Om in die spore van Jesus te loop (Dissipelskap)

Om in die spore van Jesus te loop (Dissipelskap)

Dissipelskap beteken om in die spore van Jesus te loop, ja, om Hom te volg. Jy is sy volgeling, die een wat wil wees waar Hy is en wil doen wat Hy doen.

Jesus het aanvanklik twaalf dissipels gekies wat Hom moes volg terwyl Hy hier op aarde was. Hy het hulle alles gewys en geleer wat nodig was. Hulle het die kern van die latere kerk geword. Net soos hulle dissipels (navolgelinge van Jesus) was, net so moet elkeen wat vandag nog aan Jesus behoort sy navolgeling wees. Jesus het vir ons mooi voorbeelde gegee van wat dit beteken om Hom te volg. Toe Hy oppad was na sy kruisiging het Hy vir sy dissipels gesê hulle moet ook hulle kruise opneem (Matteus 16:24-26). Dit beteken dat hulle nie moet terugdeins as hulle gevra word om hulle lewens vir God se saak te gee nie. Jesus het die pad van lyding en opoffering gestap; hulle moet ook. Dit is eintlik logies, sê Jesus. Wat help dit jy palm die hele wêreld tydens jou aardse lewe in, maar jy verloor die ewige lewe? Dan het jy ʼn ewigheid vir ʼn “paar jaar” geruil.

Om Jesus se dissipel te wees, ja, om Hom te volg, vra opoffering. Dit mag wees dat jy soms nie eers ʼn plek gaan hê om te slaap nie (Matteus 8:18-20). Dan moet jy die Here bly volg. Jy kan ook nie draaie hardloop (nou volg jy die Here vir ʼn rukkie en dan weer nie) as jy sy dissipel wil wees nie (Matteus 8:21-22). Jy moet jou fokus heeltemal op Jesus plaas. Hom moet jy volg!

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Bloed van Jesus

Bloed van Jesus

Bloed is vir die meeste van ons maar grillerig. Daarom wonder party van ons waarom Jesus dan sy bloed moes gee vir ons sondes. Wel, om dit te verstaan moet ons kyk wat die Bybel presies daarmee bedoel.

Die lewe is in die bloed, het die Bybelse mense gesê, want as iemand baie bloei, gaan die persoon dood… sy lewe loop uit hom uit, om dit nou maar so te stel. Bloed en lewe is sye van dieselfde munt.

ʼn Tweede ding om te weet: mense het destyds ooreenkomste gemaak (verbonde gesluit). So ʼn ooreenkoms het presies beskryf wat elke party in die ooreenkoms moes doen. As God ʼn ooreenkoms met sy volk maak, sê Hy dat Hy vir hulle ʼn God sal wees, maar dan moet hulle vir Hom ʼn volk wees. Hy gee vir hulle sy Tien Gebooie (sy Verbondswet) sodat hulle presies weet hoe om die ooreenkoms na te kom. MAAR, wat as hulle nie luister nie, of die ooreenkoms breek? Wel, dan moet hulle gestraf word, lui die ooreenkoms. (Dit is nie so vreemde gedagte nie, want as ons vandag nog ʼn ooreenkoms maak, staan daar gewoonlik in die ooreenkoms wat gebeur as ons nie ons deel nakom nie. Dan word ons gestraf met ʼn boete of so iets. Dit is hoe ooreenkomste werk). In die ooreenkoms tussen God en sy volk is die strafklousule dat as die volk hulle rug op God draai, het God die reg om hulle dood te maak. Hulle bloed mag maar vloei, om dit so te stel.

Die derde ding om te weet is dat God wel iets soos “in die plek van” ken en toelaat. Diere se bloed/lewe het byvoorbeeld “in die plek van” mense gevloei. So is die bepalings van die ooreenkoms op ʼn manier nagekom. Nie mense het hulle lewens verloor nie, maar diere is in hulle plek geoffer.

Wel, ons leef natuurlik nie altyd soos God wil nie en daarom moes die dood ook maar vir ons wag. En dit is waar Jesus se bloed inkom: aan die kruis het daar bloed gevloei… ja, die lewe het uit Jesus verdwyn; daar was dood. Dit gebeur in ons plek. Jesus gee dus sy lewe om so die bepalings van die ooreenkoms na te kom. Daarom kan ons leef.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Jesus is God

Jesus is God

Jesus was mens soos ek en jy. Maar Hy was ook meer as dit.

Hy was ook God. Dit sê Johannes byvoorbeeld reguit: Die Woord (=Jesus) was God (Johannes 1:1; 18; 1 Johannes 5:20). Tomas, ʼn dissipel van die Here, bely dit ook toe hy Jesus uit die dood sien opstaan het; hy kon nie anders nie as om te bely: “My Here en my God” (Johannes 20:28). In Hebreërs 1:8 word Jesus ook God genoem en dit nogal deur sy hemelse Vader. Boonop doen Jesus dinge wat net God kan doen, soos om mense uit die dood te laat opstaan. Immers, net God kan lewe gee. Dit is veral sy opstanding uit die dood wat Hom solied aan die kant van God plaas.

Paulus noem Jesus weliswaar nie direk God nie, maar uit gedeeltes soos Kolossense 1:15-16 waar Hy Jesus die Beeld van God en die Skepper van die heelal noem (sien ook Johannes 1:2-3), kom ʼn mens agter dat hy Jesus ook aan die kant van God teenoor die mens plaas. Hy gebruik dikwels beskrywings waar hy die Vader en die Seun en soms die Gees saam in een asem gebruik (1 Korintiërs 8:5-6; 1 Korintiërs 12:4-6).

Uitsprake soos hierdie in die Bybel het gelowiges en die kerk oortuig dat Jesus God is. Daarom bely hulle Hom as God saam met die Vader en die Heilige Gees (die Drie-eenheid).

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Jesus as mens

Jesus as mens

Jesus is die Seun van God wat mens geword het. Nou is daar mense wat sê dat Jesus nie regtig mens geword het nie, terwyl ander weer sê dat Jesus net mens was en nie God ook nie. As ons na die Bybel kyk, is een ding seker: Jesus was regtig mens gewees

Ons hoef nie ver te soek om te sien hoekom ʼn mens so kan sê nie. Jesus is soos ʼn mens uit ʼn ma gebore (Matteus 1-2 en Lukas 1-2). Hy het nie uit die hemel geval nie. Hy het tussen broers en susters in ʼn familie grootgeword. Hy het ook honger gekry en was ook dors na ʼn lang stap in die warm son (Johannes 4). Sy hart kon ook seer word, ja, Hy kon selfs huil (Johannes 11:33,38). Net soos ons het Hy ook liefgehad (Johannes 11:5) en was ook bang (Matteus 26:37). Hy het ook fisies gely toe Hy geslaan en uiteindelik aan die kruis vasgespyker is. Daar is Hy ook as mens dood.

Jesus was mens… maar Hy was ook meer.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy