Die Groot Geloofswoordeboek: Jesus

Die Groot Geloofswoordeboek: Jesus

Jesus

Jesus, die Jood van Nasaret, is sonder meer die hart van die Chris­telike evangelie. Dis nie verniet dat gelowiges “Christene” genoem word nie. Ons kry ons identiteit van Christus, of altans ons behoort ons identiteit van Hom te kry.

“Jesus” is Jesus se Naam, nie ‘n titel soos Christus, Seun van God, Seun van die mens nie. Dit is die Griekse vorm van Josua of Jeshua wat in Hebreeus eintlik Jehoshua gespel word. Dit beteken oorspronklik waarskynlik iets soos “die Here is heil of verlossing”.

Daar is in die Bybel ‘n hele paar mense wat dié naam gehad het.

1.            Josua, die seun van Nun (Jos 1:1).

2.            Die hoëpriester Jesua (Sag 3:1).

3.            ‘n Leviet Jesua (Esra 2:40).

4.            Josua ‘n voorvader van Jesus (Luk 3:29).

5.            Jesus die seun van Sirag (wat een van die bekende apokriewe boeke met dieselfde naam geskryf het).

6.            Jesus wat ook Justus genoem is en wat ‘n Christen was wat in Rome gebly het tydens Paulus se gevangenskap daar (Kol 4:11).

 

Dis merkwaardig dat daar oor niemand anders in die wêreld­geskiedenis meer gepraat en geskryf is as oor ‘n Jood nie. Jode is beslis nie die belangrikste volk met die grootste prestasies in die wêreld nie. Hulle is in baie opsigte klein en onbelangrik op die groot internasionale toneel.

Jesus het ook nie die persoonlike agtergrond gehad om uit te styg nie. Hy kom nie uit Jerusalem, die godsdienstige sentrum nie. Hy kom nie uit ‘n belangrike, invloedryke familie nie. Hy het by wyse van spreke nie aan die voete van Gamaliël gesit soos Paulus nie. Hy het geen besondere prestasies op sy kerfstok nie. Trouens, Hy was van die begin af in konflik met die mense wat saak gemaak het.

Hy trek aandag net deur sy persoonlike kwaliteite. Tel­kens lees ons die skare was verbaas oor wat Hy gesê en gedoen het. Veral sy wonderwerke het aandag getrek en die skare laat saamstroom. Juis dit het Hom die gramskap van die gods­dienstige leiers op die hals gehaal. Hulle probeer Hom beskuldig van samewerking met die duiwel, van ongemanierd­heid (“‘n vraat en ‘n wynsuiper”), van vriendskap met tollenaars en straatvroue, van godslastering, van minagting van die “Skrifte”, dit is die Ou Testament, en van wat nie alles nie! Al hierdie uiterste beskuldigings is niks anders as tekens van hulle radeloosheid met Hom nie. Hy het nêrens in hul skemas ingepas nie.

Daar is ongelooflik baie wat ‘n mens oor Jesus kan skryf. As ek ‘n keuse moet maak, dink ek aan sy “lewe na onder”, sy uitreik na dié wat nie in tel was nie. Volgens die Sinoptiese Evangelies wy Hy prakties sy hele bediening aan die mense in Galilea, dié wat eint­lik maar die uitvaagsels van die samelewing was. Sy dissipels was vissers wat rowwe manne was, tollenaars wat volksver­raaiers was. Hy raak aan me­laatses wat Hom onrein gemaak het; Hy prys Sa­maritane wat ‘n gebroedsel was; Hy laat ‘n prostituut toe om ‘n openbare skan­daal te veroorsaak aan die tafel van ‘n gesiene Fariseër; Hy spreek ‘n vrou vry wat in egbreuk betrap is, reg teen die wet in wat eis dat sy (en die man, waar was hy?) gestenig moet word.

Ons spreuk is: Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou op. Syne is: Meng die semels met jou, dan word dit koekmeel.

Want dis een van die groot verskille tussen ons en Jesus: Hy het die mense om Hom verander, terwyl ons so geneig is om deur hulle verander te word.

In hierdie boek is op baie plekke oor Jesus geskryf, soveel plek­ke dat dit sonder meer duidelik word dat Hy die hart van hier­die boek en trouens ook van die hele evangelie is. Die vol­­gen­de trefwoorde (in alfabetiese orde) is die belangrikste: *beeld van God, *boodskap van die Bybel, *Christus/Mes­sias, *Drie-eenheid, *Four Square Gospel, *Godheid van Christus, *heiligmaking, *heilsweg, *hemelvaart, *historiese Jesus, *inkarnasie, *kruis, *maag­delike ge­boorte, *mensheid van Christus, *Middelaar, *op­standing, *Seun van die mens, *Seun van God, *vereniging met Christus, *weder­koms, *wonderwerke, *Woord – genoeg ver­wy­sings om te bevestig dat Hy inderdaad die hart van die Bybel is!

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Historiese Jesus

Die Groot Geloofswoordeboek: Historiese Jesus

Uit die Duitse teologie kry ons die teenstelling: die historie­se Jesus en die verkondigde Christus. Onder “die historiese Je­sus” is be­doel Jesus soos Hy regtig was en geleef het, terwyl on­der “die verkondigde Christus” bedoel is die boodskap wat die vroeë Chris­tene oor Hom verkondig het. Daar is ‘n taamlik al­ge­­mene oortui­ging dat die vroeë Christene interpretasies aan die betekenis van Jesus gegee het wat nog nie gegeld het tydens Jesus se lewe nie. Veral deur sy opstanding is Hy verheerlik en het die apostels Hom as hierdie Verheerlikte verkondig, terwyl Hy tydens sy lewe misken en verag is.

Dit is byvoorbeeld interessant om die begin van die Evange­lie van Johannes te vergelyk met die ander drie. Matteus en Lu­kas be­gin met die geboortegeskiedenis van Jesus, die vervolging en vlug, die gewone offers in die tempel wat alle Jode moes bring, maar Johannes begin met die wonderlike gedig wat die heer­likheid van die Woord (wat in Jesus ‘n Mens geword het) van voor die skep­ping af besing, en selfs die gelykheid van die Woord aan God be­klemtoon (1:18). Só is Hy nie beleef tydens sy aardse bediening nie. Inteendeel, die Fariseërs kan Hom aanval en beledig. Hulle noem Hom selfs ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en son­daars, wat in hulle oë ‘n skande was (Luk 7:34).

Die verskil tussen die historiese Jesus en die verkondigde Chris­tus kom ook duidelik uit in Paulus se Briewe. Paulus verwys om­trent nooit na die aardse lewe van Jesus, sy *won­derwerke, sy le­ring, sy *gelykenisse nie. Vir Paulus is Hy nie die aardse Jesus nie, maar die gekruisigde en opgestane Here, die Verheerlikte. Daarom verkondig Paulus dinge oor Hom wat nooit ter sprake is in die Evangelies nie, byvoorbeeld dat Hy die doel van die skepping is, dat alles geskape is in beweging na Hom toe (“vir Hom geskep” – Kol 1:16), dat Hy die hele skepping met God versoen het (*Versoening), en dat God die hele skepping onder Hom as Hoof sal verenig (Ef 1:10; Kol 1:16, 20).

Daar hoef nie noodwendig spanning tussen hierdie twee te wees nie. Paulus leer Jesus eers ná die opstanding as die Ver­heerlikte ken, en daarom is dit nie vreemd dat dit by uitstek is hoe hy Hom verkondig nie.

Trouens, dis ‘n getuienis vir die *betroubaarheid van die Evan­gelies dat hierdie “hoë” dinge wat Paulus al dekades lank ver­kondig het toe die Evangelies eers teen 65 nC op skrif gestel is, nie in die Evangelies ingeskryf is nie.

Daar is egter teoloë wat ‘n hele kwessie daarvan maak dat die apostels, en veral Paulus, aan Jesus dinge toeskryf wat hulle self uit­gedink het. Hulle verkondig dus iets soos ‘n aangedikte Jesus, en dit word dan “die verkondigde Christus” genoem. Die apostels sou aan sy kruis ‘n heilswaarde toegeken het wat onaanvaarbaar is, en sy opstanding sou net ‘n geestelike saak gewees het. Hy sou in der waarheid net in die harte van sy dissipels “opgestaan” het, ter­wyl die apostels die idee van die leë graf uitgedink het. (*”Nuwe Her­vor­ming”, *Betroubaarheid van die Bybel)

Die wyse waarop hierdie sake deur hierdie teoloë behandel word, getuig nie van baie eerbied vir Jesus nie; trouens, selfs nie vir historiese dokumente nie. So ‘n spanning tussen Jesus soos Hy eint­lik op aarde geleef het en hoe Hy later verkondig is, doen ‘n onreg aan die Nuwe Testament. Die saak is breedvoerig behandel onder die *betroubaarheid van die Bybel en die *”Nuwe Hervorming”.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Is Jesus se hande en voete vasgespyker aan die kruis?

Is Jesus se hande en voete vasgespyker aan die kruis? – Jan van der Watt

As jy enigiemand sou vra of Jesus se hande en voete aan die kruis vasgespyker is, sal jy amper ‘n 100% “ja” antwoord kry. Het jy geweet dat ons dit nêrens presies so in die Bybel lees nie?

In Matteus en Markus lees ons glad nie van spykers of merke in die hande en voete van Jesus nie. In Lukas lees ons ook nie van spykers en spykermerke in Jesus se hande en voete nie. Ons lees wel dat Jesus vir sy dissipels sy hande en voete “wys”. Wat Hy presies “wys” word nie gesê nie. Kom ons by die Johannesevangelie lees ons wel dat Jesus na die merke in sy hande en sy sy verwys. Hieruit sien ons dat spykers gebruik is. Tog noem Johannes weer glad nie die voete van Jesus nie.

Ons ideë van Jesus se hande en voete wat aan die kruis vasgeslaan is, kom dus van ‘n kombinasie van die feite uit Lukas (Jesus wys sy hande en voete) met die verwysing in Johannes na die spykermerke in die hande van Jesus (sonder verwysing na die voete).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Wat het van Josef geword?

Wat het van Josef geword? – Kobus Kok

Benita vra:

Ek wil graag weet wat van Josef geword het aangesien daar later net nie meer oor hom geskryf word nie, slegs oor Maria. Is daar enige inligting oor hom of sy dood bekend?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

jesusbaba

 

Josef en die baba Jesus deur Guido Reni (1635) (http://en.wikipedia.org/wiki/Saint_Joseph )

 

In die evangelies en in die kerklike tradisie word Josef beskryf as die pa van Jesus, alhoewel hy nie die biologiese pa van Jesus is nie. Josef was ʼn houtwerker (“tektoon” (τέκτων). Sommige geleerdes is van mening dat skrynwerkers die lae klas werkers verteenwoordig het en ander geleerdes wys op Rabbiniese geskrifte waar ʼn skrynwerker as ʼn geleerde persoon en spesialis op sy gebied uitgebeeld word.

In die evangelie van Markus is dit interessant op daarop te let dat Jesus in Markus 6:3 die seun van Maria genoem word. Gewoonlik word ʼn man se identiteit gekoppel aan sy vader. Matteus en Lukas maak wel baie van Jesus se aardse afkoms en wys dat dit terug gaan na die groot Koning Dawid. Matteus en Lukas is dan ook die enigste evangelies wat vertel van Jesus se geboorte en dit is hier waar ons vir Josef ook raakloop. Volgens Lukas woon Josef in Nasaret en vertrek na Bethlehem na aanleiding van die vereiste wat aan hom gestel was deur die Romeinse regering wat op daardie stadium ʼn volkstelling gehou het. In die evangelie volgens Matteus woon Josef egter in Bethlehem, die belangrike stad van koning Dawid waar Jesus ook gebore word. Kort daarna trek hulle egter na Nasaret. In Lukas se weergawe het hulle egter in Bethlehem gebly tot kort voor koning Herodes se bloedvergietings waar hy alle baba seuntjies laat doodmaak het uit vrees vir die nuwe koning wat sou kom. Hiervolgens het Josef sy gesin na Egipte geneem en so ʼn ruk daarna, toe dit veiliger was, terug gebring na Nasaret en daar gaan woon.

