Ek is vet

Ek is vet – Francois Malan

Charlene vra:

Ek is opsoek na ‘n versie wat ek vir myself en my 4-jarige dogtertjie kan leer. Hierdie week het ‘n seuntjie by my dogtertjie se crèche, vir haar begin sê sy is vet. Nou sy het lekker pokkel wangetjies en so maar anders is sy nie vet. Baie gesond en stewig. Sy is amper ‘n kop langer as al die ander kindertjies in haar klas. Ons het haar haartjies die naweek ook gesny, en dan is daar ‘n ander dogtertjie wat sê haar haartjies lyk “vieslik”. Nou ek wil vir haar ‘n versie leer wat sy altyd kan onthou, nou en in die toekoms, as mense vir haar sulke goed sê. Dat sy perfek is in God se oë. Veral in vandag se tyd waar daar soveel klem op die uiterlike is. Waar sal ek so mooi versie kan kry en ook in die vertaling wat makliker vir my en haar sal wees om te onthou.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

‘n Paar tekse wat miskien kan help – ek het hulle ‘n bietjie aangepas om makliker te kan sê:

Genesis 1:27 God het my geskep as sy beeld (as beeld van God)

Psalm 8:6 God het die mens/my net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak.

Romeine 8:31 God is vír ons/my, wie kan teen ons/my wees?

Rom 8:39 Niks kan ons/my skei van die liefde van God nie.

1 Kor 6:19:20 My liggaam is ‘n tempel van die Heilige Gees wat in my woon. Ek is gekoop en Jesus het die prys betaal. Ek moet God verheerlik met my liggaam.

Hd 10:28 God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Is God wreed?

Is God wreed? – Gustav Claassen

Marlene vra:

As mens die ou Testament lees klink dit of God so wreed was om telkens die Israeliete opdrag te gee om ‘n hele stad uit te wis. ‘n Mens dink onwillekeurig in terme van vandag se tye hoe dit sou wees … daar was ook diere, klein babatjies en kindertjies, oumense ens. As dit in ons tyd gebeur beskou ons dit as barbaars om mense en diere voor die voet dood te maak. Dit is so in teenstelling met die liefde en genade wat in die Nuwe Testament na vore kom. Maar dit is nog steeds dieselfde God van die ou Testament. Hoe verklaar ‘n mens dit?

Antwoord

Dr Gustav Claassen antwoord:

Dit is so dat die tema rondom geweld en God en die volk se betrokkenheid daarby in die Ou Testament baie meer as in die Nuwe Testament voorkom. Daar word gepraat van die heilige oorlogtradisie in die Ou Testament. God is ‘n Krygsheld en in sy naam pleeg die volk geweldsdade soos Psalm 137 na verwys. Geweld as ‘n tema funksioneer egter ook in die Nuwe Testament.

‘n Man met die naam van Marcion was so teen die bors gestuit oor die geweld in die Ou Testament dat hy geargumenteer het dat die Ou Testament nie in die Bybel hoort nie. Vir hom was die God van die Ou Testament en die God van liefde van die Nuwe Testament nie dieselfde nie.

Wat belangrik is as ons oor geweld in die Ou Testament wil praat is die volgende: Ons moet rekening hou met die rol wat literêre oordrywing en beeldspraak in die Ou Testament speel. ‘n Militêre held, in ‘n sekere tyd in Israel se geskiedenis, is baie hoog aangeslaan. Daarom is daar van God ook gepraat as ‘n militêre held en Krygsman. Daar word na God op so ‘n manier verwys veral in die tyd toe Israel hom moes vestig tussen al die ander volke en konflik en geweld aan die orde van die dag was. Dit vind binne ‘n baie spesifieke konteks plaas, baie van die geweldtekste kom uit die tyd voor Israel ‘n koning gehad het. Die beeld van God as Krygsman dui op sy soewereiniteit en mag en moenie gesien word as ‘n letterlike beskrywing van God nie. God maak Hom konkreet bekend van situasie tot situasie. In spesifieke situasies het mense dit wat hulle van die openbaring verstaan verwoord. Hierdie verwoording geskied in die taal en die beelde en voorstellingswêreld van daardie tyd. Dit is egter ook belangrik om te onthou dat met verloop van tyd het die godsbewussyn al hoe duideliker geword en is die konsep van ‘n wrede God al hoe meer uitgeskakel.

