Leef uit jou Doop: 4.4 “Ons moet Jesus deur die water volg”

Leef uit jou Doop: 4.4 “Ons moet Jesus deur die water volg” – Adrio König

 

4.4 “Ons moet Jesus deur die water volg”

Dit is ’n sterk argument, veral ook omdat dit ’n emosionele komponent by het. Mense wat regtig vir Jesus lief – het en Hom wil navolg, kan baie sterk daaroor voel dat Hy tog ons voorbeeld is, en dat Hy ons selfs oproep om Hom te volg. Ons moet selfs ons eie kruis agter Hom aandra.

As Hy Hom dan as volwassene in die Jordaanrivier deur Johannes die Doper laat doop het, is ons geroepe om Hom hierin te volg. Die uitdrukking is bekend: Ons moet Jesus deur die water volg.

Trouens hierdie oproep kan soms ook ander tone aanneem. Dit kan ook ’n dreigement word dat dit gevaarlik is om jou nie te laat doop nie. Dit word soms nog gestel dat ’n mens verlore sal gaan as jy nie gedoop is nie, en dit beteken dat jy gedoop is nadat jy tot geloof gekom het.

Wie as baba “gedoop” is, is eenvoudig nie regtig gedoop nie, en moet nog gedoop word. En juis in die lig van die geweldige betekenis van die doop, is dit eenvoudig ’n moet, en is dit die roeping en plig van mense wat die kinderdoop verwerp, om ander te oortuig dat hulle kleindoop nie regtig ’n doop was nie en dat hulle gedoop moet word.

Hulle is sterk oortuig dat die doop regtig onontbeerlik is. Die Skrif sê immers duidelik dat ’n mens moet glo én gedoop word (Mark 16:16), en Jesus stuur sy dissipels om alle nasies sy dissipels te maak, en die eerste ding wat hulle moet doen, is om dié wat tot geloof gekom het, te doop.

 

Mens wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Prof Adrio König

 




Matteus 7

Matteus 7 – Francois Malan

Japie vra:

Wat wil Jesus vir ons in Matteus 7:1-6 se. Baie dankie

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Verse 1-5 handel oor onderlinge verhoudings, veral in die Christelike gemeente (vgl. ‘jou broer’ in vv3-5), oor hoe om mekaar lief te hê as die opsomming van die wet en die profete (7:12: Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen; vgl. 22:39-40: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself).

Dit beteken nie dat gelowiges geen oordeel oor mekaar mag vorm nie, vgl. bv. 18:15-18; maar dat hulle beoordeling van mekaar in liefde moet geskied en nie veroordelend of foutvinderig moet wees nie. Beoordeling van foute en swakhede moet met jouself begin, en jy moet jouself baie deeglik ondersoek, terwyl jy ander gelowiges genadig en verdraagsaam moet beoordeel. God sal jou oordeel volgens die manier waarop jy ander beoordeel – vgl. 6:14,15: As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle hemelse Vader ook nie julle oortredings vergewe nie (vgl. ook 18:32-35: So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie).

Hoe groter jou bewustheid van jou eie swakhede en gebreke, hoe groter sal jou simpatie wees met ander se swakhede en gebreke (v5).

‘n Huigelaar ignoreer belangrike gebreke in homself, in sy gesindheid en optrede teenoor ander, maar veroordeel selfs klein gebreke in ander mense. Op die manier leef hy/sy nie volgens Jesus se gebod om mekaar lief te hê nie.

Volgens Matteus 13:55 het Jesus as die seun van ‘n timmerman groot geword in ‘n werkswinkel wat met hout gewerk het. ‘n Splinter (die woord kan ook saagsel of ‘n stoffie aandui) kan maklik in jou oog kom in so ‘n werkswinkel. En ‘n balk is juis waarmee die timmerman werk. ‘n Klein foutjie in ‘n ander persoon sien jy so maklik raak. Maar die geweldige groot rol wat jou eie ek en jy self in jou eie lewe speel word gerieflik oorgesien. Dit is juis die persoon wat homself regverdig wat ander maklik veroordeel. Maar as jy jouself aan Jesus se voorbeeld en aan sy woord meet, weet jy hoe ver jy tekort skiet.

Terwyl 7:1-5 ook in Lukas 6:37-42 (vgl. Markus 4:24) voorkom, kom 7:6 net in Matteus voor. Matteus het dit opgeneem in sy versameling van woorde van Jesus in Matteus 5-7.

Die sending om die evangelie van die koninkryk te verkondig is dringend, en word in Matteus 28:19 uitgebrei na alle nasies, soos ook in 24:14. In hierdie sending van die kerk na alle mense hang dit grootliks af van die ontvanklikheid van die mense wat die evangelie hoor. Wat die reaksie van mense op die verkondiging van die evangelie sal hê,  kan nie vooraf bepaal word nie. Maar wanneer Jesus se dissipels of volgelinge teenstand en vyandigheid kry, moet hulle nie aanhou om aan daardie persoon of persone die blye tyding te verkondig nie. In 10:13-14 het Jesus reeds vir hulle gesê: As die huismense nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug. As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af. Dan moet hulle aangaan om die boodskap aan ander mense te gaan meedeel. Dit gaan hier oor die ontvanklikheid vir die evangelie.

‘Wat heilig is’ en ‘julle pêrels’ verwys so na die kosbare evangelie van verlossing van ons sondes deur Jesus Christus, die Seun van God, se offer aan die kruis, en van die nuwe verhouding met God as ons Vader en ons as sy kinders deur te glo in sy Seun Jesus Christus.

Die ‘honde’ wat sal omspring en ons verskeur, en die ‘varke’ wat die pêrels met hulle pote sal vertrap, verwys dan na die mense wat weier om die evangelie te aanvaar, en selfs vyandig reageer teenoor die verkondigers van die evangelie. Onder die Jode was honde en varke as onrein diere beskou.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Naam Jesus

Die Naam Jesus – Kobus Kok

Petro vra:

Graag wil ek net weet: ons word geleer om te bid in Jesus se Naam. In die Katolieke geloof bid hul deur Maria. Ons sê dit is verkeerd, want Maria was ‘n mens soos ons. As kind het ek geglo dat omdat Jesus ook God was geen mens die selfde naam kon hê as Hy nie maar nou moes ek met ‘n skok uitvind hoe baie mense wel die naam het. Is dit dan nie godslasterlik om in die naam van ‘n mens te bid nie?

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord

Daar is baie mense deur die geskiedenis met name wat verbuigings is van die naam Jesus. Vandag is dit baie populêr onder die Spanjaarde. Daar was in die antieke tyd al voor Jesus mense met die naam Jesus. Jesus is afgelei van die Hebreeuse woord Jeshua. Dit beteken maar net redder. Die naam Joshua beteken presies dieselfde. In die Christelike geloof is Jesus as redder en verwagte Joodse Messias na sy opstanding ook tot Kurios of Here verhoog. Mens sal egter niemand kry wie se naam God is nie. Dit sal sommer net verkeerd wees.

Die Katolieke vereer Maria, hulle aanbid nie regtig vir Maria nie. Hulle glo dat Maria by Jesus en God die Vader kan intree vir hulle gebede en versoeke. In die Protestantse geloof waaraan ons behoort, weet ons egter dat daar geen middelganger tussen ons en God nodig is nie. Ons het direkte toegang tot God (vgl. Rom 8)

 

Skrywer: Prof Kobus Kok




Die Drie-eenheid, Jesus se geboorte en opstanding

Die Drie-eenheid, Jesus se geboorte en opstanding – Francois Malan

Petro vra:

Daar gaan nou gerugte rond dat ook van die Christelike gelowe nou die Drie-eenheid, die geboorte en die opstanding van Jesus bevraagteken. Is dit waar en as dit nie die geval is nie waar kom die gerugte vandaan?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Deur al die eeue was daar mense wat hulle self as Christene beskou het, en wat nie die Drie-eenheid of die maagdelike geboorte en opstanding uit die dood van Jesus aanvaar het nie.

Vir die gemeente in Korinte skryf Paulus reeds: ‘as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes’ (1 Kor 15:17).  Vir die gemeentes wat hy in die provinsie Galasië gestig het skryf Paulus: ‘Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus gered het, afvallig geword het en ‘n ander evangelie aanneem’ (Gal.1:6). Na sy stryd met die valse leraars in Korinte sluit hy 2 Kor 13:13 af met ‘Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.’ Daarmee bevestig Paulus die Drie-eenheid van God, al gebruik hy nie die term ‘drie-eenheid’ nie.

2 Petrus 2 waarsku al teen dwaalleer, dat daar mense is wat deur ons Here en Verlosser, Jesus Christus, verlos is en wat weer deur die besmettinge van die wêreld vasgevang is en daardeur oorweldig word (v20).

Sedert die verligting van die 16e en 17e eeue het mense die gesag van die Bybel begin bevraagteken. In die 19e en 20e eeue het mense die Bybel al meer begin sien as ‘n boek deur mense geskryf, oor wat hulle van God gedink het. Daarteenoor glo die kerk dat die Bybel geskryf is deur mense, met al hulle beperkings, swakhede en kortsigtigheid, maar dat dit die manier is waarop God met ons mense wil kommunikeer, en dat Hy die skrywers in hulle oortuigings gelei het deur sy Gees, soms met gesigte en drome, maar meestal deur oortuigings in hulle hart.

Veral in ons tyd word Bybeluitsprake bevraagteken, bv. as daar gelowiges is wat die skepping beperk tot ses dae op grond van Genesis 1 se digterlike lof aan God as die Skepper. En dit terwyl daar daagliks nuwe wetenskaplike ontdekkings gemaak word, bv. oor die heelal met sy wydheid en oudheid, wat in miljoene ligjare gemeet word, die opgrawings van antieke mense se beendere, en van dinosourusse wat miljoene jare gelede al uitgesterf het, ens. Dat God ons daagliks meer van sy skepping leer uit ons wetenskaplike ontdekkings, maak juis dat ons ‘n baie wyer insig kry in God se grootheid en sy skepping, as die mense van die ou tyd. Ook dat Hy daagliks besig is om sy skepping te onderhou en te ontwikkel, ten spyte van die sonde en dwaashede van mense.

Ons lewe in ‘n tyd waarin mense wetenskaplike bewyse soek en waarin die wonder bevraagteken word. En die grootste wonder van alles, dat God mens geword het en uit die dood opgestaan het, word daarmee saam bevraagteken.

Daarom is daar mense wat hulle self Christene noem, omdat hulle Jesus se voorbeeld en uitsprake as ‘n mooi en ideale voorbeeld sien, waarvolgens hulle probeer lewe, om God so te behaag. Maar dan is Hy nie meer my Verlosser wat vir my sonde gesterf het nie. Want geen mens, hoe goed ook al, kan vir my sonde sterf nie. Dit kan alleen God, wat mens geword het in Jesus Christus, vir my doen. En nou is die grootste wonder dat dié God deur sy Gees in my kom woon om my van sonde te oortuig, my ook oortuig van geloof in Christus, my aan die Seun van God se sterwe en opstanding verbind om saam met Hom te sterwe aan myself en saam met Hom op te staan om vir God en my medemens te lewe (Romeine 6:11), van my ‘n kind van God maak, en my daagliks lei om al meer soos Jesus te word (vgl. Romeine 8:9-17; 2 Kor 3:18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan