Jesus is God (2)

Nothing that has not died will be resurrected – C. S. Lewis

 

Jesus is God (2)

Van vroeg af was daar groepe wat ontken het dat Jesus God was. Selfs vandag is daar baie mense wat dit steeds ontken. Daar is egter baie gedeeltes in die Bybel wat dit duidelik maak dat Jesus ook God is. In Johannes 1:14 word Jesus met die Woord geïdentifiseer. Daar lees ons: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God (1:1). Hierdie vers sê nie net dat Jesus by God was nie, maar dat Hy self God was. Paulus verwys na Jesus as ons God en Verlosser wat weer sal kom. Christene se hoop berus op die wederkoms van Christus. Terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn (Titus 2:13); Hulle stem van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore – Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig (Romeine 9:5).

 

 

Ons hoor dat die engel vir Maria sê, nog voor die geboorte van Jesus: hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons (Matteus 1:23). Die Bybel maak dit baie duidelik dat Jesus volledig God is.

 

Hoekom is dit belangrik? Jesus verdien om as die Seun van God aanbid te word. Hy het ons immers gemaak: Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie (Johannes 1:3). Hier praat Johannes van Jesus – die Woord. Hy het ons verlos; Hy het ons met sy bloed gekoop. Saam met die hemelwesens, ouderlinge en engele moet ons sing: Die Lam wat geslag is, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang (Openbaring 5:12).

 

Daar is baie gedeeltes in die Skrif wat bevestig dat Jesus God is. Jesus het twee nature: volwaardig mens en volwaardig God. Volgende keer kyk ons na Jesus as mens

 

 




Jesus is God (1)

Every man has his secret sorrows, which the world knows not; and oftentimes we call a man cold when he is only sad. – Henry Wadsworth Longfellow (1807-1882)

Jesus is God (1)

‘n Basiese vraag wat ons by baie Christene kry, is: Hoe kan Jesus beide God en mens wees? Het die Seun van God opgehou om God te wees toe Hy mens geword het? Nee, Jesus is volledig God en volledig mens. So sê Jesus onder andere: Wie My sien, sien die Vader (Johannes 14:9).Dit klink ‘n bietjie vergesog, maar Jesus se lewe, karakter, onderrig en wondertekens bevestig sy aanspraak.

 

Wie is Jesus? Hy sê dat Hy die Seun van God is – gelyk met God. Dit is ‘n radikale aanspraak en daarom probeer mense dit afwater

 Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak. Hy het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem en Hom so met God gelyk gestel (Johannes 5:17 – 18).

 

Harte verhard deur sonde kry altyd allerhande verskonings om  te ontken dat Hy God is. Jesus se wondertekens en stellings het mense uitgenooi om Hom te volg en die waarheid oor wie Hy was, uit te vind.

 

Soms verwys Jesus na Homself as die Seun van die mens. Dit verwys na die waarheid dat Hy waarlik mens was, maar hierdie verwys ook na Daniël 7:13 – 14. Daar beskryf Daniël ‘n visioen van ‘n spesiale hemelse persoon wat op die wolke verskyn, en dan: Aan die menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie. Deur te sê dat Hy die Seun van die mens is, maak Jesus hierdie profesie op Homself van toepassing. Jesus gebruik dus ‘n goddelike messiaanse titel en druk daarmee ook uit wat die Messias sou wees en doen.

 

Jesus het duidelik geleer dat Hy uit die hemel kom en Hy maak verbasende aansprake soos: Ek en die Vader is een. In wese sê Jesus hiermee dat Hy God is. Ons lees ook dat God Hom aan Moses as Ek is, geïdentifiseer het. Jesus identifiseer Hom met dieselfde “Ek is.” Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is (Johannes 8:58). Die Jode weet presies wat Hy hiermee bedoel het. Daarom wou hulle Hom stenig. In hulle oë was Hy besig met godslastering.

 

Op ‘n strategiese punt in sy bediening vra Jesus vir sy dissipels uit oor wie Hulle dink dat Hy is. Dan lees ons Petrus se belydenis: U is die Christus, die Seun van die lewende God (Matteus 16:16). Petrus sê dat Jesus die beloofde Messias wat die OT profete voorspel het, is.

 

Na sy opstanding verskyn Jesus aan sy dissipels. Onder hulle was die skeptiese Tomas. Toe hy hoor dat Jesus uit die dood opgestaan het, wou hy dit nie glo nie. Toe Jesus aan hom verskyn het en vir hom sy littekens gewys het, roep hy uit: My Here en my God (Johannes 20:28).

 

Volgende keer kyk ons verder na Jesus as God