, ander lewe moes gee, ons in Christus se opstandingslewe moes inlyf. Dit beteken dat die sonde diep in ons lewe ingedring en groot skade aangerig het. Ons kan in die lig van die weergeboorte praat van die mens se totale verdorwenheid. Dit verklaar waarom God sulke ingrypende maatreëls moes tref om die saak te hanteer.

Dit is opvallend dat die begrip weergeboorte ook vir die hele skepping gebruik word. Dit herinner ons opnuut daaraan dat dit in die heil en die heilsweg nie net om individue en selfs om die hele mensdom gaan nie, maar om die hele skepping. God het hierdie aarde gemaak as die plek waar Hy in gemeenskap met ons wil lewe. Ons sonde het op een of ander manier ook die skepping verwring sodat die verlossing ook die skepping moet insluit. Daarom lees ons dikwels allesinsluitende uitsprake oor Christus se werk (2Kor 5:17; Ef 1:10; Kol 1:20; Open 21:5).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Vereniging met Christus

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Vereniging met Christus – Adrio König

Vereniging met Christus

Ons het hier ‘n begrip wat baie verwaarloos is in ons geloofsbelewing, terwyl dit een van die sentrale begrippe in Paulus se prediking is en ‘n heerlike, verheffende betekenis het.

In die Gereformeerde geloofsbelewing staan regverdiging en geloof in die sentrum. Nie dat ons altyd die begrip regverdiging gebruik nie. Trouens ons gebruik dit waarskynlik baie min. Maar die betekenis daaragter is dat Christus aan die kruis vir al ons sondes ten volle betaal het. Dit is die hart van die evangelie in die Gereformeerde tradisie. En daarvoor kan ons die Here dank. Dis ‘n heerlike boodskap.

Maar dit is nie die hele boodskap nie. En dit laat ons taamlik ver van Christus af staan: 2000 jaar gelede het Hy iets wonderliks vir ons gedoen. Vir ons. Ver van ons af. En Goddank dat Hy toe so ver van ons af was. As ons toe naby Hom moes wees, saam met Hom aan die kruis, het ons vir ewig onder die toorn van God beswyk. Dankie vir afstand tussen my en Christus – wanneer dit nodig is.

Maar dalk bly ons nog altyd so ver selfs wanneer dit nie meer nodig is nie. Wanneer word dit Christus in ons, ons in Hom, ons saam met Hom aan die kruis, ons saam met Hom uit die graf? Daarvan het ons te min. Verbond is juis nabyheid.

Die begrippe `in Christus’ en `saam met Christus’ is van die heel belangrikste begrippe in Paulus se prediking. Die geloof, die doop, die beëindiging van ons ou lewe, die weergeboorte, die nuwe lewe, die bekering, draai alles om hierdie verbondenheid aan Christus.

Ons kom in verskillende verhoudings tot Christus te staan. So staan ons twee keer voor die kruis en voor die oop graf. Ons kyk eers op ‘n dankbare afstand na die kruis. Dáár het die beslissing vir ons geval – Goddank. Dit is regverdiging.

Maar dan kyk ons weer na die kruis, en hierdie keer loop ons tot by die kruis. Want as ons in Hom glo, verenig God ons met Hom en dan het ons deel aan sy hele geskiedenis sodat ons ook deel kry aan sy kruis en opstanding. As ons in Hom glo, beteken dit dat ons op een of ander byna onbegryplike manier saam met Hom aan die kruis was toe Hy gekruisig is! En toe Hy die môre uit die graf opstaan, het ons saam met Hom opgestaan! In hierdie sin is dit nie net Hy wat aan die kruis gesterf het nie. Die kruis was ook ons dood. Ons is saam met Hom gekruisig sodat ons ou-lewe-in-die-sonde gekruisig, gestorwe en begrawe is. En ons het saam met Hom opgestaan wat beteken dat ons deel het aan sy nuwe lewe wat Hy net vir God leef. Trouens ons het nie meer ‘n lewe van ons eie nie. Goddank, want ons eie lewe is ‘n lewe in sonde. Nou het nog net Hy ‘n lewe, ‘n nuwe lewe wat Hy by sy opstanding van God ontvang het. En Hy gee ons deel aan hierdie nuwe lewe van Hom, sy verheerlikte oorwinningslewe.

Wat kan Paulus anders bedoel as hy skryf: `Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, (is nie meer my eie lewe nie, maar) ek leef dit in die geloof in die Seun van God …’ (Gal 2:19-20). Hoeveel keer herhaal hy dit: ons is saam met Christus gekruisig, saam met Hom begrawe, saam met Hom opgewek (Rom 6; Ef 2; Kol 2-3). Hoe merkwaardig hy dit met ons doop verbind, word elders behandel.

Die grootste misverstand wat hier kan ontstaan, is dat ons meen dat ons self vir die sonde moet sterf. Ons ken mos al die uitdrukkings: ons moet ons eie-ek doodmaak, ons moet ons vlees kruisig, `I must become a bent I, that is a C’ (vir Christus), en duisend ander onmoontlike dinge as dit van ons afgehang het, maar almal dinge waaraan ons klaar deel het as ons op Hom vertrou. Trouens sou ons vir een oomblik wou dink dat God ons daarmee sou vertrou dat ons self ons ou sondige lewe moet beëindig? Hy weet mos ons kan nie.

Hy het dit gedoen. As ons glo, verenig Hy ons met Christus sodat ons die betekenis van sy kruis en sy opstanding saam met Hom beleef, en nou in sy nuwe lewe deel. Christus sondig nie, en daarom kan ons voortaan vir die sonde nee sê en ons lewe (nee, sy lewe waaraan ons deel het) net aan God wy.

Om ons dubbele betrokkenheid by sy kruis te verstaan, kan ons onthou dat Christus ons verteenwoordig én ons in Homself insluit. Ons praat van sy verteenwoordigende (representatiewe) én sy insluitende (korporatiewe) betekenis. As ons verteenwoordiger het Hy aan die kruis vir ons, in ons plek, sonder ons, gesterf en gedoen wat ons nooit kon doen nie, ons skuld by God betaal. Maar omdat God wil hê dat ons regtig ‘n nuwe lewe moet lei, neem Christus ons ook in Hom op wanneer ons glo. Hy verbind ons aan Hom sodat sy ervaringe aan die kruis en in sy opstanding nou ons ervaringe word, sy dood vir die sonde ook ons dood vir die sonde, sy opstanding tot ‘n nuwe lewe ook ons opstanding. Die punt is dat ons ons eie lewe by God verbeur het. Nou gee Hy ons in sy genade deel aan ‘n ander lewe, aan Christus se lewe, ‘n lewe wat klaar vir die sonde gesterf het en opgestaan het om net vir God te lewe.

Onthou die `moet’ in Rom 6:11. Dis ‘n opdrag. As jy op die Here Jesus vertrou en jy meen nog altyd jy is nie dood vir die sonde nie en jy het nog nie ‘n opstandingslewe nie, doen jy sonde, ontken jy die waarheid: deur die geloof het Hy jou met Christus verenig.

Dit beteken natuurlik nie dat ons nooit weer probleme met die sonde sal hê nie. Trouens net die eerste vers na Rom 6:11 sê dit duidelik (`Moet dan nie toelaat dat die sonde langer in julle heerskappy voer … nie’). Dit beteken dat ons inderdaad die opdrag van vers 11 kan verontagsaam (en hoe!), maak asof ons nog nie vir die sonde dood is nie, en nog altyd hierdie tiran se bevele uitvoer. Maar die oplossing is nie om nog iets ekstra by te kry nie (‘n tweede genadewerk of vervulling met die Gees), maar om die evangelie te glo en te gehoorsaam: ek is dood vir die sonde as ek op Jesus vertrou, ek kan vir die sonde nee sê en my lewe volkome aan God wy (natuurlik net omdat ek aan sy nuwe lewe deel het, of anders uitgedruk: deur die krag van sy Gees). Ons probleem is nie dat ons meer en meer nodig het nie. Waar sal ons in elk geval meer kry as ons alreeds ‘n aandeel het aan sy nuwe lewe? Ons probleem is dat ons nie glo wat ons het en in terme daarvan leef nie.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Geloof

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Geloof – Adrio König

Geloof

Ons word deur geloof geregverdig, nie op grond van ons geloof nie, maar op grond van Christus se geregtigheid. Die evangelie is dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog God se vyande was. Glo dit. Vertrou Hom dat Hy gedoen het wat Hy in die evangelie sê. Dan spreek God jou vry van jou sonde. Dan beskou Hy jou asof jy nooit self enige sonde gedoen het nie, ja, asof jy self vir al jou sonde betaal het.

Ons geloof is dus leeg. Dit is op Christus gerig. Dit is ‘n belydenis dat wat ons kan doen, geen besondere waarde het op grond waarvan God ons kan regverdig nie. Ons erken en beklemtoon dit juis deur op Christus te vertrou. Net sy werk het voor God waarde om ons te regverdig.

Dit beteken ook dat ons in die geloof wegkyk van onsself, en ons oë net op Hom hou. Ons geloof is so onbelangrik dat dit nie eens saak maak of ons presies reg glo of regtig genoeg geloof het nie. Net Hy maak saak en Hy het meer as genoeg gedoen vir al my sonde, selfs vir die hele wêreld se sonde. As ek by wyse van spreke net so skuins na sy kant toe loer, regverdig God my al. Hy is gretig om dit te doen. Dit is presies waarvoor Hy sy Seun gegee het. Hy sal nie vitterig wees oor presies hoe my geloof lyk nie. Al is dit net so groot soos ‘n mostertsaad. Al sê ek net: `Ek glo, help my waar ek nog ongelowig is’ (Mark 9:24).

Maar dit beteken ook dat my geloof beslissend is. As ek nie in Hom glo nie, as ek nie vertrou dat Hy alles wat nodig is, vir my gedoen het nie, gaan ek verlore. Juis omdat my geloof leeg is, geen reddende waarde het nie, maar volkome van die waarde van Christus leef, is ek verlore as ek Hom nie toe-eïen nie. Dan het ek niks.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Regverdiging

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Regverdiging – Adrio König

Regverdiging

Die begrip regverdiging is een van die kernbegrippe van die kerkhervorming. Lurther se vraag: Waar kry ek ‘n genadige God, was ten diepste ‘n vraag hoe hy geregverdig kan word d.i. hoe hy in die regte verhouding met God kan kom. Hy het goed geweet van die geregtigheid van God, en dit was juis sy vrees: God is self regverdig en daarom eis Hy geregtigheid van ons. Ons het dit nie. Daarom staan ons onder sy oordeel. Waar kry ek ‘n genadige God?

Maar toe ontdek hy God eis nie net geregtigheid nie, Hy gee dit ook. Trouens God se geregtigheid is selfs nog veel omvattender as dit. God laat geregtigheid geskied, wat in die OT beteken Hy straf die goddelose en red die hulpelose. God se geregtigheid beteken dat Hy ‘n Vader vir die weeskinders is en ‘n beskermer van die reg van die weduwees (Ps 68:6). Daarom eis die profete ‘n regverdige samelewing waarin die reg van die verdruktes beskerm word en die armes gehelp word, maar die verdrukkers verbrysel word (Ps 72:4).

Maar natuurlik het dit nie Luther se probleem opgelos nie – eerder vererger, want in die NT lees ons dat almal onregverdig is en die hele wêreld strafwaardig voor God (Rom 3:12,19). Dus opnuut die vraag: Waar kry ek ‘n regverdige God?

En dan die verrassing: God spreek die goddelose vry … as hy of sy glo (Rom 4:5). Dit gaan nie meer daarom of ek regverdig is nie (trouens ons het almal gesondig en is vervreem van God, Rom 3:23), maar of ek glo in Hom wat die goddelose regverdig. Toe ons nog sondaars was, het Christus vir ons gesterf (Rom 5:8). Toe ons nog vyande was, is ons deur die dood van sy Seun met God versoen (Rom 5:10). Glo dit! Dis die evangelie.

Regverdiging is om, terwyl ek skuldig is, deur God vrygespreek te word op grond van iemand anders se geregtigheid (dus nie my eie nie), en wel op grond van Christus se geregtigheid wat aan my toegereken word. Sondevergifnis is niks anders as regverdiging op grond van Christus se verdienste nie.

Maar Hy spreek my vry om my ook vry te maak, vry van die onreg in my lewe, vry om reg te doen, vry om geregtigheid in die samelewing te vestig.  Daar is geen regverdiging sonder heiliging nie. Dit sou goedkoop genade wees. God gee nie om hoe ek lyk as Hy my moet regverdig nie, maar Hy gee om hoe ek daarna lyk. Maar dit bring ons alreeds by die heiliging.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König