Jesus en/of engele-Vraag

Jesus en/of engele – Kobus Kok

Christa vra:

Verduidelik die raamwerk van Jesus se Goddelikheid en menslikheid en die waarde van engele in Hebreërs 1-2. Dit klink of die “skrywer” verkeerdelik te veel waarde aan die engele geheg het.

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

 

Die antieke mense het oor die eeue baie waarde aan engele geheg. Die woord engel is afgelei van die Griekse woord angelos wat boodskapper beteken. In Paulus se brief aan die Kolossense sien ons hoe Paulus die aanbidding en verering van engele afwys. Hy stel die probleem reg deur die lesers die regte perspektief op die Christologie (Leer van Christus) te gee in Kolossense 1:15-20. Paulus (of die skrywer van Kolossense) se argument is eenvoudig: God het in en deur Christus die ganse kosmos geskep. Dit beteken dat Christus bo alles is. Die wat engele aanbid, mis die punt vir twee redes: In die eerste plek het mense direkte toegang na God en hoef nie te poog om deur die engele heen in God se teenwoordigheid te kom of sy wil te soek nie, en in die tweede plek is die aanbidding van engele tweede prys omdat Christus die hoogste kosmiese posisie ingeneem het. Diegene wat verstaan wie Christus werklik is, sal dus nie in die slaggat trap om tweedehandse aanbiddingskanale te wil volg nie. Ware aanbidders weet immers dat daar vrye toegang tot God is. Sulke mense hoef ook nie engele of hemelse magte gelukkig te probeer hou nie, maar alleen vir Christus wat in die triomftog van God/Christus elke mag oorwin het (Kol 2:15).

 

Dieselfde punt word ook in Hebreërs 1 gemaak. In die verlede het God deur die profete en engele met mense gekommunikeer. Dink maar aan Adam, Abel, Enoch, Noag, Abraham, Isak, Jakob se droom, Josef en Moses (Eks 33:11).Maar nou het Christus die belangrikste plek in die kosmos ingeneem en is Hy die kanaal waardeur God sy wil bekend gemaak het. Hebreërs skep ʼn troonsaal beeld en maak dit duidelik dat Jesus aan die regterhand van God, die Koning sit – dit is ʼn posisie wat kwalitatief verhewe is bo die posisie van die engele. Openbaring 4:1-11 gee vir ons dieselfde prentjie.

 

Hebreërs 1:3 maak ʼn baie sterk saak vir die posisie en aard van die Seun. Die Seun straal die glorie van God uit en is ʼn kopie van God. Enige muntstuk is op ʼn model gebou en is ʼn presiese kopie van die oorspronklike. Hebreërs wil ons laat verstaan dat Christus die beeld van God is. God het gekies om Homself teenwoordig te stel deur die beeld van die Seun. Die wat die Seun aanbid, aanbid dus die Vader. Dit is soos ʼn koning wat Sy enigste Seun bemagtig om namens hom na ʼn bepaalde plek te gaan met die volle sanksionering van die Koning self. Die wat die koning se seun vriendelik ontvang, ontvang dus die koning. Die wat die seun verwerp, verwerp die koning. Juis om hierdie rede moet die lesers van Hebreërs verstaan dat engele en profete meteens plek moet maak vir die gekose verteenwoordiger wat deur God aangewys het, naamlik Jesus. Jesus is God se verteenwoordiger en Hy neem die ereplek in. Daarom moet Christus vereer word net soos God vereer word. Hierdie ereposisie van die Seun maak profete en engele minder van belang. Vanuit hierdie ereposisie dien Jesus dus ook as middelaar tussen mense en God.

 

Literatuur wat geraadpleeg kan word:

  •          Kistemaker, S. J., & Hendriksen, W. (1953-2001). Vol. 15: Exposition of Hebrews. New Testament Commentary (26). Grand Rapids: Baker Book House

 

  •          Kok, J., 2010, ‘Die Irrglaube in Kolosse: Aanbidding van of met engele in Kolossense 2:18?’,
  •          HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(1), Art. #765, 7 pages. DOI: 10.4102/hts.v66i1.765

 

  1. U kan bogenoemde artikel gratis bekom deur die volgende skakel te druk (http://www.hts.org.za/index.php/HTS/article/view/765/788)

 

Skrywer: Prof. Kobus Kok




Jesaja 53 en Jesus

Jesaja 53 en Jesus – Francois Malan

Johan vra:

Jesaja 53 in die middel van die profeet se profesie dat God sy volk gaan red uit bannelingskap en dat die volk Hom moet vertrou, Hy sal sy belofte gestand doen, verwys hy na die Here se dienaar wat sal ly. Alles in die hoofstuk soos dit voorkom, verwys na Jesus – ook ander plekke soos Jes 42:1-4, Jes 7:14. Vraag is hoe moet mens dit verstaan? Jesaja die eerste een of die tweede een praat van die val van Babilon en alles wat daarmee gepaard gaan, maar hy profeteer ook toekomstige dinge, Jesus se swaar kry ens., wat ons nou weet het gebeur. Daar is nie ‘n kronologiese tydverloop nie, maar wat is die verband tussen die belofte van verlossing uit bannelingskap en die toekomstige belofte van verlossing. Sien hy dit soos ‘n klippie wat op die water gegooi word, hy tref hier en daar tref hy verder, weer en weer

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

God openbaar Homself aan die mensdom in die Skrif. Dit geskied deur verskillende soorte geskrifte in die Bybel, ook in die profetiese geskrifte soos Jesaja, deurdat God sy woord en sy optrede deur mense vir sy volk en ander volke aan die profete openbaar. Die profeet ontvang, verkondig en skryf die woord van God vir sy eie tyd se mense. Maar nadat dit op skrif gestel is, dien dit ook as die woord van die Here vir opvolgende geslagte. God bedoel dit vir alle tye, en in die volheid van die tyd word sy verlossingsplan ten volle geopenbaar in Jesus Christus; vgl. Galasiërs 4:4 ‘…toe die tyd wat God daarvoor bepaal het aangebreek het (letterlik: in die volheid van die tyd) het Hy sy Seun gestuur…’

 

Die eerste wegvoering van Juda na Babel was in 597 v.C. en die tweede in 587 v.C. In 539 word Babel deur die Pers Kores ingeneem wat ‘n ander filosofie gehad het. Hy het die Jode laat teruggaan na hulle eie land om hulle god daar te aanbid en vir hom as hulle koning voorbidding te doen by hulle god. Jesaja 44:8 noem hom die gesalfde van die Here. Die eerste Joodse ballinge keer in 538 v.C. terug na Palestina onder leiding van Serubbabel, met die opdrag om hulle tempel te herbou (2 Kron. 36:22-23; Esra 1:1-4; Jesaja 44:28). Daar is met die bouwerk begin (Esra 3), maar die goewerneur van die provinsie en die buurvolke het beswaar gemaak, en meer as een keer die bouwerk probeer stop (Esra 5:3-4). Navraag oor die koning se toestemming tot die bou van die tempel is gedoen by die Persiese hof, by Kores se opvolger in 530 v.C, Darius die Meder. Voordat die offisiële goedkeuring ontvang is, verdwyn die naam van Serubbabel. Jesaja 53 suggereer dat hy geslaan en doodgemaak is deur die owerhede wat nie kon droom dat die koning toestemming sou gee om die bouwerk te hervat nie. In 518 v.C. gee die nuwe koning Darius opdrag dat die tempelbou moet voortgaan (Esra 6:1-13) en kom self in Jerusalem aan op pad na Egipte en verhoor die klag oor die dood van Serubbabel. Die Here se leiding aan Darius oor Serubbabel se lyding word in 53:11 aangekondig en Darius se onskuldigverklaring oor Serubbabel in 53:12. Die tempel word herbou van 520-515 v.C.

 

Deur die eeue wat op 518 v.C. gevolg het, is die Joodse volk telkens as die lydende kneg van die Here van Jesaja 53 gesien. Maar toe Jesus gekom het, is God se bedoeling met die woord ten volle gerealiseer. Die vroeë kerk het dit ook so gesien en meeste van die geskrifte van die Nuwe Testament getuig daarvan: vgl. die aanhalings van Jes.53:1 in Joh. 12:38 en Rom 10:16; Jes 53:4 in Mat 8:17 en 1 Petr 2:24; Jes 53:5 in 1 Petr. 2:24; Jes 53:6 in 1 Petr 2:25; Jes 53:7-8 in Hand.8:32-33; Jes 53:9 in 1 Petr 2:22; Jes 53:12 in 1 Petr 2:24; daarby is daar talryke sinspelings in die Nuwe Testament op Jes.53. 

 

Die skrywer van Jesaja 53 het nie die toekomstige verlossing gesien soos ‘n klippie op die water nie, maar God het ‘n skrefie oopgemaak van sy verlossingsplan vir die wêreld. Wat vir die ballinge na 70 jaar se straf op hulle afgodsdiens onmoontlik gelyk het, het God deurgevoer deur ‘n koning met ‘n ander beleid as die Babiloniërs. God het Kores se siening gevorm om sy volk terug te stuur na die beloofde land soos deur sy profete voorspel is. En 500 jaar later is sy Seun in die beloofde land geslaan en doodgemaak as die offer van die sonde van al die gelowiges in die tyd van die Ou Testament en van almal wat in Jesus glo sedert sy menswording. Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29) en van elkeen wat in Jesus glo, kinders van God maak (Joh 1:12). Daarmee word die woorde van Abraham aan Isak, wat die hout vir die offervuur gedra het, soos Jesus sy kruis, op ‘n besondere manier vervul: ‘My seun, God sal sy eie offerlam voorsien’ (Gen.21:6,8).

 

Dat die Seun van God vir die sonde van die wêreld gesterf het, is die toppunt van God se liefdesdiens aan die wêreld (Joh 3:16). Jesus se nuwe gebod aan sy getroue volgelinge is ook dat ons mekaar moet liefhê soos Hy ons liefhet (Joh 13:34), dat ons bereid sal wees om ons lewe vir mekaar af te lê (Joh 15:12-13), dat ons Hom ook sal volg in sy lyding (Mat 16:24-25). Paulus sê: ‘Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid’ (Rom 8:17). So word ons ook deel van die lyding van die  Kneg van die Here van Jesaja 53. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Dissipel vir wie Jesus baie lief was. Vraag

Die Dissipel vir wie Jesus baie lief was – Francois Malan

Japie vra:

Volgens Johannes 13:23 en 19:26 word gepraat van die dissipel wie Jesus baie lief gehad het. Wie was dit? Baie dankie.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Die skrywer praat in die laaste deel van die Evangelie van ‘die dissipel vir wie Jesus liefgehad het: in 13:23-26 lê hy op die bors van Jesus, in 19:25-27 gee Jesus sy moeder oor in die sorg van die dissipel, in 20:1-10 hardloop hy en Petrus graf toe, in 21:1-14 is dit hy wat die opgestane Jesus aan die strand herken, in 21:20-24 sê die skrywers van die Evangelie dat hulle sy getuienis oor Jesus gehoor het en dat hy van die dinge opgeteken het wat hulle in die Evangelie geskryf het.

 

Hy is moontlik ook ‘die ander dissipel’ vir wie die hoëpriester geken het, en wat vir Petrus toegang tot die binnehof verkry het (18:15-16). Dit is onwaarskynlik dat die ongeleerde Johannes uit Galilea (vgl. Hand 4:13) bekend was by die hoëpriester in Jerusalem.

 

Daar is ook ‘n moontlikheid dat dit die geliefde dissipel was wat saam met Andreas vir Jesus opgesoek het nadat Johannes die Doper vir Jesus as die Lam van God aangewys het (Jn 1:35-40), omdat die skrywer hom nie identifiseer nie.

 

Die naam van Johannes (die seun van Sebedeus en dissipel van Jesus, volgens die ander Evangelies) word nie in hierdie Evangelie genoem nie, behalwe die verwysing in 21:2 na die seuns van Sebedeus wat ná Jesus se opstanding saam met Petrus en ander gaan visvang het, waar die lieflingsdissipel in 21:7 ook genoem word.

   

In die Evangelie word nie gesê dat Johannes dit geskryf het nie. Die slot van die Evangelie veronderstel dat volgelinge van die ‘geliefde dissipel’ sy herinneringe en die betekenis daarvan opgeteken het in die Evangelie. Of die ‘geliefde dissipel’ die dissipel Johannes was, word betwyfel, maar is ‘n moontlikheid, wat in die vroeë kerk aanvaar is..

 

Ons is vandag nie meer seker wie hierdie Evangelie geskryf het, waar dit geskryf is of wanneer nie. Die opskrifte van die vier Evangelies wat hulle aan bepaalde persone verbind, is later bygevoeg.

 

Die vroegste getuienis oor die skrywers kom van Ireneus, biskop van Lyon in Frankryk wat in Smirna in die huidige Turkye groot geword het en sendingwerk in Gallië (Frankryk) gaan doen het. Hy het as kind by Polikarpus gehoor dat Johannes die Evangelie in Efese geskryf het. Polikarpus van Smirna sou gesê het dat hy vir Johannes en ander persone wat die Here gesien het, geken het. Polikarpus het op 86 jaar in 155 n.C. in Rome op die brandstapel gesterf vir sy geloof (dus gebore in 69 n.C.). Ireneus het gesê Johannes het in Efese gebly tot die tyd van keiser Hadrianus (98-117 n.C.). Clemens van Alexandrië (150-215) het beweer dat Johannes ná die dood van keiser Domitianus (96 n.C.), wat hom na Patmos verban het, terug is Efese toe. Die anti-Marsion proloog tot Lukas  (200 n.C.) beweer dat Johannes Openbaring op Patmos geskryf het en die Evangelie daarna. Papias van Hiërapolis sou in 135 n.C. geskryf het dat daar in Efese twee grafte van twee Johannesse is, en hy het die ouderling Johannes nog geken, maar die apostel Johannes was toe blykbaar al dood (volgens Eusebius Hist. 3.39.6 geskryf in 311 n.C.). .

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus is arm

How can we expect to live with God in heaven if we love not to live with him on earth? —John Mason

Jesus is arm

Weer een van Henri Nouwen se kort stukkies:

Jesus is arm. Sy armoede is meer as ekonomiese en sosiale armoede. Jesus was arm, want Hy het magteloosheid oor mag, kwesbaarheid oor selfverdediging, afhanklikheid oor selfversorgendheid gekies.

Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (Filippense  2:6 – 7).  Dit is die armoede waarin Jesus gekies het om te bly.

Jesus roep ons wat, soos Hy,  geseënd is om ons lewens met dieselfde armoede te leef.