Jesaja – Die nuwe bedeling (32:1-20) – Francois Malan

Tussen hoofstukke 28-31 en 33, wat telkens met ‘n ‘wee’ (ellende) begin, open hoofstuk 32 met ‘Kyk!’ wat aandag vra vir ’n belangrike aankondiging, vir die Here se nuwe begin: verse 1-8 met ‘n nuwe koning en daarmee ‘n nuwe sosiale lewe, verse 15-20 met die Gees van die Here wat ‘n vredevolle gemeenskap skep met God se geregtigheid. Tussenin is verse 9-14 ‘n ernstige waarskuwing dat die nuwe bedeling geen plek het vir die ou lewenswyse nie, en dat hulle die oue moet los.

32:1-8 ‘n Nuwe gemeenskap gekenmerk deur reg en geregtigheid

Die eerste twee sinne kondig aan wat die inhoud van die ware hoop van die volk is, ’n nuwe koning in Jerusalem wat soos Dawid met reg en geregtigheid sal regeer. Slegs daardeur kan ‘n nuwe wêreld van sjaloom (vrede en welwese) geskep word, soos reeds uitgespel is in Jes 5:7 en 9:6. Elke amptenaar (die koning en die amptenare onder sy bevel) sal vir die samelewing ‘n beskutting wees, soos vers 2 dit met met 4 beelde skets: ‘n skerm teen die wind en ’n skuiling teen die storm, twee beelde vir enige gevaar wat die samelewing bedreig, stroompies water wat laaf in dor streke, die skadu van ‘n rots in ‘n warm moeë wêreld. Na die slegte koning Agas, wat die beskerming van Assirië verkies het bo die Here se verlossing (Jes 7) verteenwoordig sy seun Hiskia ‘n goeie koning wat die Here dien (vgl  hoofstukke 36-39). Hiskia is ’n skadubeeld van Christus, wat die hoop op ’n nuwe wêreld ten volle kom vervul.

Mense se oë en ore sal dan kan onderskei tussen slegtes en goeies en nie meer volgelinge wees van dwase hartelose leiers nie, wat boosheid verkondig, onreg bedink, skynheilig optree, teen die Here praat, en behoeftiges uitbuit; korrupte skurkagtige leiers wat, vir eie gewin, eenvoudiges en armes met leuens en bedrog ten onder laat gaan, ook in die hof. Eerbare en verantwoordelike mense en leiers eer egter die Here en hulle medemense en tree op met reg en geregtigheid wat met barmhartigheid toegepas word (vgl. Ps 112:4,5,8,9 se werke van die Here).

32:9-14 ‘n Waarskuwing aan ‘n bedwelmde gemeenskap

Die vroue en dogters, as verteenwoordigers van die welvarende gedeelte van die gemeenskap, wat veilig en gerieflik in weelde lewe, word aangespreek oor hulle selfversekerde onbesorgdheid met hulle ou lewe onder hartelose korrupte leiers (soos in Jes 3:16). Hulle dink nie hulle lewenswyse kan in ’n katastrofe verander nie. Waar Jes 3 oordeel oor hulle aankondig, is hierdie gedeelte ‘n oproep tot berou soos in ‘n roudiens: gee aandag, luister, bewe verskrik met rouklere aan oor die komende verval van die wingerde tot doringbosse, die paleis en die stad tot ruïnes, julle huise van julle vreugde tot vreugde van wildedonkies.

32:15-20 ‘n Nuutheid deur die gawe van die Gees

Die oproep tot rou word skielik onderbreek met ‘totdat,’ wat alles wonderlik positief verander. Daar  is nie meer verlies en rou nie want ‘van Bo word ‘n gees op ons uitgestort,’ wat ‘n nuutheid bewerk – Johannes 14:26 noem die gees van Bo  die Heilige Gees; in Genesis 1:2 is dit die Gees van God wat aan elke skepsel lewe gee. In Jes 32:15 verander die Gees van Bo die woestyn tot ‘n karmel ‘n ‘vrugte boord’ en die vrugteboord word so dig soos ‘n bos – om die oorvloed van lewe en vrug te beklemtoon, ‘n stad en land vol lewe, met reg, geregtigheid, vrede en veiligheid, die lewe van sjaloom, vrede en welwese van 5:7 en 9:6 waarna verlang  is in 32:1 en wat die Here in 30:15-16 aangebied het, maar deur Juda verwerp is. Hier word dit egter nie deur die koning bewerk nie, maar is die nuutheid van die lewe ‘n geskenk van die Here self.

Vers 19 van die gedig is moeilik verstaanbaar of dit positief of negatief bedoel is. Dit kan nog verwys na die vroeëre verwoesting van die bos en die stad deur Assirië; letterlik staan daar: ‘die bos sal heeltemal verdwyn en die stad totaal afgebreek word’ of kan positief vertaal word as ‘dit (die huise in die nuwe stad) sal uitstrek tot in die diepte van die bos en vér af in die valleie.’

Vers 20 beskryf ‘n eenvoudige en gelukkige landelike bestaan met ‘n landjie langs elke stroom en ‘n os en ‘n donkie wat vry rondloop, soos in Ps 1:3 en 23:2 sonder die bedreiging deur wilde diere en rowers, sonder dat ’n groot leërmag nodig is om die stad en die mense se groot rykdom te beskerm (vgl. Jesus se woorde oor rykdom teenoor God se sorg, in Mat 6:19-34).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Ware en valse hulp (31:1-9) – Francois Malan

Die hoofgedagtes van hoofstuk 30 word in hoofstuk 31 kort weergegee: Egipte is ’n onbetroubare bondgenoot, Assirië se dae is getel, die enigste ware hoop is die HERE, keer terug na die HERE – dit gaan oor valse en ware hulp. Die woord ‘help’ word vier maal gebruik in verse 1-3 as die leidende tema van die hoofstuk.

31:1-3 Jesaja waarsku weer, ‘wee!’ hulle wat teen die dreiging van Assirië, eerder hulp soek by Egipte met sy weermag van  sterk ruiters, baie perde en oorlogswaens, en nie op die wyse HERE nie, wat as die Heilige van Israel aan Israel toegewy is, wat deurvoer wat Hy besluit, en optree teen kwaaddoeners en teen die helpers van die kwaaddoeners. As Hy sy hand uitsteek val Juda se helper Egipte en Juda vir wie Egipte help, en saam gaan hulle te gronde. Egiptenaars is (feilbare) mense – nie God nie, hulle perde is van vleis wat vergaan – nie die magtige Gees van God nie. Met die vertroue op perde en oorlogstuig kritiseer die profeet ook die mens se idee en vertroue op militêre mag as ’n illusie wat net die dood meebring.

31:4-5  Anders as die hulp van Egipte, skilder die HERE vir Jesaja sy beskerming oor Jerusalem met twee metafore: die HERE is soos  ‘n onverskrokke leeu, wat nie deur veewagters (Assirië) van sy prooi (Jerusalem) af weggejaag word nie.  Die Here sal Juda se vyand aanval, en soos ‘n voël wat beskermend oor sy kleintjies vlieg, sal die HERE hulle beskerm en uitred.

31:6-7 Israel het in hulle nood vergeefs hulle vertroue gestel het op militêre hulp (perde), en ekonomiese beveiliging (goud en silwer). Hulle vertroue op militêre mag en geldmag word beskryf as ’n diepe rebellie teen die HERE, ’n verwerping van sy hulp en van Hom as hulle God. Daarom word hulle opgeroep om terug te draai na Hom toe, op wie hulle vroeër vertrou het en Hom uit liefde gedien het. Dit vereis ’n radikale verskuiwing van hulle denke en vertroue, weg van hulle afgode wat met hulle eie hande gemaak is, na Hom wat hulle met sy eie hande gemaak het.  Hulle militêre sekuriteit en ekonomiese beheer is ten nouste verbind aan hulle godsdiens wat ’n vertroue op hulleself is, op afgode wat hulle kan beheer.

31:8-9 Die verse word aangebied as ’n woord van die HERE, wat ’n vuur en ’n oond in Sion/Jerusalem het. waar offers aan Hom gebring word. As hulle egter hulle afgode weggooi, op die Here vertrou, gaan die HERE Assirië se leiers en bevolking uitwis en verkneg met vrees vir die vuur van die Here, wat nie die swaard van ‘n mens is nie. In Jes 37:36 word vertel hoe ’n engel (boodskapper) van die HERE die leër van die Assiriërs in een nag uitgewis het. Daarna het die militêre mag van Assirië getaan totdat hulle deur die Babiloniërs oorrompel is. Jesus het gekom om die vuur van God op die aarde aan te steek (Lukas 3:17; 12:49), naamlik God self, die Heilige Gees, wat in elke gelowige kom woon (Handelinge 2:3; Johannes 14:23-26).

Die hoofstuk roep elke mens op om in sy denke en geloof om te draai van ’n lewe van vertroue op mensgemaakte mag met geweld en besittings om jouself te dien in plaas van die Heilige (die Toegewyde) van/aan Israel, die HERE (die Ek is persoonlik aktiewe teenwoordige God) wat in en deur ons wil werk.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesaja – ‘n Keuse tussen twee planne (30:1-33) – Francois Malan

Die hoofstuk het ‘n aantal onderdele, maar twee teenoorgestelde planne word voorgehou: die plan van die Here vir die welwese van Juda teenoor Juda se eie selfstandige plan gemik op sy eie beswil, wat nie kan slaag nie. In die agtergrond is die twee wêreldmagte Egipte en Assirië as voorbeelde en simbole van die Here se heerskappy oor die volke van die wêreld.

30:1-14 Juda se selfstandige plan word verwerp.

30:1-5 In Jesaja se tyd lewe Juda tussen die wêreldmagte Assirië in die noorde en Egipte in die suide. Weens die aggressiewe houding van Assirië soek Juda hulp by Egipte. Die profeet sien dit as Juda se verwerping van hulle vertroue op die Here alleen. Die ‘wee’-roep aan die begin kondig aan dat hulle toenadering tot Egipte tot ‘n ramp gaan lei. Juda word as ‘rebelle’ teen die Here aangespreek, soos in 1:2 oor die hulp wat hulle by Assirië gesoek het teen Israel en Damaskus se agressie. Hiskia se gesante is reeds in Egipte (van Soan in noord-Egipte tot Ganes in die suide).

6-7: Soos Israel deur die gevaarlike Negev-woestyn uit Egipte na Kanaän deur die Here gelei is (vgl. Num 21:6 se slange; en 2 Kon 18:4 vir Hiskia wat, ironies, die koperslang laat stukkend kap het), beur Juda ironies terug, deur die gevaarlike woestyn, met  swaar pakke wat beskerming moet gaan koop. Hulle gaan terug na die land van hulle slawerny. So spot die profeet met Juda se dwaasheid om hulp te soek by Egipte, genoem met die spotnaam Rahab (‘laspos’), die mitiese heerser oor die chaos, wat God met die skepping verpletterend verslaan het (Ps 89:11)

8-14: Die dwaasheid van die internasionale politiek en die beslissende rol van die Here in die openbare lewe sal wel later blyk, en daarom  moet Juda se dwaasheid opgeteken word, hulle wat vir die profete voorsê om slegs voorspoed aan te kondig, wat vertrou op onderdrukking en bedrog, maar die Heilige, die Toegewyde aan Israel, verwerp. Hulle sal soos ‘n mislukte pot gebreek word deur hulle Pottebakker.

30:15-18 Drie van die hoofelemente van Jesaja se teologie oor die Heilige van Israel word hier uitgespel:

30:15 Israel se redding en krag lê in terugkeer na die Here, in stilte geduldig verduur, in kalm selfbeheersing en vertroue in die Here se teenwoordigheid. Maar julle wou nie (vgl. Luk 13:34)

30:16-17  Julle sê: ‘Nee! ons sal op vinnige perde wegvlug’ – ons weermag en selfverdediging is ons beskerming. Die Here sê: ‘Daarom sal julle agtervolgers vinnig wees’ – hulle kan nie Assirië op militêre gebied ontvlug nie (vgl. Jes 36:8-9).

30:18 Die vers herhaal die Here se positiewe bedoeling. Dit begin en eindig met die woord ‘wag:’ Die Here wag om hulle genadig te wees…gelukkig is elkeen wat op Hom wag. Hy sal Hy opstaan om hulle barmhartig te wees want Hy is ‘n God van geregtigheid – wat aan die onderdruktes reg laat geskied – hier: om sy volk teen Assirië te beskerm.

Die belofte van verlossing in v18 word in 30:19-26 uitgespel, en 30:27-33 is ‘n oordeelsuitspraak teen Egipte as waarskuwing vir Juda om nie sy vertroue op Egipte te stel nie!

30:19-26 ‘n Belofte van redding in die toekoms

30:19-20 As Sion tot die Here sou roep in vertroue dat Hy hulle kan hulle red, sal Hy vir seker uit genade antwoord. ‘Genade’ beteken dat die een wat aangeroep word sy hulp gee sonder dat die bidder enige teenprestasie hoef te lewer. Dit kom uit die helper se gesindheid en goedheid wat vertrou moet word.

30:21 Sion se lyding kom ook van die Here af (letterlik: die Here sal vir julle brood van ellende en water van verdrukking gee – in hulle woestynreis was water en brood Israel se nood; vgl 1 Kon 22:27 se vertaling: ‘n skraal rantsoen kos en water). Die Here wil vir Israel leer/onderrig dat hulle hulp van die Here alleen kom, en nie van hulle eie planne en sogenaamde vriende nie (letterlik: julle Leermeester/Gids sal Hom nie meer verberg nie en julle oë sal julle Leermeester/Gids sien – nie meer soos in 30:10 nie). Die woord torah ‘onderwysing,’ kom van dieselfde stam jarah ‘om te onderrig’. Israel het die Torah gehad, ten minste dele van die eerste vier/vyf boeke van die Bybel, maar in Jesaja gee die Here self die onderrig deur sy genadige teenwoordigheid by dié wat daarna luister. In Jer 31:33 sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en in hulle gedagtes vaslê; Jes 30:21: En jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: dit is die pad, gaan daarop, wanneer jy links of regs moet gaan.

30:22 Wanneer jy bewus word van die teenwoordigheid van die Here as jou Gids sal jy die afgode soos ‘n smerige lap weggooi, die afgodsbeelde wat kastig die Here se teenwoordigheid sou verteenwoordig (vgl. Jes 64:6; Flp 3:8).

30-23-26 Die Here se genade bring ook ‘n vernuwing van die skepping. Hy gee genesing vir Juda (v26) en vir die skepping, vir droogte, vir duisternis – ‘n volledige verandering. Die heling is egter vir wonde wat die Here self geslaan het oor Juda se weerspannigheid. Die son en maan verhelder deur die Here se genadige teenwoordigheid; dit staan teenoor die simboliek van die son en maan wat verdof op die dag van die Here se oordeel (24:23).

30:27-33 Oordeel oor Egipte as waarskuwing aan Juda om nie op Egipte te vertrou nie

Hier verander die visioen oor die toekoms skielik, sonder om die voorwerp van God se brandende toorn aan te dui, totdat Assirië in vers 31 genoem word as verteenwoordiger van alle verwoesters – soos in die vorige verse bedoel is. Dié wat op die Here vertrou sal egter fees vier (30:29) wanneer die Here se stem soos met magtige weerlig ’n vuur aansteek. Sy stem sal soos ‘n siedende stroom water die nasies sif en hulle met ‘n stang in die bek wegvoer slagpale toe. Dit sal gebeur nadat die Assiriese magte, wat die Here se roede teen Juda is, verbreek word. Die nasies sal verteer word in die vuur wat aangesteek word deur Here se asem. Dit tref hulle soos ‘n lawastroom in Tofet, die vuurmaakplek in die dal van Hinnom (géhennah  waar ons woord ‘hel’ vandaan kom). Alles beelde om die Here se aktiewe teenwoordigheid, sy heerskappy en oordeel oor alle nasies van die wêreld, aan te dui.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Oordeel en hoop vir Israel (hoofstukke 28 tot 29) – Francois Malan

Hoofstukke 28-33 is ‘n ingewikkelde gedig wat hoofsaaklik die komende oordeel oor Jerusalem beskryf waarin die eerste vier hoofstukke (28-31) telkens met ‘n wee!-uitroep oor die Here se oordeel begin. Maar tussenin is daar spore van hoop en nuwe moontlikhede wat God gee (28:5-6; 16-17; 29:5b-8; 17-21; 23-24;30:15; 18-33) en veral in hoofstukke 32-33 uitgespel word, in Jesaja se raamwerk van oordeel en hoop, wat in die oordeel ook hoop sien.

Die kuns van die digter blyk uit sy beelde en uitdrukkings om gewaagde waarhede oor God se denke oor te dra, kosbare juweeltjies, vgl. bv.

28:15,18 Julle sê: ons het ‘n ‘verbond met die dood gesluit/gesny;’  (daarom is hulle nie bang vir die dood nie – in Hebreeus word ’n verbond gesny, deur tussen die helftes van ’n geslagte dier te loop en te sê: mag die Here so met my doen as ek die verbond verbreek, Gen 15:10; 31:44 ‘laat ons ’n verbond sny’)

28:16 die Here het ‘n ‘kosbare hoeksteen’ in Sion gelê, wie op Hom vertrou hoef nie te vlug nie – in die Nuwe Testament verwys dié steen na Christus (Ef 2:20;  1 Petr 2:6; vgl. aanhaling in Rom 9:33);

28:21 God se ‘vreemde werk’ – waarmee Luther God se oordeel beskryf, en sy genade as sy eintlike werk;

28:23-29 is ‘n landbou-gelykenis oor die kennis wat die Here vir die boer leer – en so vir elke soort werk;

29:10 Die Here het ‘n ‘sluier oor julle oë’ gegooi – 2 Kor 3:14.

29:16 die beeld van die pottebakker en die klei – wat in Jes 49:9; 64:8 uitgewerk word (Rom 9:21).

28:1-6 begin met ‘n verwysing na Samaria, die hoofstad van die tienstammeryk, die kroon en trots van die dronkaards. Samaria was in die gebied van Efraim. Israel se hoofstad is ’n verlepte lourierkrans. Daarteenoor is die Here die getroue oorblyfsel se trots en lourierkrans van oorwinning (die wenner-atleet kry ’n lourierkrans).

28:7-13 oordeel die dronk priesters en profete van Jerusalem, wat in 28:14-22 op die politieke leiers toegepas word (hulle verbond met die dood verwys moontlik na die Kanaänitiese afgod Mot, die god van die dood; ‘mot’ is die Hebreeuse woord vir ‘dood’ wat hier gebruik word). Hulle ontkenning van doodsgevaar is ‘n ontkenning van die Here wat daaroor besluit (vgl.vv 18-22). Die Here se toets is geregtigheid en regverdigheid (28:17). Sy oordeel en vernietiging is egter sy vreemde werk (v21), vreemd aan sy genadige opbouwerk, maar onvermydelik vir dié wat hulle rug op hulle Maker gedraai het om in onreg en onregverdigheid te lewe.

28:23-29 se landbou-beeld wys hoe noukeurig die Here is, tot in die fynste besonderhede onderrig Hy die boere.

29:1-8 kondig oordeel aan as ‘n waarskuwing vir Jerusalem en beskryf ‘n onvoorspelbare redding. Die ‘wee’ roep knoop aan by die leiers se valse gevoel van veiligheid met hulle ‘verbond met die dood’ (28:15). Die woord Ariël het verskillende betekenisse:  ‘leeu van God,’ ‘God se verdediger,’  ‘die vuurmaakplek op God se altaar’ (soos in 29:2 vertaal is), of bloot as ‘n ander naam vir Jerusalem of ‘n wyk in die stad (daar is tans so ’n straat in Jerusalem). Die betekenis is waarskynlik soos volg: al is die stad voor Israel se tyd deur God gestig in die Jebusiete se tyd, en al het Dawid die stad as sy stad vir hom opgeëis, veg die Here nou teen die stad, soos vers 3 en 7 aandui: rondom die stad is tente opslaan (v3), die menigte soldate rig torings teen die stad op (v7).

Van vers 5 af word die Here se besondere genade oor Juda beskryf. Hy gaan skielik ingryp om Juda te red en dan sal die bedreiging van die groot leër soos ‘n slegte droom lyk. Die nasies sal nie hulle doel bereik teen Jerusalem nie, want die Here gaan hulle stop by Sionsberg (soos in hoofstuk 36-37 uitgespel word).

29:9-16 bevat drie kort oordeelsuitsprake teen Juda: wat doof geword het vir die Here se woord (9-12), hulle eer die Here met lippediens en nie met die hart nie (13-14; vgl Mark 7:6-8), hulle erken die Here nie as hulle Maker nie, en dink hulle kan hulle planne so diep wegsteek dat die Here dit nie ken nie (15-16; vgl. Rom 9:20-22). Die Here se weë is onverstaanbaar, maar Jesaja vra onvoorwaardelike vertroue op die God wie se planne en strategieë bó ons verstand is. Ons is soos klei in die hand van ons Pottebakker wat ons vorm tot sy eer.

29:17-24 bevat ‘n belofte van ‘n verlossing wat nog in die toekoms lê, ‘n volkome vernuwing ná die ballingskap. Die land word vernuwe en baie vrugbaar (v17); blindes sien, dowes hoor – ook die mense se blindheid en doofheid van verse 9-12 word weggeneem om die woorde van die Boek te hoor en die Here se weg in te sien (v18) – onderdrukte nederige armes en behoeftiges sal die Heilige, wat toegewy is aan Israel, uitbundig loof as hulle Here (v19), want daar is geen  onderdrukker, spotter of kwaaddoener meer nie (v20); ook nie meer korrupte leiers en regters wat die reg in die poort (hof) verkrag nie (v21). Die openbare instellings, wat die aanwysings van die Here volg, sal reg funksioneer in ‘n goeie en gelukkige samelewing.

29:22-24 Die skande en skaamte van Israel tydens hulle ballingskap sal wonderlik verander word, soos die onvrugbaarheid van Abraham en Sara, en soos Jakob (‘bedrieër’) se naam wat die Here verander het na Israel (‘God geworstel’ – met hom). Israel sal die Here se gawe en sy seën op hulle (‘kinders’) met hulle eie oë sien, sal begin verstaan (anders as in verse 9,14 en 16) en hulle toewy (hulle heilig) aan die Heilige, wat toegewy is aan Jakob. Hulle sal weer vir hulleself die identiteit as die Here se eie volk in die wêreld toe-eien, en die God van Israel as hulle enigste God eer, vir Hom as Persoon (sy Naam) eer, en hulle sal sy lering gehoorsaam. Die herstel van Juda en Israel geskied egter deur ‘n lang proses van geweldige verdrukking wat hulle eers deurgaan  (29:2-4).

Skrywer:  Prof Francois Malan