Die gemeente loop leeg

 

“I have a great need for Christ: I have a great Christ for my need.” C. H. Spurgeon

Die gemeente loop leeg

Baie gemeentes is besig om leeg te loop. Daar kom egter ‘n snaakse effek na vore: elitisme. Daar is mense wat hierdie agteruigang  in ‘n snaakse soort trots en meerderwaardigheid verander. Daar is sommiges wat beweer dat hierdie agteruitgang tot hoofstroom kerke beperk is – en kyk neer op hulle, want dit sou dan hulle verdiende loon wees. Hierdie aanname is vals – daar is min gemeentes wat nie krimp nie. Maar om ander af te kraak, help niks nie – dit is maar net ‘n vorm van ontkenning. Die gevolg is dat die herstelpoging verder vertraag word. Ons glo dit is iemand anders se probleem en ons kan maar onversteurd aangaan. Dit herinner nogal aan Lukas 18:11: O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie.

 

Ander leiers sê: “Dit is nie eintlik dat die getalle krimp nie, want diegene wat die gemeente verlaat, moes in die eerste plek nooit hier gewees het nie. Hulle was slegs Christene in naam.” Hukke glo dus die vermindering in getalle is ‘n positiewe teken – ons raak ontslae van al die dooie hout. Wat agterbly, is die ware gelowiges. Hoekom doen leiers dit? Hulle is bang die dalende getalle sal die kudde demoraliseer en nog lidmate loop weg.

Dit is duidelik dat sulke reaksies nie juis die gemeente sal help nie. Vir almal van ons is die dalende getalle ‘n hartseer verhaal. Hoe moet ons dan reageer?

  • Erken die dalende getalle. Ken en verstaan die feite. Eers as jy die waarheid erken, sal jy in staat wees om iets daaraan te doen.
  • Hou op om ander te blameer. As jy dit doen, vertraag jy net dit wat jy moet doen om die toestand te verbeter.
  • Sien die hoop. Ja die kerk sukkel, maar ons weet dat God se ware kerk – die liggaam van Christus – nooit sal verdwyn nie. Die kerk is besig om op nuwe maniere verfris te word. Ons is bevoorreg om deel te wees van iets wat God besig is om te lei.

Wees oop vir sy leiding; vergeet van hoe ons dit nog altyd gedoen het; wees bereid om te verander en te groei. Leer in nederigheid om weer kerk te wees.




Ek vernietig my gemeente

 

Mahatma Gandhi aan die sendeling E. Stanley Jones: Don’t attempt to propagate your faith; just live it. Be like a rose, which, without a word, silently exudes its perfume and attracts the attention of the people.

 

Ek vernietig my gemeente

Daar is baie gemeentes wat groei en goed doen en ‘n paar jaar later het hulle ernstige probleme. Hoe verander ‘n gemeente van gesond na dood binne ‘n paar jaar? Paulus het die antwoord in 2 Timoteus 4. Hy kyk na die toekoms en sien ‘n kerk wat vernietig word. Die kerk word vernietig deur mense wat voorgee dat hulle in die Naam van Jesus optree.

 

Daar is een belangrike punt wat ons moet raaksien: die gemeente vernietig homself. Dit is nie vervolging of druk deur die kuultuur wat die gemeente vernietig nie. Die kerk word van binne vernietig. Kom ons kyk na die vier stappe wat tot die gemeente se ondergang gelei het.

 

  • Hulle het die waarheid verwerp

Want daar sal ‘n tyd kom wanneer wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Die eerste stap in die vernietiging van ‘n gemeente is as ons ons rug op die waarheid draai. – as ons belangstelling in die waarheid soos God dit openbaar verloor. Harte begin verhard.

 

  • Mense wat die waarheid praat, word verwerp

Soos hulle hulle rug op die waarheid draai, sal mense ook teen diegene wat die waarheid verkondig draai. Dit is nie dat mense nie weet wat die waarheid is nie – hulle kan dit net nie verdra nie.

 

  • Hulle sal vals leermeesters aanhang

Hulle het die waarheid verwerp; hulle het die leermeesters wat die waarheid verkondig, verwerp. Wat nou? Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Die direkte vertaling sê: omdat hulle juk ten opsigte van die oor – pragtige beeldspraak van Paulus. Dit is ore wat wil hoor wat vir die samelewing aanvaarbaar is. Hulle sal gou so ‘n tipe leermeester kry.

 

  • Hulle sal ‘n vals leer aanvaar

Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend.

Op die nou pad na verlossing is daar nie plek om af te dwaal nie. As hulle die waarheid verwerp het, sal hulle hulle tot verdigsels wend – hulle aan die dwaalleer oorgee. Hulle sal afdwaal soos skape sonder ‘n herder; hulle  word so in die sonde verhard dat hulle glo dat wat verkeerd is, reg is. Op die breë pad na vernietiging is daar baie plek om af te dwaal.

 

As dit in ‘n gemeente gebeur moet so ‘n gemeente doodgaan. Maar Paulus gee vir Timoteus ‘n opdrag wat sy gemeente van ondergang sou red. Wat is Paulus se oplossing: Preek. Die gemeente wat getrou aan God bly, is die gemeente wat getrou aan God se woord bly. ‘n Gesonde gemeente is ‘n gemeente waar die woord van God verkondig word.

 

In 2 Timoteus 4:2 kry ons Paulus se opdrag vir die soort prediking wat God vergheerlik en die gemeente beskerm.

  • Verkondig die woord

Prediking is net kragtig as dit getrou aan die Woord is. Die krag van prediking kom van die bron van prediking. Die punt in die teks moet die punt in die preek wees. Leermeesters moet hulle beperk tot God se woord. Wat nodig is, is ‘n leermeester met ‘n oop Bybel en ‘n gemeente met oop Bybels.

 

  • Hou daarmee vol, tydig en ontydig

Mense wil nie meer hoor wat die woord sê nie – hulle wil weet hoe kan ons die problemne van die lewe oplos. Moenie in hierdie strik trap nie – hou vol om die woord te verkondig.

 

  • Verkondig die woord prakties

 Weerlê, bestraf, bemoedig. Onderrig moet ‘n praktiese dimensie hê. Onderrig moet ons leer van God, maar ook hoe ons Hom kan eer en verheerlik. Lering moet mense se lewens verander en tot heiligheid aanspoor. Ons moet dwaalleer weerlë en bestraf. Dit is om mense te bemoedig in daardie dinge wat God eer.

 

  • Gee onderrig met geduld

Met alle geduld. Leermeesters moenie moeg word of vertroue verloor in hulle onderrig nie. die beste leermeesters is dié wat geduldig is en wat vir lang tye kan volhou. Ons moet mense stadig lei  om in kennis en heiligheid te groei.

 

Daar is baie gemeentes wat agteruitgaan. Hoekom? Geld een van Paulus se waarskuwingstekens nie vir die gemeente nie? Maak dit reg. Keer terug na God se woord.




‘n Koninklike priesterdom

When leaders tap into their personal passion, they attract people with similar passions. That starts a movement.” – Andy Stanley

‘n Koninklike priesterdom

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My (Eksodus 19:5 – 6). Die hele aarde behoort aan God, maar Israel behoort aan Hom op ‘n besondere wyse. Hulle was vir God se doel afgesonder; ‘n koninkryk van priesters. ‘n Priester verteenwoordig die mense by God – hulle tree in vir die mense. Maar hulle verteenwoordig ook vir God by die mense.

 

In die Nuwe Testament kry die kerk dieselfde roeping: Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig (1 Petrus 2:9). Die kerk word geroep om te doen en te wees wat Israel nie kon wees en doen nie.

Ons is geroep om dissipels te maak en om die lede van die liggaam te versterk, is ‘n belangrike aspek daarvan. As jou gemeente nie aktief besig is om die omliggende ongelowige wêreld te help  om ook volgelinge van Christus te word nie, dan verstaan ons nie verlossing nie. God het vir Abraham geseën sodat deur hom al die nasies geseën kan word. Doen ons dit nie ignoreer ons God se opdrag.

God het dit aan die kerk oorgelaat om sy sending op aarde te vervul. Daarom is jou gemeente ‘n saak van lewe en dood. Kyk met deernis na die gemeenskap om jou en roep hulle om deel van God se verlossingsplan te word. Daar is ‘n rede waarom God juis nou en op hierdie plek die kerk daar geplaas het.

 




Die plaaslike gemeente en dissipelskap

 

When institutions fail to distinguish between current practices and the enduring principles of their success and mistakenly fossilize around their practices, they set themselves up for decline – Jim Collins.

Die plaaslike gemeente en dissipelskap

Ek gaan heelwat blogs oor dissipelskap skryf. Ek gaan onder andere van Francis Chan se boek Multiply gebruik maak.

 

God se opdrag is dat ons dissipels van al die nasies moet maak. Dit kan ons nie op ons eie doen nie – ons word ook nie verwag om dit op ons eie te doen nie. Ons is deel van die geloofsgemeenskap. Die kerk moet nie net na binne fokus nie. Ons woon in ‘n omgewing wat ons bedreig, maar die kerk is ‘n vuurtoring en nie ‘n bomskuiling nie. Ons kruip nie weg vir probleme nie – ons lei ander daardeur.

Liefde is egter die basis van wat dit beteken om Jesus Christus te volg. En die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Romeine 5:5). Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (1 Johannes 4:19). Interaksie tussen gelowiges behoort deur liefde gekenmerk te word. Dit is hoe die wêreld ons sal herken: Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes14:34 – 35).

Die laaste aand voor sy kruisiging bid Jesus vir sy dissipels. Let net op hoeveel klem Hy op eenheid plaas (Johannes 17:20 – 23). Die eenheid van die kerk sal die wêreld oortuig dat ons waarlik volgelinge van Jesus Christus is.