Geloof en verlossing – Jan van der Watt

Vraag

Hoef jy net te glo om gered te word?

Antwoord

Prof Jan van der Watt Antwoord:

In Johannes 3:18 lees ons: ‘Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie’. Lees egter ook: Jakobus 2:14: ‘Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?’

Die Nuwe Testament skei nooit geloof en werke nie. As jy glo – dws in ‘n verhouding met Jesus staan en Hom navolg – sal jou gedrag dit wys. Om Jesus te volg beteken om ook soos Hy op te tree. Geloof en werke is dus twee sye van dieselfde saak. As Joh 3:18 en ander soortgelyke gedeeltes dus aandui dat mens moet glo is die veronderstelling dat hierdie geloof in jou gedrag bevestig sal word. Geloof staan nooit op sy eie nie, net soos goeie werke ook nie op sy eie staan nie. Al probeer jy hoe hard om goed te wees sonder om in Jesus te glo gaan dit jou niks met jou redding help nie. Net so is geloof sonder werke dood.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word: Waar of vals?

Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word: Waar of vals? – Kobus Kok

Chantelle vra:

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

Elkeen sal “volgens sy eie geloof” gered word:

Waar of vals?

Die Christendom verstaan redding Christosentries – dit beteken dat daar buite geloof in Christus nie redding te vinde is nie (Joh 14:6). Mense wat universalisties oor redding dink, glo dat almal gered gaan word ongeag of hulle Christus as persoonlike verlosser aanvaar of nie.

Indien iemand op ʼn universalistiese wyse ʼn stelling maak soos “almal sal volgens hulle eie geloof gered word”, kan die Christen hulle antwoord met Johannes 14:6 en argumenteer dat hulle saamstem dat die aard van jou geloof die aard van jou redding gaan bepaal. Kwalifiseer dan jou stelling deur te sê dat indien jou geloof nie Christus as die sentrum het nie, sal jy volgens die aard van jou geloof, nie gered word nie.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Die verskil tussen “gered uit die geloof” en “gered deur die geloof” in Romeine 3:30

Die verskil tussen “gered uit die geloof” en “gered deur die geloof” in Romeine 3:30 – Kobus Kok

Jan Smith vra:

Romeine 3:29 en 30: Of behoort God aan die Jode, en nie ook aan die heidene nie? Ja, ook aan die heidene, aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig UIT die geloof en die onbesnedenes DEUR die geloof. Wil u dalk sê wat die verskil is tussen UIT en DEUR, asb?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

 

Die oplettende leser sal oplet dat Romeine 3:30 in die Ou Afrikaanse Vertaling van 1953 anders vertaal word as in die Nuwe Afrikaanse Vertaling van 1983.

Ons lees in die Nuwe Afrikaanse Vertaling: 27Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof. 28Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie. 29Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook van die heidennasies, 30want daar is net een God. Hy sal die besnedenes deur die geloof en die onbesnedenes deur dieselfde geloof vryspreek. 31Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom.

In die Ou Afrikaanse vertaling sien die teks soos volg daarna uit: 27Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. 28Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet. 29Of behoort God net aan die Jode, en nie ook aan die heidene nie? Ja, ook aan die heidene,30aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof.31Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.

Waarom is daar dan so ‘n verskil tussen die twee vertalings en is daar nie dalk betekenis weg vertaal in die proses nie? Die antwoord op hierdie vraag kan ons in die oorspronklike Griekse teks vind. Die Ou Afrikaanse vertaling het ‘n meer letterlike vertaling van die Griekse teks gevolg waar daar inderdaad in die Grieks staan dat die Jode (besnedes [peritomên]) uit die geloof (ek pisteos) deur God geregverdig (dikaioosei) sal word, en die onbesnedes (akroboestian) deur die geloof (dia tês pistêoos) geregverdig sal word.

Die spesialiste wat die tekste bestudeer (bv Newman en Nida) en die teologie van Paulus baie goed ken (Prof James Dunn se kommentaar op Romeine) is dit almal eens dat daar nie ‘n verskil tussen die uit die geloof en deur die geloof is nie. Die punt wat Paulus maak, is dat besnedenes en onbesnedes beide net deur geloof en nie die werke van die wet nie, geregverdig sal word.

Die Ou Afrikaanse vertaling is dus nader aan die oorspronklike vorm van die Griekse teks, maar die Afrikaanse Nuwe vertaling is die nasste aan die betekenis van die oorspronklike teks.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok

 




Romeine 9:10 – 18

Romeine 9:10 – 18 – Gys Loubser

Marguerite van Niekerk  vra:

Kan julle asseblief vir my verduidelik wat Romeine 9 vers 10 tot 18 beteken. Baie dankie vir die diens.

Dr Gys Loubser antwoord:

Hierdie is een van daardie tekste wat ons nooit so kan verklaar dat ons nie nog vrae het nie.  Die rede daarvoor is hoofsaaklik dat Paulus hier skryf oor dinge wat só uitsluitlik op God se vlak lê, dat ons nooit binne ons logika, wat deur tyd en ruimte bepaal word, finale bevredigende antwoorde kan voorsien nie.  Wat ons wel kan doen, is om ten minste te probeer verstaan wat Paulus binne die konteks van ons teks en sy tyd wou oordra.

Kom ons kyk eers na die konteks in Romeine. In Rom. 1-8 het Paulus baie sterk beklemtoon dat God ten spyte van sy verkiesing van Abraham en sy beloftes aan hom en sy nageslag, sou wou hê dat alle mense gered word.  Hy wou juis al die nasies deur middel van Abraham seën.  Deur Abraham wou Hy as’t ware by almal uitkom (Romeine 4:9-12).  Hy beklemtoon ook dat God regtig niemand iets geskuld het nie.  Almal het gesondig (Romeine 3:9-18).  Hy red mense net uit genade en nie omdat hulle genoeg goeie goed gedoen het om gered te word nie.  Maar natuurlik, as mense nie gered wil wees nie, as hulle die beloftes nie wil aanvaar nie, sal dit nie hulle deel word nie.  Hier vra ons alreeds binne ons logika hoekom God hulle nie maar dwing nie.  Hy is tog ʼn God van liefde en wil tog hê almal moet gered word, en Hy weet mos dis die beste vir hulle. Nee, dis nou maar van God – waarskynlik oor Hy liefde is – Hy dwing nie sy liefde op iemand af nie.  Hy kan jou ook nie dwing om Hom terug lief te hê nie, want dan is dit nie meer liefde nie.  God het die belofte aan Abraham in vervulling laat gaan in Jesus Christus en redding is nou deur Hom (Romeine 5 – 8).

Nou kom ons by Romeine 9:1-5.  Paulus is besorg dat sy volksgenote – die fisiese nageslag van Abraham – nie in Jesus glo soos mens sou verwag nie, maar Hom verwerp.  Sy vraag wat hy in Romeine 9:6-18 probeer beantwoord, is: wat nou van God se beloftes aan Israel?  Het Hy dit teruggetrek, en as Hy dit teruggetrek het, is dit nie onregverdig van Hom nie?  Belofte maak tog skuld!  Hy kom dan tot die volgende konklusies:

§  Selfs binne die fisiese volk Israel was daar oor die geslagte mense wat nie die Here gedien het nie en sy beloftes verwerp het.  Ware kinders van Abraham het nog altyd net ʼn deel van die fisiese volk uitgemaak.  Só verteenwoordig Isak die ware volk, terwyl Ismael nie deel daarvan is nie (Romeine 9:6-9).

§  God is vry om te kies soos Hy wil.  Die mens se prestasies of disprestasies is nie in die eerste plek wat deurslag gee nie.  Wat agter alles lê, die inisiatief wat die deurslag gee, is God se liefde wat jou uitkies. Jakob en Esau is ʼn besondere voorbeeld hiervan, want hulle was ʼn tweeling met dieselfde geleenthede en al twee ewe min verdienstelik (Romeine. 9:10-13).

§  God is nie onregverdig nie.  In sy vryheid mag Hy Hom ontferm oor wie Hy wil en barmhartig wees oor wie Hy wil (Romeine 9:15-16).

Dit is die hoofsaak in hierdie gedeelte, nl. dat alles van God se inisiatief en barmhartigheid afhang en nie van ons goeie werke nie.  En as God mense in Abraham se bloedlyn red, is dit sy saak soveel as wat dit sy saak is as Hy mense buite daardie bloedlyn red.

Wat Romeine 9:10 ev. betref, moet ons net op die volgende let.  Paulus haal direk uit Maleagi 1:2-3 aan.  Die woorde wat hier met liefde en haat vertaal word, is eintlik in ons moderne konteks nie die beste nie, omdat ons ʼn emotiewe waarde daaraan heg.  Dis vir ons begrippe wat emosie insluit.  Onthou, God is nie ʼn mens nie.  Hoe Hy voel, kan ons nie regtig bepaal nie.  Wat belangriker is as gevoelswaarde, is dat sy liefde vir die ware Israel meer te doen het met sy uitkies van hulle om hulle met sy beloftes te begunstig sonder dat hulle ʼn positiewe bydrae gemaak het.  As daar staan dat Hy Esau gehaat het, moet ons nie menslike emosie en doelgerigte slegte intensie daarin lees nie.  Sy uitverkiesende liefde vir Jakob was nie gegrond op Jakob se goeie dade nie.  Sy getuigskrif lyk maar sleg.  Net so was sy nie-verkiesing van Esau ook nie gegrond op Esau se dade nie.  Hy het Esau basies oorgelaat aan sy eie wil om God se beloftes te geringskat.

Daar is nog ʼn element wat ons in ag moet neem.  Die ouens het destyds in terme van groepe gedink.  Jy was nooit ʼn individu nie, maar altyd deel van ʼn groep.  Jou familie was jou mees basiese groep.  Net so het die familie dan ook ʼn naam gehad om hoog te hou.  Hulle het probeer om te glo en te leef soos hulle aartsvader geglo en geleef het.  Hulle is ook gedefinieer by ander aan hulle oorspronklike aartsvader.  Maar ook hy was nie ʼn individu op sy eie nie.  Hy was ook een met sy nageslag.  Dit gaan hier dus nie net oor Jakob nie, maar ook oor sy nageslag wat saam met God geloop het en sy beloftes geglo het.  Dit gaan ook nie net om Esau nie, maar om sy nageslag, die Edomiete (Maleagi 1:3), wat die Here nie gedien het nie.  Verder was groepe geneig om ander uit te sluit.  God is egter anders en sluit die oninsluitbare in sy vryheid in, en het ook die reg om die wat van nature ingesluit sou wees, uit te sluit.  Hy is God en werk volgens sy eie orde.

Maar, terug na ons hele Skrifgedeelte, die belofte is selfs vir die heidene beskikbaar.  Op een of ander onverstaanbare manier is ons keuses en God se uitverkiesing nie los van mekaar te make nie. 

 

Outeur: Dr Gys Loubser