Jesaja – ‘n Sondige volk (42:18-25) – Francois Malan

In 18-25 onderbreek die profeet die heilsaankondiging met ‘n breë beskrywing van Israel se nood in die ballingskap met nadruk op hulle sonde as die oorsaak daarvan. Dan volg 43:1-8 opnuut met die belofte van verlossing.

42:18-20 Hier is die Here self aan die woord. Hy spreek sy dienaar en boodskapper, Israel, aan, wat nog voortgaan om teen die Here te kla oor hulle huidige hopelose situasie, soos in 40:27: die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby. In Ps 44:9-12 word so ‘n klagte breër uitgespel deur die oorblyfsel in die lied van die Koragiete. Die Here word aangekla van doofheid en blindheid om Israel se klag te hoor of sy nood raak te sien, en dit deur die bevoorregte volk wat eintlik die Here se dienaar en boodskapper tussen die heidense volke behoort te wees. In Eks 2:24-25 is reeds vertel dat die Here Israel se nood in hulle 400 jarige verblyf in Egipte gesien het en hulle sugte en gekreun gehoor het. Hier sê die Here: Israel sien baie dinge maar slaan nie daarop ag nie, sy ore is oop maar hy luister/verstaan nie; Israel is vir die Here ‘n blinde dienaar en ‘n dowe boodskapper wat nie hulle hoë roeping as dienaars volbring nie (in verse 18-12 word doof 2x en blind 4x gebruik). Na hulle verlossing met die deurtog deur die Rietsee het die Israeliete gesien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het en het hulle die Here en sy dienskneg Moses geglo (Eks 14:30-31). Maar Israel in ballingskap onder Babel is nog blind en doof vir die woord van die Here soos Hy in Jes 6:9-10 voor die ballingkap voorspel het. Hulle blindheid en doofheid gaan voort deur die boek Jesaja tot in 65:11-12 vir dié wat van die Here afvallig geword het, teenoor die klein deeltjie van Israel, die oorblyfsel (Jes 10:20-23) wat sy dienaars gebly het, soos die 7,000 in Elia se tyd, wat selfs deur die drie jaar droogte, nie die beeld van Baäl, die god van die natuurkragte, aanbid het nie (1 Kon 19:18; Hosea 2:4,7).

42:21 Nadat die Here self aan die woord was in 42:18-20, word hier oor die Here  gepraat. Vir Israel was daar baie te hoor. Hulle was bevoorreg om die onderwysing (torah – hier vir die wet en die profete van die OT) van die Here te ontvang. Daarin is die wil van die Here en sy doel met Israel duidelik uitgespel (1983: Hy laat sy woord roem en eer ontvang – letterlik: Hy maak torah groot en gee heerlikheid daaraan). Wat ‘n voorreg om daarin groot te word. Die rede waarom die Here dit vir Israel doen: Hy wil dit doen, en het vreugde daarin, ter wille van sy geregtigheid (tsedaka). Hy skenk alles waarop Hy aan Israel die reg gegee het volgens sy verbond (42:6), maar Hy wil hê hulle moet sy dienaars wees, wat sy geregtigheid na die nasies uitdra sodat daar geregtigheid op aarde sal wees.

42:22-23 Nieteenstaande die heerlike openbaring van die Here, wat Israel kon gelukkig maak, sug hulle nou in die ballingskap. Hulle is ellendig, verward, en hulle ly. Die digter benadruk hulle lyding in hiperboliese taal, soos Israel self hulle lyding aan die Here beskryf, erger as wat dit is – asof niemand aandag aan hulle gee nie.

42:24 As hulle sou vra waarom hulle so ly, is daar net een antwoord: dit kom van  die Here, wat Israel straf oor hulle eiewilligheid en ongehoorsaamheid. Hulle moet erken: hulle wou nie op sy paaie loop nie (vgl. bv. sy uitnodiging en waarskuwing in Jes 1:18-20 wat hulle ontvang het nog voor enige van die ballingskappe), en hulle wou nie luister na sy onderwysing (torah) wat die Here vir hulle in sy wet en deur die profete gegee het nie.

42:25 Daarom het die Here hulle sy brandende toorn laat voel en vir hulle krygsgeweld en ballingskap laat beleef. Die vlamme was rondom hulle soos dit die Babiloniërs gebrand het, en dit het tot by hulle gekom sodat die volk Israel te gronde gegaan het, maar hulle was so blind en doof dat hulle dit nie ter harte wou neem nie, en hulle wou die betekenis daarvan nie verstaan nie – nie voor die ballingskap nie, en  ook nie tydens die ballingskap nie. Daarom het die Here hulle oorgegee aan hulle blindheid en doofheid (Jes 6:10).

Skrywer:   Prof Francois Malan

 




Jesaja – ‘n Nuwe lied oor die Here se nuwe wêreld (42:10-17) – Francois Malan

42:1-2 Die hele wêreld word opgeroep om saam met Israel met uitbundige lof die Here te besing. Dit gaan om ‘n verskyning van die Here wat gaan kom om ‘n radikaal nuwe bedeling uit te werk, wat vir Israel ten goede gaan aanbreek, soos in  42:14-17 uitgespel word.

Wie die koorlede is wat sy lof besing, word in verse 10-12 uitgespel: alle skepsels, die see en alles daarop en daarin, die verre eilande en hulle inwoners, die woestyn en hulle nomade-gemeenskappe in tentdorpe, stede en dorpe – orals moet die Here geëer word en sy lof besing word, soos in Ps 96. Kedar is ‘n belangrike Arabiese stam in die Noorde van Arabië wat aan Babel grens (vgl. die uitspraak teen Arabië in 21:13-17); Sela is die hoofstad van die Edomiete wat met Babel saamgespan het teen Israel (Eseg 35:5). Hulle word opgeroep om van die berge af die lof van die Here te besing vir sy redding van Israel wat voor hulle oë terugtrek na hulle land toe.

‘n Nuwe lied word vir die Here gesing vir sy nuwe optrede deur Kores. Kores gaan  die Babiloniese oorheersing, wat volke met mag en geweld onderdruk, vervang  met ‘n rustige en vredevolle heerskappy van onderlinge diensbaarheid. Openb 5:9-10 se nuwe lied besing die vervulling hiervan deur die Lam van God, wat  aan sy kruis God se liefde bekend gemaak het.

42:13 gee as rede vir die nuwe lied aan, dat die Here besig is om te mobiliseer vir aksie, soos Hy Israel uit Egipte verlos het. Soos ‘n generaal lei die Here sy soldate uit en bemoedig hulle. Nou gaan Kores as die Here se dienaar optree teen Babel en die wêreld omkeer om die Here se mag oor sy vyande te wys en ook sy liefdevolle toewyding aan sy volk.

42:14 Die Here praat hier in die eerste persoon. In die eerste twee reëls dink Hy terug aan die verlede toe Hy vir ‘n lang tyd op die agtergrond gebly het, en  sy liefde vir Israel bedwing het en nie ingegryp het tydens die ballingskap nie. Want Hy het nog nie sy doel met Israel se ballingskap ten vollle bereik nie. Omdat die Here nie ingegryp het nie het sake so sleg geword vir Israel en het Babilon floreer ten koste van Israel. Maar nou gaan Hy optree. As die Here optree, verander alles, soos met die koms, dood en opstanding van Christus, waarin mense vandag nog kan sien dat die Here optree in sy groot liefde vir die wêreld. Toe die Here sy stilte verbreek, is dit nie meer kalm of privaat nie. Die nuwe aktiwiteit is rusteloos en lawaaierig soos met ‘n vrou in kraam. Die digter skroom nie om die krygsman se verwoesting en die vrou in geboortepyn teenoor mekaar te stel nie, om daarmee dié wat in wanhoop is, wakker te skud om die Here se aktiewe teenwoordigheid raak te sien. Iets nuuts gaan gebore word waaroor Israel en die nasies kan jubel soos ‘n vrou oor haar pasgebore baba (Joh 16:21).

