‘n Gay Pastoor – Jan van der Watt

’n Leser vra:

Ek het ’n gay pastoor,.

Antwoord

Prof  Jan van der Watt antwoord:

Oor die gay pastoor: Die debat oor gays is baie sensitief. Die Bybel (Ou en Nuwe Testament – in die Nuwe Testament met name Paulus) keur seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag af. Dit is eie aan die Joodse siening van seksualiteit. In die Grieks-Romeinse wereld was die siening anders oor seksualiteit en beide gewoon seksuele dade (sonder ‘n langdurige ‘liefdesverhouding’) as seksuele dade tussen persone van dieselfde geslag wat ook in ‘n ‘liefdesverhouding’ was het voorgekom. Die Jode in daardie gebiede het gewys dat hulle ‘anders’ is deur nie aan wat hulle losbandigheid (wat ook ander dinge ingesluit het  – vgl. bv. 1 Pet 4:1-6) genoem het, deel te neem nie.

            Hoe het dit nou gekom dat party kerke gay pastore of dominees aanvaar? Dit hang saam met die manier waarop verskillende groepe die Bybel interpreteer (ons noem dit ‘hermeneutiek’). Die een groep sal byvoorbeeld sê dat die Bybel God se woord is wat letterlik verstaan moet word – hulle sal dan op grond van wat daar in die Bybel staan alles gay afkeur.

Die ander groep sal byvoorbeeld sê dat die Bybel nie letterlike toegepas moet word nie – ons trou nie meer soos die mense destyds nie, dra nie keer dieselfde klere nie (kyk maar op die strand Desembermaande) ens. Ons kan dus nie alles in die Bybel presies op ons vandag toepas nie. Wat nou gemaak? Hulle sê dan dat ’n mens moet kyk of dit waarvan die Bybel praat met dit wat ons vandag doen ooreenstem (ons noem dit ‘analogie’). Byvoorbeeld, as Jesus aan sy dissipels sê dat hulle saam met Hom in die hemel sal wees, kan jy dit nie sommer op alle mense in die wêreld toepas nie. Dit gaan oor mense wat Jesus se dissipels is, met ander woorde, sy volgelinge vandag. Nou sê die groep dus dat die verwysings na dieselfde geslag verhoudings in die Bybel nie ooreenstem met dit wat ons vandag tussen mense van dieselfde geslag sien nie. Mense vandag staan in vaste verhoudings (wil trou) en boonop het ons meer kennis vandag as wat die Jode gehad het. Baie gay mense is so gebore en kan hulleself dus nie help nie. Gay wees is vir hulle normaal. Omdat daar ’n verskil is tussen die gay-wees waarvan die Bybel praat en die gay-wees wat ons vandag ken, hoef of moet ons nie doen wat die Bybel sê nie. Boonop sê die Bybel ons moet alle mense liefhê – as gay mense nie aanvaar word soos hulle is nie, beteken dit dat die ander liefdeloos is.

Ander skuif doodgewoon die Bybel opsy en sê dit is ’n ou boek wat niks vir ons vandag te sê het nie. Ons kan wel dit waarvan ons hou toepas (naamlik dat God liefde is) maar dit waarvan ons nie hou nie, hoef ons nie ernstig op te neem nie.

            Tussen hierdie standpunte is daar ook nog hope ander, byvoorbeeld, dat gay mense aanvaar word, maar nie as pastore nie, want pastore moet ’n voorbeeld vir ander wees, terwyl ander sê dat as gay mense as normaal gesien word, geld dit ook van pastore, ens. Daar is baie gesprek oor en kritiek op al hierdie standpunte en daarom gaan die debat net aan en aan. Omdat mense die probleem uit verskillende hoeke sien en dit mense se geloof raak, is daar min wat bereid is om hulle standpunt te verander. Daarom gaan dit deesdae nie meer net om homosekualiteit nie, maar om alle vorme van seksuele of gender orientering.

            Waarskynlik een van die belangrikste redes waarom die gay debat nou so op die voorgrond is, is vanweë die verandering in die algemene opinie van die samelewing. Tagtig jaar gelede was dit nie aanvaarbaar nie, maar met die opkoms van menseregte het dit ’n belangrike tema begin word en het mense vir die gay regte ook begin opstaan. Soos dit in die samelewing meer aanvaarbaar geword het, het dit ook oorgespoel na die kerke toe. Daarom is dit hoofsaaklik ’n probleem in lande waar die Westerse konsep van ‘menseregte’ ’n sentrale rol speel. In ander lande, met ander sienings word dit nog verbied.

            Bogenoemde wys hoe kompleks die saak is en ’n eenvormige oplossing lyk hoegenaamd nie in sig nie – inteendeel.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Wat gebeur in die debat oor dieselfde geslagverhoudings? – Jan van der Watt

Ek wil graag vanuit twee hoeke antwoord, want die saak het natuurlik baie kante: As daar enkele bladsye is wat ek graag uit die Bybel sou wou haal is dit juis hierdie bladsye (natuurlik as ek kon, maar ek kan nie. Juis daarom moet dit ernstig geneem word). Dit het al soveel verdriet en ongeluk en vir mense veroorsaak dat dit my laat terugdeins. Van die aangenaamste mense wat ek al ontmoet het, is gay en om aan hulle die idee te gee dat daar iets met hulle ‘verkeerd’ is, is vir my menslik gesproke baie moeilik. Daarom as dit by die reëlings van die staat kom, is my persoonlike opinie dat die verhouding tussen sulke mense behoorlik deur die staat gereel moet word (die staat is nie die kerk nie en die omgekeerde is ook nie waar nie – die staat moet al sy burgers dien en sorg vir behoorlike orde). As mense saam wil bly, ‘n permanente verhouding wil aangaan, waarom kan die staat dit nie vir hulle behoorlik reël nie? Inteendeel, ek dink die staat behoort dit te doen in ‘n land waar menseregte voorgestaan word. Mens kan dit selfs wat my betref huwelik noem, want huwelik is nie net ‘n Christelike term nie en behoort ook nie net aan Christene nie. Dit is die realiteit waarin ons in ons land woon – menseregte en nie godsdienstige oortuigings nie, bepaal die gedrag van die staat. Daar moet egter nie voorgegee word dat dit die hele verhaal is nie.

Daar is ook ‘n ander sy van die debat, wat maak dat die Christelike kerke wat 80-90% van die Christene wêreldwyd vandag uitmaak nie homoseksualiteit as ‘normaal’ erken nie. Die vertrekpunt gaan daarom dat die Christendom sy norme en waardes aan die Woord van God koppel. Ons dink nie ons eie idees uit oor wat reg of verkeerd is nie, maar soek die wil van God daaroor. En dit is nou waar die probleem lê: hoe moet ons die Bybel lees? Daarom lees jy ook die hele tyd in die koerante dat die dominees baklei oor wat die Bybel sê. Inderwaarheid is die groot vraag nie of mense van dieselfde geslag nie aanvaar moet word nie, maar oor wat die standpunt vir die verstaan van die Bybel vir ons vandag gaan hê. In ’n sekere sin gaan die debat meer om die vraag watter rol die Bybel in die lewe van die gelowige moet speel en hoe.

Ek gaan dit baie kortliks en oorsigtelik hier uiteensit om so te probeer om die implikasies van die debat so bietjie duideliker te maak. As mens die tekste in die Bybel wat oor die saak van dieselfdegeslagverhoudings lees, is almal negatief oor seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Daaroor is daar min verskil, want dit staan duidelik so daar. Waar die verskil inkom is hoe ons dit vir ons vandag moet verstaan en dan is die argument dat ons appels met appels moet vergelyk. Die pro-gay argument sê dat die homoseksualiteit van die Bybel nie dieselfde is as vandag nie en daarom kan ons die tekste van die Bybel nie gebruik nie, want dan vergelyk ons appels met pere. Die anti-gay argument sê dat mens dit wel kan gebruik, al is dit nie presies dieselfde nie – daar moet mooi oorweeg word wat die beginsel is wat die gedeelte wil oordra.

Die probleem waarom die dominees so ernstig is oor die saak is omdat as mens die eerste (pro-gay) standpunt kies, beteken dit dat die gevaar wesentlik is dat die Bybel as ‘n boek gesien word wat nie meer vir ons vandag regtig iets het om te sê nie, want alles verskil tog tussen destyds en vandag – ons leef anders, trou anders, ens. Dit beteken dus dat die invloed van die Bybel gerelativeer word tot dinge wat presies dieselfde is tussen destyds en vandag – en op etiese gebied is daar bittermin. Byvoorbeeld, neem die probleem van alkohol wat misbruik word: daar kan eenvoudig geargumenteer word dat die mense destyds feitlik altyd in groepe in die openbaar (by die bacchusfeeste) of by groepsgeleenthede soos etes gedrink het. Ons ken nie meer sulke feeste nie. Dit beteken dat die Bybel niks oor die saak vir vandag sê nie, want die situasies verskil te veel. Dieselfde met porneia (die Griekse woord vir onsedelikheid) – dit het dikwels in tempels plaasgevind of ook gedurende die kuiertyd (symposia) na ‘n banket of ete. Ons het nie meer sulke tempels en het ook nie meer dieselfde soort symposia as destyds nie, met ander woorde, die Bybel verskil te veel en kan ons dus ook nie meer vandag met die saak van onsedelikheid help nie; en so kan mens van een saak na die ander aangaan. Die Bybelse konteks verskil eenvoudig van vandag se konteks wat beteken dat as mens presiese gelykheid tussen die sitausie van die Bybel en vandag as kriterium gebruik, die Bybel eties nie meer van toepassing kan wees nie.

Daar is ook ’n ander benadering. In die verlede was die algemene standpunt oor die manier waarop die Bybel toegepas word, gebaseer op ‘analogie’, met ander woorde, dinge hoef nie presies dieselfde te wees nie – daar gaan verskille wees, maar daar gaan ook ooreenkomste wees. Die twee fasette moet goed onderskei word. Die verskille word in ag geneem, maar daar word veral gevra na die basiese ooreenkoms of beginsel wat die gedeelte wil oordra, met ander woorde, wat is die boodskap wat die gedeelte wil oordra – veral daarin word belanggestel. Bv. as Jesus vir sy 12 dissipels sê hulle moet sy boodskap verkondig, kan daar met die gevolg gesê word: ons vandag is nie die 12 dissipels nie, so ons hoef nie te verkondig nie (pro-gay argument). Of ons kan sê: ons is nie die twaalf nie, maar die boodskap geld tog vir ons ook, want ons volg Jesus net soos hulle en op grond van hierdie ooreenkoms geld die beginsel om te verkondig ook vir ons. T.o.v. die gays sou dit beteken dat hoewel daar verskille tussen destyds en vandag is, die afkeur in die Bybeltekse dat mense van dieselfde geslag  nie seks moet beoefen nie, vir vandag ook van toepassing behoort te wees.

Op hierdie punt begin opinies sterk uiteenloop en wat ook al in die gesprekke gaan gebeur, die gevolge gaan ingrypend wees.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




ʼn Gay vriendin

ʼn Gay vriendin – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

‘n Vriendin van my is “Gay.” Sy was nie altyd nie – sy was 14 jaar getroud, ‘n girl ontmoet en verlief geraak op haar. Ek voel dit is my plig om my hand uit te steek na haar en haar te laat verstaan dat daar iemand is as sy iemand nodig het – almal het haar afgeskryf. Is ek verkeerd? Ek glo dit is nie my plek om haar te judge nie – sy gaan eendag verantwoording doen oor haar optrede.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hierdie vraag gaan nie soseer oor die reg of verkeerd van homoseksualiteit nie. Daarom gaan nie daaraan aandag gegee word nie. Hier gaan dit oor die hantering van iemand wat wel ‘gay’ is.

Die absolute eis van die Bybel is dat ons liefde aan mekaar moet betoon. Nou moet ons nie te vinnig hieroor konklusies maak nie. Liefde het baie gesigte en word in verskillende situasies op verskillende maniere uitgedruk. Soms moet ek uit liefde selfs met iemand raas.

Vir ons argument se onthalwe, kom ons aanvaar dat ‘gay-wees’ nie reg is nie. (As ons aanvaar dat ‘gay-wees’ reg is, het ons natuurlik nie die probleem wat hierbo genoem word nie). In die eerste plek moet ons besef dat ‘gay-wees’ nie as die ergste sonde onder die son geteken word nie, maar dat dit saam met baie ander dinge genoem word: lees maar 1 Korintiërs 6:9 Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen 10of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.’

Die vraag kan dus anders gestel word: hoe moet ek teenoor iemand optree wat iets verkeerd doen? Die antwoord word dan duideliker. Natuurlik moet jy hom nie verwerp nie. Hy of sy het nou juis jou liefde baie nodig. Nou moet die persoon juis die moontlikheid van vergifnis en nabyheid van die Here op sy beste ervaar – en dit deur jou. Jesus sê mos dat Hy nie vir gesondes gekom het nie, maar vir die wat siek is. Juis vir hulle moet jy daar wees.

In jou ‘daar wees’ mag jy egter nie die sonde goedkeur of maak asof dit niks is nie. Jou liefde moet juis die persoon begelei om die probleem in te sien en daarvan werk te maak. Jy moet dus genesende liefde uitstraal.

As jy jouself nou van die persoon onttrek, sou dit beteken dat hy of sy alles wat ons hierbo gesê het, misloop. En oor die veroordeling: ons kan wel (versigtig) oordeel of iets reg of verkeerd is, maar veroordeling kan God alleen doen.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Genetiese Predisposisie en Homoseksualiteit

Genetiese Predisposisie en Homoseksualiteit

Genetika en molekulêre biologie het belangrike insigte bygebring in die bestudering van menslike gedrag wat met oorerflikheid gepaardgaan. Tog kan dit nooit los van sosiologiese en psigologiese faktore verstaan word nie. Dit gaan dus altyd om die omvang van die invloed en die verhouding van voeding en opvoeding (“nature and nurture”). Maar die mens is ook nie net te definieer in terme van biologie en kultuur nie.

Biogenetiese wetenskap kan nie uitsluitsel oor etiese keuses gee nie. Die wetenskaplike feit bepaal immers lank nie die uitslag van ‘n etiese beslissing nie. Die wetenskap plaas ons altyd voor keuses: gaan ons onsself as slagoffers van omstandighede en dus onskuldig beskou, of gaan ons verantwoordelikheid vir ons omstandighede aanvaar? Eersgenoemde opsie kan ons wel terugneem na die kwessie van die oersonde van die skeppingsverhale en soos Adam, kan ons ook vandag sê, [die skuld lê by] “die vrou wat U my gegee het” (Genesis 3:12) en die tweede opsie kan ons weer bewus maak van die mens se vrye wil waarmee God ons geskape het en daarmee saam die kennis van goed en kwaad. Menslike gedrag is altyd ‘n funksie van oorerflikheid, omgewing én keuses.

Dit gaan ten diepste dus om ‘n bepaalde werklikheidsverstaan. Ten einde enige moontlike vorm van reduksie te voorkom in die verstaan van die werklikheid (of van die mens), is ‘n komprehensiewe benadering dus van die uiterste belang. Teologie is ‘n “konteks-sensitiewe” dissipline aangesien sy inhoude altyd met kulturele inhoude moet korrespondeer. En omdat teologie met dieselfde werklikheid te doen het as die ander wetenskappe, is dit essensieel dat teologie deurgaans in gesprek met hierdie wetenskappe sal bly verkeer. Die taak van die teologie is dan o a om kennis van die natuurwetenskap se resultate te neem, dit te interpreteer en dan binne ‘n bepaalde kulturele konteks te plaas. So kom koherensie eventueel tot stand.

Reduksionisme is ‘n vanselfsprekende konsekwensie wanneer ‘n liniêre oorsaaklikheidsverband van die DNS na gedrag gelê word. Mense begin hulleself nou verstaan as opgemaak uit gene, soos die aangetekende hofsake waarin beskuldigdes hulle verweer deur hulle op hulle genetiese predisposisie te beroep. Daarom word daar ook voortdurend verwys na die sogenaamde misdaad-geen, die geweld-geen, die alkoholis-geen, die gay-geen, die ras-geen, die geloof-geen en ander. Die genetiese kode vra egter om altyd binne ‘n groter verband geplaas te word waarin oorsaaklikheid en uitkoms begryp kan word. En hiervoor is die natuurwetenskap alleen totaal ontoereikend. Die DNS-kode moet steeds gedekodeer word en dit verg interpretasie. Genetiese predisposisie het dus sy besliste grense.

Aan die mens se seksuele oriëntasie kan weinig gedoen word, aan jou geestelike tuiste wel. Kerkwees is die heilige boog wat koms en wederkoms verbind; ‘n boog waaronder en waardeur die Christen gevorm word. Dit is die verhaal van mense wat deur God aangeraak is en wat hulle in die kragveld van die Gees bevind. Daarom moet die kerk ook altyd ‘n warme gemeenskap van gelowiges daarstel waar mense tuis kan kom en sin van alles kan vind. Dit moet ook ‘n onderdak kan bied vir die dakloses, ‘n nis vir die randfigure van die samelewing. Natuurlik sal daar verskillende “sacred canopies” wees waarbinne mense tot hulle reg kan kom; die keuse lê immers eventueel by die individu om binne ‘n bepaalde nis te eksisteer of nie. Die kerk het egter die sware verantwoordelikheid om voortdurend die korrelaat tussen Skrif en praksis te soek – want die liefdesgebod kan nooit gekompromitteer word nie.

AGTERGROND

Navorsing identifiseer sowel biologiese as kulturele faktore wat meewerk tot homoseksuele gedrag.

o        Mense soos Hamer en LeVay het in hulle navorsing oor genetiese predisposisie en homoseksualiteit gevind dat wel sekere genetiese littekens op die langbeentjie van die X-chromosoom in die omgewing van Xq28 by homoseksuele mans voorkom. Die navorsing het ook verder uitgewys dat die moeder hierdie bepaalde genetiese patroon oordra en dat dit slegs in die manlike nageslag van so ‘n moeder manifesteer. Dit beteken dus gewis dat homoseksualiteit ‘n biologiese substraat het.

o        Bem weer is daarvan oortuig dat ervarings en kulturele faktore aan ‘n persoon se seksuele oriëntasie meewerk. Sy sogenaamde Exotic Becomes Erotic -teorie (EBE) pretendeer dat die mens aangetrokke tot ‘n ander persoon is (van watter geslag ook al) in die mate wat verskil en onderskeid gedurende die kinderjare met daardie geslag beleef is. Die seksuele ontwikkeling volg dan ‘n bepaalde ketting: biologiese veranderlikes à kinderjare temperament à geslagskonformiteit of nie à ervaring van anders wees (“exotic”) à psigologiese aantrekking deur gelykes à seksuele hunkering na ander mense. Aangesien in meeste kulture die een geslag die ander geslag as “eksoties” ervaar, word ‘n evolusionêre proses van “eksoties-word-eroties” in die betrokkenes gevestig. Psigologiese aantrekkingskrag, ongeag die bron of aanleiding daartoe, lei dus na erotiese aantrekkingskrag.

Sedert die 1990’s het neuro-, kognitiewe wetenskap en artifisiële intelligensie (AI) geweldig opgang gemaak. Daar word hoofsaaklik onderskei tussen die brein, die bewussyn en die gees . Eersgenoemde handel oor anatomiese, fisiologiese en chemiese data; die bewussyn weer betrek sake soos intensie, aksie, persepsie, gewete en verantwoordelikheid; en laasgenoemde kategorie betrek weer die godsdienstige dimensie. Hierdie klassifikasie wil dus stel dat werklikheid ‘n dinamiese begrip is wat altyd word en dat daar ‘n progressiewe evolusie van die laer vlakke na die hoër vlakke toe is. Murphey & Ellis onderskei hoofsaaklik tussen die vlakke van die selstruktuur (l), die organismestruktuur (ll) en die gemeenskapstruktuur (lll), én hulle verstaan etiek integraal deel van die werklikheid. Die sosiale wetenskappe is per se onvolledig tensy etiek dit dus kompleteer. Die sosiale wetenskappe het hierdie toegevoegde betekenisvlak daarom nodig ten einde die vraag na die uiteindelike sin van alles te beantwoord.

Met die koms van homo sapiens het die biologiese evolusie sy kulturele dimensie bygekry. Die mens beskik nou gevolglik oor sowel ‘n organiese as ‘n superorganiese oorerflikheidsleer. Etiek is die resultaat van kulturele en nie van biologiese evolusie nie. Daar is met ander woorde geen isomorfisme tussen die gedrag wat deur biologiese impulse en die gedrag wat deur kulturele impulse plaasvind nie. Dit beteken dat die biologiese geneigdheid om waardeoordele te maak, eers tot etiese gedrag omgesit kan word wanneer dit deur ‘n bepaalde moraal (nie-biologies dus) gekomplementeer word. Morele gedrag vind dus geensins sy korrelaat in die “altruïsme” van diere nie.

Foucault het ook baanbrekerswerk gedoen om seksualiteit binne so ‘n sosio-kulturele raamwerk te plaas en die problematiek van seksualiteit as bloot ‘n modernistiese uitvindsel aangetoon. Botha bou hierop voort en sê dat homoseksualiteit eers in die laaste kwart van die negentiende eeu binne biologiese en mediese kontekste gebruik is en dat die Bybel daarom glad nie praat van die gerigtheid of oriëntasie van seksualiteit nie. Die Bybel veroordeel slegs bepaalde seksuele dade. Menswees konstitueer daarom in terme van verhoudings en die menslike persoon se keuses daarin. Eksistensie realiseer dus altyd binne ‘n bepaalde sosiolinguistiese milieu waar bepaalde oortuigings en moraliteit geld. Menswees is dus ‘n wisselwerking van enkeling en groep, tradisie en ervaring, en alleen binne hierdie netwerk – of nexus, soos Peter Berger dit in sy nuutste boek ook noem – is die mens eers werklik méns. En hierbinne maak die mens keuses, assosiasies en ook dissosiasies. Veral Paul Tillich het baie moeite gedoen om die mens juis ook binne ‘n kulturele sfeer te verstaan. Sy bekende stelling in hierdie verband lui ook, “Religion is the substance of culture, culture is the form of religion.” Elke subjek het dus ‘n bepaalde omgewing waarin dit lewe. Die geheel gaan die onderdeel ontologies vooraf en bepaal daarom die karakter daarvan. Wanneer ek ‘n besluit maak, sê Tillich, spreek die konkrete geheel mee en nie net bloot ‘n geïsoleerde subjek nie. Die mens se persoonwees word dus basies gekonstitueer deur die simbiose van sowel biologiese gene as kulturele meme. Kultuur bring waardes en moraal voort en veronderstel ‘n bepaalde vryheid.

Uit die genetiese navorsing kan die volgende insigte samevattend gestel word:

o   Gene handel nooit geïsoleerd nie. Die gene is altyd in wisselwerking nie net onderling nie, maar ook in ‘n wyer konteks. Daar bestaan dus ‘n multifaktoriale oorsaaklikheid.

o   Gene se aktiwiteit is altyd indirek. Die bloudruk van die genoom vra om – soos die planne van ‘n gebou – altyd eers gelees en geïnterpreteer te word.

o   Gene kan aan- en afgeskakel word. Ten spyte van monosigotiese tweelinge se identiese stel gene, is die ontwikkeling daarvan nietemin verskillend. Selle kan gekloon word, maar nie die mens nie.

o   Gene handel slegs op bepaalde fases van ontwikkeling. Alhoewel daar ‘n bepaalde volgorde in die ontwikkeling van die embrio is, is dit tog merkwaardig dat gene ook uit die breinstam migreer en eenvoudig net wegraak.

o   Gene en omgewing is altyd interaktief. Dit word veral met byvoorbeeld in die geval van diabetes gesien. Alhoewel die genetiese predisposisie in ‘n mate bestaan, is dit omgewingsfaktore en keuse-uitoefening wat dit laat of nie laat manifesteer nie.

Gene tree binne ‘n unieke konteks op. Al bogenoemde aspekte spreek dus mee en dit alles bepaal die werking van die gene.

 

Skrywer: Prof Johan Buitendag