JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (3)

JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (3) – Jan van der Watt

deel 2 – Wat is die betekenis van die kruis volgens Paulus en Johannes?

Die kruis, wat eintlik in daardie tyd ‘n skande was, het die sentrum van die boodskap van die Christene geword. Dit was die plek waar die verlossing werklikheid geword het. Wat beteken die kruis volgens die Nuwe Testament vir ons?

 

 

a) Hoe het Paulus die kruis gesien?

 

  • Die kruis is die kern van sy boodskap: Wat sê Paulus in 1 Kor 2:1-5 oor die kruis?……………

……………………………………………………………………………………………………………………………………

Lees nou ook 1 Kor 1:18-25 oor hoe die ander mense die kruis en boodskap van Jesus gesien het. In Fil 2:8 word die kruis dan ook ‘n vernedering in die uiterste graad genoem. Sien ook Gal 5:11. In Gal 6:12 noem Paulus dat die kruis nie ‘n gerieflike boodskap was nie, maar dat dit vervolging veroorsaak het. Nogtans het die Christene nooit daaroor die boodskap verander of laat vaar nie. Ons moet ook onthou dat die opstanding nooit deur Paulus los van die kruis gesien word nie. In 1 Kor 2:2 sê Paulus dat sy enigste boodskap die kruisboodskap is, maar in 1 Kor 15:16-18, as hy sy brief afsluit, sê hy dat sonder die opstanding alles tevergeefs is – die kruis en opstanding gaan saam.

  • Aan die kruis word Jesus soos ‘n sondaar in ons plek: Lees 2 Kor 5:20-21. Wat gebeur alles omdat Jesus bereid was om ons sonde op Hom te neem? ……………………………………………………

…………………………………………………………………………………………………………………………………….

  • Die kruis is die plek waar Christus vir ons skuld sterf: Lees Kol 2:14. Die oortreding waarvoor die persoon gekruisig word, is per geleentheid aan die kruis aangebring. Dan kon mense lees wat die oortreding was. In Jesus se geval hang Hy aan die kruis, maar die oortredings waarvoor Hy daar hang is nie syne nie, maar ons s’n. Wat dink jy is die betekenis hiervan vir jou verhouding met God? …………………………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………………………………………………………….

  • By die kruis verander ‘n mens se status en begin jou nuwe lewe: Vanweë dit wat aan die kruis gebeur het, is Paulus vir die wêreld dood en die wêreld is vir hom dood (hier gaan dit oor sy status wat nie meer deur die wêreldse dinge bepaal word nie). Nee, Hy is nou ‘n nuwe mens in die wêreld van God (Lees Gal 6:14-16). Lees ook 2 Kor 5:16-19 om Galasiërs beter te verstaan.

 

  • By die kruis word die vriendskap tussen God en mens, asook tussen mense onderling herstel: Ef 2:13-18 beskryf hoe God die grense tussen nie-Jode en Jode afgebreek het. (Die skeiding tussen Jode en nie-Jode was nogal skerp in daardie tyd. Die Jode het gevoel dat as iemand ‘n kind van God wil word, moet hy of sy ‘n Jood word. Paulus sê nee. Met die kruis het Jesus dinge kom verander. Daar is nou ‘n nuwe familie waarin almal welkom is). Jesus het deur sy kruis dit reggekry dat almal vriende en kinders van God kan wees. Beskryf in jou eie woorde hoe jy Ef 2:13-18 sien. Lees nou Kol 1:20 en sê hoe jy dink hierdie vers by Efesiërs se boodskap aansluit.

……………………………………………………………………………………………………………………………………..

  • Aan die kruis sterf “iets”/iemand. Ons ou mens het so saam met Christus aan die kruis gesterf sodat ons ook saam met Hom kan leef: Lees Rom 6:5-11 en verduidelik hoe jy dit verstaan……

.……………………………………………………………………………………………………………………………………

Die volgende is belangrik om hierdie gedeelte mooi te verstaan: Paulus sien Jesus as die verteenwoordiger van almal wat aan Hom behoort. Wat met hom gebeur, gebeur met al sy mense (as ‘n kaptein van ‘n krieketspan die loot wen, geld dit van sy hele span). Gelowiges is dus “ingesluit” by wat met Jesus gebeur. Die “ou mens”/sondige mens is dus in die oë van God aan die kruis dood en Hy het elkeen wat glo in sy oë opgewek as nuwe mens, ja, as kind van God. Die kruis is dus die draaipunt van die oue na die nuwe. Daar gaan ‘n mens deur die dood na die lewe. Lees ook Gal 2:19-20 en verduidelik in die lig van wat Romeine 6 sê wat jy dink Paulus hier bedoel…………………………………………………………………………………………………………..

……………………………………………………………………………………………………………………………………..

 

 

 Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (2)

JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (2) – Jan van der Watt

Daar is ‘n hele klomp interessante dinge wat rondom die kruisiging van Jesus gebeur het:

 

  • Die tyd van Jesus se dood: Jesus is met die Joodse paasfees dood – dit was waarskynlik die belangrikste fees van die Jode. Hulle het toe veral die verlossing van die volk deur God uit Egipte gevier. Die politiese atmosfeer was ook kwaai gelaai, want daar het duisende Jode in Jerusalem saamgetrek vir die fees. Dit is die rede waarom Jesus en sy dissipels in die tuin van Getsemane gaan slaap het. Dit was soos ‘n kampeerterrein buite die stad, want die stad self was vol mense. Die Romeine het egter die situasie mooi dopgehou, want sulke saamtrekke kon maklik hand uitruk. As Jesus gekruisig word, is dit dan ook as politieke gevangene. Bokant sy kruis staan daar dat Hy as die “koning van die Jode” gekruisig is, met ander woorde, dit was sy oortreding – Hy het voorgegee om die koning van die Jode te wees volgens die uitspraak van Pilatus.
  • Die twee howe – Joods en Romeins: Die Romeine was die politieke heersers van die Joodse gebied. Hulle het die Jode onder leiding van die hoëpriester toegelaat om oor hulle eie sosiale en godsdienstige sake besluite te neem. Daarvoor het hulle ‘n spesiale raad gehad, naamlik, die Sanhedrin. Die Jode wou van Jesus ontslae raak, omdat hulle gedink het Hy is ‘n lasteraar en moeilikheidmaker. Daarom verhoor hulle hom eers (Mk 14:53-65). Volgens Johannes het hulle egter nie die reg gehad om iemand ter dood te veroordeel nie (Joh 18:31). Daarom het hulle hom na die politieke leier gestuur – hy kon Jesus ter dood veroordeel en het dit ook onder druk van die Jode gedoen.
  • Die verraad van Judas: Judas het Jesus verraai, maar waarom was dit nodig (Markus 14:10-11)? Jesus hulle het in die tuin van Getsemane tussen baie ander mense die nag gaan deurbring. Jesus was ook nie van Jerusalem self nie. Hy het uit die noorde, uit Galilea, gekom en was dus nie so bekend nie. Paulus, wat toe ook ‘n jong Fariseër in Jerusalem was, het Jesus glad nie ontmoet nie. Aangesien daar ook nie ligte en sulke dinge in die tuin was nie, sou die soldate maklik ‘n fout kon maak en die verkeerde persoon kon vang. Daarom het hulle iemand saamgevat wat presies geweet het waar om Jesus te kry en toe hulle daar kom, moes hy Jesus spesifiek identifiseer, in sy geval deur Jesus te soengroet (Mk 14:45).
  • Die instelling van die nagmaal: Dit is nie maar per toeval dat Jesus by sy laaste ete die nagmaal ingestel het nie. Etes in die destydse wêreld was eintlik sosiale gebeure. Jy het net saam met jou beste vriende geëet en familie en vriende het dit ook gereeld gedoen. Deur nou vir die dissipels te vra om by die etes elke keer aan Jesus terug te dink, het beteken dat hulle gereeld aan Hom bly dink as hulle vriend. Die gedagtes moet hulle dan telkens herinner aan wie hulle is en wat Jesus vir hulle gedoen het. Deur dit aan ‘n ete te bind beteken dat hulle nooit sal vergeet om dit te doen nie, want hulle moet altyd eet.
  • Petrus verloën Jesus: Petrus het sulke goeie bedoelings gehad. Hy het vir Jesus gesê dat hy Hom nooit in die steek sal laat nie en toe die toets kom dop hy dit… sommer ‘n paar maal. Hy verloën Jesus. Hy was bang hy sou saam met Jesus gekruisig word – later is hy wel vir Jesus gekruisig. Die rede waarom hy dit nie die eerste keer kon doen nie, is omdat die werklike kruisweg van redding kan net eenmaal en deur een Persoon gestap word – Jesus. Geen mens nie, nie eers Petrus nie, kon dit doen nie. Daarom hardloop Jesus se dissipels sommer al in die tuin van Getsemane al almal weg (Mk 14:50).  
  • Jesus se gebed: Jesus bid dat die lydensbeker van Hom weggeneem moet word… (Mark 14:32-41). Tog moet sy wil nie seëvier nie, maar die van sy Vader. Hiermee word die menslikheid van Jesus beklemtoon. Hy het nie sommer maar net in die dood ingestap nie, maar het ook die normale menslike vrese gehad. Ons dink dikwels dat dit nie moeilik vir Jesus was om kruis toe te gaan nie, maar die Hebreërskrywer noem Jesus die begin en voleinder van die geloof (Heb 12:2). Hiermee bedoel hy dat toe Jesus voor die kruis gestaan het, het iets heeltemal nuuts op Hom gewag – niemand het na die dood nog vir ewig weer opgestaan nie. Jesus kon dus net in God glo wat Hom sou opwek. Nogtans was sy geloof sterk genoeg om die heilspad enduit te loop.
  • Jesus was eintlik onskuldig: Dat Pilatus nie gedink het Jesus is skuldig of dat Hy die dood verdien nie, word in die Evangelies beklemtoon. Pilatus was selfs sy hande in onskuld. Dit maak die skuld van die mense wat Hom wou kruisig nog groter.

 

Volgende keer kyk ons na die betekenis van die kruis volgens Paulus en Johannes.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (1)

JESUS WORD GEKRUISIG EN BEGRAWE (1) – Jan van der Watt

Die kruis van Jesus vorm saam met die opstanding die kern waarrondom die identiteit van Jesus en die Christendom oor die eeue gebou is. Dit het oor die jare heen ook die vis (wat oorspronklik die belangrikste teken van die Christene was) as hoofteken vir die Christendom vervang. Dit is eintlik ‘n onwaarskynlike verloop van gebeure, aangesien ‘n koning of Messias wat aan ‘n kruis dood is (‘n skandelike dood) nie vir die destydse mense na die ideale messias sou klink nie.

 

In hierdie Bybelstudie gaan ons kyk a) na die verloop van die kruisgebeure en b) na die manier waarop die kruis geïnterpreteer is.

 

deel 1 – Hoe verloop die kruisgebeure?

 

Jesus se kruisiging word min of meer op dieselfde manier deur die verskillende evangeliste beskryf. Die verskille wat ‘n mens tussen die verskillende beskrywings kry, hang saam met die besondere klem wat elke skrywer wou lê (ons noem dit die redaksie van elke skrywer). Kom ons kyk na die verloop:

 

Lees nou eers Markus 14-15 waar die verhaal vir ons vertel word.

 

  • Die gebeure voor die gevangeneming
    • Daar word planne gemaak om Jesus te vang deur van ‘n verraaier gebruik te maak
    • Jesus eet vir oulaas met sy dissipels saam en stel die nagmaal in.
    • Jesus gaan saam met sy dissipels na die tuin van Getsemane – daar bid Hy intens tot sy Vader
  • Jesus word gevang en verhoor
    • Jesus word in Getsemane gevang nadat Judas Hom verraai het
    • Jesus word deur twee “howe” verhoor:
      • Die Joodse Raad
        • Hulle soek redes om Jesus dood te maak en gebruik tot vals getuies
        • Petrus verloën Jesus
      • Jesus voor die Romeinse heerser, Pontius Pilatus
        • Pilatus verhoor Hom op aanklag dat Hy laster en Homself koning van die Jode maak
        • (Intussen pleeg Judas selfmoord)
        • Nadat die Jode Barabbas kies, word Jesus oorgelewer om gekruisig te word, al dink Pilatus Hy is onskuldig
  • Jesus word gekruisig
    • Die soldate bespot en slaan Jesus voordat Hy sy kruis na Golgota moes dra
    • Jesus word gekruisig
    • Jesus sterf en die Romeinse soldaat wat daar gestaan het besef dat Jesus regtig die Seun van God is
    • Daar vind wonders plaas (bv. donkerte en aardbewings)
  • Jesus word begrawe
    • Jesus word deur Josef van Arimatea van die kruis afgehaal en begrawe
    • Romeinse soldate bewaak die graf

 

Op die oog af verloop die gevangeneming van Jesus volgens die prosedure wat destyds bekend was as iemand gevang word. Tog het die evangeliste nie net die feite weergegee nie, maar die verhaal gebruik om te “preek” ook. As jy tyd het vergelyk nou Markus 14-15 met Johannes 18-19 en kyk watter verskille jy kan raaksien…………………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………………………………………………………………….

 

Volgende keer kyk ons na ‘n aantal interessante dinge wat rondom die kruisiging van Jesus gebeur het.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt