Paasfees en die uitstorting van die Heilige Gees

Paasfees en die uitstorting van die Heilige Gees – Francois Malan

AnnaMaria vra:

 

Kan u asb die volgende vir my duidelik maak. Is Paasfees en die uitstorting van die Heilige Gees dieselfde? Ek weet Paasfees is die Kruisiging van Jesus en die Opstanding, maar wat is Paasfees nog? In Markus 15:6 word gepraat van “elke paasfees” Ek kan dit net nie snap nie. Verduidelik asb. Kan u die volgorde van gebeure en tye vir my verduidelik, asb.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord

 

Markus 15:6 se verwysing na ‘elke paasfees.’

 

Paasfees is ‘n Joodse fees wat ingestel is toe die Here vir Israel uit Egipte gelei het, waar hulle slawe was. Dit was 1230 jaar voor Christus, in Moses se tyd (vgl. Eksodus 12). Die dag voor hulle vertrek het die Israeliete in elke huisgesin ‘n lam geslag en heel oor die vuur gebraai vir die aand se ete (12:9). Die bloed van die lam is aan die kosyne van hulle voordeure gesmeer (12:7). Dié nag het die Here in elke huis, veral van die Egiptenare, wat nie bloed aan die kosyn gehad het nie, die eersgebore kind doodgemaak (12:12). Maar waar die bloed aan die kosyn gesmeer is, is die huis oorgeslaan (12:13) – die Hebreeuse woord pesag vir ‘oorslaan’ is in Engels vertaal as ‘pass over,’ en die jaarlikse fees, wat die bevryding uit Egipte gedenk, word die fees van die ‘paasoffer’ (Hebreeus pasag) genoem (12:27).

            In Numeri 9 lees ons dat Israel op hulle tog deur die woestyn die paasfees by Sinai gevier het. Voordat hulle Kanaän ingetrek het, het hulle ook die paasfees gevier (Josua 5:10-12). In die latere koningstyd is die paasfees nagelaat, totdat Hiskia (714-686 v.C.) en later Josia (639-609 v.C.) met hulle hervormings weer die paasfees laat vier het (2 Konings 23:21-23; 2 Kronieke 30; 35). Na die ballingskap in Babilonië (597-520 v.C), het Esra (485 v.C.) weer die paasfees laat vier volgens die opdrag van die Here deur Esegiël (Esra 6:19-22; Esegiël 45:21). 

 

Jesus het vir die paasfees na Jerusalem gegaan in die wete dat Hy tydens die fees gekruisig gaan word. Daarmee het Hy die Joodse paasfees vervang met ‘n nuwe paasfees, waar Hy as die Lam van God sterwe om die sonde van die wêreld weg te neem (Johannes 1:29), as die soenoffer vir ons sondes – nie net vir óns sondes nie maar ook vir dié van die wêreld (1 Johannes 2:2) – dit sluit ook die mense van die Ou Testament in, wat die woord van God geglo het. Hebreërs 9:15: Hy is Middelaar van ‘n nuwe verbond, sodat dié wat geroep is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang, aangesien Hy gesterf het as losprys vir die oortredings onder die eerste verbond. Paulus sê: ons paaslam, Christus, is geslag (1 Kor 5:7).

            1 Johannes 4:9-10 sê: Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy enigste Seun na die wêreld gestuur het sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as soenoffer vir ons sondes.

            Daarom hou Christene die paasfees om Jesus se dood op Goeie Vrydag en sy opstanding op Paassondag te vier as ons verlossing uit die slawerny van die sonde, en die oorwinning oor die sonde en dood saam met Jesus. 

 

Uitstorting van die Heilige Gees.

 

Vyftig dae na die paasfees, met die begin van die koringoes (Eks 23:16; Eks 34:26), het die Jode ‘die fees van die weke’ gehou (Eks. 34:22); dit was sewe weke na die paasfees (Lev 23:15-16; Numeri 28:26; Deuteronomium 16:9-10). Die Grieks vir vyftig is pentakonta. Daarom word die fees in die Nuwe Testament die pinksterfees genoem. Dit was ‘n vrolike fees om die Here te dank vir die oes.

            Later is hierdie fees met die geskiedenis van Israel verbind en is die pinksterfees ook verbind met Israel se ontvangs van die wet by die berg Sinai, vyftig dae nadat hulle uit Egipte vertrek het.

 

Volgens Handelinge 1:3 het Jesus gedurende veertig dae na sy opstanding by verskeie geleenthede aan die dissipels verskyn, en het toe in die hemel opgevaar (Hand 1:9). Tien dae later, op die dag van die Joodse pinksterfees, was Jesus se volgelinge op een plek bymekaar en is hulle met die Heilige Gees vervul (Hand 2:1-4).

            Toe Petrus verduidelik wat met hulle gebeur het, het hy uit Joël 2:28-32 aangehaal wat sê dat God sy Gees sal uitstort (Hand 2:18; vgl. ook Hand 2:33; 10:45; Titus 3:5-6).

 

            Daarom vier Christene pinksterfees (party kerke kom vir 10 dae na hemelvaart voor die pinksterfees bymekaar vir gebed) om die blye wete te vier dat God in ons kom woon het deur sy Heilige Gees wat ons daagliks lei en bystaan.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Vervulling met die Heilige Gees

Vervulling met die Heilige Gees – Francois Malan

Willie vra:

 

My vraag handel oor die ontvang van die Heilige Gees en die vervulling met die Heilige Gees. Ek glo onvoorwaardelik in die Drie-enige God van die Bybel. Ek glo onvoorwaardelik dat Jesus Christus vir my sondes gesterf het , dat Hy opgestaan het uit die dood en dat Hy aan die Vader se regterhand sit. Ek glo dit omdat die Heilige Gees in my is anders sou ek dit nie geglo het nie . In Efesiërs 5 se Paulus Ons moet die Heilige Gees toelaat om ons lewens te vul. Beteken dit ek het die Heilige Gees ontvang , maar dat ek dalk nie deur Hom vervul is wat my daaglikse lewe betref nie – dat daar dinge in my lewe is wat Hom verhinder om my te vul met Sy Heilige teenwoordigheid in my manier van dink en doen.

 

As dit so is hoe maak ek dat Hy my wel sal vervul , sal volmaak ? Bid ek net en vra daarvoor ? Hoe gaan ek weet dat daar dalk iets is wat Hom verhinder om my vol te maak . Kan ek dus gered wees , die Heilige Gees ontvang het maar nooit met Hom vervul wees nie ?As dit wel so is het dit n geweldige negatiewe invloed op my lewe as kind van God.

 

Antwoord

 

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Ef 5:18 lui in die Ou Vertaling ‘…word met die Gees vervul,’ in die 1983-vertaling ‘laat die Gees julle vervul.’ Letterlik staan daar in die oorspronklike Grieks ‘julle moet vervul word in die Gees.’ So staan daar ook letterlik in Ef 2:21-22 Christus Jesus ‘in wie die hele gebou saamgevoeg word en groei tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie ook julle saam opgebou word tot ‘n woonplek vir God in die Gees.’ Ons moet vol word onder die werking of die invloed van die Gees in ons. Soos wat Paulus ‘in Christus’ gebruik (Ef 1:1,3,12; 2:6,7, 10, 13; 3:6, 11,21; 4:32) om ons noue band met Christus te beskryf, word ‘in die Gees’ skynbaar ook gebruik om aan te toon dat dit deur die Gees gedoen word (Ef 2:22; 3:5; 5:18; 6:18). 

 

In die gedeelte 5:15-21 gaan dit om gelowiges se lewenswandel wat wys en verstandig moet wees (15-17). Daarom moet ons vervul word met insig oor hoe die Here wil hê dat ons moet lewe en dan so gaan lewe. Vier eienskappe van ‘n vol lewe onder invloed van die Gees word eers beskryf (19-21) en dan hoe gelowiges dit moet toepas in die huwelik (22-32), en gesin (6:1-9). Die eerste en vierde eienskap het te doen met ons optrede teenoor mekaar, en die tweede en derde oor ons optrede teenoor God (19-21).

            Die eerste kenmerk klink snaaks: ons moet met mekaar praat deur ons liedere. In die bewoording van ons liedere kan ons insig kry hoe die Here wil hê ons moet lewe, ‘n lewe wat oorborrel in psalms, lofgesange en geestelike liedere – dit staan teenoor die drinkliedere wat opklink in die drinkplekke van die tyd, en vereis dat die bewoording van ons liedere met die boodskap van die Bybel ooreenstem.

            Die vierde kenmerk eis dat gelowiges aan mekaar onderdanig sal lewe – nie oor mekaar te wil baasspeel of jouself ten koste van die ander te wil handhaaf nie (ook nie in die huwelik, of gesinslewe nie). Filippense 2:3 stel dit nog duideliker: moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Ef 5:21 voeg nog by dat die onderdanigheid aan mekaar moet geskied in vrees/uit eerbied vir Christus. ‘n Vol lewe onder die invloed van die Gees bring eerbied vir Christus, en respek vir mekaar vloei daaruit voort.

            Die tweede kenmerk: om met ons hele hart (OAV: sing in julle hart)  tot eer van die Here te sing, en die derde: dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus – hier gaan dit blykbaar nie om wat in die gemeente gebeur nie, maar in die verhouding van die indiwiduele gelowige met die Vader: dit beklemtoon dat die vol lewe wat ons onder die werking van die Heilige Gees kry, gekenmerk word deur lewensblyheid, ‘n innerlike juiglied omdat ons bly is oor sy genade wat Hy aan ons skenk deur sy Seun se lewe, sterwe en opstanding vir ons, en waaraan die Gees ons verbind deur geloof. Daarby kom dit dat ons God wat ons Vader geword het deur Jesus en die werking van die Gees in ons, te alle tye en oor alle dinge dank (vgl. Ef. 1:3-14,17; 2:4-7,18; 3:14-21). Om dit te doen in die Naam van Christus beteken dat dit deur Homself gebeur, deur ons verbondenheid aan Hom wat die Gees bewerk, dat ons deel word van die groot liefde van God wat in 3:17-19 besing word.

 

Die Heilige Gees wil dat ons lewe vervul word met liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23). Hy is besig om ons te omvorm om al meer aan die beeld van Christus gelyk te word (2 Korintiërs 3:18). Hy doen dit deur die woord van God wat ons hoor en lees, en deur die voorbeelde van sy werk in mede-gelowiges se liefde, ens. waarvoor Hy ons oë oopmaak, alles om ons te oortuig van dinge wat ons moet los, en ander wat ons moet begin doen, en daarmee sal Hy besig bly tot ons dood. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Groepe op Pinksterdag

Groepe op Pinksterdag – Francois Malan

Mandie vra:

Watter 5 groepe was vervul met die Heilige Gees op pinksterdag – 50 dae na Christus se opstanding?

Antwoord:

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Handelinge 1&2 praat nie van vyf groepe nie.

Handelinge 1:13-14 noem die name van 11 mans, vir wie Jesus as apostels uitgekies het. Hulle het saam met ‘n aantal vroue, onder wie ook die moeder van Jesus, en die broers van Jesus (wat in Markus 6:3 en Matteus 13:55 genoem word) ná die hemelvaart van Jesus bymekaar gekom in Jerusalem (40 dae na die kruisiging tydens die Paasfees). Hand 1:15-26 vertel dat dié groep aangegroei het tot omtrent 120 gelowiges, waaruit  Mattias as die twaalfde apostel deur loting aangewys is. Hand 2:1-4 vertel dat hulle almal op een plek bymekaar was op die dag van die pinksterfees, en op die dag is hulle almal met die Heilige Gees vervul.

 

Op dié dag was daar baie Jode en mense wat die Joodse geloof aangeneem het, wat van ander lande gekom het vir die fees. Die mense het verskillende moedertale gepraat. Die nasies wat genoem word in Hand. 2:9-11 kom uit die Ooste (huidige Iran): Perse, Mediërs, Elamiete; en (huidige Irak) mense uit Mesopotamië; uit die dorpe en platteland van Judea; uit die Noorde (huidige Turkye): Kappadosië, Pontus, Frigië en die provinsie Asië, Frigië, Pamfilië; uit die Suide (Noord-Afrika): Egipte, dele van Libië om Sirene; uit die Weste: mense uit Rome, van die eiland Kreta;  ook Arabiere uit die Suid-ooste. Hand.2:41 sê: omtrent 3,000 van dié mense is op dié dag by die getal van die gelowiges bygevoeg, en dat hulle almal saam deur die werking van die Heilige Gees in geloof verbind is deur die liefde van God aan die Here Jesus en sy woord en aan mekaar om ook mekaar lief te hê (vgl. Hand. 2:38-42) – almal saam een groot groep wie se sonde vergewe is en wat die gawe ontvang het dat die Gees van God in hulle kom woon het (vgl. ook Johannes 14:15-17; Romeine 8:9,11).

 

Die Griekse woord pentekonta beteken 50, en pentekoste 50ste. Die Jode het op die 14e van hulle jaar se eerste maand Nisan (April-Mei wat in die Noordelike halfrond tydens hulle lente val) die Pasga gevier ter herdenking aan die uittog uit Egipte toe die Here die huise, wat bloed aan die kosyne gehad het, ‘oorgeslaan’ het (Hebreeus pasag, Engels: ‘pass over;’ Eksodus 12:13; Levitikus 23:5).

Op die volgende dag, die 15e Nisan, het die ‘fees van die ongesuurde brood’ begin, ter herinnering aan die ongesuurde brood wat hulle op die woestynreis saamgeneem het, wat nie so gou sleg geword het nie. Dit was ook die dag waarop die eerste gerwe van die Jode in Palestina se graanoes aan die Here gewy is (Levitikus 23:6-14).

Sewe weke daarna, op die vyftigste dag, word die ‘fees van die weke’ gehou (Levitikus 23:15-16; in Grieks pentekoste genoem). Dit is gehou met die voltooiing van die graanoes se insameling, as ‘n dankdag vir die oes. Die eerste Christelike Pinksterdag was waarlik ‘n oesdag met die 3,000 bekeerlinge in wie die Heilige Gees kom woon het, sodat Jesus sy verlossingswerk deur hulle kon voorsit, soos Handelinge verder vertel, en soos Hy vandag nog sy koninkryk oor die hele aarde uitbrei.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Alle Paaie lei na Jesus: Die Heilige Gees

Alle Paaie lei na Jesus: Die Heilige Gees – Adrio König

4.13 Die Heilige Gees

Omdat ons nie apart na die Gees in die Ou Testament gekyk het nie, gaan ons hier na die hele Bybel kyk. Maar ons wei uitvoerig uit oor die Gees se vermeende betrokkenheid by die skepping in Hoofstuk 10 waar ons met die Name en benamings van God besig is (kyk onder 10.4).

Die Heilige Gees word baie minder met die skepping in verband gebring as wat ’n mens sou dink (10.4.2). In sowel Hebreeus as Grieks beteken die woord vir Gees ook gees, lewe, asem, wind. Dit lê dus voor die hand om te dink dat die Gees direk met asem en lewe in verband gebring sal word. Die belydenis van Nicea verwys dan ook na Hom as “die Gees wat lewe gee”, maar dit sien waarskynlik meer op geestelike lewe, nuwe lewe. Maar in die Ou en Nuwe Testament word die Gees meer dikwels met gewone natuurlike lewe as met die skepping self in verband gebring (Job 33:4; 34:14-15; Ps 104:27-30; Pred 12:7; Eseg 37).

 

Die rol van die Gees by die skepping en in die res van die Ou Testament word breedvoeriger bespreek in hoofstuk 10.4 waar die vraag aan die orde kom of ons alreeds in die Ou Testament van die drie-enige God lees. Daar sal ons sien Genesis 1:2 en 1:26 (“Laat Ons mense maak”) gee nie oortuigende grond om te aanvaar dat dit inderdaad die Gees van God is wat by die skepping betrokke was nie.

 

Alle paaie lei na Jesus

Soos al die groot temas van die Bybel lei ook die skepping ons na Jesus. Saam met die Vader is Hy die Skepper. Hy ken dus die mens. Hy het die eerste een gemaak. Trouens Hy ken ons nog beter. Hy weet nie net hoe ons is nie. Hy is selfs een van ons. Hy het ’n mens geword, en deel gekry aan ons versoekings en lyding. Die Hebreërbrief verseker ons Hy is met ons swakhede bekend. “Hy is immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp” (4:15). “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (2:18). Hy weet dus uit ervaring wat ons behoeftes én ons moontlikhede én ons tekortkomings is.

 

Ons is nou klaar met die skepping. In die volgende gedeelte kyk ons na die mens.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König