Geloofsvrae: Jesus Christus: Sy persoon en werk

Geloofsvrae: Jesus Christus: Sy persoon en werk – Adrio König

JESUS CHRISTUS

Ons gaan nou ‘n hele aantal artikels wy aan Jesus Christus.

Sy persoon en werk – verskillende benaderings

Jesus Christus is tegelyk die maklikste en die moeilikste onderwerp in ons geloof om oor te skryf. Daar is so oneindig baie om oor Hom te sê dat ons ‘n rykdom op tafel kan sit. Maar presies waar begin ‘n mens en presies hoe sê jy dit alles, en hoe besluit ‘n mens wat om uit te laat omdat die hele boek nie net oor Hom gaan nie?

Daar is soveel perspektiewe op Jesus Christus. Die opskrif is ‘n baie ou manier om na Hom te kyk: eers sy persoon, dit beteken wie was Hy (God, mens, die Woord, die Middelaar), en dan sy werk, d.i. wat het Hy gedoen (sy wonderwerke, lering, sterwe en opstanding). Ons gaan hierdie hoofstuk egter nie só indeel nie omdat dit baie oorvleueling meebring. Ons gaan sy persoon en sy werk saam behandel.

Tradisioneel is van bo af na Hom gekyk: Hy is die ewige Seun van God, die tweede Persoon in die drie-enige God, die Een wat van alle ewigheid af deur die Vader `gegenereer’ is (en dus as die ewige Seun van God nie gemaak of gebore is nie), en wat in die tyd `vlees’ (liewer:` ‘n mens’) geword het deur sy geboorte uit Maria. Só het God dan die unieke persoon voorsien wat tegelyk God én mens moes wees om vir ons sonde te kon betaal (HK Sondag 4).

Maar ‘n mens kan ook uit ander rigtings na Hom kyk. Die mense rondom Jesus het van onder na Hom gekyk: ‘n merkwaardige Joodse Rabbi wat sterk trekke van ‘n profeet vertoon (Mark 8:28), maar ook van ‘n wysheidsleraar, ‘n wonderwerker, iemand wat omgee vir armes en siekes; maar terselfder tyd ook ‘n vreemde persoon: iemand wat die wet en die tradisies verbreek, ‘n vriend van onbetaamlike mense, iemand wat nie regtig mooi inpas in sy omgewing nie.

Daar is sterk getuienis in die evangelies dat veral die vroeë Christene Jesus ook nog weer uit ‘n ander hoek probeer verstaan het, en wel van agter, vanuit die OT. Hy is die vervuller van die beloftes aan Israel, Hy is die dienaar van die Here (Jes 53), die verwagte Messias as die Seun van Dawid (Ps 2, 110), die Profeet (Deut 18:15-22), die Seun van die mens (Dan 7:13ev). Hy neem dus die rol van die ontroue Israel oor en word die één troue bondgenoot van God.

Hulle het egter ook van voor af na Jesus gekyk. Hy is die doel van God met die wêreld; die Een onder wie se heerskappy God alle dinge wil verenig omdat alles geskep is om op Hom gerig te wees; Hy is die alfa en die omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste; Hy bewerk, en verteenwoordig in sy persoon, die eskatologiese vrede waarin God met sy skepping wil leef; Hy is die nuwe volmaakte mens. Teenoor die eerste Adam wat misluk het, is Hy die tweede Adam wat oorwin het.

In die volgende bladsye gaan ons in die lig van hierdie vier perspektiewe na Hom kyk. Sy persoon en werk sal gelyktydig ter sprake kom.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Het Jesus liggaamlik opgestaan?

Het Jesus liggaamlik opgestaan? – Francois Malan

Henk vra:

‘n Persoon beweer Jesus het net in Gees opgestaan en nie in Vlees nie. Ek weet Jesus het opgestaan, maar hulle vergeestelik alles en noem altyd Bybelverse. Ek wil weet hoe kan ek hom antwoord, want om hom te oorreed is half onmoontlik.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

1. Vlees is ‘n baie breë begrip. Die Griekse woord sarks kan vertaal word as vleis (die ou Nederlandse woord ‘vlees’ wat nog vassteek in Afrikaans om verskillende dinge aan te dui, veral omdat ons nie wil sê ‘vleis en bloed’ nie, vgl. 1 Kor.15:50), maar dit kan ook liggaam, mense, menslik, nasie, menslike natuur, fisiese natuur, aandui in die Nuwe Testament.

2. In 1 Kor.15:35-57 verduidelik Paulus iets van die opstandingsliggaam, dat dit onverganklik is (v42), in heerlikheid (v43), in krag (v44), ‘n geestelike liggaam (v44), dat die laaste Adam (Christus) ‘n lewendmakende Gees is (v45), dat vlees en bloed nie aan die koninkryk van God kan deel kry nie (v50). Paulus sê met die opstanding sal ons almal verander word, dat ons verganklike liggaam met onverganklikheid beklee sal word, en ons sterflike liggame met onsterflikheid (vv52,53).

Dit gee ons ‘n kykie in wat ons kan sê van Jesus se opstanding. Die Evangelies sê bv.

dat Jesus sommer skielik voor die vroue gestaan het en dat hulle sy voete gegryp het en Hom aanbid het (Mat28:9).

Die twee Emmausgangers het Hom eers nie herken nie, maar toe hulle saam met Hom aan tafel was en Hy vir hulle die brood gebreek het, het hulle oë oopgegaan en het hulle Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn (Luk.24:13-31).

Toe Jesus dieselfde aand aan die dissipels verskyn met die merke van die spykers aan sy hande en voete, nooi Hy hulle uit om aan Hom te voel, want ‘n gees het nie vleis en bene soos hulle sien dat Hy het nie, en Hy het saam met hulle geëet (Luk.24:39-43).

Die volgende Sondagaand verskyn Hy aan sy dissipels in ‘n kamer waarvan die deur gesluit is en Hy skielik tussen hulle staan (Joh.20:19).

Vir Tomas nooi Hy die volgende Sondagaand uit om sy vinger in sy spykermerke te steek en sy hand in sy deurboorde sy (Joh.20:27).

By die see gee Hy vir sy dissipels brood en vis om saam met Hom te eet by die vuurtjie wat Hy gemaak het (Joh.21:13).

Dat Jesus liggaamlik opgestaan het, is seker, maar dit is met ‘n verheerlikte liggaam. As jy onder ‘vlees’ die mens se sondige natuur verstaan, dan het Jesus nie in die vlees opgestaan nie. As jy egter onder ‘vlees’ die menslike liggaam verstaan, dan het Jesus in sy menslike liggaam opgestaan, maar in ‘n veranderde liggaam wat deur ‘n geslote deur kan stap, verskyn en verdwyn, maar met ‘n liggaam wat die tekens van sy lyding dra en waarmee Hy eet en waaraan jy kan voel, nie ‘n gees nie. As jy sy verheerlikte liggaam ‘n geestelike liggaam noem in teenstelling met ‘n natuurlike liggaam wat vergaan, is dit volgens Paulus reg (1 Kor.15:44-49). As geestelike liggaam egter beteken dat Jesus nie liggaamlik opgestaan het nie, is dit verkeerd.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Christus in die Hel

Christus in die Hel – Francois Malan

Frank vra:

Was Christus ooit werklik in die hel? Ek verwys hier na die Apostolicum…en ter helle neergedaal.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woorde van die geloofsbelydenis staan nie in die Bybel nie, en het in die loop van die eeue verskillende verklarings gekry. In navolging van Calvyn sien Gereformeerdes dit as die dieptepunt van Christus se lyding. Lutherane sien dit as die begin van sy verhoging omdat hulle dit aan 1 Petrus 3:19 verbind: Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is ‘en so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.’

Calvyn het dit verbind aan Jesus se woorde in Matteus 27:46 ‘My God, my God, waarom het U my verlaat.’

Die Heidelbergse Kategismus antwoord op vraag 44: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (Jesaja 53:5). Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (Hebr.5:7, e.a.) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het (Matt. 26:36; 27:46).

Wat is die hel en wie is baas van die hel? Volgens Matteus 25:41 sê Jesus dat Hy met sy wederkoms die mense sal oordeel en vir die vervloektes sal sê: Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele berei is. Dit beteken dat God die ongelowiges en die duiwel en al sy engele in die hel sal straf in die hel wat Hy vir hulle berei. In Openbaring 20:10 vertel Johannes van sy gesig dat die duiwel wat die nasies verlei het, in die poel van vuur en swawel gegooi is…hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. En in 20:15 word dit ook gesê van die mense wie name nie in die boek van die lewe geskryf is nie.

Die hel is dus die aanduiding van God se straf op die sonde. En dit is presies wat Jesus aan die kruis gedoen het, toe Hy die sonde van die ganse mensheid op Hom geneem het, en God se straf op ons sonde beleef het as dat Hy van God verlaat is. Hy kon juis die sonde van die ganse wêreld dra omdat ten volle mens geword het, om namens ons God se straf te dra, en Hy kon die onmoontlik sware vrag slegs dra omdat Hy God is. So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy Seun gegee het (Joh.3:16). Christus het op die bestemde tyd vir die goddeloses gesterwe…God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom. 5:6,8)

Die hel is om sonder God te wees. In Rom 1:18 sê Paulus dat God sy toorn openbaar oor die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid onderdruk. In vs 24-32 word vertel wat dit behels, nl. dat God die mens oorgee aan sy eie begeertes en drange om te doen net wat hy wil. So vernietig die mens homself. Maar as daar nie meer dood is nie, gaan die selfvernietiging vir ewig voort.

Ons mense is aan tyd en ruimte gebind en kan nie ‘n voorstelling maak van die ewigheid nie. Daarom dink ons aan die hel as ‘n plek. Die woord se oorsprong is waarskynlik die Griekse woord Gehenna as vertaling van die Hebreeuse Ge-Hinnom, dal van Hinnom, aan die suidekant van die stad Jerusalem waar kindersoffers aan die afgod Molek gebring is, deur babas te plaas om doodgebrand te word op die gloeiende uitgestrekte arms van die beeld van Molek waarin vuur gemaak is (2 Konings 16:3; 23:10). In die Nuwe Testament word die Griekse naam Gehenna gebruik, bv. in Matt.5:22; 10:28; 18:9; 23:15; Lk 16:23; Jak. 3:6, 2 Petr.2:4, ens. as aanduiding van God se straf op die sondaars, goddeloses, ongelowiges.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Prins van die wêreld

Die Prins van die wêreld – Kobus Kok

Cillie vra: 

Wie en wat is die prins van lug?

Antwoord

Dr Kobus Kok antwoord:

Waarom noem die Bybel die duiwel die prins van die wêreld? 

In Johannes 12:31 lees ons dat die duiwel deur Jesus beskryf word as die heerser oor hierdie wêreld. In die oorspronklike Grieks (argoon) kan ons die woord heerser ook vertaal met prins. In Johannes se denke is God en sy Seun van Bo af, van die hemelse sfeer. Die aarde is onder die invloed van die duiwel wat die prins of heerser is van die aarde. Hy het baie mense wat onder sy invloed leef. In Johannes 8:44 beskryf Johannes dat sommige mense kinders van die duiwel is en net soos hulle vader, die duiwel, doodmaak en in die leuen leef. In die antieke tyd het kinders soos hulle vaders opgetree en daarom sou ons sê dat die appeltjie nie ver van die boom geval het in die antieke tyd nie. Geen wonder dat die duiwel se kinders dan net soos hulle pa die duiwel optree nie.

Johannes maak dit egter ook heeltemal duidelik dat die duiwel eintlik ‘n nietige heerser is. Hy is maar net ‘n prins. Die eintlike heerser is God wat in Johannes se denke die ware Koning is. ‘n Prins het baie minder mag as die Koning. Net so is God die een met die werklike krag. Dit is die belangrike om raak te sien! Daarom lees on in Johannes 12:31 dat God as Koning die duiwel as prinsie van sy magstroon sal gooi. God as koning het ook kinders. Hulle word weer gebore as kinders van God (Joh 1:12) en tree op soos kinders wat aan God die koning behoort.

 

Skrywer: Dr. Kobus Kok