Grondhervorming

Grondhervorming – Kobus Kok

Francois vra: 

Watter riglyne gee die Bybel vir Christene in verband met grondhervorming in Suid Afrika? As die Bybel nie riglyne gee nie, wat is die riglyne wat die Christelike etiek gee?

Antwoord 

Dr Kobus Kok antwoord:

Bybelse Perspektief op Grondhervorming – Dr. Kobus Kok

Grondhervorming is ʼn sensitiewe saak in Suid-Afrika. Indien mens vanuit die perspektief van die boere dink, dan kan mens hulle eie vrese, moedeloosheid en hartseer verstaan. Ek het verlede week terug gegaan na die plaas waar ek as kind grootgeword het. Ek onthou die plaas nog deur die oë van ‘n jong kind wat vry in die koppies kon rondhardloop en in grotte kon kruip. Die plaas is in die bosveld en ek onthou die ryk plantegroei, die wild en die biodiversiteit. Die plaas is uiteindelik deur grondhervorming aan die stam gegee wat dit oorspronklik besit het voor hulle noodgedwonge verskuif is. Binne ‘n tydperk van net meer as ‘n dekade het die plaas so agteruitgegaan dat ek op ‘n stadium in my hart gehuil het en wou skree “Wat het van hierdie pragtige plek geword?” Alles lyk anders. Die bome is uitgeroei vir brandhout en saam met die bome baie ander bio-diversiteit aangesien die ekologie sistemies van aard is. Beeste loop oral rond en eet die gras tot op die grond. Op sommige plekke is daar letterlik woestyn waar daar eens digte bos was. Geboue is afgebreek, vensters gebreek, dakteëls skeef, swembaddens leeg getap en drade platgetrap. My hart breek nog steeds omdat ek die fotos het om te wys hoe dit eens op ‘n tyd gelyk het – ‘n hersenskim van wat dit eens was. Grondhervorming is en bly ‘n sensitiewe saak.

Aan die ander kant is daar ook diegene, soos die stam wat die plaas ontvang het na die grondhervorming wat doodgelukkig is en wat dit alles sien as die Voorsienigheid van Bo. Vir hulle het restourasie, hoop, geregtigheid en vrede plekgemaak vir die pyn en verlies van gedwonge verskuiwings. Vir hulle het God uiteindelik die klaagliedere van die stam verhoor.

Wie is reg? Wat sê die Bybel.

Wel, die Bybel sê bitter min daaroor. Hier en daar is daar miskien ‘n Ou Testamentiese teks waarmee mens so bietjie kan werk. Maar vir die res is daar baie min. Die Nuwe Testament het myns insiens implisiet baie wat ons kan help om deur hierdie tyd te navigeer.

Vroeër in die week het ek ‘n lesing bygewoon waar prof Kathy Ehrensperger van Wallis oor Paulus se teologie kom praat het. Sy het daarop gewys dat die Romeinse Ryk ‘n paternalistiese sisteem was wat in dominasie en diskriminasie gespesialiseer het. Dit was ‘n wêreld van baas en klaas. Rome was die baas. Dit was duidelik in hulle munte waarop die gesig van die Keiser verskyn het en hy God en redder genoem was, die een wat vrede en sekuriteit gee. Maar Rome het ook net gegee aan die wat vir hulle iets kon gee. Rome was dus in wese ‘n wrede sisteem waar 95% van alle mense onder die broodlyn geleef het wat 200 denarii per jaar was. Eksploitasie was aan die orde van die dag.

Jesus het egter gekom om ‘n nuwe Koninkryk te bring. Hierdie koninkryk is die koninkryk van die Hemele (vgl. Matt 20) wat radikaal verskil van die Koninkryk van die aarde. In God se koninkryk is die eerstes laastes. In God se Ryk is Rome laaste op die lys van bevoorregtes. Rome is die verloorders, die bejammerenswaardigste in God se oë.

Rome se mans het eer in die oë van mense gehad indien hulle liggame van voor af die merke van oorlog kon wys. Oorlogslittekens het gewys dat jy ‘n man was wat jou man kon staan. Indien jy littekens van agter gehad het op jou rug het dit gewys dat jy swak is, en dat jy nie regop in die lewe kan staan nie. Slawe is op hulle rug geslaan en die merke van vernedering sou hulle altyd herinner aan die feit dat hulle slawe-status het. Ironies roem Paulus nie op sy Romeinse burgerskap nie maar op sy swakheid. Die vernederende merke op sy lyf het juis gewys dat hy in God se oë waarde het. Hy het immers die merke omdat hy verneder is ter wille van God en sy evangelie boodskap – die roeping waartoe God hom op die stofpad van Damaskus geroep het. Paulus beklemtoon dat hy juis sterk is as hy verneder word en as hy swak is – want dan kom God se krag die sterkste te voorskyn. God se Koninkryk werk anders as Rome. Waar Rome heers en domineer en op ‘n heilige oorlogspad was om die ganse wêreld aan Rome te onderwerp, het Paulus se God kom wys dat ware grootheid nie in dominasie is nie, maar juis daar is waar die swakkes bemagtig word, die gemarginaliseerdes tot eregaste verhoog word. Waar Rome graag grense wou trek tussen wie in en wie uit was, wie beskaafd en wie barbaars was, het Paulus se God kom wys dat Sy Koninkryk anders lyk. In God se Koninkryk is mense een (Gal 3:28; 1 Kor 12:13; Kol 3:11) en is rekonsiliasie tussen mense, die herstel van gebrokenheid en die skep van ‘n nuwe familie, die ruimteskepping van geregtigheid en die opheffing van eksploitasie die weg van die radikale nuwe beweging. Jesus het gesê dat sy mense anders moet wees as die stereotipiese mens van die Romeinse Ryk. Waar iemand jou onreg aangedoen het en jou eer kom skade aandoen het moes jy in die Romeinse denke terugveg en hulle verneder om jou eer weer terug te wen. Jesus sê nee, iemand wat aan God se Koninkryk behoort kan dit nie doen nie – God laat nie toe dat mense ander mense domineer nie. Hierdie God laat net bemagtigende liefde toe. Hierdie liefde is agter radikaal. Dit is nie die Griekse fileo -vriendskapsliefde of die selfgesentreerde Griekse eros- liefde wat fokus op wat die individu uit die transaksie kan kry nie. Nee, hierdie liefde is agape liefde, self opofferende liefde in navolging van Hom wat sy eie lewe neergelê het (Fil 2:5-10).

Die weg van Jesus is radikaal. Dit intensiveer en radikaliseer die wet (Matt 5:17-19). Dit is baie moeilik om na te volg en vra dat mag dikwels weggee word as wat mag opgeneem word. Dit vra eerder dat ander bemagtig word en nie ontmagtig word nie.

Hierdie radikale Jesus etiek, wat fokus op die herstel van ongeregtigheid en die bemagtiging van mense daag ons almal uit. Sommige mense sê dat die Europeër in Afrika net soos die Romeinse Ryk nie die Christelike waardes van Jesus gebring het nie, maar die koloniale waardes van Rome op Afrika kom afdruk het. Hulle is van mening dat die Europeër Afrika kom domineer en eksploiteer het. Ons weet dat miljoene Olifante, buffels en ander diere vir sport uitgemaai was. Sommige mense voel heeltemal anders. Hulle voel dat die Europeër in Afrika ook baie goeie dinge gebring het, dat mense bemagtig is en dat die mense van hierdie land en die infrastruktuur ontwikkel is. Of die Europeër nou verwoesting, dominasie en eksploitasie soos Rome kom saai het, of bemagtigende Jesus waardes in Afrika kom vestig het, een ding bly dieselfde: Die evangelie. Die evangelie daag ons uit om liefdevol te leef en om nie mag te versamel nie, maar mag uit te deel. Indien mens hierdie bril opsit, verander dit baie hoe mens na die wêreld kyk, nie net na mense nie maar ook na die natuur.

As ek hartseer terugkyk na die plaas wat diep in my hart as kind gekruip het, sien ek met een stel oë. As ek die bril van die Afrika stam wat die plaas na hervorming terug ontvang het opsit, sien ek ander dinge raak met daardie stel oë. As ek die agteruitgang van die natuur op die plaas bekyk en deur die bril van die ekologiese teologie kyk, sien ek die eksploitasie en wanbestuur van die natuur raak. Ek is bly dat die mense wat oorspronklik op die plaas gebly het die grond kon terugkry, maar ek is hartseer dat hulle dit nie bestuur nie. My Christelik profetiese stem dwing my om namens die natuur, namens dit wat was en dit wat kan wees te skree vir geregtigheid en vir restourasie van die natuur. Paulus het dikwels ook magsvorme gebruik om die misbruik van mag te korrigeer en die balans te herstel. Paulus was nie altyd ʼn “sagte” leier nie. Wanneer dit nodig was, het Jesus ook met mag gereageer (vgl. John 2 by die tempel) om negatiewe magstrukture af te breek of te ontbloot. Myns insiens is dit die plig van Christene in hierdie land om ter wille van die natuur en die welstand van ons land ook op te staan teen wanbestuur en ekologiese magsmisbruik. Die vraag is egter hoe mens hierdie vorm van mag-as-bemagtiging uitoefen. Hierdie mag kan opbouend en bemagtigend uitgeoefen word, soos deur die skep van televisieprogramme en debatsprogramme waar hierdie kwessies aangespreek word. Neem net die program CarteBlance wat die misbruikers van mag so goed kan uitdaag met die etiek van aanspreeklikheid. Nog ‘n voorbeeld, deur middel van opleiding kan ‘n volgende generasie bemagtig word om beter bestuurders te wees. Daar is dus baie maniere hoe mag-as-bemagtiging ter wille van geregtigheid uitgeoefen kan word. Wysheid is die sleutel. Jesus het nie dominerende mag met dominerende mag aangespreek nie, maar mag met bemagtigende liefdesdiens aangespreek. Laat ons dus fokus op die Christelike wyse waarop bemagtiging uitgeoefen kan word. Dit is nie die maklikste nie, maar dit is die Weg van Jesus…

U kan gerus meer in diepte lees oor die onderwerp:

Prof Piet Naude, ‘n Besinning oor God vandag, Cum Boeke

 

Skrywer: Dr Kobus Kok