So word 2 Kronieke 20:1-30(dit is ‘n boek wat baie laat ontstaan het) aangetoon as die teks wat sê dat ‘n heilige oorlog nie uit gewelddadige menslike deelname behoort te bestaan nie, maar uit gebed, vas, aanbidding, lofprysinge, raadpleging van en geloofsvertroue in Jahwe. Ook ‘n bekende teks soos Jesaja 53(wat dateer uit die tyd na die ballingskap) is hier belangrik. Hier lees ons dat God nie meer verlos deur geweld soos met die uittog uit Egipte, deur plae en die verdrinking van die Egiptiese leër nie. God verlos nou deur mense soos die kneg waarvan Jesaja 53 praat. Die kneg is ‘n verwysing na Moses. Moses wat op die berg Nebo sterf ,vanweë die volk se sonde, sodat hulle die beloofde land kan ingaan. Verlossing vind plaas deur plaasvervangende lyding. Die kneg ly ter wille van ander.

Die lyn hiervandaan na die Nuwe Testament is voor-die-hand-liggend. Johannes 12:38 haal Jesaja 53:1 aan as ‘n verwysing na Christus. Maar hulle het nie in Hom geglo nie, van lyding en sterwe wou hulle niks weet nie. Van ‘n man wat volgens Jesaja 53 leef wil hulle niks weet nie en hulle stuur Hom kruis toe. Maar dan bid Hy daar vir hulle en toon Hy juis daar wat dit is om waarlik Kneg van die Here te wees. Kyk ‘n mens na hierdie Kneg van God en na die wet wat Hy in Matteus 5-7 as die tweede Moses op sy “Sinai” afkondig, weet jy: Dit is die pad van God en nie pad van die geweld nie. Dit is ‘n pad van die tweede myl saamstap, die ander wang draai, ook die bo-kleed gee en waar die vredemakers salig genoem word.

 

Skrywer: Dr Gustav Claassen




God se wil

God se wil – Francois Malan

Frikkie vra: 

Ek wil graag GOD se wil doen, maar hoe weet ek wat Sy wil vir my is?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die wil van God word in die Bybel aangedui. Dit word op ‘n paar plekke saamgevat, bv. Eksodus 20 met die tien gebooie wat die Here gegee het vir sy volk wat Hy uit Egipte verlos het, as die aanduiding ook vir ons, van hoe ‘n mens lewe wat deur die Here verlos is uit die slaweskap van die sonde.

Jesus brei op die gebooie uit, en verduidelik vir sy volgelinge in die bergrede in Matteus 5-7 hoe ons as kinders van God in die wêreld moet lewe. In Matteus 22:37-40 vat Hy dit alles saam in twee gebooie van liefde vir God en liefde vir ons medemens. Matteus 7:12 het nog ‘n korter samevatting: Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.

En nadat Jesus ons sonde aan die kruis gedra het, opgewek is en na die hemel opgevaar het, kom woon die Heilige Gees in ons om dit wat Hy vir ons gedoen het, in ons te kom uitwerk. In Romeine 8:9-11 word Hy die Gees van God genoem en ook die Gees van Christus. Hy maak ons kinders van God, sê Rom.8:15. Letterlik staan daar, Hy is die Gees van aanneming waardeur God ons aanneem as sy kinders, deurdat die Gees ons aan sy Seun se dood en opstanding verbind en van ons mede-erfgename van Christus maak, wat ook in die wêreld saam met Christus ly en saam met Hom verheerlik sal word. Johannes 3:8 sê, ons word deur die Gees weergebore tot kinders van God. Johannes 14:16 noem Hom die Voorspraak (of Helper) wat vir ewig by ons sal wees, en 14:23 sê as iemand My liefhet en my woorde ter harte neem, sal die Vader hom/haar liefhê, en Ons sal na hom/haar toe kom, en by hom/haar woon. Dit doen die Vader en die Seun deur die Heilige Gees wat ons alles sal leer en ons aan alles sal herinner wat Jesus geleer het.

In Johannes 16:7-11 sê Jesus dat dit vir ons voordelig is dat Hy weggaan, want nou kom die Heilige Gees in elkeen van ons woon. Hy kom ons oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel. Ons bly in sonde as ons nie in Jesus glo wat ons daarvan kom verlos nie. Geregtigheid beteken dat die verhouding tussen ons en God reggemaak is deur Jesus se sterwe en opstanding, en dat ons nou kan lewe as God se kinders, deurdat die Heilige Gees ons aan Jesus se dood en opstanding verbind (vgl. Rom 6:3-11). Aan die kruis is God se oordeel oor die sonde klaar deur Jesus gedra, en ons word deel van die verlossing wat Hy vir ons bewerk het. Ook ons geloof in Jesus word deur die Gees in ons gewerk. Die Gees is besig om ons al meer te verander om soos Christus in liefde te lewe (2 Kor.3:18).

In Romeine 8:3-9 worstel Paulus met ons sondige natuur, die eie-ek, wat nog altyd met ons is, en waarteen die Gees ons daagliks probeer oortuig om nie vir ons self te lewe nie, maar vir God – want dit is vir ons die allerbeste. In Romeine 13:9-13:14 gee hy ook ‘n uiteensetting van hoe ‘n gelowige behoort te lewe as ‘n uitlewing van Jesus se gebod tot naasteliefde.

Maar hoe weet ons in elke omstandigheid wat om te kies en wat om te doen?

Ons laat ons leer deur die aanwysings in die Bybel, soos bv. in die Skrifgedeeltes hierbo. Ons kyk of die besluit selfsugtig is en hoe dit ons medemens gaan raak, en ons bid om die leiding van die Gees van God wat in ons woon om ons te oortuig van die optrede wat volgens God se wil sal wees. Te midde van dit alles bly ons sondige mense wat ons self maklik regverdig vir wat ons besluit of doen, maar ons bid dat die Gees ons versterk, sodat ons nie sal toelaat dat die sonde oor ons heerskappy voer nie en die begeertes van ons sterflike aardse bestaan te gehoorsaam nie (Rom.6:12), maar dat ons elke deel van ons liggaam in diens van God sal stel as werktuig om te doen wat God wil (Rom.6:13). Dit is ook goed om te wag om te sien watter deure die Gees vir ons toemaak en watter nuwe geleenthede en moontlikhede opduik, vgl. bv. sy leiding van Paulus-hulle op die tweede sendingreis (Handelinge 16:6-10).

En as ons oortuig is dat ‘n spesifieke besluit of taak die wil van die Here is, doen ons dit met volle oorgawe. Maar deurentyd toets ons ons self of ons dit nog van harte doen vir die Here en nie om deur mense geprys te word nie (Kol.23; vgl. Matteus 6:2-4).

Lees ook Galasiërs 5:13-26 waar Paulus verduidelik dat as ons ons deur die Gees laat lei, staan ons nie onder die wet om daardeur God se guns te wen nie (v18). Ons is reeds sy kinders en Hy wil hê dat ons die beste pad loop. Die werk wat die Gees in ons bewerk word in 9 woorde saamgevat in vv22-23 liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesus: God of mens?

Jesus: God of mens? – Francois Malan

Japie vra:

Was Jesus Mens of God vir die tyd wat Hy op aarde was. Baie dankie

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Jesus was mens en God tydens sy aardse bediening, en daarna in die hemel.

Jesus is ware mens en ware God – dit word duidelik in die Skrif geleer:

Rom.8:3 God het sy eie Seun in die gelykheid van die sondige mens gestuur

Gal.4:4 God het sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet

Hy leef die lewe van ‘n gewone mens: word honger (Mat.4:2), en dors (Joh.19:28), besoek ‘n bruilof (Joh.2:1), huil by die graf van ‘n vriend (Joh.11:35) het sterwe en is begrawe.

Maar deur die brose mens (met geen skoonheid of prag nie; Jes.53:2), breek telkens sy goddelike heerlikheid en mag deur: as die mense van Nasaret Hom by die krans wil afgooi, loop Hy tussen hulle deur (Luk.4:30), in Getsemane moet die bende wat Hom kom vang, op die grond voor Hom neerval (Joh.18:6), op die berg van verheerliking word Hy van gedaante verander (Mat.17:2).

Matteus, Markus en Lukas getuig: die mens Jesus van Nasaret is God, gebore uit die maagd Maria (Mat 1:18; Luk 2:5-7).

Johannes getuig: God, deur wie die wêreld geskep is, het mens geword en onder ons gewoon (Joh.1:1-3,14), Hy en die Vader is een (Joh 10:30).

Paulus sê: Christus was sonder sonde, maar ter wille van ons het God Hom sonde gemaak

(2 Kor.5:21), in Hom woon al die volheid van die godheid liggaamlik (Kol 2:9), Hy wat in die gestalte van God was, het Homself verneder en die gestalte van ‘n slaaf aangeneem en aan mense gelyk geword (Filip 2:6-7).

Die twee nature van Christus, sy Godheid en sy mensheid, is in een persoon saamgevoeg – dit is heeltemal uniek, kan nie herhaal word nie, kan met niks anders wat ons ken vergelyk word nie.

Sy twee nature was nie vermeng nie. Sy mensheid het nie die grense van die kreatuurlikheid oorskry nie, en sy Godheid het nie sy goddelike eienskappe afgelê nie. Hy het ‘n menslike bestaanswyse bygekry. Daarin het Hy Homself verneder, selfs tot in die dood toe (Filip.2:8). Hy het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het (Hebr.5:8), en in Getsemane, waar Hy bedroef, beangs doodsbenoud geword het, sy wil prysgegee om die wil van die Vader te doen (Mat.26:37-44), maar na sy Goddelikheid kon Hy mense genees en uit dood opwek, duisende met ‘n paar brode voed, op die water loop, mense se sonde vergewe, en die wil van God bekendmaak. In al sy dade gaan dit egter om die dade en woorde van een persoon, die mens Jesus Christus, ons middelaar tussen die mens en God (1 Tim.2:5).

Slegs as ware mens sonder sonde kon Jesus ons sonde op Hom neem. Slegs as ware God kon Hy aan die kruis vir die straf op die sonde van die wêreld sterf. Hebreërs 5:15 sê: Die hoëpriester wat ons het, Jesus, die Seun van God, nie nie een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Romeine 5:6,8 sê: toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe… Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Kolossense 1:15-20 sê o.a. dat Hy die beeld is van God wat self nie gesien kan word nie…God het deur Hom alles geskep…deur Hom bly alles in stand…God het besluit om…deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

Hoe die wonder moontlik is, van die een persoon wat volkome mens en tegelyk volkome God is, word voor sy geboorte vir Maria verduidelik: Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek (letterlik: jou oorskadu). Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God (Luk.1:35). Aan Josef word verduidelik: wat in Maria verwek is kom van die Heilige Gees. Sy sal ‘n seun in die wêreld bring en jy moet hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos; en Matteus verduidelik dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur die profeet (Jesaja 7:14) gesê is, vervul sou word: die maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons (Matteus 1:20-23).

 

Skrywer: Prof Francois Malan