Amos en Hosea – Jan van der Watt

Jaco vra:

 Verduidelik Amos 9 wie die heidene is in Hand 15:13-17 En Verduidelik Hosea 2 wie die heidene is in Rom 9:24-26 Handel die boek Amos en Hosea oor die nageslag van Jakob

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Jaco se vraag raak ‘n baie belangrike probleem aan, naamlik, hoe moet Ou-Testamentiese profesieë in die Nuwe Testament verstaan word, veral as dit aangehaal word soos in die voorbeelde wat hy gee. Profesieë in die Bybel is nie so eenvoudig soos ons dit baie keer wil maak nie. ‘n Paar riglyne hieroor behoort ons te help.

Die profete van ouds, soos Amos of Hosea, het in die eerste plek vir die mense van hulle eie tyd geskryf (anders sou die boeke nie sin maak nie). Die mense vir wie hulle die boeke geskryf het, kon dit verstaan omdat dit op hulle situasies gemik was en hulle aangespreek het. Profesieë in die ou tyd was soos preke vandag, hoewel dit ook toekomstige implikasies gehad het. Kyk maar na die profesieë in Openbaring 2-3. Soos in ‘n goeie preek staan daar dat as die lesers hulle nie bekeer nie, sal hulle gestraf word – dit is ‘n profesie. Tog is daar ook ander profesieë oor die nuwe Jerusalem, byvoorbeeld, wat vertel wat in die toekoms verwag kan word.  

Die profete was spreekbuise van die God, die God wat altyd dieselfde is, vandag, gister en in die toekoms. Dit beteken dat as daar ‘n spesifieke situasie was (soos in Amos of Hosea se geval) waaroor hulle geprofeteer het, en ‘n soortgelyke situasie duik in die toekoms op, kan verwag word dat God soortgelyk sal optree. Profesieë is dus aanvanklik op een situasie gemik, maar kan van toepassing wees op soortgelyke situasies in die toekoms waar God by betrokke is.

Daar is baie voor beelde hiervan: In ‘n Joodse kommentaar wat rondom op Hosea gemaak is, word alles op die Romeine, wat op daardie tyd ‘n probleem was, toegepas, hoewel Hosea self, met die skryf van sy boek, die situasie honderde jare tevore (om en by met die val van die Noordelike Ryk van Israel – 760-720 voor Christus) in die oog gehad het toe Israel die Kanaänitiese afgode begin dien het. Die Romeine sou eers 600 jaar later op die toneel verskyn, maar omdat God altyd dieselfde is, kon die Romeine en die Jode van hulle tyd dieselfde behandeling verwag as wat in Hosea beskryf word.

Dieselfde geld vir Jesus. As daar in Jes 6 van Immanuel gepraat word, gaan dit om ‘n seuntjie wat in die tyd van Jesaja geleef het en van wie Jesaja gepraat het. Hy moes die mense herinner dat God by hulle is. As Jesus kom, herinner Hy mense ook dat God nou op ‘n besondere manier by hulle is. Omdat God altyd dieselfde is, is wat Jesaja gesê het, ook van Jesus waar, natuurlik op ‘n baie spesiale manier.

Om die vraag dus te beantwoord: Ja en nee. Oorspronklik het die Ou-Testamentiese dele nie na Handelinge of Romeine verwys nie en is ook nie in die eerste plek daarvoor geskryf nie. Tog, wat in die verlede oor God en sy optrede waar is, geld vandag ook nog as die situasies ooreenstem. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Werk vir nie-Christene: Is dit verkeerd?

Werk vir nie-Christene: Is dit verkeerd? – Kobus Kok

Elsa vra:

Is dit verkeerd vir ‘n Christen om te werk (en salaris te kry) vir iemand van ‘n ander geloof, byv. Moslem,Hindoe,ens, of selfs ‘n ateïs?

 

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Dit is nie verkeerd om te werk vir iemand wat nie ‘n Christen is nie. Inteendeel, die eerste Christene was omring met ‘n wêreld wat vol was van mense wat ander gelowige perspektiewe gehandhaaf het. Dit is die primêre sendingveld van die Christen.

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 




Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus?

Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus? – Francois Malan

Vraag:

In Jesaja 53: 12  word gesê : Daarom sal Ek Hom ‘n deel gee onder die grotes en met magtiges sal Hy die buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie  gedra en vir die oortreders gebid het. (OAV)

Die feit dat baie gebruik word en nie almal nie gee aanleiding tot die volgende vraag:

Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus?

 

God het ‘n verbond met Abraham gemaak te dien effekte dat hy die vader van baie nasies sou word. Hy het in God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken en hy was ‘’n vriend” van God. Uit Abraham ontstaan die Jode as die uitverkore volk. Na verloop van 430 jaar kom Moses op die toneel en hy ontvang die Tien Gebooie wat spesifiek bedoel was om die Jode te rig. Toe Christus kom maak die Jode  Hom dood. Van die Jode wat hierna tot bekering gekom het, sê Paulus in Gal 2: 15 dat hulle, wat van nature Jode was en nie sondaars uit die heidene nie, in Christus Jesus moes glo sodat hulle geregverdig kon word uit die geloof in Jesus Christus. Dus nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig kan word nie.

 

Vanaf Abraham tot en met die steniging van Stefanus was die heidene nooit in die prentjie nie. Van die verbond met Abraham weet hulle niks, ook nie van die wet nie en ook nie van komende Messias nie. Die verkondiging van die evangelie aan die heidene was ‘n verborgenheid Ef 3: 1 tot 6, en Paulus was bestem om dit aan hulle te bring. Inderdaad was die heidene se stand soos aangedui in Ef  2: 12, naamlik sonder Christus,vervreemd van die burgerskap van Israel, vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

 

Die Jode daarenteen het hulle eie pad geloop totdat hulle Jesus laat kruisig het tot op die steniging van Stefanus op welke tydstip die verbond met God verbreek is en is die evangelie aan die heidene verkondig. Die eerste heiden wat tot bekering kom is die hofdienaar van Ethiopië (Hand 8) en andere daarna.  Die vereiste vir hulle was  slegs dat hulle in Jesus Christus moes glo soos Abraham gedoen het om deel van die geestelike Israel te wees.            

 

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:                                                                                                      

 

Johannes 3:16 sê: God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. In Johannes 1:29 sê Johannes die Doper: Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld sal wegneem. Johannes 1:1-18 sê dat Jesus Christus self God is, die naaste aan die Vader, dat Hy mens geword het. (Dit alles sodat God self vir die sonde van die wêreld sterf aan die kruis). Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

 

Vir die heidene wat Christus aangeneem het skryf Paulus in Galasiërs 3:28: Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.

 

Jou vraag: Is die heidene aandadig aan die kruisiging van Jesus?

Alle mense, Jode met die wet van God en heidene sonder die wet van God, almal van die Ou Testamentiese tyd en almal daarna, almal is onder die mag van die sonde en die hele wêreld is strafwaardig voor God (Romeine 3:9-20). Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus…God spreek elkeen vry wat in Jesus glo (Rom. 3:21-26). Vryspraak is eintlik om die verhouding met God reg te stel. Deur in Christus te glo, word ons saam met die Seun van God aangeneem as kinders van God deurdat die Gees van God, die Gees van Christus wat in ons kom woon om ons aan Christus te verbind (Rom.8:9-17).  

 

Vanaf Abraham af was die heidene altyd in die prentjie! Met die roeping van Abraham het die Here reeds gesê: ‘…in jou sal al die volke van die aarde geseën wees’ (Genesis 12:1-3). In sy optrede in Egipte en Gerar was Abraham geen seën vir die heidene nie (Gen. 12:10-20; 20:1-18 maar na hy vir Abimeleg gebid het, het die Here vir Abimeleg gesond gemaak). Dit was God se doel met sy verbond met Abraham dat hy en sy nageslag vir die wêreld ‘n lig sou wees. Vgl. Abraham se optrede teenoor Melgisedek, die koning van Jerusalem (Gen.14:18-20).

 

Vgl. bv. Tamar Gen 38, Ragab Jos 2:1,3; 6:17,23,25, Rut wat aldrie in die geslagslys van Jesus opgeneem is in Mat 1:3-5.   

 

Die hofdienaar van Etiopië is ook nie die eerste heiden wat tot bekering gekom het nie. Kyk maar gedurende Jesus se bediening na die Samaritane Jn 4, die offisier in Kapernaum Mat 8:10-12, die Griekse vrou van Mark 7:24-30, die offisier wat vir Jesus gekruisig het Mark 15:39. Vgl. ook die stad van die Samaritane wat Filippus se getuienis aangeneem het voordat hy die hofdienaar ontmoet het Hand.8:4-8.

 

Dat God se verbond met Israel eers met die steniging van Stefanus beëindig is, het ook geen grond nie. Reeds in Jeremia 11:10 kla die Here dat Israel en Juda die verbond wat Hy met hulle vaders gemaak het, verbreek het. En toe Jesus na sy eie mense toe gekom het, het hulle Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het (Jood of Griek, ens.), dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word (Jn 1:11-12; vgl. Rom 10:12-13).

 

Jesaja 53:12 sê ‘baie’. In Hebreeus is dit die meervoud van ‘baie’ (rabim) wat ‘n menigte aandui. Daarom gaan dit nie om uitsluiting van party nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Heidene en God

Heidene en God – Jan van der Watt

Christelle vra: 

In die Bybel staan daar dat die Jode die volk is wat Jesus gekies het en vir die res gee hy die son,maan en die sterre. Nadat die Jode Hom verwerp het, het Hy gesê oky dis reg, ek word almal se God. Voordat Hy almal se God geword het, het ons as heidene nie regtig ‘n kans gestaan om die geloof aan te neem nie, as ek dit nou so kan stel. Maar nou het ons nie meer ‘n keuse nie? Nou moet ons die geloof anneem of ons gaan hel toe en kan nie die ewige lewe ingaan nie. Daardie tyd was ons “nie goed genoeg” vir die geloof nie. En nou ewe skielik het ons nie ‘n keuse nie. Ek beskou dit as uiters onregverdig… Enige kommentaar of hulp sal waardeer word

Antwoord:

 

Prof Jan van der watt antwoord:

Dit is nie heeltemal reg om te sê dat die heidene nie ‘n kans gehad het om God te dien in die Ou Testament nie. God het sy verbond met die Jode gesluit en enigiemand kon natuurlik die Joodse geloof toe aangeneem het. Dit het ook gebeur – ons lees van proseliete in die Bybel. Dit was mense wat die Joodse godsdiens wou aanneem, maar dit nog nie heeltemal gedoen het nie. Hulle moes nog eers ‘n proses deurgaan om seker te maak of hulle regtig Jode wou word. Daar was byvoorbeeld Grieke wat die Joodse godsdiens so aangeneem het. Mense is dus nie uitgesluit of verbied om deel van God se volk te word nie. Toe Jesus gekom het, het God se volk net groter geword. Almal wat in Jesus glo word nou deel van God se volk, van sy koninkryk. Nou het dit net vir al die mense makliker geword om deel van God se volk te word. As jy in Jesus glo word jy in die familie van God weergebore en is jy deel van sy volk. Daar is ook geen dwang daarin nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt