Tagged: Johannes die Doper

image_pdfimage_print

JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (1)

JOHANNES DIE DOPER – ‘N NUWE TYD BREEK AAN EN DIE PAD WORD GELYKGEMAAK (1) – Jan van der Watt

deel 1 – Johannes die Doper

Die evangelie van Jesus begin met Johannes die Doper; daaroor is al vier evangelies dit eens. Johannes die Doper speel egter ‘n belangrike rol in die die Nuwe Testament, belangriker as wat ons soms dink. Geleerdes meen dat mense in die tyd van Jesus meer van Johannes die Doper geweet  en gedink het hy is belangriker as Jesus. Selfs Josefus, die skrywer van die Joodse geskiedenis, skryf ‘n langer stuk oor Johannes die Doper as oor Jesus. Johannes was ‘n prominente figuur in daardie tyd wat selfs die koning aangevat het – dit sou uiteindelik sy dood kos. 

 

Johannes die Doper

Johannes die Doper – Coen Slabber

Die evangelie volgens Lukas is ons enigste bron oor die geboorte en kinderjare van Johannes. Hy is gebore in die bergstreek van Juda (Lukas 1:39). Sy vader was ‘n priester (Sagaria) en sy moeder was Elisabet, ‘n afstammeling van Aäron. Beide ouers was getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou (1:6). Sy geboorte word deur ‘n engel in die tempel aan Sagaria aangekondig. Vir Elisabet, wat onvrugbaar was, was dit die antwoord op haar gebede. Die engel sê ook vir Sagaria dat hy die seuntjie Johannes moes noem.  Reeds voor sy geboorte kondig die engel aan dat hy ‘n volk vir die Here sal voorberei (1:17). Elisabet word as ‘n bloedverwant van Maria beskryf (1:36).

image_pdfimage_print