Genadedood – Vorms

Genadedood – Vorms – Coen Slabber

In die vorige artikel het ons sekere algemene aspekte van genadedood gekyk. Vandag kyk ons na die vorms van genadedood

Is daar verskillende vorms van genadedood?

Die woord genadedood is ʼn sambreelterm waaronder verskillende metodes ter sprake is. Ons kan genadedood op verskillende maniere klassifiseer:

1. Volgens toestemming.

Dit beteken dit kan vrywillig wees of nie. Waar dit nie vrywillig is nie, is dit gewoonlik iemand anders wat ʼn besluit neem omdat die persoon nie in staat is om self te besluit nie. (Voorbeeld: die vader is bewusteloos na ʼn ernstige beroerte en die kinders besluit.) Soms word die kinders se besluit bepaal deur wat die persoon vooraf versoek het. Hierdie sogenaamde toestemming met volmag is altyd kontroversieel. Soms mag die kinders verskil oor wat reg of wat verkeerd is. Soms het hulle nie duidelike/skriftelike toestemming van die persoon ter sprake nie. Probleme ontstaan wanneer:

  • Die pasiënt nie in staat is om self ʼn besluit te neem nie.
  • Die wense van die familie teenstrydig is.
  • Toestemming onder druk verkry is.

 

2.  Volgens metode

  • Passief: Die pasiënt word toegelaat om te sterf. As ʼn persoon in ʼn diep koma as gevolg van ʼn beroerte longontsteking sou ontwikkel (ʼn baie algemene komplikasie van persone in ʼn koma), weerhou die geneesheer die toediening van antibiotika. Hy weet dat as hy die behandeling weerhou, sal die pasiënt sterf. Wat nog moeiliker is, is as so ʼn persoon op lewensondersteunende behandeling/ instrumente is. Mag ʼn geneesheer hierdie instrumente afskakel wetende dat dit die dood van die pasiënt sou veroorsaak?

•         Aktief/aggressief: die pasiënt se dood word direk en doelbewus veroorsaak. Die geneesheer doen iets om sy dood te verhaas. Hy dien byvoorbeeld ʼn oordosis morfien of ʼn middel om hartstilstand te veroorsaak, toe.

 

3.   Bygestaande (“assisted”) selfmoord

Hierdie is eintlik maar aktiewe genadedood. Ek noem dit apart, omdat hierdie metode wêreldwyd veld wen. Hiermee bedoel ons die voorsiening, maar nie die toediening, van ʼn middel wat die dood sal veroorsaak nie. ʼn Geneesheer gee vir die pasiënt  ʼn middel wat sy dood sal veroorsaak, maar die pasiënt moet self besluit of hy dit wil neem. [Hierdie praktyk is onwettig in Suid-Afrika.] Dit is dieselfde as die teregstellings in sekere state van die VSA waar die geneesheer die middels voorsien, maar nie toedien nie.

 

4.  Vrywillige aktiewe genadedood

Dit is waar ʼn terminaal siek persoon by sy volle verstand versoek dat sy lewe beëindig word as gevolg van erge pyn en/of lyding. Die geneesheer staan hom by deur die toedien van ʼn dodelike middel. Hierdie praktyk is onwettig in Suid-Afrika.

 

5. Die “lewende” testament

Die pasiënt, op ʼn stadium toe hy by sy volle verstand was, stel ʼn dokument op waarin sy bedoeling baie duidelik aan sy versorgers en familie bekend gemaak word: Sou hy ʼn permanente en ongeneeslike siekte ontwikkel, moet hulle die volgende doen en sekere dinge nie doen nie. Dit mag insluit die toedien van middels om die dood te verhaas.

 

Argumente vir en teen genadedood

Argumente ten gunste van genadedood:

  • Mense het die reg om te kies wat hulle met hulle lewe wil doen. As argument word dikwels gesê dat mense die reg het om selfmoord te pleeg – dit is nie ʼn kriminele oortreding nie. Dit gaan oor die vryheid van keuse: mense kan nie gedwing word om te bly lewe nie.
  • Die kwaliteit van lewe – fisies (voortdurende pyn) en emosioneel (verlies aan onafhanklikheid) – is ingekort. Die lewenskwaliteit is van so ʼn aard dat dit nie meer die moeite werd is om te lewe nie.
  • Ekonomies – gebruik eerder die beperkte beddens en gesondheidspersoneel vir mense wat ʼn goeie prognose het.
  • Ondraaglike pyn. (Dit is meestal moontlik om pyn doeltreffend te beheer).
  • Die wet en mediese etiek vereis nie dat mense ten alle koste aan die lewe gehou moet word nie – dit is wreed en onmenslik. Daar kom ʼn tyd wanneer behandeling gestaak moet word. Konsentreer net daarop om die pasiënt so gemaklik as moontlik te maak. Ondersteun die pasiënt emosioneel en geestelik.

 

Argumente teen genadedood:

1.         Godsdienstig

  • Dit is teen die wil van God. Lewe is heilig en behoort aan God. Daarom kan net God ʼn lewe neem.
  • Die gemeenskap se respek vir die heiligheid van lewe word afgewater.
  • Lyding mag van waarde wees.
  • Dit is die begin van ʼn gevaarlike neiging om mense dood gemaak omdat hulle onwenslik is. Ons is terug by die konsentrasiekampe van die Tweede Wêreldoorlog.

2.         Etiese argumente

  • Ons aanvaar dat sekere lewens meer waarde as ander het
  • Dit is dalk nie in die beste belang van die persoon nie

3.         Praktiese argumente

  • Goeie palliatiewe sorg maak genadedood onnodig
  • Dit is moeilik om genadedood behoorlik te reguleer
  • Dit is teen die professionele rol van gesondheidswerkers.
  • Dit ondermyn gesondheidspersoneel se toewyding aan die red van lewens

In die volgende artikel gaan ek meer sê oor die Christen se siening van genadedood.

Outeur: Dr Coen Slabber




Genadedood(1)

Genadedood(1) – Coen Slabber

Definisie:

HAT: ʼn Pynlose dood kunsmatig bewerkstellig uit meegevoel vir ʼn lyer aan ʼn ongeneeslike siekte. Dit staan ook bekend as eutanasie (eu = goed, wel; thanatos = dood; eutanasie = goed doodgaan). Dit verwys gewoonlik na die praktyk om ʼn lewe pynloos te beëindig.

Agtergrond:

Soos ander bio-etiese probleme kan ons nie genadedood in wetlike en wetenskaplike isolasie benader nie. Dit is nie ʼn suiwer mediese probleem per sé nie, maar ʼn morele probleem. Ons kan nie verwag dat geneeshere alleen hieroor moet besluit nie, alhoewel hulle ʼn definitiewe inset het om te lewer. Genadedood is deel van die debat tussen twee denksisteme in die wêreld:

(a)        God het die mens geskep na sy eie beeld. Die reg om lewe te vernietig is dus God s’n. Selfs nie deernis vir iemand wat erge pyn ondervind, regverdig dit dat die mens ʼn lewe neem nie. As ons praat van genadedood praat ons in werklikheid van vals genade.

(b)        Die mens het die reg om te kies wat met hom moet gebeur. As hy voel dat hy nie langer wil leef nie, is dit sy reg. In hierdie gevalle berus die keuse by die betrokke persoon of sy gesin. God speel geen rol in die keuse nie.

Geskiedenis

Wat is die posisie van die geneesheer? Mense verwys na die Eed van Hippocrates. Hippocrates is in 5de eeu voor Christus op die Griekse eiland Kos gebore en is veral bekend vir hierdie eed. Hierdie is ʼn heidense eed, want hy begin deur te sweer by Apollo, Eskulapius en ander gode. In hierdie eed sê hy onder andere: Ek sal geen gevaarlike medisyne vir iemand gee as hy daarvoor vra nie; ek sal ook nie so iets voorstel nie. Die ou Grieke en Romeine het nie geglo dat lewe ten alle koste behou moet word nie. Hulle was nogal verdraagsaam ten opsigte van selfmoord deur mense wat sterwend was – Sokrates is ʼn goeie voorbeeld. Hy het gif gedrink voor hy tereggestel kon word.

Die beskikbaarheid van allerlei middels wat mense kan doodmaak, het die belangstelling in genadedood laat toeneem. Eutanasie-verenigings is in Engeland (1935) en die VSA (1938) gestig om aggressiewe genadedood te bevorder. In 1937 word genadedood in Switserland gewettig, mits die persoon wat die lewe beëindig, niks daaruit gaan baat nie.

Eugenetika (= wetenskaplike ondersoek van alle faktore wat ʼn ras kan verbeter) was ʼn probleem in Nazi-Duitsland. Eksperimente is op mense uitgevoer. Onderliggend gaan dit oor die verbetering van die ras. Dit het begin by mense wat verstandelik erg gestrem was. Daarna kom die T4-program van die Nazi’s – dit begin met kinders onder die ouderdom van 3 jaar wat geestelik of fisies gestrem was; dit word later uitgebrei na ouer kinders; later na inrigtings waar mense met geestesongesteldhede aangehou is. Laastens word dit uitgebrei na die konsentrasiekampe. Nou was die slagoffers nie meer mense met gestremdhede nie, maar Jode.

As gevolg van hierdie Nazi vergrype ontwikkel daar ʼn sterk stem teen genadedood na die Tweede Wêreldoorlog. Sedertdien verander baie lande hulle siening in die sin dat hulle meer toegeeflik word. ʼn Goeie voorbeeld is Terri Schiavo. Sy het in Florida in die VSA gewoon. Teen2005 was sy reeds 15 jaar bewusteloos. Sy word met ʼn maagbuis gevoed en so aan die lewe gehou. Haar man nader die hof met die versoek dat die maagbuis verwyder moet word. Die res van die familie (ook haar ouers) was daarteen gekant. Hy slaag met sy aansoek in die hof ; die buis word verwyder en sy sterf kort daarna.

 

Die wetlike posisie

Mense se sienings oor genadedood wissel baie – van moord tot genade/verlossing. Aktiewe genadedood is onwettig in Suid-Afrika en in meeste ander lande. Die pasiënt het wel die reg om medisyne te weier – al lei dit tot sy dood. Hierdie situasie is besig om baie vinnig te verander. Baie lande is besig om hulle wetgewing aan te pas om genadedood moontlik te maak. Sommige vorme van genadedood is wettig in België, Luxemburg, Nederland, Switserland, Thailand, en die staat Oregon in die VSA.

Hoekom kry ons hierdie versagting van ons houding teenoor genadedood? Hoekom laat meer lande dit toe? Hoekom steun meer mense genadedood? Daar is veral drie faktore wat hier ʼn rol speel:

(a)        Aanvanklik het die heiligheid van lewe ʼn deurslaggewende rol gespeel, maar in die moderne samelewing is die kwaliteit van lewe bepalend. Genadedood is dus ʼn optrede van deernis.

(b)        Die klem op die reg van die mens om self te besluit – ook oor sy eie liggaam. Dit is ʼn argument wat ons ook in die aborsie-debat kry.

(c)        Die samelewing se vrees vir oud word en die dood.

 

in die volgende artikel gaan ons kyk na die verskillende vorme van genadedood.

 

Outeur: Dr Coen Slabber