Die Handelinge van die Apostels: Mattias word in Judas se plek gekies (Hand 1:15-26) – Francois Malan

1:15 ‘In
daardie dae’ is ’n onbepaalde uitdrukking wat Lukas graag gebruik (6:1; 11:27).
Soos met die ‘eerste periode’ van Jesus se werke (Luk 1:5) plaas Lukas hier ’n
belangrike gebeurtenis aan die begin van die ‘tweede periode’ van Jesus se
werke. In hierdie wagtyd wat Jesus beveel het (1:4) plaas Lukas die verkiesing
van ’n persoon in die plek van Judas tot die twaalftal wat Jesus as apostels
aangestel het (Luk 6:13). Dit is die begin van Jesus se optrede deur sy
gemeente
. Die verkiesing vind plaas in ’n byeenkoms van die apostels saam
met die res van die gemeente (vgl. ook 6:2).

Petrus staan
op tussen die broers as die woordvoerder van die twaalf, soos in Lukas 9:20;
8:45; 12:41; 18:28. Jesus het hom ook aangestel om sy broers te versterk (Luk
22:32). ‘Broers’ is ‘n benaming wat van die Ou Verbond oorgeneem is
(vgl. Hand 13:15; 22:5; 28:17,21). Maar vir die gelowiges het broers ’n dieper
en breër betekenis gekry deurdat Jesus sy volgelinge broers genoem het (Matt
25:40; 28:10; Joh 20:17). Broers (adelfoi) word dikwels gebruik vir
almal wat in Christus glo en sluit susters in. As broers van Jesus word
Christen-gelowiges kinders van God se gesin. Die gemeente in Jerusalem het
intussen aangegroei tot tien maal die aposteltal. In die lig van 1:14 was dit
120 mans en vroue. Die plek waar die 120 vergader het kon beswaarlik ’n
bovertrek van ’n huis gewees het, en verwys moontlik na een van die sale op die
tempelterrein vanuit die pilaargang van Salomo (vgl. Luk 24:53; Hand 3:11;
5:12).

1:16 Hier is
die eerste van ’n reeks toesprake van Petrus wat Lukas opteken. Hy spreek die
byeenkoms aan as ‘manne broers’ (andres adelfoi; die manlike anêr verwys
na ’n man, maar die meervoud ‘manne’ verwys dikwels na mense in die algemeen,
soos ‘broers’ ook ’n algemene term is vir gelowige mans en vroue. Die
kombinasie ‘manne broers’ gebruik Lukas ook in 2:29,27; 7:2; 13:15,26,38;
15:7,13; 22:1; 23:1,6; 28:17).

Petrus verwys
na Ps 41:10 waar die Heilige Gees by monde van Dawid oor Judas gepraat het, en
nou met die Seun van Dawid andermaal vervul is: ’Selfs my vriend, wat ek
vertrou het en wat saam met my eet, het die hakskeen teen my gelig.’ So het
Judas as gids opgetree vir die mense wat Jesus gearresteer het. Vir Lukas is
die eintlike spreker by alle profesieë die Heilige Gees wat deur mense praat
(Hand 4:25; 28:25), so ook vir die getuienisse van gelowiges oor Christus deur
die eeue (vgl. 2 Petr 1:20-21). Daarom sê Petrus aan die begin van sy rede dat
dit so moes gebeur het. Die woord ‘moes’ (edei imperfektum van dei
wys op die voortgang van die noodwendigheid) wys hier na God se woord in die
Skrif wat vervul moes word (plêroō volmaak, voltooi, die ware betekenis
gee). Soos Dawid destyds ondervind het dat sy skoonvader Saul en later sy seun
Absalom en sy vriend Agitofel teen hom gedraai het (2 Sam 15:31), het die
Heilige Gees vir Dawid die woord laat neerskryf wat ook met Jesus sou gebeur.
Dawid word verder aangehaal in Hand 2:25, 29,34; 4:25 wat telkens na die Psalms
verwys. In Handelinge haal Lukas die Skrifte aan om die voortsetting van
Christus se werk deur sy volgelinge te verduidelik. Ps 41:10 word ook na verwys
in Mattheus 26:24; Markus 14:18; Lukas 22:21 en Johannes 17:12.

1:17 Petrus
verwys na Judas Iskariot se roeping, dat hy as een van hulle groep gereken is (katarithmeomai
as lid getel word, wat aan hulle behoort). Die passiewe perfektumvorm van
die werkwoord dui aan dat God hom as ’n blywende lid van hulle groep (van
twaalf apostels) gereken het (vgl. Luk 22:3); en hy het ’n aandeel aan hierdie
diens (van God) ontvang (vgl. Luk 6:12-13; 9:1-2). Daarmee beskryf Petrus
die bevoorregte posisie van Judas
.

1:18-19
Hierdie weergawe verskil van Mattheus 27:3-10 se weergawe van wat met Judas en
sy geld gebeur het.  In Mattheus 27:6,8
word die naam van die plek Bloedgrond 
afgelei van die onskuldige bloed van Jesus (Matt 27:4). In Handelinge
word die naam afgelei van die skuldige bloed van die verraaier (Hand 1:19). In
Matt 27:7 het die hoëpriester die grond met die bloedgeld gekoop as ‘n
begraafplaas vir vreemdelinge. Volgens Handelinge het Judas self die grond
gekoop. Mattheus 27:5 beskryf sy selfmoord as ’n oordeel oor homself.
Handelinge skep die indruk dat dit God se oordeel oor Hom is – hy val en bars
oop. Die verskil wys na twee verskillende mondelinge tradisies daaroor wat by
Mattheus en Lukas uitgekom het. Augustinus het die twee gekombineer met die
voorstel dat Judas homself opgehang het, afgeval en oopgebars het. Mattheus
beklemtoon Judas se wroeging, wat hom tot selfmoord lei; Petrus op dit wat ná
Judas se dood moet gebeur, dat sy plek gevul moet word. Handelinge voeg
die ouer Aramese naam Akeldama vir Bloedgrond by. Die grond is geleë oorkant
die Hinnomdal aan die suidekant van die ou stad Jerusalem.

1:20  Die berig oor Judas se dood het Petrus se
inleiding tot die verkiesing van iemand in Judas se plek onderbreek om aan te
toon dat daar ’n vakature ontstaan het met Judas se dood. Die argument in vers
17 gaan hier voort om ’n rede uit die Skrif te gee waarom Judas se vakature
gevul moet word: ‘want daar is in die boek van die Psalms geskryf:

‘laat sy
woonplek verlate word, en laat geen inwoner daarin (in sy tente) bly nie’ (Ps
69:26)

en ‘laat ’n ander sy diens as kerkleier (episkopê) oorneem (laat oorneem laboi optatief,’n wens)’  (Ps 109:8).

laat oorneem (labetō imperatief, ’n opdrag) (Handelinge 1:20)

Die twee
aanhalings kom amper net so voor in die Septuaginta, die Griekse
vertaling van die Ou Testament, wat die Bybel van die eerste gemeentes was. Dit
was nog voordat die Nuwe Testament se boeke versamel was en later saam met die
Ou Testament gebruik is. Die aanhalings word egter hier in ’n ander sin as in
die Psalms gebruik. Ps 69 gaan oor ’n lydende regverdige wat sy vyande vervloek.
Petrus pas Ps 69:26 se ‘verlate woonplek sonder inwoner’ toe op Judas, wat sy
apostelskap vakant/verlate gelaat het.

Die bidder se
wens in Ps 109:8, verander Petrus in ’n opdrag van die Here oor Judas se
amp. In Ps 109:8 kla die bidder dat sy vyande sê: iemand anders moet sy amp
oorneem. Daarom vra die bidder dat die Here sy vyande moet straf. Petrus pas
die teks egter toe op Judas se vakature in die apostelamp en dat ’n ander
daarom Judas se amp moet oorneem.

Ou
Testamentiese tekste word toegepas op Christus en sy gemeente. In
Christus is daar ’n innerlike eenheid tussen die Ou en Nuwe Testamente. Die Ou
Testament is vir die skrywers van die Nuwe Testament ’n boek vol geheimenisse
van God. Die Heilige Gees onthul aan hulle stellings en gebeure in die Ou Testament
wat op Christus en Christene van toepassing is. Daarom word die Ou Testament in
die lig van die Christusgebeure uitgelê en kry Ou Testamentiese stellings,
onder leiding van die Heilige Gees, ’n heel nuwe en voller betekenis. So
gebruik die Heilige Gees die Ou Tstamentiese tekste om Petrus te lei.

Wat Hand 1:25
die ‘apostelamp’ noem (apostolê spesiale gesant), word volgens Ps 109:8
as ’n ‘opsienersamp’ gesien (episkopê diens as leier).Volgens Hand 20:28
word die ouderlinge deur die Heilige Gees aangestel as opsieners (episkopos
versorger, helper en leier) oor die hele kudde om die gemeente van God
herderlik te versorg. Die beslissende kenmerk van die christelike apostelamp
is egter diens
, in navolging van Christus (Hand 1:25 hierdie diens, diakonia,van apostel; Luk 22:27 ‘Tussen julle is Ek egter soos een wat dien (diakoneō).’
[episkopos is in Engels vertaal as bishop, wat wel ’n opsienersamp
aandui, wat dikwels net as ’n gesagvoerder oor ander beskou is en nie altyd as
’n diens aan ander nie].

1:21-22  Die gevolg van die Skrifaanhalings in vers 20
is dat iemand in Judas se plek gekies moet word. Maar dit moet van die manne
wees wat van Jesus se doop deur Johannes tot die dag van Jesus se hemelvaart,
die hele tyd saam met Jesus en die apostels was. Een van dié verkose manne moet
saam met die apostels getuig van Jesus se opstanding uit die dood. Om een van
die kring van twaalf apostels te word, moes hy die hele tyd ’n ooggetuie
gewees het van Jesus se optrede. Die eintlike vereiste is dat hy Jesus persoonlik
moes ken, Hom gevolg het en getuie van sy opstanding is. Letterlik staan daar
dat hy ‘die hele tyd wat Jesus in en uit onder ons was,’ saam met ons was. ‘In-
en uitgaan’ is ’n Semitiese uitdrukking wat daaglikse omgang aandui, soos in
9:28 se ‘assosieer en besoek.’ 

1:23 Die
gelowiges wat daar bymekaar was, neem Petrus se voorstel aan, dat iemand in
Judas se plek gekies moet word, volgens die tekste wat Petrus aangehaal
het. Hulle het toe twee manne voorgestel (moontlik was hulle twee deel van die
72 van Lukas 10:1).

Josef het drie
name, twee Joodse en een Latynse naam: Josef heet na die stamvader Josef, maar
word ook Barsabbas ‘genoem’ (kaleō iemand op sy naam noem) – Bar-sabbas,
seun van die Sabbat, of Sabbatseun – op die Sabbat gebore. In Latyn is hy
genoem (epikaleō iemand ’n hoedanigheid toesê) Justus, wat regverdig
beteken (Afrikaanse Joost). Die twee name vertel iets van die goeie naam van
die man.

Die tweede
nominant is Mattias, ’n verkorting van Mattatias, ‘Geskenk van Jahweh’
(Sy beendere is later glo deur keiser Konstantyn na Trier gestuur; deur die
Noormanne uitgehaal, wonderbaarlik later weer gevind. Dit is dan die enigste
apostel wie se beendere in Duitsland rus – die skedel in Italië).

Ons hoor egter
nie weer van die twee in die Nuwe Testament nie, behalwe in Hand 6:2 waar die
twaalf
vir die laaste keer saam opgetree het, met Mattias waarskynlik onder
hulle (vgl. Openb 21:14 vir die twaalf name op die simboliese twaalf fondamente
van die Nuwe Jerusalem, as grondleggers van Jesus se kerk, vgl. Matt 16:18). In
Luk 22:29-30 het Jesus vir die twaalf wat deur al sy beproewings by Hom gebly
het, gesê dat Hy aan hulle ’n koninkryk bemaak sodat hulle in sy koninkryk aan
sy tafel kan eet en drink, en op trone kan sit om reg te spreek oor die twaalf
stamme van Israel. 

1:24 Die
verkiesing word deur die eensgesinde gebed van die hele groep voorberei (proseuksamenoi
eipan ‘
biddende het hulle gevra’). So het Jesus ’n nag in gebed deurgebring
voor Hy die twaalf apostels uitgekies het (Luk 6:12-13; vgl. Hand 1:2) en het
die gemeente in Antiogië biddende vir Paulus en Silas uitgestuur (Hand 13:2-3;
vgl. ook Hand 6:6). As Here en kenner van die harte word Jesus gevra om
die regte persoon van die twee aan te wys, wat Hy reeds as sy apostel uitgekies
het, omdat Hy as God weet wat in die mens is (Joh 2:25; Luk 5:22; 6:8; 9:47).
Die verkiesing van Mattias is die eerste taak wat Jesus deur die apostels
verrig ná sy hemelvaart. 

1:25 Die Here
word gevra om iemand aan te wys ‘om die plek (ton topon) in hierdie diens
(diakonias tautês) van apostelskap oor te neem…’ Hier beklemtoon die
gemeente se gebed dat die apostolaat ‘’n diens’ is. Jesus stuur mense uit (apostellō)
in sy diens, om soos Hy, sy nederige dienende getuies te wees.

Judas
(Iskariot) het egter sy ‘plek’ in hierdie diens van apostel laat vaar om na sy
‘eie plek’ of ‘besondere plek’ te gaan. Lukas speel met die woord topos ‘plek.’
Sy eie plek verwys waarskynlik nie net na sy eie grond van 1:18 nie, maar na
die plek van pyniging van Lukas 16:28 waarna die rykman verwys het. ‘Eie’ (idios)
verwys hier na sy besondere plek. In Johannes 17:12 verwys Jesus na Judas wat
verlore gegaan het as die seun van die verderf (apōleia vernietiging).
Daarvolgens het Judas sy plek in die koninkryk van God opgegee en ’n plek in
die ryk van die Satan ingeneem. Hoewel die Here hom gekies het as een van sy
twaalf apostels, het hy die plek, wat die Here vir hom aangewys het, verlaat
vir die plek van sy eie keuse

1:26 Die aanwysing deur die lot word noú verbind aan die gebed van die gemeente dat die Here moet aanwys wie Hy gekies het (Luk 1:24; vgl. Spr 16:33). ‘Hulle het geloot…’ (letterlik: hulle het aan hulle die lotte gegee). Beslissing deur die lot was goed bekend terwyl die tempel nog bestaan het. Vgl. Levitikus 16:8 waar Aäron lootjies moes trek oor die twee bokke, een gemerk ‘vir die Here’ wat hy as sondeoffer offer,  en die ander een ‘vir Asasel’ waarop hy na al die reinigings sy hande lê met al die sonde van die Israeliete, waarna iemand wat beskikbaar is die bok die woestyn injaag waar die bok agtergelaat word. Die diensbeurte van die priesters by die tempel en die keuse van die priester wat die wierook in die heiligdom moes bring is met die lot aangewys (Luk 1:9). So is die verskillende take in en om die tempel ook daagliks met die lot aan persone toegeken. Hier val die lot van die Here toe nie op dié Judas met drie name wat skynbaar die gunsteling was nie, maar op Mattias van wie niks verder gesê word nie. Hy is daarop by die elftal apostels gevoeg as die twaalfde lid in Judas Iskariot se plek. Na die uitstorting van die Heilige Gees word nie weer van die gebruik van die lot gepraat nie, maar van die direkte leiding deur die Heilige Gees. Keiser Gratianus (regeer 375-383 n.C.) het as gevolg van die misbruik van die lot, die lot saam met heidense gebruike in die kerk verbied

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die elf apostels (Hand 1:13-14) – Francois Malan

1:13-14 Na Jesus se hemelvaart
gaan die apostels na die bovertrek waar hulle na die Paasfees in
Jerusalem gebly het. Die bovertrek was gewoonlik bo-op die platdak van die huis
gebou, met ’n trap aan die buitekant van die huis. Daarom staan hier ‘hulle het
opgegaan na die bovertrek waar hulle gebly het (katamenō – oorbly vir ’n
tyd). Waarskynlik was hulle bedags in die tempel, soos Luk 24:53 sê, en het in
die bovertrek oornag. 

Die lys van die apostels se name
is dieselfde as in Lukas 6:14-16 met die weglating van Jesus se verraaier Judas
Iskariot ‘man van Keriot’ in Judea, die enigste Judeër wat soos Jesus in Judea
gebore is uit die stam van Juda. Judas het tydens Jesus se verhore selfmoord
gepleeg (Hand 1:18; Matt 27:5).

Na die vervolging van die
apostels in Jerusalem het hulle uitgewyk (vgl. Hand 12:1-3,17) en die
plekke waarheen hulle gegaan het en gaan werk het, is volgens die kerklike
tradisie met die lot aangewys.    

Simon of Simeon Petrus
en Andreas was broers, seuns van Johannes. Aan Simon het Jesus die naam Sefas
gegee, die Hebreeuse woord vir ‘rots,’ 
en Petros in Grieks. Hulle was ongeletterde vissers van Betsaida (Joh
1:41-44; Hand 4:13). Bo-oor die ruïnes van Petrus se huis in Kapernaum, langs
die ruïnes van die sinagoge, het die Roomse Kerk ’n moderne kapel gebou (vgl.
Mark 1:29). Na sy verloëning van Jesus, het Jesus volgens
Johannes 21:15-17 hom in sy amp as apostel vir die besnydenis herstel (vgl. Gal
2:9). Hy word ’n reisende sendeling in Lidda (Hand 9:32), Joppe (Hand 9:36-43),
waar die Here hom oortuig om ook na die onbesnede Romein Kornelius in Sesarea
te gaan (Hand 10:1-48). Nadat ’n engel hom uit die tronk in Jerusalem verlos
het met die vervolging van die apostels (Hand 12:1-17, hoor ons van hom in
Antiogië (Gal 2:11). Die grotte in Antiogië, waar die Christene kerk gehou het,
word na hom genoem. Volgens 1 Petrus 1:1 het hy ook in Pontus, Galasië,
Kappadosië, Asië en Bithinië gewerk (die huidige Turkye). In  Korinthe het hy ook volgelinge gehad (1 Kor
1:12; 3:22; 9:15). Die oorlewering is dat Petrus in 64 n.C. in Rome onder
keiser Nero gekruisig is, op sy eie versoek kop onderstebo. Die huidige
Vatikaan is oor sy graf opgerig, en hulle beskou hom as hulle eerste pous met
die sleutels van die koninkryk van die hemele (Matt 16:19). 

Volgens die kerklike tradisie
het Andreas onder die Skithe aan die noordelike oewer van die Swart See
gewerk, en het hy in Griekeland die laaste drie dae van sy lewe blymoedig die
Here bely terwyl hy aan ’n Andreaskruis (X) gehang het. Die Russe vereer hom as
hulle apostel, en hy is die beskermheilige van Skotland.

Johannes en Jakobus
was broers, seuns van Sebedeus en ook ongeletterde vissers (Mark 1:19-20; Hand
4:13). Hulle was neefs van Jesus. Hulle ma, Salome, was Maria se suster (Mark
15:40 sê Salome het by die kruis gestaan, en Joh 15:25 sê: Jesus se moeder se
suster het by die kruis gestaan). Jesus het hulle Boanerges genoem, seuns van
die donder (Mark 3:7; vgl Luk 9:54). Jakobus was die eerste apostelmartelaar
(Hand 12:2). Die kerklike tradisie vertel dat Johannes ná sy verbanning na
Patmos onder Domitianus, weer terug is in Efese, waar hy tydens die regering
van Trajanus (98-117 n.C.) gesterf het. Een tradisie sê dat hy deur die Jode
met klippe doodgegooi is. Hy is in Efese begrawe. Teen die berg agter die ou
stad Efese is die huidige kapel van Maria, die moeder van Jesus, op die plek
waar Johannes haar sou opgepas het tot haar dood (vgl. Joh 19:26-27; 21:23).
Hierdie boanerg het in sy tyd saam met Jesus die nederige apostel van liefde
geword, soos sy Evangelie, drie briewe, en Openbaring, getuig.

Filippus
kom van Petrus en Andreas se tuisdorp Betsaida. Hy lei Natanael na Jesus (Joh
1:44-46), en hy en Andreas lei ook die Grieke wat Jesus wou sien na Hom toe
(Joh 12:20-22). In Joh 14:8 vra hy vir Jesus: ‘Here, wys ons die Vader, en dit
is vir ons genoeg.’ Waarop Jesus vir ons ’n kykie in die Drie-eenheid gee: ‘Wie
My gesien het, het die Vader gesien….Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in
My is…’’ (Joh 14:9,11). Volgens ’n latere oorlewering het Filippus later in
Klein-Asië gewerk en in Hiërapolis gesterf.  

Thomas
– die Hebreeuse woord  te’ōma’
beteken ‘tweeling,’ daarom word hy ook genoem Didimus, ‘tweeling’ in Grieks
(Joh 11:16) Hy het onder die Parte (in die huidige Iran) gaan werk. Die
Mar-Thoma kerk in Indië beskou hom as die stigter van die Siriese kerk waarvan
hulle later afgeskei het. 

Bartholomeus
(bar-‘seun’ van Talmai), is waarskynlik Natanael (‘Geskenk van God’) van Joh
1:49. Hy kom van Kana in Galilea. In Johannes word hy sesde genoem net na
Thomas. In Matt 10:3; Mark 3:18 en Luk 6:14 word Bartholomeus sesde genoem, ook
net na Thomas. Daar is ’n onbetroubare oorlewering dat Bartholomeus die
marteldood in Indië gesterf het. Dan kon hy moontlik saam met Thomas daar
gewerk het, soos hulle in die apostellyste saam genoem word. Van Natanael het
Jesus gesê dat hy waarlik ’n Israeliet is in wie daar geen bedrog is nie (Joh
1:47). En hy het Jesus herken as die Koning van Israel (Joh 1:49). Miga 4:4
sien uit na die koms van die Messias wanneer elke man ongesteurd onder sy eie
vyeboom sal sit; so ook in Sagaria 3:10. So het Jesus ook vir Natanael onder sy
vyeboom gesien sit en wag op die koms van die Messias (Joh 1:48,50).     

Mattheus
(sy Griekse naam; Matt 9:9) word ook genoem Levi (sy Hebreeuse naam; Luk 5:27).
Hy was die seun van Alfeus (Mark 2:14). Jesus kies hierdie tollenaar, wat in
diens was van die Romeine en deur die Jode gehaat was, as een van sy 12
apostels. Hy was as tollenaar waarskynlik ’n geleerde man. Papias het ongeveer
150 n.C. geskryf dat Mattheus die woorde van Jesus in Aramees neergeskryf het.
Hy kon dit dan later in sy Griekse Evangelie gebruik het. Die Evangelie volgens
Mattheus het 5 groot gedeeltes met woorde van Jesus bymekaar gegroepeer
(hoofstukke 5-7 bergrede oor die lewe in die koninkryk van die hemele; 10 die
sending van die kerk; 13 sewe gelykenisse oor die koninkryk; 18 oor die kerk;
23-26 teen die Fariseërs en Sadduseërs en die profetiese rede). Waarskynlik het
hy uit Antiogië geskryf. Hy verwys telkens na die vervulling van die Ou
Testamentiese beloftes met Jesus se koms.   

Jakobus die kleine,
is die seun van Alfeus en Maria, een van die vroue van Galilea wat Jesus gevolg
en bedien het (Luk 6:15; Mark 15:40-41).

Simon die Seloot
of Yweraar (Luk 6:15 en Hand 1:13) word in Mattheus 19:4 Kananeus genoem, soos
in Markus 3:20. Kananaios is die Aramese woord vir die Griekse zêlōtes
wat ‘yweraar’ beteken. Dit kan verwys na ’n lid van ’n Joodse nasionalistiese
groep wat hulle beywer het vir Kanaän se politieke onafhanklikheid van Rome. In
Handelinge 21:38 word verwys na die Sikariërs (dolkdraers) wat selfs Jode wat
met Rome gesimpatiseer het, doodgemaak het. Dan het Jesus ’n tollenaar wat met
Rome saamgewerk het en ’n seloot wat teen Rome gewerk het, in sy dissipelgroep
opgeneem en hulle met mekaar laat versoen. Simon kon egter die bynaam Yweraar
gekry het bloot omdat hy ’n ywerige persoon was.   

Judas seun van Jakobus
(Luk 6:16; Hand 1:13) word in Mattheus 10:3 Taddeus genoem (waarskynlik ’n vorm
van Theodotus, ‘Geskenk van God.’ In Johannes 14:22 vra hy vir Jesus ‘Here hoe
is dit dat U Uself aan ons gaan bekend maak en nie aan die wêreld nie?’ En hy
ontvang die wonderlike antwoord van God se grootste geskenk aan ’n gelowige in
vers 23: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader
sal hom liefhê en ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ Vir die wêreldlinge,
wat nie vir Jesus liefhet nie deurdat hulle nie sy woord ter harte neem nie,
waarsku Jesus: ‘Die woorde wat julle hoor, is nie myne nie, maar dié van my
Vader wat My gestuur het.’ Wie Jesus se woorde nie aanvaar nie, verwerp
daardeur vir God. Verder weet ons niks van hierdie Judas nie.  

Hierdie uiteenlopende groep
het almal eensgesind volhard in gebed
– saam met die vroue, waarskynlik
Maria Magdalena, en Johanna en Maria die moeder van Jakobus die kleine en ’n
paar ander vroue saam met hulle, wat van die leë graf af deur die twee engele
ontmoet is (Lukas 24:10). 

Ook saam met hulle was Maria,
die moeder van Jesus, en sy broers. Sy broers, wat eers nie in Hom geglo
het nie (Joh 7:5), is nou saam met sy getroue volgelinge eensgesind in gebed.
In Mark 6:3 en Mattheus 13:55 word sy broers genoem: Jakobus, Joses, Judas en
Simon.

Jakobus,
die broer van Jesus, word die leier van die gemeente in Jerusalem nadat die
apostels uit die stad moes padgee weens die vervolging teen hulle. Paulus noem
hom eerste as een van die pilare van die kerk saam met Sefas en Johannes (Gal
2:9) en dat Jesus na sy opstanding aan Jakobus verskyn het (1 Kor 15:7). By die
Jerusalemvergadering van apostels en ouderlinge het Jakobus die laaste woord
gehad en die besluit van die vergadering geformuleer (Hand 15:13-21). Met
Paulus se terugkoms in Jerusalem na sy derde sendingreis kom doen hy verslag
aan Jakobus en die ouderlinge (Hand 21:18). Jakobus skryf ook die brief aan die
twaalf stamme in die verstrooiing, die gelowige Jode wat buite Palestina woon.
Hy noem homself ’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus (Jak 1:1).
Eusebius skryf dat Hegisippus vertel het dat die priesters hom van die toring
van die tempel afgegooi het, dat hy vir hulle gebid het en dat hulle hom met
klippe gegooi het en een hom met ’n knuppel oor die kop doodgeslaan het omdat
hy van die toring af verkondig het dat Jesus aan die regterhand van God sit en
weer met die wolke sal kom (vgl. Luk 22:69; 21:27). Hy is toe op die
tempelterrein begrawe.

In sy brief noem Judas
homself ‘dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus’ (Judas 1:1). Judas
en Jakobus is albei broers van Jesus (Mark 6:3). Hy waarsku baie ernstig teen
die valse leer wat in die gemeentes inkruip en roep die gemeentes op om in die
liefde van God te bly; met die verwagting van die ewige lewe deur die
ontferming van ons Here Jesus Christus; en om hulle te ontferm oor dié wat
twyfel; ook om ander te red deur hulle uit die vuur te ruk. Die Here het die
mag om ons van struikeling te bewaar
(Judas 1:24).

Van die ander twee broers van Jesus, Joses en Simon, is niks verder bekend nie.  Hulle het ‘eensgesind’ (homothumadon dieseldeoor iets dink en daaroor saamstem), ‘hulle toegewy’ (proskartereō jouself toewy,  daarmee aanhou – volhard) ‘in gebed’ – hulleself in die hande van God oorgegee, in afwagting op die vervulling van die Vader se belofte (Hand 1:5).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Jesus vaar op na die hemel (Hand 1:6-12) – Francois Malan

1:6 Toe hulle bymekaar was (sunerchomai) – die tydaanduiding skakel aan by vers 4 ‘terwyl hulle bymekaar was’ (sunalizō). Albei aanduidings is nie baie spesifiek of dit die laaste dag of reeds vroeër was nie, maar altwee verwys na Jesus en sy apostel-groep wat die vroue en sy broers insluit (1:14). Hulle spreek Jesus aan as Here (kurios) en vra of Jesus in hierdie tyd ná sy opstanding weer die koninkryk vir Israel gaan oprig (apokathistêmi om te herstel, om te verander tot ’n vroeëre goeie toestand, soos in die Griekse vertaling van Maleagi 4:6). Hulle dink duidelik aan die tyd van Dawid en Salomo, voor die splitsing van die ryk, toe Israel op sy hoogtepunt was en die grootste gebied beheer het. Die Israel van Jesus se tyd het die herstel van daardie goeie tyd verwag, van ’n messias/gesalfde soos Dawid (vgl. Luk 24:21; en 17:10; 3:15; Matt 20:21). Vir die groepie volgelinge van Jesus beteken hulle vraag egter meer as dit. Die vroeë kerk het geworstel met die vraag oor die nabyheid van die wederkoms van Jesus, en of God se koninkryk slegs vir Israel bedoel is.

1:7
Jesus se antwoord behels drie sake: eerstens die absolute vrymag van God die
Vader
, sy seggenskap oor sy hele skepping (vgl. Luk 12:5; Rom 9:18-23; Judas
vers 25; Openb 16:9). Tweedens: Die Vader bepaal die tye en geleenthede
voor die finale oordeelsdag en van die dag vir die herstel van alles in sy
skepping (chronos ‘tyd’en kairos ‘geleentheid’ beteken
albei onbepaalde tyd en geleentheid, wat bepaal word deur die verband waarin
dit gebruik word). Die dubbele uitdrukking ‘tye en geleenthede’ verwys na die
volheid van tyd in elke opsig. Mark 13:32 niemand anders as die Vader bepaal en
ken die tyd nie, ook nie die engele en selfs nie die Seun nie; vgl. 2 Petr
3:7-13 ). God bepaal die toekoms vir elkeen, van oomblik tot oomblik (Ps 31:16
‘my tye is in u hand’). 

1:8
Derdens open Jesus sy dissipels se eng nasionalisties-godsdienstige denke vir
sy sending die wye wêreld in
. Begin by Israel (Jerusalem), maar dit is die
beginpunt vir die verspreiding van die evangelie tot aan die einde van die
wêreld (vgl. Jesaja 49:6 se ‘uithoeke van die aarde’; Luk 2:32 se ‘lig vir die
nasies’; Hand 3:25 verwys na Genesis 12:3 se ‘al die volke van die aarde’).

Alles
wat Jesus se volgelinge doen, waarvan Handelinge verder gaan vertel, is
ondenkbaar sonder die leiding en krag van die Heilige Gees. Alles wat hulle
gaan sê en doen word saamgevat in die woord ‘my getuies (mou martures).’
As getuies van Jesus stel hulle hulleself bekend (die dissipels: Hand 2:32;
3:15; 5:32; 10:39,41; 13:31; Paulus: 22:15 en 26:16 en Stefanus: 22:20). In
hierdie vers gee Jesus opdrag aan al sy volgelinge om sy sendelinge te wees
(soos in Mattheus 28:18-20). Hulle wêreldsending is God se gawe aan hulle saam
met die ontvangs van die Heilige Gees (Jes 32:15: die Gees sal van Bo af – van
God af – op ons uitgestort word). Die Heilige Gees is die krag van God wat
hulle vir hulle taak in die wye wêreld ontvang. Hy is die krag wat hulle
getuienis oor Jesus dra.

Die
boek word ook breedweg volgens hierdie opdrag van Jesus ingedeel: eers
die getuienis aan die Joodse volk in Jerusalem en Judea, hoofstukke 1-7; dan
aan die gemengde bevolking van Samaria, hoofstuk 8;  en dan 
die heidenwêreld waarvan Rome die hoofstad was, hoofstukke 9-28. So het
die Heilige Gees hulle gelei en hulle getuienis gebruik om baie mense te
oortuig. Jesus gaan nie die koninkryk vir Israel herstel, soos hulle gevra het
nie. Húlle gaan die nodige krag ontvang met die koms van die Heilige Gees oor
hulle (soos die Heilige Gees oor Maria gekom het; Luk 1:35), en hulle sal
getuies van God se Gesalfde Koning Jesus in die ganse wêreld wees. So lyk Jesus
se program vir God se koninkryk.

1:9
In Luk 24:51 het Lukas reeds geskryf dat Jesus in die hemel opgeneem is terwyl
Hy die dissipels seën. In Mattheus 28:18 het Jesus gesê dat God aan Hom alle
mag in die hemel en op die aarde gegee het. Voor die Sanhedrin het Hy al
getuig: ‘van nou af sal die Seun van die Mens aan die regterhand van God die Magtige
sit’ (Luk 22:69). Hier in Handelinge beskryf Lukas wat die dissipels van Jesus
se hemelvaart gesien het (blepō). Luk 24:51 noem net dat Hy in die hemel
opgeneem is. Die ander Evangelies vertel nie van die hemelvaart nie.
Hand 1.:9-11 verwys 5 keer na ‘sien.’ 
‘Stip aankyk’ is ’n gunsteling uitdrukking van Lukas. Van die 14 keer
wat dit in die Nuwe Testament voorkom is 12 keer in Lukas se twee werke. Dit
wys na die intensiteit van die dissipels se kyk na die hemel. ‘Na die hemel’
word viermaal gebruik in verse 9-11 as beklemtoning van waarheen Jesus gegaan
het. Die woord ‘hemel’ ouranos word gebruik vir (i) die lug, die
uitspansel (Hand 2:5 elke nasie onder die hemel); (ii) waar God en die engele
is (Luk 11:13 die hemelse Vader); (iii) hemele in plaas van God, omdat die Jode
nie die Naam van God wil misbruik nie (Luk 15:18,21 ‘Pa, ek het gesondig teen
die hemel en in u oë’).  Hier staar die
dissipels die lug in, maar Jesus gaan waar God en die engele is. Ps 139:7-9 beskryf
God as alomteenwoordig. Jesus stap hier oor na die onsienlike vir die mens (Kol
1:15), verheerlik by die Vader, met die heerlikheid wat Hy by die Vader gehad
het voordat die wêreld bestaan het (Joh 17:5). 

Sy
hemelvaart beteken dat die verhoogde Christus oor en in die werke van die apostels
regeer. Dat ’n wolk Hom opgeneem het van hulle oë af, beteken dat God Hom ‘uit
hulle gesig’ (apo tōn ofthalmōn autōn) weggeneem het na Hom toe. Wolke
is in die Bybel die teken van God se teenwoordigheid (Luk 9:34-35; Eks
13:20-21; 16:10; 19:9; 24:15-18; 34:12; 40:34-38; 1 Kon 10:8-12). Sy hemelvaart
is die geskiedenis van Jesus se opname in die alomteenwoordigheid van God.
Sy onaanskoulike troonsbestyging is soos sy onaansienlike geboorte in ’n stal
(vgl die beskrywing van die onaansienlike gestalte van die Dienskneg van die
Here in Jes 52:14; 53:2). ’n Wolk, as teken van God se teenwoordigheid, neem
Hom, wat aan die ander wêreld behoort, weg uit die gesig van die mense van
hierdie wêreld. Dit is die nuwe bedeling. In Joh 20:29 het Jesus gesê: Geseënd is
hulle wat (Hom) nie gesien het nie en tog geglo het.

1:10  Terwyl die dissipelgroep nog stip gekyk het (atenizō)
na die hemel waarheen Hy gegaan het, ‘kyk!’ (idou let op!) twee mans in
skitterende klere het reeds voor hulle gestaan waar Jesus enkele oomblikke
tevore nog gestaan het (leukos skitterend, glansend of wit). Dit is soos
die twee mans in blink klere wat ná Jesus se opstanding by die vrouens gestaan
het toe hulle die Sondagmôre verward by die leë graf gestaan het (Luk 24:4). Engele
verskyn veral op kritieke punte in die heilsgeskiedenis, soos by Jesus se
geboorte, sy opstanding en sy hemelvaart. Gewoonlik een engel (Hand 5:19; 8:26;
10:3; 12:7; 27:23); maar hier en met sy opstanding twee engele as twee getuies
ter bevestiging en versekering van die egtheid van boodskappe waaroor mense
maklik twyfel (vgl. Deutr 19:15; 1 Tim 5:19). Soos die wolke is die engele se
glansende klere aanduidings van die teenwoordigheid van die goddelike
heerlikheid. So het Moses en Elia op die berg in glansende heerlikheid by Jesus
verskyn (Luk 9:31).

1:11
Die dissipels staar (blepō) so na die hemel en word eers bewus van die
twee manne wat voor hulle staan toe die mans met hulle praat. Hulle word as Galileërs
aangespreek (vgl Hand 2:7). Dit wys dat die engele hulle ken en skep vertroue.
Hoe hulle as getuies van Jesus gaan doen word in die hemel dopgehou (vgl. 1
Petr 1:12). Van Jesus se apostels weet ons net van Judas Iskariot, ‘man van
Keriot’ (moontlik Keriyōth-chezrōn van Jos 15:25 in die suide van Judea), wat
nie ’n Galileër was nie.

Die
engele vra ’n bietjie verwytend: waarom staan julle starende (blepontes)
na die hemel? Die dissipels verstaan die hemelvaart van Jesus wel as ’n finale
afskeid. Die engele wys egter dat dit ’n vingerwysing na die wederkoms van
Jesus is: ‘Hierdie Jesus sal netso terugkom, op dieselfde wyse as wat julle Hom
na die hemel gesien (theaomai aanhouaandagtig dophou) weggaan
het.’ Daarmee word in die eerste plek gedink aan die wolk as aanduiding
van die volkomenheid van God se teenwoordigheid, soos Jesus vir hulle gesê
het:  ‘En dan sal hulle die Seun van die
Mens sien kom in ’n wolk met krag en groot heerlikheid’ (Luk 21:27, soos in
Dan. 7:13 ‘daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n seun van ’n
mens).

Daar word niks gesê van wanneer Hy sal terugkom nie. Dit is nie vir die mens om die spesifieke tye en geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie (Hand 1:7; vgl. Mark 13:32). Maar ons weet dat die wêreld nie doelloos voortgaan nie, maar ’n verloop van ’n geskiedenis en ’n toekoms het wat die hele skepping raak, met Jesus aan die regterhand van God as die Regter en Here wat oor alles regeer (Luk 22:69). Hy sal weer uit sy goddelike onsigbaarheid te voorskyn tree vir die finale oordeel wanneer almal voor die Seun van die Mens sal staan (Luk 21:36). Daarom is die kerk geroep om orals, tot aan die einde van die aarde (Hand 1:8), te getuig van die redding deur God se genade wat Jesus berei het vir elkeen wat in Hom glo (Hand 4:12; 10:43; 16:31). 1:12 Die groepie volgelinge reageer op die engele se belofte van Jesus se wederkoms en Jesus se opdrag in 1:4 om in Jerusalem te gaan wag op die Vader se belofte. Hulle kom terug van die westehang van die Olyfberg af, waar Jesus die week voor sy kruisiging ook snags geslaap het, en waar Hy in gebed was toe Hy die nag gearresteer is (Luk 21:37; 22:39). Sagaria 14:4 plaas die oordeel op die dag van die Here op die Olyfberg. Die plek van die hemelvaart word aangegee as ’n Sabbatsreis vanaf Jerusalem, dus ongeveer 1 km, en verskil van Luk 24:50 wat die hemelvaart aangee as tot by Betanië’ aan die oostehang van die Olyfberg, ongeveer 3 km van die stad af. ‘Tot by’kan egter ook met ‘in die rigting van’ vertaal word. Die huidige Hemelvaartkapel staan aan die westekant van die Olyfberg in die rigting van Betanië, maar naby die ou Jerusalem. Die apokriewe brief van Barnabas (hoofstuk 15:9) wat ongeveer 130 n.C. geskryf is, plaas die hemelvaart op ’n Sondag. Die tradisionele kerklike viering van hemelvaart op ’n Donderdag tel 40 dae inklusief van die opstandingsondag af, hoewel die getal 40 simbolies kan wees van ’n lang tyd.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels (1:1 – 5) – Francois Malan

1:1
Die boek Handelinge begin met ’n verwysing na ‘die eerste berig’  (logos woord, boodskap, verhaal, boek,
berig) wat ook aan Theofilus opgedra is, naamlik die Evangelie volgens Lukas
(vgl. Luk 1:3). Daarom is die skrywer van Handelinge dieselfde persoon as
die skrywer van die Evangelie, soos later ook afgelei kan word van die dele in
Handelinge wat in die eerste persoon meervoud geskryf is (die ‘ons gedeeltes’
vgl. bv. 16:11-17; 20:5; 27:2,15; 28:1,11,16). In Kolossense 4:14 verwys Paulus
na Lukas die geliefde dokter wat by hom is; in 2 Tim 4:11 ‘Net Lukas is nog by
my.’ Volgens die kerklike tradisie is Lukas die skrywer van die twee boeke wat
oorspronklik sonder die naam van die skrywer in die vroeë gemeentes gelees is.

Wanneer
’n werk aan iemand opgedra is, soos aan Theofilus, was die verwagting
dat dié persoon verantwoordelik sal wees om kopieë te laat maak deur afskrywers
met die oog op die verspreiding van die boekrol (vgl. die verwysing na ‘die
boeke, veral die perkamente’ in 2 Tim 4:13 – boekrolle is destyds geskryf op
papier van papirus gemaak of op perkamente van dierevelle gemaak. Alles is met
die hand oorgeskryf. (Boekdrukkuns is eers in 1450 n.C. ontdek). Die twee boeke
is in die algemene omgangstaal in die Romeinse ryk, nl. Grieks, geskryf vir die
gemeentes wat deur Paulus gestig is in Griekeland en Klein-Asië en besoek is in
Rome en Palestina. 

Luk 1:1-4 is eintlik ’n voorwoord tot albei die boeke. Dit handel oor Lukas se navorsing vir die boeke en die doel van altwee die boeke, sodat Theofilus vir seker kan weet dat die onderrig wat hy oor hierdie gebeure ontvang het, ‘betroubaar is’ – ook vir vandag.                                                                                                                                                                                                                                           

Die
boodskapvan die twee boeke is onderskeidelik in Lukas ‘alles wat Jesus
begin doen en waaroor Hy onderrig gegee het’  met die implikasie dat Handelinge die voortsetting
is van Jesus se werk en onderrig op aarde, vanwaar Hy sit aan die regterhand
van God die Almagtige (Luk 22:60) om oor die ganse skepping in liefde te
regeer. 

Lukas-Handelinge is
langer as al Paulus se briewe saam, en beslaan ’n kwart van die
hele Nuwe Testament.

1:2
‘…tot die dag dat Hy opgeneem is’ – die dag van Jesus se hemelvaart is die
einde van sy aardse bediening en die begin van sy bediening op aarde vanuit die
hemel. Daarom word die hemelvaart aan die einde van Lukas 24:50-51 genoem as
die afsluiting van sy werk op aarde, maar dit word aan die begin van Handelinge
1:6-11 uitvoeriger vertel as die begin van die voortsetting van sy werk.

Voor
sy sterwe, opstanding en hemelvaart het Hy reeds, ná ’n nag van gebed tot God,
twaalf van sy dissipels uitgekies en hulle apostels genoem, dit wil sê as sy
gesante (Luk 6:13). Aan die elf, wat ná sy kruisiging en opstanding nog
teenwoordig was (sonder Judas Iskariot), het Hy deur die Heilige Gees opdrag
gegee
(enteilamenos  om
spesifieke opdragte te gee, met die implikasie van gesag wat gegee word met
offisiële sanksie, vgl. die Engelse woord entailment). Met die opdrag het
Jesus, deur die Heilige Gees, hulle aangestel en bekragtig as getuies en
verteenwoordigers van Jesus Christus as Persoon om sy boodskap van verlossing
van sonde uit te dra (Hand 13:37 ‘deur hierdie man – Jesus – word die vergewing
van sondes aan julle verkondig, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig
word’ – geregverdig beteken dat elke gelowige se verhouding tot God deur Jesus
reggestel word). Sy gestuurdes getuig van Hom met hulle woorde en lewenswyse.

Die
woord ‘apostel’ word agt-en-twintig maal in Handelinge gebruik, telkens
as ’n verwysing na die twaalftal, met Mattias wat Judas vervang (1:26);
met die uitsondering van 14:4,14, waar ‘apostel’ ook
vir Barnabas en Paulus gebruik word.

In
Lukas en Handelinge gaan dit om Jesus Christus se Middelaarswerk tussen God en
die mens. Hierdie
boek bevat nie ’n volledige kerkgeskiedenis nie, maar beskryf persone en
insidente wat tipies aandui wat Christus deur sy Gees in en deur sy kerk
besig is om te doen en te leer in elke eeu en jaar en dag.

1:3
Jesus se opstanding uit die dood is die vaste fondament van die apostels
se geloof. Dit word  hier onderstreep met
die verwysing na die baie ‘oortuigende bewyse’ (tekmêriois wat iets
bekendstel as getoets en bevestig – die enigste keer dat die woord in die Nuwe
Testament gebruik word; wel ook in twee Ou Testamentiese apokriewe boeke). In
die Afrikaanse vertalings word verwys na ‘vele tekens’ waardeur Jesus ná sy
lyding aan sy dissipels getoon het dat Hy leef, toe Hy oor ’n tydperk van
veertig dae aan hulle verskyn het. In sy opsomming in Lukas 24:50-52 het Lukas
slegs gesê ‘Daarna het Jesus hulle na Betanië gelei….. en is in die hemel
opgeneem.’  Hier word ‘daarna’ (‘en toe’)
uitgespel as 40 dae ná sy opstanding. Sy opstanding en hemelvaart is nóú aan
mekaar verbonde. Die opgestane Here regeer wel vanuit die hemel, maar steeds as
die teenwoordige Koning in sy koninkryk op aarde.

Ook
die woord vir ‘verskyn’ word slegs in Lukas gebruik; hoptanomai beteken
om gesien te word of om sigbaar te wees, in die sin van binne die gesigsveld te
wees. In Lukas 24:31 het Jesus, nadat die Emmausgangers se oë geopen is en
hulle Hom herken het, ‘vir hulle onsigbaar geword’ – uit hulle gesig verdwyn (afantos).
In Lukas 24:36 ‘staan Hy in hulle midde,’ en dit terwyl die elf en dié saam met
hulle nog praat oor sy verskynings/dat Hy gesien is, ōfthê. Terwyl Jesus
sedert sy opstanding oral onsigbaar teenwoordig is, kan Hy van tyd tot tyd Homself
sigbaar maak.

Handelinge
1:3 sê verder dat Jesus gedurende die veertig dae besig was om met hulle te
praat oor die koninkryk vanGod. Basileia tou Theou verwys na God
se koningsheerskappy met volkome gesag oor die skepping, oor die lewens van
mense, en in ’n besondere sin oor die lewe van elke gelowige en van gemeentes;
spesifiek ook dat Hy heers oor die groepie apostels wat Hy nou uitstuur om die
evangelie te gaan verkondig. As die Christus, die Gesalfde, is Hy die Koning
in God se koninkryk
, en is Hy die onderwerp van hulle verkondiging. Dit
onderstreep ook dat Jesus self God is (Joh 1:1).

Gedurende
die veertig dae het Hy aan die dissipels bevestig dat Hy leef, deur baie
oortuigende bewyse
  (paristêmi bewys
verskaf dat iets waar is). Lukas 24:42-43 vertel dat Jesus ’n geroosterde stuk
vis voor sy dissipels geëet het as bewys dat dit Hy is wat opgestaan het uit
die dood. In Joh 20:20 wys Hy hulle sy hande met die spykermerke en sy
deurboorde sy. In Joh 20:27 nooi Hy Thomas uit om sy vinger in sy wondmerke te
steek en sy hand in sy sy. In Johannes 21:1-14 het Jesus Homself by die see van
Tiberias sigbaar gemaak (efanerōsen) aan sy dissipels met sy opdrag om
hulle visnet aan die regterkant van die boot uit te gooi vir ’n massa vis, en
met ’n vuur waarop Hy vis en brood vir hulle braai op die strand. Jesus het
duidelik self besluit wanneer en hoe Hy Hom aan sy volgelinge sigbaar en
kenbaar gemaak het (vgl. Joh 20:11-16 met die noem van haar naam aan Maria
Magdalena; Hand 9:3-5 met ’n skerp lig uit die hemel wat Paulus blind op die
grond laat neerval; Hand 18:9 deur ’n nagtelike visioen om Paulus te versterk
om in Korinthe aan te hou praat; Hand 23:11 deur in Jerusalem in die nag by
Paulus te kom staan met die opdrag om oor Hom in Rome te getuig soos in Jerusalem). 

1:4  ‘Terwyl hulle bymekaar was…’ (sunalizō  beteken om te vergader of bymekaar te kom). Tydens
’n ete
was Jesus saam met hulle en het Hy die volgende opdrag gegee.

Jesus
se opdrag aan hulle is om in Jerusalem te bly wag op die vervulling van die
Vader se belofte, naamlik dat Hy die Heilige Gees sal stuur om in hulle te kom
woon. Jesus het die belofte van die Vader aan hulle oorgedra (vgl. Luk
24:49). Die belofte het die Here reeds in Joël 2:28-32 gegee (vgl. ook Sag
12:10; Jes 44:3; Eseg 11:19; 36:27).

Jesus verwys hier na die Vader wat agter die hele aksie van die kerk staan.Die Vader stuur die Heilige Gees om die kerk van Christus te lei en die lidmate toe te rus vir hulle dienswerk in God se koninkryk op aarde. Daarvan beskryf die boek Handelinge die begin van die kerk en van die aanvanklike uitbreiding van die kerk.  1:5 Jesus verwys hier na die doop van Johannes wat die belofte van vergifnis (afwassing, reiniging) van sonde deur Jesus se offer vir die sonde ingehou het (Luk 3:3 ‘doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes’ – eis, met die oog op). Maar Jesus belowe hier: binnekort sal die dissipels met die Heilige Gees gedoop word. Die passiewe vorm ‘gedoop word’ sê eintlik dat Gód hulle sal doop met die Heilige Gees. Doop word hier figuurlik gebruik vir die wonder dat God self in die gelowige kom woon (Joh 14:16,17, 23). Die Heilige Gees lei mense om te glo in Jesus as die Seun van God wat ons reinig van alle sonde en goddelose gedagtes, woorde en dade. Hy is die Gees van waarheid in ons soos reinigingswater (Eseg 36;25-29; Joh 14:17; 16:8). God die Heilige Gees kom ons al meer verander om soos Jesus te word (2 Kor 3:18), vol liefde, goedheid, getrouheid, geduld, vrede, vriendelikheid, vreugde, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22-23) deur ons al meer aan Jesus en sy woorde en dade te verbind. Die Heilige Gees is die krag van God en die karakter van die nuwe bedeling van God se heilsgeskiedenis.

Skrywer: Prof Francois Malan