Die seën van God

Die seën van God – Francois Malan

Japie vra:

Die seën wat vanaf God ontvang word, is dit geestelik of materiel

Antwoord:

 

Prof Francois Malan antwoord:

Die inhoud van die seën van God aan Abraham word in Genesis 17:7 opgesom as ‘Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag’- dit impliseer dat Abraham God sal gehoorsaam en vir Hom lewe as die doel en sin van sy lewe, en dat God hom geestelik en materieel sal versorg.

Die inhoud van God se seën aan Isak word in Genesis 26:3 saamgevat as ‘Ek sal by jou wees en jou seën (NAV voorspoedig maak)’.

Van Josef staan daar in 39:2 ‘En die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met

hom…’ Maar daarna is hy in die tronk gegooi. Maar ook daar was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind (39:21) en na twee jaar in die tronk stel die Farao hom aan oor die hele Egipte (41:41). God se seën is sy teenwoordigheid by jou, en hy weet of voorspoed of teëspoed die beste vir jou is.

Ps 37:4-7 sê: Vertrou liewer op die Here (as om jou oor skelms se voorspoedige lewe te onstel) en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Paulus sê in Romeine 8:31-39 dat niks ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie, selfs nie lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid (armoede), gevaar of swaard nie.

Aan die Korintiërs skryf Paulus: God maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees (2 Kor.9:11). Vir die ouderlinge van Efese sê hy: Ek het niemand se geld en klere begeer nie. Julle weet self dat ek vir myself en vir die mense wat saam met my was, gesorg het deur met hierdie twee hande van my te werk. Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang (Handelinge 20:33-35).

Paulus het self geleer om in alle omstandighede tevrede te wees (NAV om my in alle omstandighede te behelp). Hy weet wat armoede is en hy weet wat oorvloed is; van alles het hy ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê en om gebrek te ly. Hy is tot alles in staat deur Hom wat vir hom krag gee (Filippense 4:11-13).

Jesus het gesê: Julle moet julle nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ‘n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee (Lukas 12:29-31).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




God se heerlikheid

God se heerlikheid – Francois Malan

Christa vra:

Verduidelik asseblief vir my die term: :God as heerlikheid.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

God as heerlikheid (die Griekse woord doksa)

Die Hebreeuse woord vir heerlikheid kabood word in die Ou Testament gebruik om iemand se eer of aansien aan te dui (vgl. Ps.95:1), maar veral die mag van God (Ps.19:2 wat oor sy skeppingsmag handel). Die Griekse vertaling van die Ou Testament het die Hebreeuse woord kabood met doksa vertaal om veral God se mag en sy eer mee weer te gee. Sy mag is ‘n uitdrukking van sy wese, en sy eer is die eer wat mense en engele aan Hom gee oor sy mag. Sy goddelike heerlikheid word in sy skepping en ander dade gesien. So word sy verskynings gesien as uitdrukkings van sy goddelike ligglans, soos by Sinai en aan Moses in die tent van ontmoeting, en daarna skitter selfs Moses se gesig (Eks.34:29-35). Die Nuwe Testamentiese gemeentes en skrywers het veral die Griekse vertaling van die Ou Testament gebruik. En daarom gebruik hulle die woord doksa heerlikheid, om die eer en die mag van God uit te druk, maar ook sy goddelike wese (bv. Lukas 2:9; 9:29-31).

Kol.1:11 Mag God wat oor al die mag en die heerlikheid beskik, julle versterk en aan julle al die krag gee om in alle omstandighede met geduld te volhard (NAV). Letterlik: mag julle versterktes wees met alle krag volgens die krag van sy heerlikheid (= sy heerlike krag) vir alle volharding en geduld met vreugde.

In hierdie teks gaan dit nie eintlik oor die heerlikheid van God nie, maar oor die heerlikheid van sy mag, sy verbasende mag. – dit wat ‘n mens verwonder, waaroor jy verbaas is. So ook bv. in Romeine 6:4.

Ook in Joh.11:4: Jesus sê dat Lasarus se siekte nie op die doop sal uitloop nie, maar op die openbaring van die heerlikheid (NAV mag) van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word – dit geskied toe Jesus Lasarus uit die dood opwek en baie mense tot geloof in Jesus gekom het (Joh.11:45). Weereens is dit die mag waaroor ‘n mens verbaas staan, en daardeur sal die Seun van God eer en lof ontvang.

In Joh.11:40 vertaal die NAV ook die woord doksa met mag.

Joh.12:43 lui letterlik: hulle (die lede van die Joodse Raad wat te bang was om hulle geloof in Jesus te bely) het die eer (doksa) van mense meer liefgehad as die eer (doksa) van God.

In Handelinge 7:55 het Stefanus die heerlikheid van God in die hemel gesien, en Jesus wat aan die regterhand van God staan. Hier gaan dit om die ligglans van God.

Romeine 3:23 sê letterlik: want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (OAV). Die NAV vertaal die heerlikheid van God net as God. Dit gaan oor sy wese.

2 Korintiërs 4:6 sê: God wat gesê het: Laat daar lig skyn uit die duisternis (Genesis 1:3), het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.’ Hier word die heerlikheid van God gesien in die neerbuigende liefde van Christus wat vir ons aan die kruis gesterf het en deur God opgewek is (3:14)

1 Timoteus 1:11 ‘…die evangelie van die heerlikheid van die goeie God’ (NAV; of: die heerlike evangelie van die geseënde God). Dit beskryf die boodskap van verlossing wat die sigbare heerlikheid van God openbaar in die Christus gebeure. Dit is God se heerlikheid wat sigbaar word in sy krag en majesteit met die dood en opwekking van Christus omdat Hy die wêreld so liefhet dat Hy sy enigste Seun gegee het, om ons van sonde te verlos en ons deel te gee aan die ewige lewe saam met Hom (Joh 3:16).

In Johannes 13:31-35 sê Jesus dat die Seun van die mens verheerlik word deur sy sterwe en opstanding uit liefde vir die wêreld, en dat God daardeur verheerlik word. En as ons mekaar liefhet word die Seun en die Vader verheerlik in die wêreld. Die heerlikheid van God word geopenbaar in sy liefde (vgl. 1 Joh 4:7-16 God is liefde, die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees is ‘n liefdesverhouding waarin ons deel kry deur die Heilige Gees wat in ons woon). Deur Jesus se kruisweg leer ons dat God se heerlikheid geleë is in sy nederige neerdaal na ons toe en ons opneem in sy heerlikheid, om soos God en Jesus lief te hê.

Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy heerlike troon sit, sal sy volgelinge ook op trone sit en regeer (Matteus 19:28). Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, die Heilige Gees verander ons al meer om aan die beeld van Christus gelyk te word, aan sy liefdesdiens, en die heerlikheid wat van ons uitstraal as ons in nederige liefde ons medemens dien neem steeds toe deur die werking van die Gees in ons en met ons deur sy woord (2 Kor.3:18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Christen se wapenrusting

Die Christen se wapenrusting – Francois Malan

Estelle het drie vrae oor die Christen se wapenrusting gevra. Hulle word as ‘n eenheid hanteer: 

(a) Verduidelik die Wapenrusting en waarom hierdie voorbeeld as agtergrond gebruik word deur Paulus?  

(b) Verduidelik die oorlogsterrein in Efesiers met die wapenrusting.

(c) DieWapenrusting: verduidelik die geveg, die neerlaag, die oorwinning 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

1. Die agtergrond van die volle wapenrusting van God wat Paulus gebruik is die profesie van Jesaja wat die wapenrusting van die Here en sy Messias (gesalfde koning) beskryf in Jes.11:4-5; 59:17; vgl. 49:2; 52:7.

Jes.11 praat van die Messias koning uit die geslag van Dawid. Nadat God vir Assirië gebruik het om Israel met brute geweld in ballingskap weg te voer, omdat hulle God verlaat het, ten spyte van die waarskuwings van Amos, Hosea en Jesaja, het Hy Juda laat oorbly en konings soos Joas en Hiskia uit die nageslag van Dawid die seun van Isai vir Juda laat terugkom na die Here, en hulle het met geregtigheid regeer omdat die Gees van die Here op hulle gerus het (Jes.11:1-2).

11:4b sê letterlik: (Die Here) sal die aarde met die roede (rottang) van sy mond en met die asem van sy lippe die goddeloses doodmaak (soos in die OAV – ou Afrikaanse vertalings van 1933/53. Die NAV – nuwe Afrikaanse vertaling van 1983 sê: Hy sal die goddeloses in die land hard oordeel, met sy uitsprake sal hy hulle om die lewe bring)

Die Here se krag word hier uitgedruk met die roede van sy mond en die asem van sy lippe. Die brute krag van die bosbouer sal nie meer nodig wees om Israel uit te kap nie. Egte gesag sal deur die koning se wetgewing uitgeoefen word, en die skuldige misdadiger sal deur ‘n ordelike regsproses aan bande gelê word.

Vgl.Ef.6:17 se swaard van die Gees, dit is die woord van God.

11:5 sê letterlik: En geregtigheid sal die gordel om sy lende wees, en getrouheid die gordel om sy heupe (soos die OAV. NAV sê: hy sal regverdig en betroubaar regeer).

Vgl. Ef.6:14 die waarheid as gordel om julle heupe, met die borsplaat van geregtigheid (NAV vryspraak deur God).

In Jesaja 49, 52 en 59 praat ‘n profeet in die gees van Jesaja oor die Persiese konings wat God gebruik het om Juda terug te stuur na Jerusalem, nadat die Babiloniërs onder Nebukadneser hulle na Babel weggevoer het (vgl. 44:28-45:1 vir die Persiese koning Kores).

49:2 praat van die mond wat ‘n skerp swaard is, vgl. Ef.6:17 se swaard van die Gees, dit is die woord van God.

52:7 praat van die voete van die boodskapper van die goeie tyding, vgl. Ef.6:15 se bereidheid om die evangelie (goeie boodskap) van vrede te verkondig as skoene aan die voete.

Jes.59:17 praat van geregtigheid soos ‘n pantser en redding as die helm op sy kop – vgl. Ef.6:14 se borsharnas van geregtigheid (NAV vryspraak), en 6:17 se helm van verlossing.

In Efesiërs 6 praat Paulus van elke gelowige. God gee, deur sy Gees wat in ons kom woon het, aan ons die krag om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in ons harte sal woon met sy liefde, om ons daarin te wortel en te grondves, dat ons gevul mag wees met die volheid van God se liefdeskrag (Ef.3:14-19). Daarom loop Paulus se hele argument in die brief uit op die oproep om die volle wapenrusting wat God tot ons beskikking gestel het, aan te trek. 6:10 sê letterlik: word sterk gemaak! (NAV soek julle krag). Dit gebeur deur ons noue verbindtenis en gemeenskap met die Here (Jesus Christus) as die bron van ons krag. Ons staan nie meer onder die tirannie van die vors van die onsigbare bose magte nie, die gees wat aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is nie (2:2). Ons staan nou onder Christus se regering van liefde met Hom as ons hoof (1:21; 3:18).


2.  Die oorlogsterrein van Ef.6 is die stryd van die Here se kerk gesamentlik en elkeen wat in Christus glo afsonderlik teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug, die listige aanslae van die duiwel (6:11-12), dit is die Bose mag vir wie hierdie wêreld se mense volg in ongehoorsaamheid aan God (2:2). Dit is God wat stry teen die satan wat ons aanval, en Hy staan ons in die stryd by. Met die aantrek van God se volle wapenrusting wat Hy aan ons beskikbaar stel, gebruik Paulus ‘n beeld, soos hy in 4:22-24 letterlik die beeld van ou klere uittrek en nuwe klere aantrek gebruik het (soos in OAV. NAV sê: breek met die ou sondige mens in julle…lewe as nuwe mense). Die oorlogsterrein is ons alledaagse lewe (lees die bespreking daarvan in Ef.4:25-5:21: ons stryd teen: leuens, kwaadword, steel, vloek, bitterheid, woede, lastering, hoerery, gierigheid, dronkenskap.


3.  Die geveg. Dit is ‘n geveg om te lewe soos kinders van God wat vasstaan teen die aanslae van die duiwel (vier maal word die woord staan, vasstaan, weerstaan gebruik: 6:11,13,13,14). Daar is aanhoudend en ‘n wye verskeidenheid van aanslae van die duiwel. V16 sê dit soos brandende pyle wat hy teen ons afskiet. Dit kom as versoekings in ons om verkeerd op te tree, maar kom ook van buite deur mense en groepsdruk wat ons verlei (soos die reeks in 4:25-5:21 aandui). Christus het reeds die stryd gestry en oorwin. Daarom moet ons by Hom skuil, en deel in sy oorwinning deur nee te sê vir die versoekings van ons eie hart en geaardheid, en beklee word met die liefde van Christus in ons denke en optrede. Paulus noem die geveg ‘n worstelstryd (NAV stryd) met ‘n beeld uit die stoeigevegte van sy tyd (v12). Maar hier is dit nie twee liggame se spierkrag teen mekaar nie, maar ons gees teen die bose gees wat ons aanval in ons denke en optrede, en van buite deur die denke en optrede van ander mense.

Ons wapens is egter die waarheid as gordel om ons heupe (6:14), soos die Romeinse soldaat se leer gordel wat sy onderlyf en bobene beskerm teen pyle. Ons moet die waarheid van die evangelie se verlossing en nuwe manier van lewe aantrek en dit in ons houding, taal en gedrag uitleef (4:25).

Ons borsharnas is geregtigheid (4:25; NAV vryspraak), die regte verhouding teenoor God en die regte optrede teenoor mense (vgl. 4:24 volgens die wil van God; 5:1,2 in liefde). Die Romeinse soldaat het ‘n koper borsplaat gedra om sy borskas en hart te beskerm teen pyle en swaarde. So moet ons harte beskerm word deur reg te lewe met God en ons medemens.

Die Romeinse soldaat het leerskoene gedra vir die lang opmarse sodat sy voete kan bly marsjeer of hardloop (6:15). Die gelowige moet gereed wees om die goeie nuus van die vrede wat Christus vir ons met God en met mekaar bewerk het (2:14-18) te gebruik om op die geestelike terrein te gaan veg teen die ongelowiges, deur vir hulle van die vrede te vertel en dit teenoor hulle uit te lewe.

Geloof as skild (6:16). Die Romeinse soldaat het ‘n groot skild gedra, met ‘n houtraam wat met kalfsvel oorgetrek is en bo en onder met yster versterk is, om sy hele liggaam te bedek teen pyle wat met pik gesmeer en brandend afgeskiet is, en swaard aanvalle. Die geloof is vir die Christen sy skild teen die aanvalle van die Bose. Die geloof is ook ‘n gawe van God (2:8 letterlik: dit – nl. redding en geloof; NAV redding). Dit is vertroue in God, in Hom wat ons saam met Christus Jesus uit die sonde opwek en ons gemaak wat ons nou is. In Christus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (2:7,10).

Die helm van verlossing (6:17). Dit moet ontvang word (NAV opsit). Die Romeinse soldaat het ‘n bronshelm gedra om sy kop te beskerm. God het ons verlos uit die dood, die oordeel oor ons sonde, en die slawerny van die sonde, en ons in die nuwe koningkryk geplaas waar Christus regeer. Dit is sy gawe aan ons. Daarmee moet ons kop en ons denke gevul word.

Die swaard van die Gees (6:17). Die duiwel moet nie slegs teengestaan word nie, maar ook aangeval word. Die woord wat hier gebruik word, is die kort swaard wat die Romeinse soldaat gebruik het in man tot man geveg. Die Gees maak die swaard wat ons hanteer kragtig. Die swaard is die woord van God, die evangelie, die goeie nuus oor Christus se verlossing wat ons aan ander vertel, en wat die Gees gebruik om hulle te oortuig.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Groot Geloofswoordeboek: Die wil van God

Die Groot Geloofswoordeboek: Die wil van God

Wil van God Plan van God

Een van die klassieke godsdienstige vrae is: Hoe kan ek weet wat die wil van God vir my lewe is? Dikwels word juis die ander woord gebruik: Wat is die plan van God vir my lewe?

Hieronder stel veral jongmense hulle dan die besonderhede van hul lewe voor: met wie moet ek trou, wat moet ek word, waar moet ek bly, by watter “kerk” moet ek aansluit, moet ek/ons trek, moet ek/ons ’n nuwe motor/huis koop, en nog baie ander. Mense kry dan dikwels in die Bybel “leiding”. Op die vraag of hulle moet trek, kry hulle Esegiël 20:46 en trek dan na ’n plek in die suide. ’n Mense hoor dikwels hoe sulke leiding gewerk het, want mense vertel dit graag. Maar selde hoe dit nié gewerk het nie, want wie sal dit graag vertel?

Die agtergrond van hierdie vrae is dikwels ’n bepaalde siening van God se *voorsienigheid. God het vir my ’n bepaalde vrou, werk, motor, huis beskik, en dit moet my keuse wees. Veral as men­se aanvaar dat jy ’n fout kan maak, word dit ’n lastige saak. As een enkele man met die “verkeerde” vrou trou, word dit chaos. Dit beteken im­mers dat die vrou met wie hy moes getrou het, nou ook met ’n verkeerde man gaan trou, en die man met wie die “ver­keerde” vrou moes trou, ook ’n “verkeerde” vrou gaan kry! En hier­die laasgenoemdes se bestemde vrou of man? Met die “regte” huis, werk, motor gaan dit net so. Een enkele fout gooi omtrent die hele sisteem uit rat.

Miskien moet ’n mens oorweeg om die saak anders te bena­der. Kom ons kyk van twee kante af.

Eerstens is daar inderdaad ’n sin waarin ons seker is oor wat God se wil vir ons lewe is. Sy wil is dat ons Hom bo alles sal lief­hê, en ons naaste soos onsself. Sy wil is dat ons sy wet sal on­derhou, dat ons aan Hom gehoorsaam sal wees, dat ons eerlik sal leef, dat ons ons lewe aan Hom sal toewy, dat ons na mense in nood sal omsien, en noem maar op. Dit is inderdaad sy konkrete wil vir my lewe, want dit is sy wil vir alle mense.

Dit klink nou wel nie heeltemal so romanties nie. Ek word dan net een van die massa. Maar dit sal my inderdaad ’n heel besondere mens maak as ek sy wil doen. Daar is nie so vreeslik baie mense wat dit doen nie.

Tweedens sal die familie, vriende en omstandighede my ge­woon­lik baie help om te besluit oor meer spesifieke dinge, soos my beroep en huweliksmaat. Ek sal natuurlik die leiding van die Here daarin soek, maar nie op so ’n meganiese manier nie. Ek sal Hom wysheid vra om te kan besluit wie met watter agter­grond, geaard­heid, karakter, belangstellings by my sal pas. Of kom ons sê dit ’n bietjie minder selfsugtig: Wie is daar met al hierdie eienskappe wat ek gelukkig sal kan maak? Watter beroep sal ek met my besondere samestelling die beste kan doen?

Miskien is die groot vraag uiteindelik nie of ek juis ’n apteker of prokureur of loodgieter of sendeling moet word nie, maar of ek as apteker of prokureur of loodgieter of sendeling regtig die wil van die Here sal doen, regtig die Here en my naaste sal liefhê, reg­tig vir mense sal omgee. Miskien is die groot vraag nie of ek juis met Sannie of Annie of Sara moet trou nie, maar of ek Sannie of Annie of Sara gelukkig sal maak deur vir haar om te gee.

Maar ’n mens moet nie vergeet dat God dalk tog ’n sin vir humor het nie. Mense kry leiding uit die snaaksste tekste, tekste wat nie naastenby beteken wat hulle daarin lees nie, en later blyk dit tog soms presies die regte besluite te gewees het.

 

Skrywer: Prof Adrio König