Het God Jesus letterlik verlaat? – Jan van der Watt

Het God Jesus letterlik verlaat?

Vraag

Pieter vra:

Het God Jesus na aanleiding Markus 15:34 letterlik verlaat aan die kruis?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die teks lees: 15:34: Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?’

Hierdie uitroep van Jesus in Aramees (Jesus se moedertaal) is ‘n aanhaling uit Ps 22:2, ‘n Psalm waarin die skrywer aanvanklik heeltemal verlate en alleen voel, tot God roep en dan ervaar dat sy gebed verhoor is en God tog by hom is. Daarom eindig die Psalm in lofsange vir God. Sommige Bybeluitleggers sien Jesus se uitroep in die lig van die Psalm, naamlik dat Jesus op daardie oomblik alleen en verlate gevoel het, maar tog geweet het dat God Hom nie sal verlaat nie en dat, soos in die Psalm, Hy vertrou het dat alles in lofsange vir God sal eindig.

Ander Bybeluitleggers voel dat bogenoemde verklaring nie presies weergee wat Markus bedoel het nie. Volgens hulle wil Markus beklemtoon dat Jesus heeltemal verlate gevoel het, asof God nie meer daar is nie. Dit is hoe mense wat God verwerp het en by wie Hy nie meer is nie, ook voel. Daarmee beskryf Markus hoe groot Jesus se lyding vir ons was.

Tog het Jesus nie opgehou om God se Seun aan die kruis te wees nie. Daaroor twyfel Markus nie. Dit is egter nie vir Markus ‘n probleem om nogtans die groot lyding van Jesus in terme van Godsverlatenheid te beskryf nie. Die strekking kombineer dus bogenoemde twee verklarings. Jesus het regtig ons sondeskuld gedra en dit het vir Hom gevoel asof God Hom verlaat het, maar tog was God steeds daar en sy opstanding sou dit bewys. Daaroor kan ons saam met die engele bly wees. God se lof het oorwin. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Waarom word Jesus nie duideliker verkondig nie? – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Waarom word Jesus dikweks nie duideliker verkondig nie?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord

Jou vraag is die vraag wat ons almal het – waarom word Jesus dikwels nie duideliker verkondig nie, amper of mense skaam is om dit te doen (Dit laat my nogal dink aan Jesus se woorde dat as mense hulle vir Hom skaam, sal Hy Hom ook vir hulle in die hemel skaam). Jy verwys na Kolossense. In Kol 2:3 staan daar dat God se geheim/ misterie die volgende is: Christus: in Hom is al die skatte – dinge wat voorheen verborge was vir mense – van wysheid en kennis te vinde). In die konteks van die gemeente van Kolosse was die baie belangrike woorde, want in Kolosse het verskillende ‘misteriegodsdienste’ ‘n baie belangrike rol gespeel. Die misteriegodsdienste was godsdienste waarin ‘n mens in ‘n geheime groep ingelei is. Die groep het beweer dat hulle geheime kennis het wat jou in kontak met god(e) sou bring. As jy dan ingelyf is in so groep het jy dan die geheime wysheid en kennis gekry wat jou in kontak met god(e) gebring het. Dit was waaroor jou godsdiens gegaan het. Nou kom Paulus en se dat hulle nie meer na al die godsdienste toe hoef te hardloop om van God te leer nie. God se misterie, sy geheim, is Christus. As jy Christus ken, wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het, het ons al die wysheid en kennis wat ons nodig het. By Hom leer ons alles wat God wil hê ons moet weet, of dit nou oor die manier van lewe (die lewensspel – wysheid) gaan of oor dieper kennis van God self gaan.

As ons dus nie meer ons fokus op God se bron van kennis nie, sy geheime kennis wat ons deel van sy familie maak, wat het ons dan? Net ons eie mensgemaakte idees en godsdiens (so se Kol 2:4, 8-9). Sulke mense sal nog volgens Paulus redeneer dat hulle godsdienstig is, maar Paulus waarsku hulle dat al wat hulle sonder Jesus het is eintlik maar net ‘n klomp mensegemaakte opinies. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Wat sê die engele en demone oor Jesus – Jan van der Watt

Leser vra

Wat sê die engele en demone oor Jesus?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Wat sê die engele oor Jesus? Dit sal nogal lekker wees om te weet, want hulle is immers die hemelse diensknegte van God. Dit sê ‘n engel self in Op 19:10 (sien ook Heb 1:14). Om dit so te stel: die engele weet presies wat in die wandelgange van die hemel oor Jesus gesê word. En hulle is nie skaam om dit vir mense te kom vertel nie.

As diensknegte in die hemelse huis van die Koning van die konings, was die engele baie beskermend oor Jesus. Met sy versoeking was dit hulle wat hom versorg het (Mat 4:11; Mk 1:13). Dit is ook die engele wat Jesus in die tuin van Getsemane versterk (Luk 22:43) en Hom beskerm (Mat 4:6); om die waarheid te sê, hulle aanbid Jesus ook (Heb 1:6).

Hierdie dienende, aanbiddende houding hoor ons ook in die woorde van die engele oor Jesus. Die engele praat nie so baie nie. Eintlik hoor ons hulle net by Jesus se geboorte en sy dood en opstanding. En dan is daar die boek Openbaring waar ons ook die engele hoor praat. Wat sou die engele presies oor Jesus sê? Watter temas of onderwerpe sou vir hulle belangrik wees om oor te praat?

Kom ons gaan luister na die engele as Jesus gebore word. Die nuus van Jesus se geboorte word deur ‘n engel aan Maria gebreek. Dit is nogal ‘n lang boodskap: ‘Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie’ (Luk 1:29-33). ‘n Rukkie later lewer die engel Gabriël ‘n soortgelyke boodskap by Josef af: ‘Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos’.

Die engele sê ‘n paar baie belangrike dinge van Jesus:

  • Hulle vertel vir Maria en Josef wat geen mens anders kan weet of vasstel nie: Jesus is deur die Heilige Gees verwek. So ‘n boodskap is tipies van die engele – waar mense nie mooi kan verstaan of begryp nie, help hulle deur te vertel hoe dinge verstaan moet word. Hoe anders sou ons kon weet dat die Heilige Gees Jesus verwek het? Juis daarom kan Hy die Seun van God, die Allerhoogste, wees. Maria self het gewonder hoe dit moontlik is om sonder omgang met ‘n man ‘n kind te hê. Die engel het antwoord geweet: ‘Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God… Niks is vir God onmoontlik nie’ (Luk 1:35-37). Ja, die krag van God is aan die werk in Jesus, dit weet almal in die wandelgange van die hemel.
  • As boodskappers van God gee ook vir die kind ‘n naam – dit was mos destyds die pa se werk om name uit te deel. Noem hom Jesus, want Hy gaan sy volk van hulle sonde verlos. Ons hoef nie verder as Jesus te soek om van ons sonde ontslae te raak nie – dit is die boodskap uit die hemel. Die boodskap kon nie stil gehou word nie, want as die engele in die veld vir die herders moet vertel wat daar in Betlehem gebeur, kon hulle hulle blydskap nie bedwing nie. Hulle sing hulle dit weer uit: ‘Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!’ (Luk 2:10-11). Ja-nee, die hemele weet, God se gesalfde Koning, sal die wêreld verlos. En Jesus is sy naam.
  • Jesus is die Koning waarop God se mense gewag het om vir ewig oor hulle te heers. God het immers aan Dawid beloof dat sy koningskap nooit sal eindig nie en dat sy troon vir ewig vas sal staan… en hier is die Koning van die konings nou. God self kondig die koms van hierdie Koning deur sy boodskappers aan.

As die engele oor Jesus praat, sê hulle dinge waaroor mense sou kon wonder: is Josef nie dalk Jesus se pa nie… hoe sou ‘n mens kon weet? Die engele weet! Vergeef God ons regtig ons sonde? Wie kan in die hemel inkyk, of God se ‘boeke’ nagaan om te kyk of jou sonde vergeef is? Die engele weet hoe… glo in Jesus! En hoe kan ‘n koning aan ‘n kruis hang? Is Hy dan regtig ‘n koning? Daaraan kan ‘n mens nogal twyfel… maar nie die engele nie. Hullle weet God het Jesus as ewige koning verklaar. Hy sal tot in alle ewigheid heers.  

Met Jesus se opstanding was die engele weer daar en weer kom help hulle ons mense om een van die ongelooflike wonders van Jesus te verstaan – g’n mens sou kon uitdink dat Jesus uit die dood opgestaan het nie. Daar was ook nie iemand by toe Jesus opgestaan het om ons te vertel wat gebeur het nie. Maar almal in die hemel weet wat gebeur het en juis dit kom vertel hulle vir die vroue by die graf. Weer is dit ‘n langerige boodskap; die engel sê: ‘Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, Gaan gou en sê vir sy dissipels: “Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien”’ (Luk 28:5-7). Uit die mond van die engel hoor hulle die vroue die onwaarskynlike: Jesus is uit die dood opgewek. Die woorde sou die belydenis van die kerk van die eeue: Jesus het opgestaan. Maar die engel het dit eerste gesê: die kerk se belydenis is ‘n hemelse belydenis. Dit is die belydenis van God se wonder in Jesus: die dood is oorwin en daar is vir ons nuwe lewe.

In die res van die Nuwe Testament word daar wel oor engele gepraat, maar hulle praat nie self nie, ook nie oor Jesus nie. Dit is eers in die laaste boek van die Nuwe Testament, in Openbaring, dat ons weer hulle stemme hoor.

As die engele in Openbaring praat, praat hulle veral oor Jesus se koningskap: ‘Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid’ (Open 11:15). In die woorde hoor ons weer die eggo’s van die engele by Jesus se geboorte – Jesus is en bly koning tot in ewigheid. En wie is groter as ‘n koning en wie het meer krag? Een van die belangrikste take van ‘n koning destyds was om as regter op te tree en die booshede in sy koninkryk te straf. Ook daaroor praat die engele (Open 14:9-11): Jesus sal die mense wat agter die duiwelse diere aangeloop het straf. Soos iemand wat ‘n sekel in ‘n land insteek en die graan afsny, so sal Jesus die bose oordeel (Open 14:14-17). Dit is in ‘n sekere sin die ander sy van die munt: Jesus is redder vir die wat in Hom glo, maar die wat nie glo nie, sal veroordeel word. Dit weet die engele en hulle maak geen geheim daarvan nie.

Die laaste maal dat die engele in die Nuwe Testament oor Jesus praat, praat hulle oor die bruilof van die Lam…  (Op 19:9). Jesus kom sy mense haal, soos ‘n bruidegom sy bruid kom haal… om fees te vier in die nuwe Jerusalem. Die fees is klaar beplan en afgekondig… almal in die hemel weet dit, ook die engele. Daarvan kan ons nou hier op aarde ook seker wees.

Wat sê demone/duiwel oor Hom?

Dis nie net hier in ons eie dag dat almal oor Jesus praat en oor sy identiteit spekuleer nie. Die vraag oor wie Jesus regtig is was reeds met sy optrede op aarde op die tafel. Trouens, Jesus self het hierdie vraag ‘n keer of wat aan sy dissipels gestel toe Hy hulle gevra het wat die mense oor Hom sê. Toe het Hy hy by hulle gehoor dat party mense dink Hy is Johannes die Doper wat uit die dood teruggkeer het. Of Elia, of een van die profete. Ook Jesus se godsdienstige opponente en die duiwels het sterk opinies oor Hom gehad wat hulle op verskillende maniere in die openbaar verwoord het. Bedoelende, hulle het verbaal en nie-verbaal, deur hulle woorde en deur hulle dade, duidelik gekommunikeer wat hulle van Jesus dink. Kom ons gaan stel behoorlik ondersoek in, beginnende by die demoniese magte (vgl ook H. A. Kelly, Satan: A biography, 2006, en Stephan Joubert; Jan van der Watt en Gys du Plessis, Bestaan die duiwel regtig? 2009.)

a.  Vasgevang in ‘n greep van vrees: Bose magte in die Joodse  wêreld rondom die Nuwe-Testamentiese era

Die allerdaagse wêreld waarbinne mense in Palestina hulle rondom die eerste eeu bevind het, was volgens hulle gevul met die teenwoordigheid van bose magte. So het die meeste mense geglo. Hierdie wesens was woonagtig in plekke soos woestyne, in die lug, grond, en in water (vgl ook Matt 12:43; Ef 2:2; Op 13:1vv). Demone kon in verskillende gestaltes verskyn, soos in die vorm van wolwe, honde, paddas, onrein voëls en slange (vgl Op 9:3-7; 12:3; 16:13).

Volgens Joodse opvattinge het demoniese magte hul slagoffers gewoonlik deur liggaamsopeninge binnegedring. Vanweë die gevare verbonde aan demoniese “besoedeling” is kontak met heidene, onrein persone, en siekes daarom ontmoedig. Die eet van kos wat nie aan Joodse reinheidsvoorskrifte voldoen nie was derhalwe verbode; so ook nie-toelaatbare seksuele gedrag, aangesien dit aanleiding tot demoniese besetting kon gee.

Wanneer demone mense beset het, het dit gelei tot onnatuurlike gedrag soos emosionele onstabiliteit, stuiptrekkings, gewelddadige optrede, ensovoorts. Demoniese magte kon mense siek maak en selfs hulle dood veroorsaak. Daarom is demoniese magte dikwels deur Joodse duiweluitdrywers of eksorsiste aangedurf. Hierdie persone het onder andere gebruik gemaak van “eksorsistiese formules” wat ingelei is met die vermelding van die name van God en ander hemelse magte, tesame met gepaardgaande bevele dat die demoniese magte hulle slagoffers moet verlaat (E. Fergusson, Demonology of the early Christian world, 1984:9).

In die bekende Joodse geskrif, Tobit, verneem ons van bepaalde rituele wat ingespan is om demone te verdryf. In Tobit 6 word vertel hoedat Tobias, die seun van Tobit, verlief raak op ‘n vrou genaamd Sara. ‘n Demoon met die naam Asmodeus wat in haar bly verseg egter dat ander mans naby aan haar kom. Die aartsengel Rafael beveel dan vir Tobias om van die as van brandende wierook by die tempel te neem en dit saam met die hart en lewer van ‘n vis te brand, dan sal die demoon padgee. Dit gebeur dan presies net so.

Saam met godsdienstige formules en rituele, het Joodse duiwelbesweerders homeopatiese middels gebruik om duiwels te verjaag. Aan die hand van die sogenaamde similia similibus beginsel is klein dosisse van dieselfde substanse as dié waarin die duiwels hulle sou bevind, soos grond, water of plante, naamlik gebruik om hulle te verdryf. Amulette is soms aan persone gegee om te dra om hulle teen die Bose te beskerm. Ornamente en simbole is ook gereeld in huise aangebring om bose magte te verwilder.

b.  Toe praat die duiwels oor Jesus…

 Jesus se aardse optrede vind plaas binne hierdie Joodse milieu wat gekenmerk is deur ‘n sterk bewussyn van die aktiwiteite van allerlei demoniese magte. Die stryd teen hierdie magte is egter nie die hoofdoel van Jesus se aardse sending nie. Veel eerder staan sy optrede in die teken van die koms van die koninkryk van God (Mark 1:15). Jesus se koms en optrede lei egter die oordeel oor Satan in en vergestalt ook Sy oorwinning. Die Bose word met die aanbreek van die nuwe Messiaanse era soos ‘n weerligstraal uit die hemel gegooi (Luk 10:18; Joh 12:31). Daar bestaan nooit enige twyfel oor die uitslag van die konflik tussen Jesus en die duiwel nie. Wanneer Satan byvoorbeeld as “toetsbeampte” sy opwagting in die woestyn maak om Jesus verbaal van sy sending te laat afsien (Matt 4; Luk 4), tree laasgenoemde as oorwinnaar uit hierdie strydgesprekke.

Verskeie konfrontasies tussen Jesus en Satan se bose handlangers vind deur die loop van sy openbare bediening plaas (Matt 4:23vv; Mark 1:32; Luk 6:17-18). Wanneer hierdie magte menslike liggame as hul nuwe woonplekke beset (Mark 1:25-26; 5:1-20; 9:14-29), volg dramatiese reaksies telkens wanneer hulle met Jesus in aanraking kom. Die demone ken sy identiteit. Hulle spreek Hom daarom onder andere aan as “Jesus van Nasaret” (Mark 1:24); “Seun van die Allerhoogste” (Mark 5:7), of: “die Heilige wat van God af kom” (Mark 1:24). Geen wonder nie dat party demone kliphard aan die skree gaan as Jesus naby hulle kom. Ander kere gooi hulle hul arme slagoffers net daar op die grond neer, of begin Jesus om genade smeek (Mark 1:23; 7:25). By geleentheid probeer van hierdie bose magte selfs om aan die hand van sogenaamde afweer-rites hulleself teen Jesus te beskerm. In Markus 5:7 lees ons byvoorbeeld hoedat ‘n bose mag Jesus beveel om hom nie seer te maak nie. Ook die voorafgaande uitdrukking van hierdie demoniese mag: “wat is daar tussen my en jou?,” funksioneer as ‘n verbale verdedigingsmeganisme teen Jesus se oppermag, soos wat Twelftree (Jesus the exorcist. A contribution to the study of the historical Jesus, 1993:64) skryf.

Die feit dat die demone Jesus se ware identiteit ken en dit woordeliks bevestig, bring geen transformasie in hulle te weeg nie. Inteendeel. Vandaar dat Jesus gebruik maak van “magswoorde” om hierdie demoniese magte te verdryf wanneer Hy hulle raakloop (Mark 9:25; Matt 8:16). Sy eie kragbelaaide woorde is oorgenoeg om sy oorwinning oor die domein van die Bose sigbaar te bevestig.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Jesus se vrou – Jan van der Watt

At vra:

Dit wil vir my voorkom asof die skrywer van die maniskrif nie praat van n fisiese vrou van Jesus nie maar Jesus en Sy bruid die Christen Kerk en Jesus as die bruidegom van die Kerk. .Daar is ook n gedeelte in 2 Johannes 1 waar hy praat van die oudste aan die uitverkore vrou en haar kinders. Johannes was die oudste van al die apostels wat oorleef het en die uitverkore vrou die Kerk en die kinders persone wat die Evangelie wat Jesus en apostels verkondig het aangeneem het in die geloof.

Antwoord
Prof Jan van der Watt antwoord:

Met die boeke van Dan Brown en die ontdekking van die nie-kanonieke en later Evangelie van Thomas in die vorige eeu het baie mense begin bespiegel oor die verhouding tussen Maria Magdalena (Maria van die plek Magdala naby die See van Genesaret in Israel). Sommige het beweer dat Jesus inderdaad met haar getroud was en nog ander het selfs beweer dat Jesus ’n nageslag het.

         Dit is natuurlik maklik om stories en samesweringsteorieë saam te flans. As mens egter na die betroubare bronne kyk is daar geen getuienis van so verhouding, dat Jesus getroud was of dat Hy ’n nageslag het nie. Dit is pure verbeelding as die betroubare bronne geraadpleeg word. As voorbeeld: iemand kan ook honderde jare of selfs duisende jare later (soos Brown) beweer dat Pres Paul Kruger ’n vrou was – die feit dat iemand dit later beweer maak dit nie waar nie, allermins. Dit is doodgewoon verbeeldingsvlugte en stories, veral omdat die boeke wat in die tyd van Jesus en sy dissipels geskryf is niks daarvan sê nie. As dit so was is die kanse baie klein dat een van hulle dit nie sou noem nie. Hulle noem dit nie, omdat dit nie so was nie. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt