Johannes die Doper en Elia – Hermie van Zyl

Vraag: Zanke vra:

In Matteus 11:13 word gesê: “Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer, en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom.”

En in Matteus 17:11 staan daar: “maar Ek sê vir julle Elia het al gekom, maar hulle het hom nie herken nie en met hom gemaak net wat hulle wou.” En vers 13: “Toe het die dissipels verstaan dat Hy (Jesus) met hulle van Johannes die Doper gepraat het.”

Maar dan staan daar in Johannes 1:21 dat Johannes die Doper van homself gesê het dat hy nie Elia is nie.

So, ek wil graag beter verstaan: Was Johannes die Doper Elia of het hy net dieselfde eienskappe gehad en gekom “in dieselfde gees en krag as Elia” (Lukas 1:17)?

Antwoord

Prof Hermie van  Zyl antwoord:

Daar is ’n duidelike tendens in die Evangelies wat Johannes die Doper verbind met Ou-Testamentiese tradisies. So vind ons in al vier Evangelies die gedagte dat die Doper verbind word met Jesaja 40:3-5. Hierdie teks word in Matteus 3:3, Markus 1:3, Lukas 3:4 en Johannes 1:23 aangehaal. Dit ondersteun die gedagte dat die Doper gekom het om die weg van die Here (= Jesus) voor te berei. Die Jesaja-teks vertel dat die Jode sal terugkeer uit die Babiloniese ballingskap na Palestina (6e eeu vC), en dat ’n grootpad deur die woestyn gereed gemaak moet word hiervoor. Die Here sal vir sy volk die pad huis toe gelyk maak om verlossing vir hulle te bewerkstellig. Hierdie gedagte word nou deur die Evangelies toegepas op die koms van die Verlosser, Jesus Christus, wat sy volk van hulle sondes sal verlos, en die Doper is die een wat die pad vir Jesus reguit maak.

’n Ander Ou-Testamentiese tradisie waarby die Evangelies aansluit, is die gedagte dat die profeet Elia die wegbereider vir die Here se groot dag van verlossing sal wees. In die eeue voor die Christelike era, en ook kort daarna, het die Jode verwag dat Elia sou kom om die dag van die Here in te lui, ’n verwagting wat waarskynlik sy oorsprong het in die vermoede dat Elia nooit gesterf het nie, maar direk in die hemel opgeneem is (vgl 2 Konings 2). Die konsep dat Elia weer sou kom om die dag van die Here aan te kondig en voor te berei, word in ’n hele paar voor-Christelike, buite-Bybelse Joodse geskrifte gevind, asook in die Bybelboek Maleagi 3:1 en 4:5. Die Evangelies van Matteus, Markus en Lukas sluit by hierdie tradisie aan, maar pas dit toe op die optrede van Johannes die Doper as die wegbereider van die Here Jesus Christus. Met ander woorde, die Doper is niemand anders nie as Elia wat sou kom (vgl Matteus 11:13-14; 17:9-13; Markus 9:11-13; Lukas 1:17).

Die interessante is egter dat die Johannesevangelie nie die opvatting van die eerste drie Evangelies omtrent die identifisering van die Doper met Elia, huldig nie. Trouens, die Doper self ontken in soveel woorde dat hy Elia is (Johannes 1:21). Waarom hierdie verskil in siening tussen die Johannesevangelie en die ander Evangelies omtrent die identifisering van die Doper met Elia? Verskeie oplossings is al aan die hand gedoen vir hierdie diskrepansie, waarvan ek ’n paar noem, en dan afsluit met die verklaring wat ek dink die mees waarskynlike is.

Eerstens, daar is voorgestel dat die Doper, wanneer hy ontken dat hy Elia is, bedoel dat hy nie in die fisiese en persoonlike sin van die woord Elia is nie. Om dit pront te stel, hy is nie Elia wat herleef het nie; hy is nie die reïnkarnasie van Elia nie. Die konsep van die herlewing van ’n Ou-Testamentiese figuur is nie so vergesog nie, want Lukas 9:7-8 berig byvoorbeeld dat daar mense was wat sulke “herlewingsgedagtes” oor Jesus gekoester het. Hulle het geglo Hy is moontlik Johannes die Doper wat uit die dood opgewek is, of Elia wat verskyn het, of een van die profete uit die ou tyd wat opgestaan het. Die Doper wil dus met sy ontkenning net alle twyfel uit die weg ruim: hy is nie Elia wat herlewe het nie. Hierdie oplossing impliseer dat daar nie regtig ’n verskil tussen die eerste drie Evangelies en die Johannesevangelie is nie. By eersgenoemdes is dit Jesus en die Evangeliste wat die verband lê tussen die Doper en Elia, nie die Doper self nie. Hierdie Evangelies bedoel dit ook nie letterlik nie, maar metafories, soos Lukas 1:17 suggereer – dat die Doper in die gees en krag van Elia opgetree het. Die Johannesevangelie lê dus eintlik net die klem daarop dat dit nie die Doper self is wat hierdie verband tussen hom en Elia gelê het nie. En verder, dat hy alle misverstand uit die weg wou ruim: Hy is nie dieselfde Elia van die Ou Testament wat fisies herleef het nie.

Hoewel daar waarheidsmomente in hierdie oplossing is (bv dat die Doper nie ’n soort reïnkarnasie van Elia is nie), is dit in terme van die Johannesevangelie se samestelling en eie oogmerke nog nie die volledige oplossing nie.

Tweedens, daar is aan die hand gedoen dat die Johannesevangelie in die tyd toe dit tot stand gekom het ’n gedagte wou afwys wat by ’n Johannes die Doper-splintergroep (= aanhangers van die Doper lank nadat hy nie meer daar was nie) voorgekom het. Hierdie groep sou dan die Doper as Elia gepropageer het omdat hulle Elia as ’n messiaanse figuur voorgehou het. By implikasie sou die Doper dan die eintlike messias gewees het en nie Jesus nie. Daar heers egter onsekerheid by geleerdes of daar messiaanse verwagtings rondom Elia was in die tyd toe die Johannesevangelie geskryf is, en verder is dit ook nie duidelik of die splintergroep aan Johannes die Doper as Elia gedink het nie. Hierdie oplossing het dus nie baie veld gewen nie.

Derdens, die oplossing wat myns insiens die meeste gewig dra, is die gedagte dat in die Johannesevangelie die rol van Elia gereserveer word vir Jesus, nie vir die Doper nie. Enige identifikasie tussen die Doper en Elia word dus deur die Johannesevangelie vermy. Vandaar die eksplisiete ontkenning van die Doper – hy is nie Elia nie. Die Doper is hoogstens iemand wat getuig omtrent Jesus, ’n “stem roepende in die woestyn” wat die pad van die Here reguit maak (Johannes 1:17). Nog meer, Jesus is volgens die Johannesevangelie alles wat die Doper omtrent homself ontken het: die Messias, Elia en die profeet (Johannes 1:19-21).

Met betrekking tot Elia het verskeie geleerdes gewys op die ooreenkomste tussen Elia en Jesus in die Johannesevangelie, wat die gedagte versterk dat die Vierde Evangelie Jesus as die vervulling van alle Joodse verwagtinge wou teken, insluitende die verwagting dat Elia in die eindtyd sou terugkeer. Dit word egter nie in soveel woorde verkondig nie, maar vir die lesers wat geskool was in die Ou Testament sou die ooreenkomste tussen Elia en Jesus in die Johannesevangelie opvallend gewees het. Byvoorbeeld, die temas van lewe en dood is prominent in die Ou-Testamentiese tekste wat oor Elia handel. Elia is die verteenwoordiger van die lewende en ware God wat oor lewe en dood beskik, en oor sy skepping regeer. Geen wonder nie dat die skrywer van die Johannesevangelie juis hierdie temas in die lewe van Jesus prominent plaas. Baie geleerdes wys byvoorbeeld op die ooreenkomste tussen 1 Konings 17:17-24 (die opwekking van die weduwee van Sarfat se seun deur Elia) en Johannes 4:46-54 (die genesing/opwekking van die regeringsamptenaar se seun deur Jesus) asook Johannes 11 (die opwekking van Lasarus), en beweer selfs dat die Johannesevangelie sy weergawes van hierdie gebeure gemodelleer het op die 1 Konings-gebeure. En so is daar ook die ooreenkomste tussen Elia se gebed tydens die Baäl-episode (1 Konings 18:36-37) en die begin van Jesus se gebed in Johannes 17:1-5. Wat hier uitstaan is die verheerliking van die enigste en ware God, beide deur Elia en Jesus. Talle ander ooreenkomste kan nog uitgewys word, maar bostaande is voldoende om die gedagte tuis te bring dat die skrywer van die Vierde Evangelie op ’n subtiele manier die band tussen Elia en Jesus gelê het, om so te wys dat Jesus, en nie die Doper nie, die eintlike Elia is wat sou kom.

Om saam te vat: Is daar ’n teenstrydigheid tussen die eerste drie Evangelies en die Johannesevangelie omtrent Johannes die Doper en Elia? Gesien vanuit bostaande uiteensetting moet ons sê, nee, dis net oënskynlik so. ’n Mens moet eerder oog kry vir die spesifieke oogmerke van elke Evangelie, dan word die sogenaamde teenstrydighede nie strydpunte nie maar maniere om die unieke boodskap van elke Evangelie te ontdek. So gesien wou die eerste drie Evangelies aansluit by die ooreenkomste tussen die Doper en Elia, waardeur veral die oproep tot bekering beklemtoon is. So is die pad voorberei vir die koms van die Messias, Jesus van Nasaret. Die Johannesevangelie sluit ook by hierdie voorbereidende werk van die Doper aan (“maak die pad van die Here reguit”), maar doen dit nie met ’n beroep op Elia nie omdat hy laasgenoemde rol vir Jesus reserveer. Jesus is die nuwe Elia, nie die Doper nie.

Skrwer: Prof Hermie van Zyl




Johannes die doper – Hermie van Zyl

Jan vra

Ek het die artikels oor Johannes die Doper wat in Bybelkennis verskyn, gelees, maar die vraag wat ek oor hom het, het te make met sy persoon. Hier kom ‘n man te voorskyn: hy dra ‘n kleed van kameelhare met ‘n leergordel om sy heupe en hy eet sprinkane en wilde heuning. Met so ‘n kleredrag en dieet, asook sy uitsprake teen die Fariseërs en Sadduseërs, naamlik dat hulle ‘n “addergeslag” is, lyk hy vir my na ‘n skrikaanjaende wese. Maar nogtans stroom die mense na hom om gedoop te word. Nou wonder ek wat was die sukses van sy bediening? Sy voorkoms of dalk sy woorde? En wat het hierdie woorde: “Bekeer julle want die koninkryk van die hemel het naby gekom” vir die Jode beteken?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller vra inderdaad relevante, maar ook moeilike vrae. Want om hierdie vrae na behore te antwoord, moet mens jouself probeer verplaas na ‘n totaal ander wêreld as waaraan ons vandag gewoond is. Vra jouself af: As ‘n figuur soos Johannes die Doper vandag in jou omgewing opgetree het, sou hy dieselfde impak gehad het as destyds? Of sou die mense eerder meewarig die kop geskud het en die man afgemaak het as van lotjie getik, as ‘n godsdienstige dweper of opsweper wat probeer aandag trek? Maar die blote feit dat die mense destyds na hom gestroom het, wys dat hulle hom ernstig geneem het. En dat dit nie net ‘n sekere deel van die bevolking was wat miskien maklik mislei kon word nie, word bevestig deur die feit dat mense uit verskillende stande van die samelewing – gewone mense, tollenaars, soldate (Luk 4:7-14), selfs godsdienstige leiers (Fariseërs en Sadduseërs, Matt 3:7) – beïndruk was met hom, sy raad gesoek het en hulle deur hom laat doop het. Ook Herodes Antipas, viervors oor Galilea en Perea, was lugtig vir hom (Mark 6:20). Dis duidelik dat die mense hom glad nie as ‘n grap beskou het nie. Inteendeel, hulle het hom hoog geëer.

