Die Groot Geloofswoordeboek: Godsdiensvryheid

Die Groot Geloofswoordeboek: Godsdiensvryheid

Godsdiensvryheid lê na aan die hart van Protestantse gelowiges. Dink maar net aan die dae van die Kerkhervorming toe die Pro­testantse geloof deur die Katolieke Kerk en sommige regerings in Europa verbied is. Dink net hoe ons voorouers in Frankryk vervolg en gemartel is en veral na Holland gevlug het van waar hulle na die destydse Kaap van Goeie Hoop geëmigreer het. Dit is waar baie van die Franse name, soos De Villiers, Du Toit en Le Roux, vandaan kom. Daarom is die vryheid van geloof en die vryheid van ons gewete baie kosbaar vir Protestante.

Verder is die evangelie meer werd as om op mense afgedwing te word. God wil hê dat ons Hom in vryheid sal liefhê en dien. Trouens, gedwonge liefde is nie die naam liefde werd nie.

En tog is daar ook weer ‘n ander kant van waar ons moet kyk. Terwyl mense die vryheid behoort te hê om die geloof van hul oortuiging te beoefen, gaan dit ons as Christene ten diepste aan watter God hulle dien. As daar net een ware God is, en as die mensdom se heil in sy hande lê, is ons dit om menslikheidsredes aan hulle verskuldig om dit vir hulle te sê.

Trouens, daar is ‘n sin waarin God self juis nie mense vrylaat om ander gode te dien nie, maar hulle dringend oproep om Hom te dien. En ons is sy gesante. Ons glo dat hierdie mense alles mis solank hulle nie vir Jesus ken nie. En ons glo verder ook nog dat hulle Hom nie kies nie juis omdat hulle in ‘n sekere sin nie vry is nie, maar gebonde in hulle eie godsdiens of ongeloof. Eers as die Seun ‘n mens vry gemaak het, is jy werklik vry (Joh 8:36). Ons moet dus alle “ordentlike”, beskaafde druk op mense uitoefen om die regte keuse te maak (*Sending) terwyl ons staatkundige godsdiensvryheid ten volle eerbiedig en onderskryf.

 

Outeur: Prof Adrio König