Ongelukkig gee die evangelies vir ons bitter min inligting van Josef. Die laaste keer waar Josef in die evangelies te sien is (Lukas), is toe Jesus omtrent twaalf jaar oud was en die gesin in Jerusalem was. Daar het Jesus met die skrifgeleerdes in die tempel geredeneer terwyl sy ouers hartstogtelik na hom gesoek het. Daarna sien ons die karakter Josef nie meer nie. Sommige geleerdes is van mening dat Josef alreeds baie oud was toe hy met Maria getrou het en dat hy gesterf het voor Jesus met sy publieke bediening begin het. Hierdie geleerdes wys daarop dat Maria, die moeder van Jesus as ʼn weduwee uitgebeeld word. So lees ons in Johannes 19:26-27 dat Maria by die kruis teenwoordig was. Net voor Jesus gesterf het, het hy vir Johannes, die geliefde dissipel gevra om sy ma op te pas. Geleerdes argumenteer dat indien Josef nog geleef het, sou Josef teenwoordig gewees het by die kruis, en sou Jesus nie vir Johannes gesê het om sy ma op te pas nie. Volgens die beskouing was Maria dus ʼn weduwee teen die tyd dat Jesus sy publieke bediening verrig het. ʼn Verdere argument wat ter versterking hiervan dien is dat die pa ʼn belangrike rol in die begrafnis van sy seun sou speel. Josef is egter geensins betrokke by die begrafnis van Jesus nie. Alle Bybelse inligting dui dus daarop dat Josef, die pa van Jesus nie meer geleef het ten tye van Jesus se openbare bediening nie. Dit word ook duidelik uit Paulus se geskrifte, wat van die vroegste dokumente in die Nuwe Testament is (50-64 nC), en dus die naaste terug gaan na die tyd van Jesus, (die evangelies is eers rondom 70 nC geskryf) geen verwysing het na Josef nie.

Die interessante is verder dat die evangelies daarop wys dat Jesus broers en susters gehad het. Ook in Paulus lees ons dat hy kontak gehad het met Jakobus, ʼn broer van Jesus. Dit is miskien ʼn meer interessante vraag. Wat het van Jesus se broers en susters geword…

Tussen die tweede en die vyfde eeue na Christus het verskeie geskrifte ontstaan waarin daar oor Josef geskryf is. Ons moet egter in gedagte hou dat die geskrifte baie lank na die historiese gebeure plaasgevind het, tot soveel as 120 jaar daarna. Dit maak die tekste minder histories akkuraat en het dikwels ʼn ander teologiese rede en agtergrond waarom dit geskryf is. In die apokriewe boek die proto-evangelie van Jakobus lees ons dat Josef baie oud was en dat hy voorheen getroud was. Die broers en susters van Jesus word dan beskryf as dat hulle kinders van Josef was uit ʼn vorige huwelik. Die boek het egter ʼn teologiese agenda, naamlik dat dit wil argumenteer dat Maria ʼn maagd was tot haar dood, en daarom moes hulle op een of ander wyse verklaar hoekom die evangelies en Paulus praat van Jesus se broers en susters. Die oplossing was dan om gewoon te sê dat Josef al baie oud was en voorheen getroud was en kinders gehad het voor hy met Maria getrou het. In die vyfde eeu is nog ʼn boek geskryf waarin die geskiedenis van Josef die skrynwerker vertel word. Dieselfde lyn word opgetel, naamlik dat Josef baie oud was (90) en dat hy reeds getroud was en kinders gehad het en met die twaalfjarige Maria getrou het in opdrag van die Heilige Gees wat ʼn kind in haar verwek het. Volgens die boek is Josef dood op die ouderdom 111. Dit beteken dat hulle ook van mening was dat Josef dood is voor Jesus sy publieke bediening begin het.

 

Outeur: Dr Kobus Kok