Woorde uit die Bybel – Genade (2)

As long as I remain silent, I control my tongue. Once I start speaking, my tongue controls me –  Judah ben Samuel

 

Woorde uit die Bybel – Genade (2)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

 In Die Boodskap word God se genade dikwels met God se goedheid vertaal.

In Efesiërs praat Paulus dikwels van die rykdom van die genade. Niemand sal nou, of in die toekoms, ooit kan twyfel aan hoe God regtig is nie. Dit kan eintlik nie gemeet of ten volle beskryf word nie. Dit alles word vir ons saamgevat in die manier waarop God ons deur Christus Jesus gered het sonder dat ons dit enigsins verdien het (2:7). Wat is hierdie rykdom wat na ‘n mens deur die genade van God in Jesus Christus kom?

  • Verlossing. Dit was soos ‘n handelstransaksie: omdat ons so sondig was, was ons God se vyande. Toe kom Jesus en betaal wat nodig is om weer alles tussen ons en God reg te maak. Dit het Hom wel sy lewe gekos, maar die vrede is herstel tussen God en almal wat aan Jesus se kant staan. Dat God so iets gedoen het sonder om te vra wat ons kan terugbetaal, wys net hoe geweldig goed Hy vir ons is (Efesiërs 1:7). Verlossing word deur Jesus Christus se kruisdood bewerkstellig – God betaal ‘n duur prys vir ons verlossing.
  • Herstel. Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, het God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons ‘n nuwe lewe gegee. Ons kon weer voor begin. Moenie dink dit is omdat julle so goed is nie (Efesiërs 2:4). Deur Christus is ons verhouding met God herstel en kan ons as nuwe mense lewe. Ons staan saam met Christus uit die dood op. Dit is iets waartoe ons niks bydra nie.
  • Verkiesing. Hy het ons wat aan Jesus Christus behoort, gekies nog lank voor die wêreld gemaak is. Ons moet net Syne wees en daar moet niks in ons wees wat Hom ontevrede kan maak nie (Efesiërs 1:4).
  • Bewaring. Toe God besluit het wie almal aan sy familie sal behoort, het Hy hulle persoonlik op hulle naam geroep. So het hulle sy kinders geword. Verder het Hy almal wat Hy geroep het, vrygespreek van hulle sondes. Toe het God almal wat Hy vrygespreek het, met sy heerlikheid en goedheid oorlaai (Romeine 8:30). God tree in vir mense wat in Jesus Christus met Hom verenig is.

 

Hier het ons na enkele aspekte van die rykdom van God se genade gekyk. Ons het gesê dat genade ons vry maak. Waarvan maak genade ons vry? Daarna kyk ons in die volgende bespreking.




Woorde uit die Bybel – Genade (1)

It takes your enemy and your friend, working together, to hurt you to the heart: the one to slander you, and the other to get the news to you – Mark Twain

 

Woorde uit die Bybel – Genade (1)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

 In Die Boodskap word genade dikwels met goedheid vertaal.

In Jerusalem word daar ‘n vergadering van kerkleiers gehou om oor die besnydenis te praat. Petrus tree tot die debat toe: Begryp julle dan nou nog nie dat ons uit genade deur ons Here Jesus gered word nie? Ons verdien dit nie Hy red alle mense op presies dieselfde manier as vir ons (Handelinge 15:11). Genade is sekerlik een van die belangrikste temas in die Nuwe Testament. Die Here het vir Paulus gesê dat sy genade vir hom genoeg is –  dit is al wat jy nodig het (2 Korintiërs 12:9).

 Paulus begin meeste van sy briewe met ‘n groet wat genade en vrede insluit. Hy sluit sy briewe af met die bede dat die genade van God by hulle sal wees. Genade, wat deur Jesus Christus gekom het, vat die hele Nuwe Testament saam. Genade is dan ook die teken dat God aan die werk is: Van die dag af dat dit tot julle deurgedring het hoe goed God vir julle is sonder dat julle dit regtig verdien, weet julle dat die ware God aan die werk is (Kolossense 1:6).

 God gee hierdie genade, maar ons moet dit ontvang: Ek kan nooit God se goedheid deur my vingers laat glip nie. As ek nou, na alles wat God vir my gedoen het, steeds probeer om self ‘n plek in die hemel te verdien deur te doen wat die wet sê, is Christus verniet aan die kruis dood (Galasiërs 2:21).

 Genade is God se guns aan ons – onverdiend. Ons kan nie aanspraak op sy genade maak nie. God is absoluut lojaal aan die mense aan wie Hy Hom verbind het. Dit is ‘n geskenk aan mense as bewys van God se liefde.

 

In die volgende artikel gaan ons na die rykdom van die genade kyk.

 

 




God se genade

The Christian who has stopped repenting has stopped growing. —A.W. Pink

 

God se genade

 God se genade kom altyd na ons met ‘n maar en nie ‘n daarom nie. Wat bedoel Tullian Tchividjian as hy dit sê. Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

  • Die loon van die sonde is die dood … maar die loon van God se genade is vryspraak en lewe (Romeine 6).
  • maar ons wat dood was as gevolg van ons oortredings het God lewend gemaak. Uit genade is julle gered (Efesiërs 2).
  • Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie ... maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en profete getuig, in werking getree (Romeine 3).

 

Werk genade in hierdie wêreld? Robert Kolb stel dit so:

“ God belowe vryspraak en vryheid vir sondaars. Hierdie belofte weerspreek ons normale menslike verwagtings. Sondaars verdien straf en nie vergifnis nie, gevangenskap, nie vryheid nie. Maar God leer sondaars om  hulle oë te sluit vir gewone menslike verwagtings en die gevolgtrekkings van ons kennis en ons ore oop te maak vir die belofte wat lewe en vryheid bied.”

 

 

 

 




Goedkoop genade

The ultimate test of our spirituality is the measure of our amazement at the grace of God. —D. Martyn Lloyd-Jones

 

Goedkoop genade

Dietrich Bonhoeffer het na goedkoop genade verwys in sy boek The Cost of Discipleship. Elizabeth Eaton verwys na aanspraak maak op genade (entitlement grace). Goedkoop genade is ‘n groot vyand van die kerk en gelowiges.

Goedkoop genade beteken genade wat jy sommer op die mark kan koop. Dit word voorgehou as komende uit die kerk se tesourie. Uit hierdie tesourie versprei die kerk dan seëninge – sonder om vrae te vra of om grense te stel. Die redenasie is soos volg: die rekening is vooraf betaal en daarom kan almal dit kry – verniet.

 

Ons leef in ‘n kultuur waar mense voel dat dit hulle reg is om op sekere dinge aanspraak te maak. Het ons in die kerk nie genade so hanteer nie? Genade is tog nie iets waarop jy aanspraak kan maak nie – dit is ‘n geskenk wat net ontvang kan word.

 

Maar as daar iets soos goedkoop genade is, moet daar seker iets soos duur genade ook wees. Dietrich Bonhoeffer beskryf duur genade so:

Duur genade is die skat wat in die saailand weggesteek is. Hiervoor sal die mens alles wat hy het, verkoop.  Dit is soos die waardevolle pêrel waarvoor die handelaar alles wat hy het, sal verkoop. Hierdie is die heerskappy van Christus waarvoor ‘n mens alles sal opoffer. Dit is Jesus wat roep en daarvoor verlaat die dissipels hulle visnette.

 

Duur genade is die evangelie wat weer en weer gesoek moet word; die geskenk waarvoor gevra moet word; die deur waaraan die mens moet klop. Hierdie genade is duur, want dit verwag dat die mens Jesus Christus moet volg. Dit is duur, want dit het Hom sy lewe gekos; dit is genade, want dit gee aan die mens die enigste ware lewe. Dit is duur, want dit veroordeel sonde; dit is genade, want dit koop die sondaar vry. Dit is duur, want dit het die lewe van God se Seun geëis. As dit vir God duur was, kan dit tog nie vir ons goedkoop wees nie. Dit is genade, want God het nie gedink die lewe van sy Seun is ‘n te duur prys om te betaal nie. Duur genade is ‘n woord van vergifnis vir die gebroke  en berouvolle hart. Genade is duur, want dit dwing my om in Christus se juk te trek; dit is genade, want sy juk is maklik en sy las is lig.

 

So dikwels glo ons dat God ons genade skuld – ons kan daarop aanspraak maak. Kan ons werklik aanspraak maak op vergifnis sonder opregte berou en belydenis? Glo ons werklik dat ons vrygekoop moet word sonder heiligmaking? Leef ons soos mense wat geregtig is op al die voordele van genade sonder dat God ons kan gebruik om genade vir ander aan te bied?