42:15-16 Alles gaan verander as die Here begin optree: die plantegroei word verwoes, die watertoevoer  verander, maar hierdie plunderende kryger teen Babel sal omsien na die blindes en hulle saggies huistoe lei, geduldig op ‘n veilige pad. Die ‘blindes’ verwys vir seker na Israel se ballinge wat blind is vir die Here se plan met hulle en met die wêreld (soos in 35:5; 42:7,18-25). Hulle is verdruk onder Babel se mag en geweld, wat die Here gaan verbreek deur Kores se magtige veldtog teen Babel, om Israel te bevry en hulle veilig te laat terugkeer na hulle eie land (vgl 40:11 soos ‘n herder wat die lammers dra). Die Here is self die lig. Sy teenwoordigheid sal die duisternis verdryf en die hindernisse op die pad terug verwyder. Die nuwe era bring baie veranderinge, maar God se toewyding aan sy volk om hulle te lei, verander nooit. Soos Hy hulle uit Egipteland gelei het, gaan Hy hulle uit Babel lei. Sy oorwinninguitroep klink op met: ‘Dit is wat Ek gaan doen!’  soos Jesus aan die kruis: met ‘Dit is volbring’ (Joh 19:30). Die laaste reël verseker Israel van die Here se getrouheid: ‘Ek gaan hulle nie in die steek laat nie (nie daarvan afsien nie).’

42:17 As die Here Hom in sy grootheid openbaar, sal die afgodedienaars, Babel en Israeliete wat saam met Babel afgode dien, beskaamd omdraai en vlug, omdat hulle steeds op nietige afgode vertrou. In die hofsaak tussen die Here en die afgode met hulle afgodsdienaars, is die Here die alleen-wenner. Hy gaan konkreet optree met politieke, militêre en historiese gevolge vir die nasies en vir Israel. Die Here is in beheer van die lewe, nie Babilon of hedendaagse regeerders wat die lewe van mense wil reël nie, en dit sonder die Here, want dan word alles onseker en onveilig.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – ‘n Dienaar, ‘n Stryder, ‘n Dispuut (Jesaja 42:1-25) – Francois Malan

Die hoofstuk begin met die oproep tot die dienaar van die Here (42:1-9) wie se koms in 41:25 aangekondig is, om die HERE se kragtige ingryping vir Israel  te vier (42:10-17) en bereik sy klimaks met ‘n dispuut tussen die Here en sy volk (42:18-25).

 

Kores as dienaar van die Here (Jesaja 42:1-9)

42:1-4 Hier is die eerste van die vier merkwaardige profesieë oor die ‘Dienaar van die Here’ (49:1-9; 50:4-9; 52:13-53:12)  nadat hoofstukke 40-41 Israel se verlossing uit die ballingskap aangekondig het, en 41:25 die optrede van Kores as getuienis vir die Here teen die afgode in die hofsaak ingeroep is.

Die term Dienaar van die Here in Jesaja 40-66 verwys meestal na Israel as die Dienaar van die Here (41:8; 42:19; 43:10; 44:1, 21; 45:4; 48:20). In die opskrifte van Ps 18:1; Ps 36:1 en in Ps 84:4,21 word Dawid die Dienaar van die Here genoem. Dit word ook gebruik vir vromes: Ps 34:23; 69:37; 113:1; 134:1; van Moses: Eks 14:31; Josua in Rigt 2:8; Job in Job 1:8, Zerubbabel in Haggai 2:24; dikwels van profete: Agia in 1 Kon 14:18; Elia in 1 Kon 18:36; Jona in 2 Kon 14:25; Jesaja in Jes 20:3; van getroue vereerders van die Here in Jes 54:17; 63:17; 65:8; 66:14.

Die vier profesië van Jes 42,49,50,52-53 word deur Christus (in Grieks vir die Hebreeuse Messias, wat beteken Gesalfde) op treffende wyse vervul as gesalfde profeet wat God aan die mens bekendmaak (Joh 14:9), as gesalfde priester wat Homself offer vir die sonde van die wêreld (Joh 1:29; Hebr 7:27) en as gesalfde koning wat in liefde en genade heers oor sy skepping en kerk (Ef 1:22).

Die frase ‘my wil’ kom driemaal in hierdie gedeelte voor (42:1,3,4) as vertaling van misjpat wat eintlik verwys na ‘n regsuitpraak/beslissing en ‘n regsaanspraak, en verwys hier na die beslissing van die hemelse hofsitting voor die nasies van die wêreld dat die Here die enigste ware God is (41:27-29). Kores is as getuie geroep (41:25; 42:1) om die beslissing van die hof uit te voer voor die nasies van die wêreld (42:4). Hier bevestig die Here sy vertroue in Kores as sy uitverkore werktuig, wat deur die Gees van die Here gelei word (42:1) ter wille van die waarheid (1983: ‘soos dit is’) van die uitspraak (v3).

Hy gaan sy taak verrig sonder ‘n lawaai of oorlogsgeraas (42:2), maar dit so stilweg uitvoer dat die oppervlakkige toeskouer dit nie gaan raaksien nie. Met teerheid bejeen hy die swakkes, die kragtelose geknakte riete versterk hy, en die kwynende dowwe lamppitte wakker hy aan – so werk die Gees van die Here in Kores om die moedelose en twyfelende ballinge aan te moedig.

Kores sal nie uitgeput word of wegkwyn nie, totdat hy die reg op die aarde gevestig het. Die eilande  (die uithoeke van die aarde) wag op sy torah/leiding (later word torah gebruik vir die wet, en later vir die eerste vyf boeke van die OT) – want die Here (wat nie moeg of afgemat word nie, 40:28) sal hom staande hou (42:1; 1983: Ek stel hom aan).

42:5 Na die gedeelte oor Kores as Dienaar van die Here (42:1-4) is die nuwe gedeelte meer liries en open  op plegtige wyse om ‘n woord van die Here tot sy Dienaar Israel in te lei. Dié God, die Here, wat in die regsgeding as die enigste ware God aangewys is, is die Skepper van die hemel en die aarde en alles wat daaruit voortkom; Hy gee (lewens)asem (nesjamah  Gen 2:7) aan die mensdom daarop, en asem/gees/denke (ruag) aan dié wat daarop loop.’

42:6 Hier word die Here self aan die woord gestel. ‘Ek, die Here (Jahweh, die persoonlike aktief teenwoordige, Die ‘Ek is’) het jou geroep in/tot geregtigheid (die regte verhouding met die Here). Ek neem jou aan jou hand (om jou te lei) en Ek behoed jou (teen gevaar en onheil) en Ek gee jou tot ‘n verbond van die mensdom (deur Israel se lewenswyse as dienaar van die Here om mense tot die regte verhouding tot die Here te lei) tot ‘n lig vir die nasies (na die Here toe lei deur die regte soort lewe as dienaars van die Here en van mekaar).’

42:7 Wat die verbond met die Here inhou, word hier prakties uitgespel in drie sinne. Twee van die sinne het met gevangenes in die tronk te doen as beeld vir die ballingskap van Israel. Dit beteken dat ‘om blinde oë te open’ ook beeldspraak is, om as die Here se lig vir die nasies (v6), mense se verkeerde insigte te verlig om nuut oor die Here en die lewe te dink.

Jesus hét fisiese blindes se gesig herstel as teken van sy barmhartigheid (Mt 20:34), maar die siende Fariseërs was blind vir wie Jesus is (Jn 9:39-41). Deel van die kerk en samelewing se dienaarskap aan die Here is om na fisiese blindes om te sien met skoling, werkverskaffing, mediese ingrype om hulle fisiese sig te verbeter. Maar die roeping van Israel in ballingskap en daarna, en vir Jesus se volgelinge, is om verharde selfsugtiges se oë te open vir liefdevolle dienswerk (vgl. Mat 7:3-5). Kores se optrede moet ook Israel se oë open vir ‘n ander manier van optrede, hoe om as Dienaar van die Here te dien en met mense te werk. So wil die Here hê dat Israel voortaan sal lewe.

Terwyl Israel en al die Here se dienaars geroep is om gevangenes uit tronke te bevry, en om hulle uit die donkerte van hulle sonde en  onwetenheid waarin hulle gevange sit tot vryheid na Jesus te lei, slaan die woorde ook op die fisiese bevryding van die ballinge deur Kores, ook ‘n dienaar van die Here. Gelowiges word geroep om aandag te gee aan gevangenes (vgl. Mt 25:36).

42:8-9 Die mandaat aan Israel as Dienaar van die Here in 42:6b-7 word omsluit deur die kragtige getuienisse van die Here oor Homself in 42:5-6a en 42:8-9. In vers 5-6a praat God die Here as die Skepper wat Israel geroep het omdat Hy getrou is aan sy verbond;  in 8-9 praat die Here met verwysing na sy naam Jahweh, die persoonlik teenwoordige Ek is, wat niks van sy goddelike heerlikheid met die afgode deel nie. Die roeping van die Dienaar van die Here word omring met die wil van die Skepper. Israel moet sy wil gaan uitvoer; hulle moet die verbond van die Here uitbrei na ander nasies om sy lig vir hulle te bring, want die Here wil nie dat die nasies in duisternis voortlewe nie. Skulde moet afgeskryf word en die armes bevry word, want die Here sorg vir die kwesbares en wil nie hê dat mense in treurige omstandighede lewe nie; dit is Hy wat alles wat die aarde oplewer vir die mens gee, en diegene wat daarvan het, moet kyk na dié wat nie het nie. Hy kondig nuwe dinge aan, ‘n nuwe lewenswyse van diensbaarheid vir alle nasies, en Israel se lewe as Dienaar van die Here moet daarvan getuig.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Die Here se hofsitting (Jesaja 41:21-29) – Francois Malan

41:21-29 Die tweede hoftoespraak van die Here (dit word ook voortgesit in hoofstuk 42) is ‘n uitdaging aan die afgode 21-24; en die inbring van Kores as die Here se getuie 25-29.

41:21 Die afgode en hulle aanbidders word deur die Here uitgedaag om hulle saak voor al die nasies (41:1) te verdedig met bewyse wat hulle afgode se godheid sal bewys. Die Here word ook genoem die Koning van Jakob om sy verbondenheid aan Israel te beklemtoon, en dat sy Godheid deur sy handeling met sy volk duidelik sal word. In 41:8-20 het Hy reeds aangekondig wat Hy met Israel gaan doen.

41:22-23 Die gode moet bewys lewer dat hulle in die verlede gebeurtenisse kon voorspel en dit deurgevoer het soos hulle voorspel het; of dat hulle nou dinge voorspel wat gaan gebeur; of hulle kan ook hier voor die hof ‘n wonder laat geskied, goed of  kwaad, wat almal sal verbaas.

41:24 ‘Kyk! julle (afgode) is minder as niks (letterlik: uit niks) en julle werk minder as niks (letterlik: uit niks).’ Na ‘n lang stilte in die hof, in afwagting op hulle reaksie, is die antwoord van die afgode op die uitdagings ‘n doodse stilte. Hulle kan nie eers praat en hulle saak stel nie; maar nog belangriker, hulle het niks te sê nie, want hulle behoort aan die ryk van die niks, met geen werklike bestaan nie (41:11-12; vgl die Baälprofete in 1 Kon 18:29 ). Die ballinge kan sien dat hulle dreigende oorheersers nietig is in die Here se hofsitting, hulle gode irrelevant verklaar is en dat Babel en sy afgode nie langer Israel se toekoms hoef te bepaal nie. Daarom is almal wat ‘n niks kies as sy god, iets wat nie regtig bestaan nie,  in die Here se oë afskuwelik en verwerplik is,  omdat hulle daarmee hulle rug op die lewende God gedraai het.

41:25 Wat die afgode nie kon doen nie, naamlik om gebeurtenisse te voorspel, dit doen die Here. ‘Ek het iemand uit die Noorde opgewek (dieselfde woord wat in vers 2 met ‘laat opstaan’ vertaal is), en hy kom; van die opkomende son (uit die Ooste, soos in v2) hy roep in my Naam.’ Die pad van Babilon in die Ooste na Jerusalem in die Weste loop om die woestyn tussen hulle, en benader Jerusalem uit die Noorde. Hierdie vers herhaal die belofte van 41:1-4 dat die Here ‘n oorwinnaar oor Babel uit die Ooste laat kom. Die Here voorspel nie slegs sy koms nie, maar die initiatief gaan van die Here uit, wat hom opgewek het, en die Here tree daadwerklik op (teenoor die hulpeloosheid van die vasgespykerde afgode). Deur Kores, wat die Here van sy geboorte af voorberei, gaan die Here regeerders in die modder in te trap. Kores se naam word eers in 44:28 en 45:1 genoem. ‘Hy roep in my naam’ – die Griekse Septuaginta (200 v.C) vertaal asof die klinkers ‘n passief uitspel: ‘hy is geroep in my naam; die Dooie See manuskrip (100 v.C; 1,100 jaar ouer as ons masoretiese teks) lees: hy roep in sy (die Here se) naam. Die gedagte is egter dat Kores gaan doen wat die Here wil en dat dit tot eer van die Here se Naam sal wees. Waar die afgode se werke minder as niks beteken, sal die Here se werk deur Kores ‘n omkeer in die wêreld-regering en -samelewing bewerk, met ‘n hele ander politiek en gesindheid in die denke van Kores.

[Babel en Medië het saam die Assiriese leër oorwin en Nineve in 612 v.C. ingeneem. Babel en Medië het die Assiriese ryk onder hulle verdeel, en Babel het die suidwestelike deel tot by die grens van Egipte oorgeneem. In 604-562 v.C volg Nebukadneser sy pa as heerser oor Babilonië op, oorwin Egipte in die slag van Karkemis, neem Jerusalem oor en neem Juda in ballingskap na Babel in 597 en 587 v.C.]

Met sy ruiters en boogskutters neem Cyrus die Grote (Bybelse Kores) die Mediese ryk in 550 v.C. oor (daar word vertel dat die leërs wat die harde Mede teen Kores gestuur het, na Kores met sy milde beleid oorgeloop het sonder om hom aan te val. Klein-Asië onder Croesus van Lidië trek teen Cyrus op, word verslaan in 546 v.C. en Cyrus se magte neem die Lidiese hoofstad Sardis oor (die perde van die Lidiese leërs het glo weggehardloop vir die reuk van Kores se kamele, en ’n wag wat teen die oninneembare rots by Sardis afgekom het om sy helm wat afgeval het te kry, het die rotsskeur verklap waarlangs die Persiese leër toe die vesting kon binnedring). In 539 v.C. neem Cyrus Babelonië oor (nadat Kores die kanaal rondom Babel se toevoer uit die Eufraatrivier afgekeer het die nag toe Beltsasar die skrif teen die muur gelees het, Daniël 5). So het die Here Kores oor die hele gebied aangestel sonder dat Kores baie geweld hoef te gebruik het.

Cyrus sneuwel in 529 v.C. teen die nomade in Noord-Iran.

Cyrus, en tot ‘n groot mate sy opvolgers, het aan sy onderhorige volke, Babiloniërs, Grieke, Jode, ens. ‘n groot mate van vryheid toegelaat en met ‘n tegemoetkomende houding, ook teenoor hulle godsdienstige gevoelens,  hulle met sy heerskappy versoen. ‘Hy het regeerders in die modder in getrap soos ‘n pottebakker die klei trap’ – om iets nuuts daaruit te vorm. Hy en sy eie Perse het, naas hulle ou veelgodedom, Zarathustra (Zoroaster in Grieks) se monoteïsme gevolg, met hulle een goeie god, Ahura-Mazda (‘wyse heer,’ Mazdaïsme) met baie helpers (soos engele), wat stryd voer teen die gees van die kwaad, Ahriman, met sy leër bose geeste.

Zarathustra, tydgenoot van Esegiël en Daniël, het in Persië verkondig dat die wêreld sal verbeter deur goeie gedagtes, woorde en dade, wat jou ten goede sal kom op die pad van die waarheid.]

41:26-27 Vers 26 se retoriese vraag eggo vers 2 se vraag. Oor Kores se optrede het geen afgod of priester van die afgode iets vooraf aangekondig  nie, maar dit is slegs die Here wat voorspel het dat Kores se optrede tot die terugkeer van Israel na Jerusalem sal lei. Die ‘goeie tyding’ eggo vers 40:9 se goeie tyding. Dit is net die HERE wat boodskappers met die goeie tyding het, want net Hy kan egte nuutheid bewerk. Maar van die afgode se kant is daar niemand wat iets gesê of laat hoor of ‘n woord laat val het nie. Die Babiloniese afgode vir wie Israel so vrees, is nie spelers in die verandering op die wêreldtoneel nie. Hulle enigste reaksie op Kores se opmars is dat hulle bewe van angs ( 41:5).

41:28-29 Die uitspraak van die hof, nadat die afgode en hulle verteenwoordigers geen getuienis oor hulle bestaan kon voorlê nie, eggo vers 24: hulle is vals (’wn; die oudste manuskripte lees egter jn, hulle is ‘niks’), kan niks doen nie, beteken niks, kan net sowel nie daar gewees het nie.

Die hoofstuk wil die ballinge oortuig hulle toekoms lê buite die eise en beloftes en dreigings van Babilon, wat ‘n ryk is sonder toekoms. So word die lesers van hierdie hoofstuk uitgenooi  om te glo dat ons toekoms nie lê in onderdrukkende stelsels wat nie hulle beloftes kan vervul nie. maar om in vertroue te wag op die Here (Jes 8:17).

Skrywer:  Prof Francois Malan