Die Here teenoor die afgode (44:1-23) – Francois Malan

Hierdie hoofstuk volg die patroon van Jesaja: Die Here sorg vir Israel; die Here is sterker as die afgode. Verse 1-5 begin met versekerings aan Israel en ‘moenie vrees nie;’ Die twee klein eenhede aan die einde, verse 21-22 en 23, gee ook versekerings aan Israel. Tussenin is verse 6-8 ‘n strydgesprek wat in verse 9-20 uitgebrei word met ‘n lang veroordeling van die afgode. Die hele hoofstuk verseker vir Israel dat ‘n lewe wat goed regeer word deur die Here, ‘n lewensvatbare vertroubare alternatief is vir Babilon se tipe lewe.

44:1-5 Gelowiges behoort aan die Here!

44:1-2 Die hoofstuk begin met ‘Maar nou…’ soos in 43:1, en staan direk ná die donker prentjie van Israel se onwaardigheid in die verlede in 43:22-28. Hulle word geroep om te luister na die nuwe pad van die Here se guns teenoor hulle en hulle daarvoor voor te berei.

Jakob/Israel is my dienaar (‘ebed slaaf) – hulle status en hulle lewenswerk kom van hulle Eienaar af;

wat Hy uitverkies het – daarmee word hulle voorreg en roeping aangedui word (41:8);

Met dié name en posisies verseker die Here hulle van sy guns teenoor hulle en van hulle hoë roeping om diensknegte te wees van die Here/Jahweh, die persoonlik aktiewe teenwoordige ‘Ek is;’

Hy is hulle Maker  en Formeerder van die moederskoot af  – voordat hulle ‘n volk geword het,

het die Here vir Abraham die vader van baie gemaak (Gen 17:5), en sedertdien vorm Hy aan hulle om geskikte ‘dienaars van die Here’ te wees; Hy sal hulle ook nou help; daarom moet hulle nie bang wees nie – maar op die Here vertrou.

My dienaar Jakob (bedrieër), My uitverkorene Jesjurun (opregte; Deutr 33:5,26) – sondaar en regverdige

Martin Luther het gesê: simul justus et peccator – ‘n gelowige is ‘tegelyk regverdige en sondaar’

44:3-4 Hulle sal nie gebrek hê nie (43:20) ‘want (die volgende rede waarom die ballinge nie moet vrees nie, is die verdere verlossingswerk van die Here!) :

Ek stort water op die dorsland en reënval op die droë grond

(die Here gaan sy ryke seën uitstort oor die natuur, 41:18);

Ek stort my Gees op jou saad en my seën op jou nageslag’ (ook die mens se natuurlike lewe word geseën. ‘n Wonderlike nuwe lewe vir die mens word aan Israel beloof met die metafoor van die wonderlike groei van plante in die woestyn. Alle lewe kom van die Gees van die Here (Jes 42:5; Ps 104:30; Pred 12:7) wat lewegewend oor die chaos gesweef het met die skepping (Gen 1:2). En hier word ‘n nuwe lewe vir die ballinge geskilder.

44:5 Die gevolg van die verandering wat die Here gaan teweegbring is dat Israel, wat tans in ballingskap verkeer,  ‘n duidelike en nuwe identiteit gaan ontvang as die volk van die Here, wat met vier name beskryf word wat, met entoesiasme deur die ballinge en van die heidene wat by hulle wil aansluit, gebruik sal word:

Een sal sê ‘Ék behoort aan die Here (Jahweh)’ – ons woord kerk (kuriaké) beteken ‘die Here s’n’

En een sal uitroep ‘in die naam van Jakob’ – as hy ‘n verklaring wil maak

En een sal op sy hand skryf ‘die Here s’n’ – nie meer gemerk as slaaf van ‘n Babiloniese heer of god nie –

maar met die merk van die Here. Die hand  is ook simbool van die werk wat hy/sy doen

En die erenaam Israel opgee – as hy moet opgeskryf word, sal hy met trots sy erenaaam opgee: Israel: ‘God het

stryd gevoer’ – om hom van hom ‘n nederige dienaar te maak soos die sterke Jakob, wat mank gebly                         het na sy worsteling met God (Gen 32:28-31).

Die ballingskap se proses van assimilasie wat Assirië en Babel op Israel afgedwing het deur hulle oral in die ryk te verstrooi (2 Kon 17:6) het daartoe gelei dat Israel en Juda hulle identiteit onderdruk of verloor het, agter Babiloniese name geskuil het, of vir veiligheid of gewin hulle godsdienstige identiteit misken het. Die Here se nuwe aanbod van genade sal dit nou vir hulle verander deur Kores se anderse beleid van hervestiging van mense in hulle ou gebiede (vgl. Esra 1:1-4). As geliefdes en uitverkorenes van die Here kan hulle openlik bely dat hulle aan die Here behoort, dat Hy hulle beskerm en versorg, en dat hulle aan Hom gehoorsaam lewe (vgl. Hand 4:19-20).

Die Here het die tien noordelike stamme van Israel in 722 v.C. in ballingskap in die Assiriese ryk verstrooi (2 Kon 17:6). Die Assiriese ryk is in 612 v.C. deur die Babiloniers oorgeneem. In 597 v.C. en 587 v.C. is die twee stamme van die Juda-ryk in ballingskap in Babel verstrooi. Die twee broervolke wat voorrtdurend in stryd en oorlog met mekaar gewikkel was, het ná die ballingskap teruggekeer as een volk Israel van 538 v.C. onder Serubbabel tot 458 v.C. met Esra en 445-428 v.C met Nehemia. So het die Here een deel van sy doel met die lyding van Israel en Juda in die ballingskap bereik om van die twee weer een te maak (Eseg 37:15-22). Dit is ook die doel van Christus vir sy kerk (Jn 17:22-23; Gl 3:28).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Aan ‘n onwaardige volk skenk die Here sy heil (Jesaja 43:22-28) – Francois Malan

43:22 Hier voer die Here ‘n regsstryd met Israel. Hulle het Hom verwyt dat Hy hulle vergeet het, hier verweer die Here Hom dat hulle die skuldiges is. ‘Maar…’ ten spyte van wat die Here besig is om vir Israel reg te maak. Let op die kontraste:

Ek het jou geroep op jou naam,  jy is Myne (43:1); ‘vir My het jy nie geroep nie, Jakob!’ (43:22) in hulle nood het hulle nie die Here aangeroep of tot Hom gebid nie (maar tot die gode van Babilon). ‘want jy het moeg geword vir My (43:22);

43:23b Ek het nie van julle vereis, as slawe belas, met graanoffers (vir My) nie, en Ek het  julle nie moeg gemaak met reukoffers (vir My te vereis) nie.

43:24b maar jy het my belas (met slawewerk) met jou sonde; jy het My moeg gemaak met jou oortredings. Israel het nie tot die Here geroep om hulle uit die ballingskap te verlos nie. Uit sy vrye genade het die Here Israel uit hulle ballingskap uitgeroep, uit die eindes van die aarde het Hy hulle terug geroep (41:9).

43:23 Vir My het jy nie ‘n lam as brandoffer gebring nie – wel vir die afgode.

met jou offerandes  het jy My nie vereer nie – om daarmee te getuig dat hulle aan Hom behoort nie en Hom te beweeg om hulle te help nie.

43:24 Wierook – letterlik: soet Persiese riet wat as wierook gebrand is. Israel het nie met hulle geld wierook vir die Here gekoop nie. Daarmee sou hulle wys dat hulle deel van hulle geld as offer aan die Here gee. Die vet stukke van die vleis is op die altaar gebrand as bewys dat die beste deel aan die Here geoffer word. Alles om die hoë waarde wat die Here  vir jou lewe het, te bewys. Dit het die bannelinge nie gedoen nie, wat bewys dat hulle nog nie die Here leer liefkry het in hulle verdrukking nie. Inteendeel het hulle sonde en oortredinge vir Hom slawewerk (‘ebodah) beteken – werk waarvoor daar geen dank en waardering was nie (Luk 17:9) – in Jes 53:5 word die Dienaar  (‘ebed slaaf) van die Here oor ons oortredings deurboor en oor ons sondes verbrysel.

43:25 ‘Ek, ja Ek (soos in 43:11), is besig om jou opstandigheid/oortredinge uit te wis om My ontwil, en aan jou sondes sal Ek nie dink/onthou nie – dit word uitgewis uit die skuldboek (Ps 51:3-4; Kol 2:14). Die verlossing begin met ‘n uitdelging van hulle oortredings. Om nie daaraan te dink nie beteken vergewing daarvan, dat dit nie meer teen hulle gehou word in die regsgeding nie. Hierdie eensydige besluit van die Here om te vergewe geld in die nuwe bedeling. Hulle verlossing is alles die Here se werk waaraan Israel geen aandeel neem nie, maar dit slegs aanneem deur geloof in die Here en sy genade. In 40:1-2 is gesê: Israel het met die ballingskap ten volle betaal vir die sondes van die verlede. Hier kry hulle ook vergifnis vir die sondes waarin hulle tydens die jare in ballingskap geleef het toe hulle nie openlik vir die Here kant gekies het onder Babel se bewind nie.

In 43:14 sê die Here dat Hy om Israel se ontwil vir Kores stuur om al Babilon se inwoners te laat vlug. Hier sê Hy dat Hy om sy eie ontwil (1983:getrou aan Myself) Israel se oortredings uitwis en nie meer aan hulle sonde dink nie – want dit is hoe die Here is, sy wese en sy passie is om Israel te vergewe as hulle na Hom toe kom (vgl. Ps 86:5; Ps 103:8-12; Dan 9:9;  1 Jn 1:9; sy optrede teenoor die teruggekeerde verlore seun Luk 15:20).

43:26-28  Israel word uitgedaag om sy aanklag teen die Here voor die hof te lê en kry eerste die geleentheid om sy eie onskuld te bewys. Hy moet al sy verdienstes voorlê (letterlik: herinner My) waarop hy hom teen die Here kan beroep, laat ons die saak uitmaak/saam oor die saak praat,  sodat jy geregverdig kan word. Die Here wag egter nie vir hulle antwoord soos vir die afgode en die afgodedienaars in 41:21-24 nie. Hy ken hulle deur en deur reeds van ouds af.

Jou eerste voorouer het gesondig, waarskynlik Jakob/Israel, wie se naam hulle dra en wie se kinders hulle is, in murg en been sondaars (vgl. vers 28; Hosea12:4); en dié wat vir jou pleit, het teen My oortree, waarskynlik die profete en konings maar in die lig van vers 28 veral die priesters wat vir die sonde van die volk moes offer – hulle word letterlik genoem ‘die leiers van die heiligdom;’ hulle is deur die Here ontwy – ongeskik gemaak vir hulle diens in die heiligdom vir die versoening vir die volk, om vir Israel by die Here te pleit, ook in hierdie hofsaak. Die Here het die volk aan die (cherêm banvloek) oorgegee, ongeskik om die Here s’n te wees, daarom is hulle aan uitroeiing oorgegee en aan die bespotting van die heidene. Israel kan geen getuienis of verdienste aan die hof voorlê om hulle saak te bevorder nie. Dit is die Here se genade alleen, sy liefde vir hulle, wat hulle verlossing bewerk. So gaan hulle absoluut afhanklik van die Here terug Jerusalem toe.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Die Here se heel nuwe optrede (43:14-21) – Francois Malan

43:14-15 Die voorspelling in 14b oor wat die Here gaan doen, word omsluit met name van die Here (14b,15) wat alles  begin en deurvoer onder sy hand. ‘So sê die Here (Jahweh) julle Losser (go’al, wat as julle Helper in nood julle gaan loskoop, 43:3), die Heilige van Israel (die God wat in liefde aan Israel toegewy is, 43:4 )…Ek is die Here (Jahweh wat aktief teenwoordig is), julle Heilige (Toegewyde aan julle), Skepper van Israel (julle hele bestaan is van Hom afhanklik), julle Koning (wat julle verwerp het, 1 Sam 8:7;  maar  nog altyd julle Koning gebly het).’

‘…om julle ontwil, gaan Ek (vir Kores) stuur na Babel (Dooie See MS: teen Babel), en al die geslote hekke (hulle teenstand) afbreek, en die Galdeërs (die Griekse naam vir ‘n nomandestam in die suide van Babilonië waaruit Nebukadneser gestam het) se vreugdeuitroepe  met klaagliedere (vervang?)’

Kores gaan Babel verower. Dit sal gebeur om die Here se besluit uit te voer, en geskied om Israel se ontwil, sodat hulle verlos kan word. Elkeen van die Here se Name is in die gedrang as dit nie geskied nie. Maar elkeen van die Name van die Here is ‘n waarborg dat dit sal geskied, en dien as bewys dat die Here God is, op wie Israel en die nasies kan vertrou. Met die Name identifiseer die Here Homself aan Israel terwyl Hy sy wêreldwye invloed en mag demonstreer.

43:16-17 Hierdie tweede ‘so sê die Here’ inleidingsformule lei tot een van die mees uitdagende en skouspelagtige bevestigings van Jesaja. Israel se wortels is geleë in hulle geheue oor die oergeskiedenis, van die Here se skeppingswerk, sy verbond met Abraham toe Hy Israel geskep het (43:1,15) en sy verlossing met hulle uittog onder Moses, soos dit in vers 16-17 beskryf word, en wat hulle onthou as die wonders van die Here, bv.  hulle deurtog deur die Rietsee en verlossing uit die hand van Farao se leër wat op die strand uitgespoel het (Eks 14:30), ‘uitgedoof soos ‘n lamppit’ – militêre mag bepaal nie die Here se einddoel nie. Dit alles bevestig dat die Here hulle daagliks lei en liefhet van die ou tyd af, en hulle kan seker wees dat Hy dit nou weer gaan doen, maar op ‘n nuwe manier (43:14).

43:18 Die ou dinge verbleek by wat die Here nou gaan doen, daarom moet hulle vanuit God se nuwe pad van verlossing anders begin lewe. Die oue is slegs die waarborg dat die Here hulle nou op ‘n nuwe wyse gaan verlos.

43:19a ‘dit staan op die punt om te gebeur,’ letterlik: ‘nou sal dit uitspruit’ of: ‘nou spruit dit uit;’ ‘julle kan dit al sien kom’  (in 42:9 staan: Ek kondig nuwe dinge aan voordat dit uitspruit) – die ballinge kan al Kores se suksesse teen Babel en Klein-Asië sien, en moet begin besef die Here hulle gaan verlos deur Kores wat deur die Here gestuur is om Israel se ontwil (43:14).

43:19b-21 beskryf die nuwe wat kom as ‘n nuwe eksodus vir Israel, wat nie tot een klein volkie beperk is nie, maar dit is ‘n wêreldwye verandering, wat selfs die skepping omskep: woestynwêreld word ‘n waterryke lushof met riviere wat lewe moontlik maak en uitvloei na ander gebiede (vgl 35:6-7; 41:18-19). Die Skeppergod gaan die hele skepping vernuwe en herstel. Baie diere gaan daarby baat vind, selfs die jakkalse en volstruise, maar die fokuspunt is ‘my volk, my uitverkore volk’ om hulle ‘dors te les,’ om hulle te versorg.

Die profete sien gewoonlik verskillende agtereenvolgende bergspitse sonder om die dale tussen die reekse te kan bepaal. So word hier geprofeteer oor Israel se terugtog waarop die Here hulle gaan versorg, maar die verre bergspitse van die nuwe aarde sal wel later kom.

‘Die wilde diere sal My vereer’ – hulle vreugde oor die water wat hulle ruik laat hulle runnik tot eer van die Here (vgl. Ps 147:9). Maar eintlik is die doel van die Here met dit alles dat sy volk sy lof sal verkondig. Daarvoor het Hy sy volk gevorm, ook deur die ballingskap se verdrukking heen – soos die pottebakker sy klei trap tot dit plooibaar is (41:25; 43:7); daarvoor het die Here Israel geskep en daarvoor gaan Hy hulle verlos – om Hom te loof met hulle lofsange en hulle lewenswyse. Die ware nuwe ding is om die Here se volk te wees, ‘n vreugdevolle aanbiddende gemeente van die Here in Jerusalem.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Die Skepper wat loskoop, vergewe en ontheilig (Jesaja 43:1-28) – Francois Malan

