Heiligmaking – Vraag

Heiligmaking – Francois Malan

Willie vra:

My vraag handel oor die wedergeboorte en heiligmaking. 1Petrus 1;3 sê God Hy het Sy liefde aan ons betoon deur die proses te begin wat op ons wedergeboorte uitgeloop het .Ek verstaan God alleen kan die wedergeboorte bewerkstellig. Ek is nou ‘n nuwe mens . Is die heiligmaking die proses waar ek streef om soos Jesus te word – soos Hy was toe Hy as mens op die aarde was, want ek kan tog nooit aan Sy Goddelike natuur gelyk word nie . Speel die selfdissipline waarna Petrus in 2 Petrus 1 verwys ‘n rol ? Het dit te make met ‘n keuse wat ek maak? Het ek n rol/verandwoordelikheid in HeiligMaking?

ANTWOORD

Prof. Francois Malan antwoord:

1 Petrus 1:3 prys God, wat ons deur sy groot barmhartigheid weer laat gebore word het tot ‘n lewende hoop, deur die opwekking van Jesus Christus uit die dood. Daardeur het ons Hom lief as ons Vader en glo ons glo ons in Hom as ons God vir wie ons lewe (3:8).

 

1:1-2 het Petrus reeds gesê dat God ons uitgekies het om deur die Heilige Gees geheilig te word om aan Hom toegewyd te lewe, deur aan Jesus Christus gehoorsaam te wees en deur sy bloed gereinig te wees. 

 

Geloof in God en sy Seun word deur die Heilige Gees bewerk, deurdat Hy ons met die verkondiging van die woord van God oortuig van God se liefde en genade wat ons deur Jesus se liefdesoffer red. Die Heilige Gees het reeds in ons kom woon om ons tot geloof in Jesus te lei, ons aan Jesus te verbind om, saam met die Seun van God, kinders van God te wees (Joh 16:9-11; Rom 8:11, 14-17), sodat ons al meer soos Jesus word (2 Kor 3:18).

 

1 Petrus 1:13-16 is ‘n oproep om heilig te lewe: ons verstand moet ingespan word om God se woord te begin verstaan en hoe ons, as begenadigdes van God, aan Hom toegewyd moet lewe volgens sy woord.

            As God se gehoorsame kinders moet ons ons lewe nie meer inrig volgens ons eie begeertes en selfsug nie (vgl. ook Rom 8:12-13). Soos God heilig is, moet ons ook in ons hele lewenswandel heilig wees, dit beteken om toegewyd aan God en sy woord lewe.

            Dit beteken dat ons soos ons Vader moet word. In Matteus 5:43-48 sê Jesus: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. Wees julle dan volmaak in die liefde soos julle Vader volmaak is. Liefde is nie ‘n gevoel nie, maar ‘n wilsbesluit om selfs jou vyand lief te hê omdat God jou lief het en ook vir hom/haar.

 

My rol in heiligmaking is om die sonde te los, versoekings te weerstaan, en te lewe volgens die riglyne van God se woord. Dit kan ek nie op my eie en in eie krag doen nie, maar daarvoor het God in my kom woon deur sy Gees; om ons te lei en die krag te gee om reg te besluit en dit uit te voer. Hy staan ons ook by om reg te bid en so in afhanklikheid van God te lewe (Rom 8:26-30).

 

Maar sonder liefde is daar geen heiligmaking nie. Jesus se nuwe gebod aan sy dissipels voor sy dood was: julle moet mekaar liefhê, soos Ek julle liefhet moet julle mekaar liefhê (Joh 13:34; 15:12). En 1 Johannes 4:7-8 sê: God is liefde, elkeen wat liefhet is ‘n kind van God, en wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie.

            Die Heilige Gees maak ons deel van die liefde tussen die Vader en die Seun en die Gees. Galasiërs 5:22-23 sê die vrug van die Gees in ons lewe is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. So lyk heiligmaking, sodat ek sal begin lewe deur myself te verloën en Jesus te volg in gehoorsaamheid aan sy woord en sy voorbeeld.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Heiligmaking: Wat beteken dit?

Worldliness is whatever makes sin look normal and righteousness look strange (Kevin DeYoung)

 

Heiligmaking: Wat is dit?

Nadat ons vrygekoop is, volg ‘n proses van groei en ontwikkeling/transformasie. Meer en meer besef jy die werklikheid van dood vir die sonde en jou ou sondige lewe. Hierdie proses van meer en meer soos Jesus word, staan as heiligmaking bekend. Heiligmaking het meer as een betekenis. Basies beteken heiligmaking afgesonder – jy word vir God afgesonder. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God (1 Korintiërs 6:11). Dit vloei voort uit die kruis waar God ons deur Jesus Christus gekoop en vir Hom opgeeis het. Jy behoort nou aan God, maar nou moet jy dit uitleef.

 

 

Kom ons kyk na drie betekenisse van heiligmaking:

  • Definitiewe heiligmaking

Jy is permanent vir God afgesonder. As jy ‘n gelowige is, is jy ‘n heilige. Die direkte vertaling van Filippense 1:1 is heiliges. Ongelukkig het heiliges by ons dikwels die betekenis van super-gelowiges gekry en daarom word dit gewoonlik met gelowiges vertaal.

 

  • Progressiewe heiligmaking

Dit is die werk van God se genade waardeur ons vernuwe word na die beeld van God. Ons word in staat gestel om meer en meer vir die sonde te sterf en te leef soos iemand wat vrygespreek is.

Ons het hier met ‘n voortdurende proses van karakterverandering te doen – ‘n proses wat ons van ons sondige gewoontes vry maak en in ons liefde, gesindhede en deugde vorm soos ons dit in Jesus Christus kry. Ons groei dus in heiligheid, want heiligmaking is die somtotaal van miljoene klein dingetjies.

 

Hierdie is ‘n lewenslange proses wat begin net na ons verlossing. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee (Titus 3:5). Iets gebeur met ons as ons wedergebore word – die Heilige Gees gee vir ons nuwe lewe en nuwe krag. Die Heilige Gees begin onmiddellik met sy vernuwingswerk in ons om die krag van die sonde wat van ons slawe gemaak het, te breek.

 

Eenvoudig gestel: Wedergeboorte is geboorte (eenmalig); heiligmaking is groei (‘n proses). Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Korintiërs 3:18 ). Ons sien dus dat heiligmaking die werk van die Heilige Gees is.

 

God gee aan ons die begeerte en krag om regverdig te lewe, maar ons moet ook aktief daaraan werk om God se wil te doen. Heiligmaking is ‘n gesamentlike onderneming: Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Filippense 2:12 – 13). Gelukkig hoef ons nie alles self te doen nie – alles berus nie op my eie pogings nie. God werk in ons om dit te bewerkstellig.

 

Heiligmaking is ‘n langdurige veranderingsproses waarin ons saam met die Heilige Gees moet werk om te groei.

 

  • Uiteindelike heiligmaking

Dit staan ook bekend as verheerliking. Die proses van heiligmaking word nie voltooi terwyl ons leef of voor Jesus se wederkoms nie. Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Jesus Christus my reeds Syne gemaak het (Filippense 3:12). Gebeur dit ontvang ons nuwe geestelike liggame. Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is (1 Johannes 3:2); Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees (Filippense 3:21). Dan is ons soos Jesus Christus.

 

Vrygekoop is ons wetlike status voor God as Hy ons vrygespreek het. Dit is God wat ons eens en vir altyd vryspreek – dit gebeur as ons ons bekeer. Heiligmaking, daarenteen, is die lewenslange werk van die Heilige Gees in ons wat ons geleidelik verander na die beeld van Jesus Christus.

 




Woorde uit die Bybel – Heiligmaking (1)

If you are idle in Christ’s work, you are active in the devil’s work. —C.H. Spurgeon

 

Woorde uit die Bybel – Heiligmaking (1)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

 Heiligmaking beteken letterlik afgesonder – afgesonder vir God se diens. In wese gaan dit oor die verhouding tussen God en sy skepsels. Ons gaan vier temas bespreek:

  • Die heiligheid van God.
  • Die heiligheid van die mens.
  • Heiligmaking as ‘n gawe.
  • Die heiligheid van die hemel.

 Die heiligheid van God

Hiermee word die oneindige afstand en verskil tussen God en die mens beklemtoon. Dit is wat God van die mens onderskei. Ons kry baie verwysings na God se heiligheid in die Ou Testament. So sê die Here wat daar hoog bo bly en wie se Naam die hoë God is, Hy wat vir altyd leef en totaal anders is (Jesaja  57:15). As ons lees van Jesaja se roeping as profeet lees ons dat hy die Here in ‘n visioen gesien het. Om Hom was daar serafs. Terwyl die serafs gevlieg het, roep hulle vir mekaar: Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige. Sy magtige teenwoordigheid sprei oor die aarde soos ‘n doek (Jesaja 6:3). Maar ook in die Nuwe Testament lees ons van God se heiligheid. Toe Jesus in die sinagoge praat word Hy onderbreek deur ‘n man wat hard gil. Die man was in die greep van ‘n bose , duiwelse gees: Ek ken Jou; ek weet wie Jy is – Jy is die Heilige van God (Markus 1:24)

 God staan bo en apart van die mens. Dit maak van Hom ‘n voorwerp van verwondering en aanbidding – God se grootheid en mag teenoor die mens se kleinheid en swakheid; God se volmaakte reinheid en geregtigheid teenoor ons onreinheid en ongeregtigheid. Dit gee aan Hom die reg om te oordeel: So sal Ek myself aan die nasies bewys as die sterke God. Al die nasies sal My dan raaksien. Hulle sal weet dat Ek die Here is (Esegiël 38:23). Hy is die heilige God wat sy grootheid  bewys in die beslissings wat Hy gee. Hy is die heilige God wat sy heiligheid deur sy regverdige oordeel bewys (Jesaja 5:16).

 Volgende keer gaan ons na die heiligheid van die mens kyk.




Heiligmaking: Wat sê die Bybel?

Courage is going from failure to failure without losing enthusiasm – Winston Churchill

Heiligmaking: Wat sê die Bybel?

Die begrip heiligmaking word vir ‘n verskeidenheid van onderwerpe in die Bybel gebruik. In Genesis 2:3 lees ons dat  God die sewende dag as gereelde rusdag geheilig het. In Eksodus 28:41 lees ons dat Moses Aäron en sy seuns moet salf en heilig hulle (OAV).

In Matteus 6:9 leer Jesus sy dissipels bid: Ons Vader, wat in die hemel is. Laat u Naam geheilig word. Dit is duidelik dat die omstandighede mag wissel, maar die algemene betekenis van die woord verander nie. Heiligmaking beteken om iets of iemand uniek te verklaar of om dit/hom af te sonder – om dit/hom heilig te maak.

In die Christelike teologie word die woord heiligmaking meestal gebruik om die afsondering (heiligmaking) van Christene te beskryf. Nadat Christene deur God vrygekoop en aangeneem is, begin hulle ‘n proses waardeur hulle, deur die krag van die Heilige Gees, verander word om meer en meer soos Christus te word.

‘n Gedeelte wat hierdie proses beskryf is 1 Tessalonisense 5:23 – 24: Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom. Hy sal dit ook doen,  want Hy wat julle roep is getrou. Kyk ook na die OAV: En mag Hy, die God van vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel-en-al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.

Seker die wonderlikste, en belangrikste, ding wat ons van heiligmaking kan sê, is wat Paulus hier baie duidelik uitspel:  heiligmaking is ‘n optrede van God – Hy het dit begin en Hy sal dit voltooi … Hy wat julle roep is getrou.