‘n Verdere rede waarom dit moeilik is om die vraag te beantwoord, is omdat ons slegs die Evangelies se interpretasies van die Doper se optrede het, hoewel Josefus, Joodse geskiedskrywer, in breë trekke saamstem met die Evangelies se beskrywing van die Doper. Volgens Josefus het Herodes Johannes die Doper laat teregstel omdat Herodes ‘n politieke opstand gevrees het. (Johannes se gewildheid het Herodes laat vrees dat die mense enigiets sou doen waartoe Johannes hulle oproep, insluitend opstand.) Hierdie siening hoef nie teenoor die Evangelies se weergawe te staan dat Herodes hom laat opsluit het weens Johannes se kritiek op Herodes se leefwyse nie – dat hy onwettig met sy broer se vrou getroud was (Matt 14:5). Herodes het Johannes waarskynlik laat arresteer op aandrang van sy vrou, Herodias (Mark 6:19). Die punt is: hierdie verskillende perspektiewe op die Doper se optrede laat mens net besef hoe aangewese mens is op ons bronne se weergawes van die Doper se lewe. Tog, historici is dit eens dat hierdie beskrywings vir ons ‘n wesenlik betroubare prentjie teken van die algemene klimaat van die tyd waarin die Doper opgetree het, wat mense se opvattings was, en watter verwagtinge daar deur die Doper se optredes en prediking gewek sou gewees het. Dit is hierdie sake wat ons nou gaan bespreek om te probeer agterkom waarom die mense so gaande was oor Johannes die Doper. Ons doen dit aan die hand van bepaalde hofies.

Die tyd waarin die Doper optree. Daar was ‘n breë opvatting onder die Jode in die tyd toe Johannes op die toneel verskyn het dat profesie in die formele Ou-Testamentiese (OT) sin van die woord al vir ‘n lang tyd opgehou het om te bestaan in Israel. En hier verskyn Johannes die Doper op die toneel, iemand so reg uit die OT profetiese tradisie (die kenmerke hiervan word onder verder bespreek). Dit is dus te verstane dat die mense onmiddellik die ene ore sou gewees vir wat Johannes sê en doen. Die mense wag al lank vir ‘n ware profeet om op te staan en hulle te vertel wat hulle te doen staan. Hulle is moeg vir die gewone onderrig van die geestelike leiers, wat hulle in ‘n groot mate koud gelaat het. Iets van hierdie gevoel blyk uit wat die skare opgemerk het omtrent Jesus, dat Hy leer soos ‘n man met gesag, en nie soos hulle skrifgeleerdes nie (Matt 7:28). Die mense het dieselfde gevoel oor Johannes die Doper gehad: Hier is ‘n man wat met Goddelike gesag optree. Kortom: die tyd was ryp vir iemand soos die Doper.

Die woestyn as plek van optrede van Johannes die Doper. Só belangrik is die plek van die Doper se optrede – die woestyn – dat al vier Evangelies dit vermeld (Matt 3:1; Mark 1:4; Luk 3:2; Joh 1:23). Met “woestyn” word bedoel die onbewoonde, onherbergsame gebied oos van Jerusalem (ook bekend as die woestyn van Judea), tot oorkant die Jordaan by Betanië (Joh 1:28), selfs so ver noord as Enon naby Salim (Joh 3:23). Hy het veral in die Jordaanvallei opgetree waar hy die mense maklik kon doop. Die plek van Johannes se optrede sou nie onopgemerk by mense verbygegaan het nie, want dis hier vanwaar hulle ‘n nuwe godsdienstige eksodus of uittog verwag het. Daarom is dit nie vreemd nie dat al die Evangelies juis die teks uit Jes 40:3-5 gebruik om Johannes se optrede vanuit die OT te legitimeer. Hierdie teks beklemtoon Johannes se rol as profeet wat die pad van die Here moet voorberei (“reguit maak”). Verder is die woestyn in die geskiedenis van Israel geassosieer met die ware profete wat gevlug het vir die wraak van konings, soos Elia (1 Kon 19:4). Die Doper kon die woestyn gebruik as ‘n afgeleë en relatief veilige plek om sy boodskap van bekering ongestoord te verkondig, weg van die wakende oog van die godsdienstige en politieke leiers. Hier kon hy die mense ook doop, wat in feite neergekom het op ‘n uitdaging van die gesag van die leiers.

Johannes se optrede in die woestyn bevat dus die konnotasie van ‘n nuwe eksodus, die finale tyd van redding, asook die prys wat ‘n ware profeet van God moet betaal vir sy roeping: uitsluiting van die gerief en statussimbole van die normale sosiale lewe. Al hierdie aspekte van Johannes se plek van optrede sou by die gewone bevolking ‘n snaar van herkenning geroer het en hulle op sy minste uitgedaag het om sy boodskap as ware profeet van God ernstig te neem. Trouens, dit word in soveel woorde gesê dat die mense Johannes as ‘n profeet beskou het, in so ‘n mate dat Herodes bang was om Johannes summier tereg te stel (Matt 14:5).

Die gedagte van ‘n nuwe eksodus word deur sommige verklaarders ook gekoppel aan die feit dat Johannes min of meer daar opgetree waar die Israeliete destyds die Jordaan oorgesteek het om die land Kanaän in besit te neem. Die uittog uit Egipte het gelei tot ‘n nuwe bestaan in Kanaän. Net so berei Johannes die Jode van sy tyd voor vir ‘n nuwe lewe onder die bewind van die komende Messias.

Johannes se kleredrag. Johannes het klere van kameelhaar gedra met ‘n leergordel om sy heupe (Matt 3:4). Hierdie kleredrag sou onmiddellik die assosiasie met die groot wildernisprofeet uit Israel se verlede, Elia, opgeroep het. Dié het ook so geklee gegaan (2 Kon 1:8; vgl Heb 11:37). Boonop was daar ook die verwagting dat Elia die voorloper van die Messias sou wees (Mal 4:5-6). Dat hierdie gedagte sterk geloop het onder die mense van Johannes se tyd word deur Jesus bevestig as Hy sê dat Johannes inderdaad Elia was wat sou kom (Matt 11:14-15; 17:11-13). Daarmee is die band gelê tussen Elia as voorloper en Jesus as Messias. Johannes het weliswaar ontken dat hy die Messias is, maar dis duidelik dat hy deur sy optrede groot verwagtinge wakker gemaak by die mense oor sy identiteit en oor wat hulle van hom te wagte kon wees (Luk 3:15-17). En sy kleredrag sou beslis bygedra het tot hierdie aura van verwagting rondom sy persoon en optrede.

Johannes se dieet. Johannes se totale dieet het uit sprinkane en veldheuning bestaan (Matt 3:4). Dit klop met wat ons uit ander bronne weet van vroom mense wat destyds in afsondering gewoon het – dat hulle van die veld af geleef het. Maar wat Matteus eintlik hiermee suggereer, is dat Johannes ‘n eenvoudige leefstyl gehad het; hy het in eenvoud en in volkome afhanklikheid van God geleef. Dis ‘n leefstyl wat ook herinner aan wat Jesus later onderrig het dat mens nie oor kos en klere bekommerd moet wees nie, omdat God sal sorg. ‘n Mens se hooffokus moet die koninkryk van God wees (Matt 6:25-34). En dis presies wat Johannes met sy kleredrag en dieet uitgeleef het – volkome vertroue in God, en ‘n leefstyl wat fokus op die die koms van God se koninkryk. Ook hierdie aspekte van sy bediening sou nie onopgemerk by mense verbygegaan het nie. Daar was iets outentiek omtrent Johannes wat hulle eerder sou aantrek as afstoot. Hier is ‘n man wat leef wat hy preek – in alle eenvoud en in volkome toewyding aan God; inderdaad, ‘n man van God.

Johannes se boodskap. Johannes se boodskap was eenvoudig: “Bekeer julle, want die koninkryk van God/die hemel het naby gekom” (Matt 3:2), of: “Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe” (Mark 1:4; Luk 3:3). Die essensie is: bekering en verlossing (lg deur Matteus uitgedruk as die koms van die koninkryk van God, en deur Markus en Lukas as sondevergifnis).

Wat sou hierdie boodskap vir die Jode van destyds ingehou het? Waarom bekering verkondig aan mense wat reeds tot die verbondsvolk behoort? Bekering is mos iets wat aan die heidene verkondig word. Maar dis presies die punt wat Johannes wou maak. Hy sluit aan by ‘n ou profetiese gedagte dat juis die mense wat beweer dat hulle God se volk is, moet terugkeer na God (bv Jes 31:6; 55:7; Jer 3:6-7,10,14,22; 8:5; Hos 12:7; 14:2-4; Joël 2:12-13). Die bekering wat Johannes preek, is nie maar net die daaglikse toewyding aan God nie, maar ‘n radikale omkeer: ‘n wegkeer van jou verkeerde weë (veral die dien van afgode) en ‘n toekeer tot God. Dít is wat Johannes van die Jode gevra het – ‘n eens-en-vir-altyd bekering, ‘n wegkeer van ‘n ou lewe na ‘n nuwe, iets wat die Jode gewoonlik geassosieer het met wat gebeur wanneer heidene hulle ou lewe laat staan en die lewende God begin aanbid en dien. Hiermee lê Johannes die godsdienstige verwording van sy tyd bloot, dat mense in vals sekerhede verval het deur staat te maak op die feit dat hulle kinders van Abraham is en daarom nie nodig het om hulle lewenswyse voortdurend daarmee in ooreenstemming te bring nie. Maar Johannes wys dit uit as ‘n misleidende en selfs gevaarlike sienswyse. Wat hulle nodig het, is ‘n radikale omkeer. Hulle moenie daarop roem dat hulle kinders van Abraham is nie, want as dit daarop aankom, kan God selfs van klippe kinders vir Abraham verwek (daar is ‘n interessante woordspeling in Aramees tussen “klippe” en “kinders”; die woorde klink baie dieselfde). God word nie beïndruk deur allerlei aansprake en belydenisse van mense nie; Hy stel slegs belang in die vrugte wat pas by daardie belydenis (Matt 3:7-10). Dis belangriker dat mense die bewyse lewer dat hulle kinders van Abraham is as dat hulle net op hulle afstamming roem. En dit vra radikale bekering.

Die doop van Johannes. As simbool van mense se radikale wegkeer van ‘n ou lewenswyse en terugkeer na God, het Johannes hulle gedoop. Dis dieselfde soort doop wat van heidene verwag is wanneer hulle uit die heidendom oorgekom het na die Jodedom, die sogenaamde proselietedoop. Laasgenoemde was ‘n radikale reinigingsproses waardeur die heidene hulle vorige lewenswyse afgesweer het ten gunste van die aanbidding van die lewende God. Met hierdie doop het Johannes eintlik geïmpliseer dat hy die Jode van sy tyd as geestelik dood beskou het; hulle is soos heidene wat nog nie die lewende God ken en dien nie. ‘n Ander beeld wat Johannes vir die geestelike leiers van sy tyd gebruik, bevestig hierdie radikale siening van hom. Hy noem hulle slange, letterlik: “addergeslag” of “kinders van adders” (Matt 3:7). Dis ‘n baie kras term, waardeur hy hulle eintlike karakter aantoon, dat hoewel hulle uiterlik vroom voorkom, hulle na regte kinders van die duiwel is, gedagtig daaraan dat die duiwel ook met die slang geassosieer is (vgl Op 20:2; Joh 8:39-47). Daar was verder ook die opvatting dat adders “moedermoordenaars” was, aangesien ‘n sekere soort adder in die geboorteproses hulle pad uit die ma oopgebyt en die ma in die proses gedood het. “Addergeslag” is dus ook ‘n beeld van uiterste morele verwording, daarom dat hulle ook die oordeel probeer ontvlug, net soos slange probeer vlug wanneer ‘n ploegland aan die brand gesteek word om dit voor te berei vir die saaiproses. Met hierdie sieninge was Johannes inderdaad geen lammetjie nie. Hy het seer sekerlik op baie tone getrap, mense kwaad en verontwaardig gelaat, maar terselfdertyd ook respek afgedwing, in so ‘n mate dat mense na hom gestroom het. Hulle het intuïtief aangevoel dat hy eg is en ‘n belangrike boodskap van God het.

Al bogenoemde dui daarop dat Johannes ‘n besondere oorgangsfiguur was tussen die ou verbond en die nuwe verbond. Hy was inderdaad die wegbereider vir die Messias, Jesus. Hy het die mense in eg OT profetiese tradisie opgeroep tot ‘n ware terugkeer na God, die aanvaarding van God se vergifnis, en om die koms van die koninkryk van God in Jesus met blydskap te omhels. En dat hulle in sy robuuste optrede presies dit raakgesien het, word gedemonstreer in die groot aanhang wat hy geniet het. Selfs lank nadat hy van die toneel verdwyn het, het hy nog dissipels gehad het wat sy nalatenskap voortgesit het (Hand 18:24-26; 19:1-7).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Johannes die Doper

We ought to read the Scriptures with the express design of finding Christ in them – Johannes Calvyn

Johannes die Doper

Johannes is in die woestyn. Hy gaan deur die hele Jordaanstreek en verkondig:  Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe (Lukas 3). Die mense kom in groot getalle na hom toe om gedoop te word. Nou begin die mense wonder: Is Johannes nie miskien die Christus nie? Maar Johannes antwoord: Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

 

Die Jode het geglo dat Johannes dalk die Christus mag wees. Johannes ontken dit. Hoe sal ons dan weet of die nuwe tyd– die tyd van die Messias – aangebreek het? Is daar ‘n teken wat ons kan help?  Na Johannes kom die Messias en ons sal weet dit is Hy, want Hy doop mense met die Heilige Gees. Esegiël het reeds gesê Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom  (36:27). Jesus kom nou om hierdie belofte te vervul.

Ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hierdie is ‘n merkwaardige stelling:

  • Johannes was nie sommer enige mens nie. Jesus sê van hom: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie (Lukas 7:28). Selfs Hy kan nie die Messias se skoene losmaak nie.
  • Daar was streng reëls oor Joodse slawe. Die een ding wat ‘n Joodse slaaf nie mag gedoen het nie, was om sy eienaar se skoene uit te trek nie. Dit is gewoonlik die voorloper tot die was van die eienaar se voete. Daarvoor moes ‘n nie-Joodse slaaf gebruik word. Dit wys vir ons dat die verskil tussen Johannes en die Een wat nog moet kom enorm groot was – die kloof tussen Hom en die profeet was wyd en diep.

Die doel van die Heilige Gees is om die verhouding tussen God en die mens weer te herstel. God kom in ons lewens en herstel die verhouding en ons word deel van sy huisgesin. Hierdie belofte – die herstel van ons verhouding met God en God se teenwoordigheid – loop soos ‘n goue draad dwarsdeur die evangelie.




JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (7)

JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (7) – Jan van der Watt

  1. Jesus is die Seun van God

In al vier die verhale van Jesus se doop word Jesus as die Seun van God beskryf. In die sinoptiese evangelies is dit God wat Hom sy “geliefde Seun“ noem en in Johannes is dit die getuienis van Johannes die Doper – hy noem Jesus direk Seun van God. 

 

  • Lees Ps 2 (veral verse 6-7) en sê wat die betekenis is van die verklaring: Jesus is die (geliefde) Seun van God.

Hy moes mos immers God voor die volk verteenwoordig. As die titel van Jesus gebruik word, beteken dit dat Hy nou God se spesiale Messias-Koning (Seun) is en dat daar ʼn besondere verhouding tussen Hom en die Vader is. Daarom word die titel by die doop gebruik: Jesus is die Messias (Koning), die gesalfde (Christus beteken gesalfde), wat nou in die wêreld God se mense moet kom lei.

Die Gees het soos ‘n duif neergedaal… Die Gees is nie ‘n duif nie, maar hierdie uitdrukking verklaar dat die onsigbare sigbaar gebeur het. Almal kon fisies sien hoe dit gebeur. 

Nou is ons reg om die pad saam met Jesus te stap as sy openbare bediening begin.

Skrywer: Prof Jan van der Watt