Die hooftemas van Israel se geloof word in hierdie hoofstuk aan hulle voorgehou: Die Here is innig toegewy aan Israel en gaan optree om hulle te verlos uit die ballingskap. Die Here is in sy wese soewerein en sal hard met Israel handel as hulle ongehoorsaam is en nie op sy roepstem reageer nie. Sy toegeneëntheid teenoor Israel blyk duidelik uit die verlossingswoorde van verse 1-7, 14-21, sowel as die verbasende vers 25. Sy gestrengheid teenoor Israel word sterk verwoord in verse 22-24,26-28.

‘n Derde motief is die Here se dagvaarding van Israel om vir Hom te getuig in die saak voor die hof. Die gawes en vereistes van die Here verseker dat die lewende verhouding van Israel se lewe saam met die Here dinamies, verrassend en soms duur kan wees. Die verlossingsboodskap van 43:1-7 volg op die harde woorde van 42:21-25, en die streng slot van 43:22-28 word beantwoord met 44:1-8 se vaderlike versekerings.

 

Die Here se liefde vir Israel (43:1-7)

Die uitspraak, wat die Here se liefde vir Israel uitspel, is gebou rondom die herhaalde vertroosting in vers 1 en 5: Moenie bang wees nie, om Israel se gevoel dat die Here hulle verlaat het, te oorwin.

43:1 In die eerste Moenie vrees nie-uitspraak is die Skepper en Formeerder van Israel, wat ook die Skepper van die wêreld is, aan die woord. Die rede vir die uitspraak is dat die Here hulle losgekoop het, die Hebreeuse term ga’al uit die familiereg vir die sterker familielid wat vir die swakker een se beswil intree. Dit word ondersteun met ‘n aannemingsformule: Ek het jou op jou naam geroep – jy is nou Myne, my kind! En die Here weier om van sy regmatige besitting beroof te word. Teenoor die donker hede van Israel se nood en sonde stel die profeet hier weer die blye toekoms, die hoofstuk begin met: Maar nou – dit verwys na die aanstaande omkeer van hulle omstandighede.

43:2  Die intieme verhouding met die Here verseker sy hulp in elke gevaar: vloedwater (soos deur die Rietsee?), vuur (soos die hitte van die woestyn?) – metafore vir enige soort bedreiging.

43:3 Die Here (die persoonlik teenwoordige Ek is), die Heilige (die Toegewyde) van (aan) Israel,  jou Helper (mosji‘ah) sê Hy is besig om  Israel se loskoping te onderhandel sodat hulle kan terugkom na hulle land. Hy gee Egipte en Etiopië (Kus en Seba) as losprys (kofêr). Kores se seun en opvolger, Kambésus, het later Egipte en sy omringende gebiede ingeneem.

43.4 Die Here doen dit alles vanweë sy groot liefde vir sy volk Israel – die klein ellendige en onbelangrike groepie ballinge wat gaan terugkeer is die volk van die Here, kosbaar in sy oë net so armsalig as wat hulle is. En dink wie sê dat hulle kosbaar is in sy oë – Hy is die Here, die God wat altyd persoonlik teenwoordig is, die Heerser oor alle magte en gesagdraers, oor die ganse geskiedenis en oor sy hele skepping!

43:5-6 Die ‘Moenie vrees nie’ van vers 1 word herhaal met die versekering dat die Here by hulle is. Die terugkeer van die verstrooide Israel van die uithoeke van die aarde af waarheen hulle verstrooi is, word geskilder as die bewys van die Here se aktiewe teenwoordigheid. Die Here noem hulle ‘my seuns en my dogters.’ Reeds in Eks 4:22 sê die Here dat Israel, wat toe Egipte se slawe was, sy oudste seun is. Hy roep sy dienaars bymekaar deur sy woord, en maak deur sy dienaar Kores dit vir hulle moontlik. In Lukas 13:29 belowe Jesus dat mense uit die ooste, weste, noorde en suide sal aansit aan die feesmaal in die koninkryk van God, al is dié wat deur die smal deur sal ingaan maar min (Lk 13:24; Mt 7:21-23).

43:7 Die terugkeer van die ballinge kom deur die Here se groot liefde vir ‘my volk, my seuns en dogters,’  ‘elkeen wat na my Naam genoem word’ – hulle naam Israel  beteken ‘hy worstel/voer stryd met God’ of ‘God seëvier,’ Gen 32:28  (vgl Hand 11:26: die naam ‘Christene vir Jesus se volgelinge is in Antiogië die eerste keer Christene genoem; so beteken die woord kerk wat ‘n vertaling is van die Griekse kuriake, die Here s’n) – ‘wat Ek vir my eer geskep het (bara)’ –  om die Here groot te maak en te dien – ‘wat Ek gevorm het (jatsar)’ – soos ‘n pottebakker ‘n kleipot na sy hand vorm  (Jer 18:3-4) – ‘ja, wat Ek gemaak het (‘asah)’ – elkeen met die Here se spesifieke doel met hom/haar.

 

Getuienis vir die Heilige Ware God (43:8-13)

43:8 Die beeld van ‘n hofsitting word weer gebruik, soos in 41:1-7 en 21-29. Hier vir die Here se dispuut met die ander gode om te bepaal wie die ware God is wie gedien, vereer en gehoorsaam  moet word. Die nuwe aspek van hierdie hof is dat die blinde en dowe Israel opgeroep word as die Here se getuies (soos in vers 10 uitgespel). Hulle moet in hulle blindheid en doofheid kom om oog- en oorgetuies te wees dat die Here die ware God is. Selfs in hulle gestermdheid is hulle genoegsame getuies vir die Here (vgl. 2 Kor 12:9: My krag kom juis tot volle werking as jy swak is).

43:9 Die nasies en volke en hulle gode moet eerste bewyse voor die hof voorlê: eerstens of hulle sulke aankondigings kan maak soos die Here in verse 1-7 gedoen het; tweedens dat hulle afgode dinge vooruit kon aankondig en deurvoer, sodat dié wat luister kan sê: dit is die waarheid – soos die ou profete wie se woorde later as waar bewys is toe dit gebeur het (vgl. bv Elia se voorspelling van droogte, 1 Kon 17:1). Jesus se stelling dat Hy van die waarheid moet getuig het Pilatus se vraag ontlok: wat is waarheid?  (Jn 18:38). Dit is die vraag wat deur die eeue aan die gelowiges gestel word, en moes hier deur die ‘blinde en dowe’ Israel voor die wêreld beantwoord word.

43:10 Soos ‘n advokaat sê die Here vir Israel voor, wat om te antwoord; hulle is sy getuies, sy dienaar wat Hy uitgekies het om Hom te ken en in Hom te glo en te besef dat Hy die Here is – Jahweh, die aktiewe teenwoordige God, die enigste wat kan voorspel en dit uitvoer, sonder enige ander aanspraakmaker daarop voor of na Hom – in elk geval nie Babilon se afgode, of ideologië of magte nie.

43:11 Nogeens word die waarheid wat Israel moet getuig gestel: ‘Ek, Ek (is) die Here (Jahweh) buiten My geen Helper (mosji‘ah, 43:3)  – om te red  nie. So het net die Here Homself bekendgemaak, en net Hy is die lewende Redder wat hulle uit hulle ballingskap kan lei.

43:12 Wat die Heiland/Helper is, word nader toegelig uit wat Hy gedoen het: Hy het hulle redding aangekondig, hulle gered en dit laat verkondig. In die verlede het Hy baie keer aan Israel sy redding aangekondig en hulle dan gered; daarna, in  nuwe noodsituasies van Israel, het Hy dikwels sy heilsboodskap laat hoor deur die profete. Die vreemde gode het dit nooit vir hulle mense gedoen nie. Daarom kan Israel nou getuig en dat die Here waarlik God is.

43:13 Nou gaan hulle weer sy Redding, wat Hy nou aankondig, sien en beleef. En as Hy optree kan niemand jou uit sy hand ruk nie (Jn 10:28-30) en niemand kan sy reddingswerk keer nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan