Hoe is Judas dood?

Hoe is Judas dood? – Francois Malan

Japie vra:

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Matteus se hele Evangelie wil telkens vir sy lesers wys dat wat met Jesus gebeur het ‘n vervulling is van die Skrif (vgl. bv. Mt 26:54,56) en die skandelike optrede van die owerpriesters. Hierdie verhaal oor Judas se dood, wat net in sy Evangelie voorkom, is ‘n vervulling van Jesus se waarskuwing in Mt 26:24: ‘Die Seun van die Mens gaan wel heen soos daar oor Hom geskryf staan (Jesaja 53:9), maar ellende wag op daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nie gebore was nie.’ Die owerpriesters het erken hulle geld is bloedgeld, maar het tog vir Judas daarmee omgekoop, en dit gebruik om die pottebakker se grond te koop as ‘n begraafplaas vir vreemdelinge.

Matteus se weergawe is waarskynlik beïnvloed deur die Sagaria-teks: ek het die dertig silwerstukke gevat en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi (Sag. 11:13).

seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word.’

Terwyl Jesus by hulle op aarde was, het Hy die volgelinge, wat die Vader vir Hom gegee het, in die Naam  van die Vader = die openbaring van die Vader, bewaar, deur hulle te hou by die wil en woorde van sy Vader wat Hy aan hulle oorgedra het. Van dié groep het slegs Judas ‘verlore gegaan’ (apooleto kan ook aandui dat Judas homself vernietig het). Jesus verwys na Judas as ‘die seun van vernietiging’ (apooleia soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse pêsja‘  kinders van ‘opstand en oortreding’ in Jes.57:4 weergee). 2 Tes.2:3 gebruik die naam  ‘Seun van die verderf’ saam met  ‘man van wettelossheid’ vir die  Antichris. Met ‘seun van verderf’ word Judas se boosheid en sy einde aangedui. Hy het reeds sy hakskeen teen sy Meester opgelig (vgl. 13:18 wat Ps.41:9 aanhaal). Die dood van sy Meester en sy selfvernietiging is reeds aan die kom. Waarom hy die uitsondering onder die dissipels moes wees, word toegelig met die woorde: sodat die Skrif vervul kan word. Dit verwys waarskynlik na Ps.41:9;  en Ps.109:4-13 se beskrywing van die verkragting van die Here se reg en eer, wat ‘n spieëlbeeld word van Christus se lyding, en van Judas se einde soos Ps.109:8 in Hand.1:20 aangehaal word). Judas het die duisternis liewer gehad as die Lig (Joh.3: 18-19) en ‘n simbool geword van  God se straf (Joh.3:36; vgl. Ps.69:25-27).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Judas Iskariot

Judas Iskariot – Coen Slabber

Judas was een van Jesus se twaalf apostels. In die lys van dissipels verskyn sy naam telkens laaste (Matteus 10:4; Markus 3:19; Lukas 6:16). Hy word veral onthou vir die soen waarmee hy Jesus in die tuin van Getsemane verraai het. Judas is die Griekse vorm van ‘n algemene Hebreeuse naam: Jehuda (dit beteken God word geloof). Die oorsprong van Iskariot is onseker. Moontlikhede sluit in:

  • Dit beteken “man van Keriot.” Keriot mag na ‘n streek in Judea verwys, maar daar was ook twee stede wat as Keriot bekend gestaan het. In Jeremia 48:24 word verwys na Kerijot oos van die Jordaanrivier in Moab. In Josua 15:25 word Kerijot-Gesron, dit is Gasor, as een van die stede in die gebied van Juda geïdentifiseer. Wat egter duidelik is, is dat Judas, anders as die ander dissipels, nie ‘n Galileër was nie.
  • Iskariot identifiseer Judas as ‘n lid van die sicarii – ‘n groep sluipmoordenaars wie se doel was om die Romeine uit Judea te verdryf. Sommige historici glo egter dat die sicarii eers tussen 40 en 50 nC ontstaan het. Judas kon dus nie ‘n lid van hierdie groep gewees het nie.
  • Sommige meen dat Iskariot “leuenaar” of “die vals een” beteken.
  • Iskariot is ‘n afleiding van ‘n Aramese woord wat “rooi kleur” beteken.
  • Dit mag verwys na die manier waarop Judas gesterf het. Dit kom van ‘n mengwoord (Grieks en Aramees) wat “wurg” beteken. Dit beteken die naam is eers na sy dood deur die ander dissipels aan hom gegee. Dit is baie onwaarskynlik.

Hierdie is ‘n afbeelding van “Die Judas Kus” van die kunstenaar Gustave Doré (1866).

judaskus

Ons lees van Judas in die vier evangelies en aan die begin van Handelinge.

Judas se verraad

Die priesterhoofde  en die skrifgeleerdes was op soek na ‘n plan om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak (Markus 14:2). Omdat hulle bang was vir ‘n oproer onder die volk, wou hulle dit nie op die paasfees doen nie. Daarom besluit hulle om Hom op die nag voor die fees gevange te neem. Lukas sê: Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was, ingevaar (Lukas 22:3). Hy onderhandel daarna met die priesterhoofde en offisiere van die tempelwag om Jesus te verraai. Daarvoor sou hulle hom betaal – dertig silwerstukke. Die inisiatief kom van Judas.

Hoekom het Judas vir Jesus verraai?

(1) Geld. Een van Judas se swakhede wat sy liefde vir geld. Toe Maria ‘n halfliter duur nardusolie op Jesus se voete uitgegiet het, maak Judas beswaar – hulle kon die olie vir baie geld verkoop het en die geld vir die armes gegee het. Johannes gaan verder en noem hom ‘n dief: Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat (Johannes 12:4 – 6).

(2) Judas was ontnugter, want hy het geglo dat Jesus die Romeinse heerskappy oor Israel sou verbreek. Judas het sy land liefgehad  en het geglo dat Jesus misluk het. Hy besef dat ‘n onafhanklike staat van Israel los van die Romeine nie een van Jesus se doelwitte was nie.

(3) Satan het in hom ingevaar (Johannes 13:27; Lukas 22:3 – 6).

(4) In die Evangelie van Judas, ‘n gnostiese teks van ongeveer 300 nC, word beweer dat Jesus vir Judas oorreed het om Hom te verraai. Die waarheid hiervan word nie aanvaar nie.

Jesus het vooraf geweet wie Hom sou verraai: Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai (Johannes 6:64). Jesus laat dit toe. Nadat Hy sy verraaier aangewys het, sê Hy vir Judas: Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen (Johannes 13:27). Hoekom laat Jesus dit toe?

  • Hy laat die verraad toe sodat God se plan uitgevoer kan word.
  • Hy was in ieder geval bestem om gekruisig te word – met of sonder Judas se verraad.

Judas se dood

Daar is ‘n paar beskrywings van Judas se dood:

(a) Matteus 27:2 – 10: Toe Judas sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry oor wat hy gedoen het. Hy neem die silwerstukke en gooi dit in die tempel en gaan hang hom op. Die priesterhoofde neem die geld en koop daarmee grond van die pottebakker: Daardie stuk grond word tot vandag toe nog Bloedgrond genoem.

(b) Handelinge 1:18 – 19: Judas gebruik die geld en koop daarmee ‘n stuk grond. Daar het hy vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgepeul … Daarom word die plek in hulle taal Akeldama genoem. Dit beteken Bloedgrond.

(c) In die Evangelie van Judas (nie deel van die kanon nie) sê Judas dat hy ‘n visioen gehad het van die dissipels wat hom vervolg en stenig. Hy pleeg daarom selfmoord.

(d) Die vroeë Christenleier, Papias, sê dat Judas se liggaam vreeslik opgeswel het. ‘n  Koets het hom vergruis  sodat sy derms uitgepeul het.

Hoe moet ons hierdie verskillende weergawes verstaan? C. S. Lewis sê dat elke stelling in die Bybel nie noodwendig histories waar is nie. Augustinus probeer die verskillende weergawes versoen: Judas het homself opgehang; die tou het gebreek; Judas se liggaam bars oop. Moontlik moet ons aanvaar dat Matteus die gebeurtenis as ‘n vervulling van ‘n Ou Testamentiese profesie wou beskryf. Matteus sê dan ook: Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het (27:9). In Jeremia word beskrywe hoe hy grond by Anatot koop. In Sagaria 11:12 – 13 lees ons  van dertig stukke silwer wat in die huis van die Here gegooi word. Augustinus, Hieronimus en Calvyn glo dat Matteus hier ‘n fout begaan het – hy moes na Sagaria en nie na Jeremia verwys het nie. ‘n Ander moontlikheid is dat Matteus hier na Jeremia 18 en 19 of 32 verwys.

Vandag word die naam Judas algemeen as sinoniem met verraaier gebruik. Judas, ‘n tragiese figuur wie se geldgierigheid waarskynlik tot sy verraad en dood gelei het.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber




Judas se brief en die beginsel van die kompas

Judas se brief en die beginsel van die kompas – Kobus Kok

  1.  Wie het die boek Judas geskryf?

Judas is ‘n baie kort boek met een hoofstuk of 25 versies. Dit is geskryf deur Judas wat die broer was van Jakobus die broer van Jesus, wat die Jakobus brief in die NT geskryf het. Met ander woorde, hierdie boek is geskryf deur Jesus se broer Judas. Dit is nie dieselfde persoon as Judas Iskariot wat Jesus verraai het nie. Ons lees in die evangelies dat Jesus broers en susters gehad het. Jakobus was ‘n belangrike leier in die vroeë kerk in Jerusalem (vgl. Hand 12:17; 15:13).

kompas

  1.  Wanneer is dit geskryf en aan wie?

Na alle waarskynlikheid word Judas geskryf teen 55-65 nC. Ons weet nie presies aan wie die brief geskryf is nie. In baie van die NT briewe sal Paulus byvoorbeeld duidelik skryf dat hy aan die gelowiges in Kolosse of Korintiërs of Tessalonika skrywe. Dit is egter nie die geval by Judas nie omdat hy nie vir ons die woonplekke aandui van die mense aan wie hy skryf nie.

By nadere ondersoek lyk dit vir ons soos ‘n brief of eerder ‘n preek wat as ‘n omsendskrywe gesirkuleer was en dat Judas die mense aan wie hy skryf persoonlik geken het. Dit was dus nie ‘n onpersoonlike brief nie, maar duidelik geskryf aan mense met wie hy al ‘n geruime tyd ‘n verbintenis gehad het. Dit laat ons dan lei na die punt om te vra waar Judas werksaam was volgens die vroegste getuienis. Indien ons die brief bestudeer sien ons dadelik dat Judas Ou Testamentiese dele aanhaal om sy argument teen die valse leraars wat die gemeente bedreig te maak. Dit beteken dat hy aan mense skryf wat Jode was, maar wat in kontak gekom het met heidene. Ons weet dat Jesus en sy familie uit Judea gekom het en dat Jakobus die broer van Jesus in Jerusalem ‘n leier was en daarom dink die meeste geleerdes dat die brief nie geskryf is in Griekeland of Rome soos Paulus se briewe nie, maar eerder in die Palestina omgewing.

  1.  Wat is die basiese boodskap of doel van die boek?

Die gelowiges aan wie Judas skryf, het in kontak gekom met heidene en met valse leraars wat die waarheid van die evangelie wat Jesus gebring het, bedreig het en verdraai het. Die gevaar het bestaan dat die waarheid van die boodskap wat aan hulle oorgelewer is (Judas 3) bedreig was deur goddelose en losbandige mense (Judas 4-19). Judas wou aanvanklik vir die gelowiges geskryf het oor die verlossing waaraan almal deel het maar toe voel hy na aanleiding van die omstandighede en die krisis wat bestuur moes word om vir hulle ‘n brief te skryf ten einde hulle aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan hulle wat spesiaal deur God afgesonder is.

Dit wil voorkom of daar vals leraars was wat vir die gelowiges vertel het dat God hulle nie gaan straf vir losbandigheid nie en dat hulle maar losbandig kan leef. Ons kry hierdie tipe denke op verskillende plekke in die Nuwe Testament, soos bv in 1 Kor 6 en 15 met die bekende uitspraak die kos is vir die maag en maag vir die kos en dat God in elk geval alles gaan vernietig, so dit maak nie saak wat jy met jou liggaam nou doen nie. Ons sien dit ook in Romeine 6:1-23 waar Paulus skryf aan mense wat ook hierdie tipiese manier van dink gehandhaaf het. Ook in die Romeine brief sien ons dat die valse leraars van mening was dat God hulle nie gaan straf vir hulle dade nie en dat jy daarom kan doen net wat jy wil, van dronkenskap tot seksuele losbandigheid en dit gaan niks tot gevolg hê nie. Dit het baie mense in die Bybelse tyd laat dink dat dit OK is om aan te gaan met die lewe wat tipies was van die antieke heidense manier van leef.

In Judas 12 lees ons dat sommige mense tydens die liefdesmaaltye (nagmaal) hulself skuldig gemaak het aan die afskuwelikste uitspattighede en dat hulle opgetree het soos verstandlose diere en net agter hulle natuurlike drange aangejaag het en so die liefdesmaaltyd besoedel het. Ons lees ook elders in die NT (vgl. 1 Kor 11:20-22) dat daar mense in Korinte was wat tydens die liefdesmaaltyd die kos so vinnig afgesluk het en dat daar ander gelowiges was wat honger gely het.

  1.  Vertel ons meer van die antieke Romeinse wêreld om ons te help om te verstaan in watter konteks Judas skryf

Dit is baie interessant dat ons van hierdie tipe gedrag lees as iets wat nogal voorgekom het onder die heidene maar dat selfs die heidene negatief oor sulke mense praat. Die algemene moraliteit in die Romeinse ryk het geweldig afgeneem en selfs die heidense filosowe en geskiedskrywers het daarop kommentaar gelewer. Keiser Augustus het wette gemaak teen seksuele immoraliteit in 18 v.C. (Julain wette) – hy het ‘n pa die reg gegee om die man en/of sy dogter dood te maak indien hulle met die daad betrap word in sy huis of sy skoonseun se huis. Indien ‘n man sy vrou uitvang as sy owerspel gepleeg het en haar nie skei nie, word hy strafbaar voor die reg en kan hy doodgemaak word.

Jo-Ann Shelton (1998:316-317) verwys in haar boek “As the Romans did” (Oxford University Press, 1998) byvoorbeeld na iets wat Martial (Marcus Valerius Martialis [eerste eeu n.C.in Rome]) in sy Epigram 7.20 vertel:

n Slaaf het een dag by sy beskermheer gaan eet. Die oomblik toe hy genooi is en by die gasheer aankom het hy dadelik na die etenstafel gehardloop waarvoor hy al dae en nagte voor wag. Hy het gevra vir drie porsies varknek, vier porsies vark loin, vir beide dye van die haasvleis, en beide die skouer porsies. Hy bloos nie eers as hy die oesters uit die doppe steel nie. Onder die tafel steek hy sy vuil sakdoek weg en daarin stop hy nog ‘n vrag koek, druiwe skille en appelstronke en afval, ‘n half vrot vy en ‘n pap sampioen. Alhoewel sy sakdoek wil bars van al die kos wat hy skelm ingestop het, steek hy boonop nog halfgekoude bene en ‘n karkas van ‘n gekookte tortelduif wat se nek al verslind is in die warm voue van sy jas. Nog erger, met sy lang regter arm rek hy tot op die grond onder die tafel en skep enige iets op wat die skoonmakers en die honde nie bygekom het nie, sonder om te bloos of te dink dit is snaaks. Die vergrype bly egter nie by kos nie. Hy maak sy groot beker vol wyn dat die wyn letterlik oorloop. Nadat hy alles gevat het wat hy kon, sleep hy sy logge lyf en al die kos vir 200 trappe op en sluit homself senuweeagtig toe agter sy eie deur, en die volgende dag verkoop hy ook nog die kos wat so gesteel het!

Etes was in die antieke tyd ‘n baie belangrike sosiale geleentheid. Soos ons pas gesien het, het dit dikwels saamgegaan met geweldige uitspattighede en swak gedrag. Redelik onlangs het navorsers en argeoloë in Pompeii ‘n inskripsie teen die muur van ‘n huis gevind waarin die huis eienaar gedragsreëls teen die muur geskryf het (Jo-Ann Shelton 1998:316-317):

  1. Hou jou afvallige slaapkamer oë weg van ‘n ander man se vrou en maak seker dat jy ‘n mate van ordentlikheid op jou gesig uitstraal
  2. Wees sosiaal en vriendelik en moenie rusie maak nie. As jy laasgenoemde nie kan doen nie, gaan terug huis toe.

  1. Watter raad gee Judas aan die gemeentelede?

Judas doen dan oproep aan die gelowiges om hulle teen die losbandigheid en die valse leerstellings te verset en te stry vir die waarheid deur:

  • Weerstand te bied teen dit (en diegene) wat goddeloos en losbandig is (Judas 4-19)
  • In gedagte hou dat God kragtig red en genadig is (Judas 5-11 en 14-16) maar dat hy ook gaan oordeel en optree teen die wat nie glo nie. Hy sinspeel dan na alle waarskynlikheid op tekste soos Numeri 14:35 en Genesis 6:1-4 en Henog 10:4-6. Daar is baie voorbeelde uit die geskiedenis wat mens volgens Judas as voorbeeld kan neem soos die volk Israel wat deur God verlos word uit Egipte maar dan ironies genoeg ongehoorsaam word en dan nie in die beloofde land ingaan nie (Num 14:26-39); Sodom en Gomorra (Gen 19:1-29) en die Engele (Gen10:4-6) wat as gevolg van hulle ongehoorsaamheid en losbandigheid wel deur God gestraf is. Die punt is dus dat die geskiedenis die bewys lewer dat God losbandigheid en sonde nie net los nie. ‘n Rein lewe in gehoorsaamheid is vir die Here belangrik, en on onrein lewe word gestraf.
  • Die waarskuwings van die apostels (vgl. Hand 20:29; 1 Tim 4:1; 2 Pet 2:1-3) altyd in gedagte hou en verwag dat sulke dinge gaan gebeur. Hulle moet dus reg wees en voorberei om die feit dat die aanvalle sal kom (Judas 17-19). Indien die verleiding kom moet jy jou denke en jou gedrag laat kontroleer deur God se wil.
  • Deur middel van konstante gebed moet die gelowiges hulle geloof en fokus versterk (Judas 20) en jouself oriënteer met ‘n geestelike kampus in die rigting van ware geestelike noord.
  • Hulle moet ‘n toekomsverwagting hê en fokus op die feit dat Christus weer kom en rekenskap gaan vra (Judas 21)
  • Dit is belangrik om nie net vir jouself te leef nie maar op die uitkyk te wees vir ander en gelowiges moet ander mense help (Judas 22-23). Judas motiveer die gelowiges om hulle te ontferm oor diegene wat in twyfel verkeer en ander moet mens heeltemal verafsku en vermy (Judas 23). Hier gaan dit oor geestelike onderskeiding. In sommige kontekste weet jy dat jy nie met mense ‘n bepaalde pad kan stap nie en hulle sal moet vermy. Op ander tye sal die gees jou duidelik lei om mense met sagte ontferming te hanteer.
  • Sonde verafsku (Judas 23)
  • God loof – dankie sê vir dit waarmee God hulle seën (Judas 24-25)

 

Skrywer: Dr Kobus Kok




Die Judasbrief

Die Judasbrief – Francois Malan

Maude vra: 

Benodig inligting oor die Judasbrief in die Nuwe Testament – wie was skrywer, en aan watter gemeente? Ook sal ek graag die aanhalings uit die apokriewe boeke oor Henog wil lees.

Antwoord:

Prof François Malan antwoord: 

Judas is waarskynlik ook ‘n broer van Jesus, soos Jakobus, wat die brief van Jakobus geskryf het

(Jak. 1:1; vgl. Mt.13:55; Mk.6:3; 1 Kor.9:5), wat dit uit beskeidenheid nie meld nie, maar homself as ‘n dienskneg van Jesus Christus bekendstel. Sy aanval op die dwaalleraars is korter as 2 Petrus s’n, wat waarskynlik deur Judas uitgebrei is, en ander dele van Judas uitgelaat het. Daarom is Judas moontlik voor 2 Petrus geskryf. Petrus is volgens die tradisie teen 64 n.Chr. doodgemaak.

Maar daar is baie skrifverklaarders wat dink dat Judas eers teen die einde van die eerste eeu geskryf is, omdat dit volgens verse 3 en 17 sou lyk asof die apostels al almal dood is, die goeie Grieks van die brief sou nie lekker pas by ‘n eenvoudige man uit Galilea nie, en die dwaalleraars en hulle leer wat hy bestry sou beter pas by ‘n later datum. Daarom sou ‘n ander skrywer onder die naam van Judas, die broer van Jesus, die brief geskryf het. Die probleem daarmee is dat so iemand eerder onder die naam van ‘n apostel sou geskryf het om meer gesag aan sy woorde te gee. En Judas bied homself nie aan as ‘n apostel nie, maar slegs as die broer van Jakobus wat die leiding in die gemeente Jerusalem oorgeneem het nadat die apostels die stad verlaat het weens die vervolging van die apostels (vgl. Handelinge 12:17).

Aan watter gemeente – is nie seker nie. Waarskynlik was dit aan meer as een gemeente. Die opskrif suggereer dat die brief sommer aan alle gelowiges geskryf is (v1). Met die skrywer se kennis van die Joodse geskrifte, was hy waarskynlik’n Joodse-Christen. Of hy veral aan Joodse-Christene geskryf het, of ook aan Grieks-sprekende gelowiges (vgl. sy goeie Grieks) is nie seker nie. Maar uit verse 3 en 4 lyk dit of die skrywer persoonlik bekend was met die gemeentes aan wie hy skryf.

In vers 11 vergelyk Judas die dwaalleraars met drie persone uit die Ou Testament: Kaïn, Bileam en Korag as voorbeelde van wat gebeur met mense wat verkeerd loop.

Hy verwys ook na die mense van die uittog wat nie Kanaän wou binnegaan nie, en vir 40 jaar lank in die woestyn rondgeswerf het tot almal dood is (v5, vgl. Numeri 14:29-30), na engele wat hulle nie binne hulle perke gebly het nie (vers 6, vgl. Genesis 6), en na Sodom en Gomorra met hulle buurstede (v 7, vgl. Genesis 19).

Twee Joodse geskrifte uit die eerste eeu n.C. word aangehaal:

In vers 9 uit Die Hemelvaart van Moses. Die boek het verlore geraak, maar die eerste deel tot by Moses se opdrag aan Josua is in ‘n Latynse vertaling van die oorspronklike Aramese geskrif gevind. Ongelukkig het dit nie die laaste deel wat oor Moses se hemelvaart handel, waarna Judas verwys, bevat nie. Die voorstelling was blykbaar dat engele die goeies wegdra na hulle plek in die doderyk, en die duiwels dié wat kwaad gedoen het na hulle plek in die doderyk (vgl. Lukas 16:22-23). Die duiwels sou aanspraak gemaak het op Moses om hom na die plek van die slegtes te neem, omdat hy ‘n man doodgeslaan het (Eksodus 2:12). Maar Migael, die engel van Israel, betwis die duiwel se aanspraak op Moses, sonder om die duiwel arrogant te belaster. Al wat hy sou sê is Sagaria 3:2 se woorde van die Here tot die satan: Die Here sal jou straf.

Verse 14 en 15 verwys na die boek Henog wat in die vroeë kerk hoog aangeskryf was en later in die Westerse kerk nie meer gebruik is nie, maar veral nog in die Etiopiese kerk gebruik is. Die verwysing na Henog as die sewende geslag, met Adam as die eerste, word in Henog 60:8 en 93:3 so genoem (vgl. Gen.5:21-24). Die profesie van Henog waarvan Judas praat, is nie ‘n letterlike weergawe van Henog 1:9 nie, maar ‘n vrye aanhaling in ‘n teksvorm wat deels aan die Etiopiese vertaling en deels aan die Griekse vertaling laat dink. Dit is ‘n waarskuwing dat God se oordeel kom, en dit kom oor alle mense en engele, en dit geskied volgens hulle werke, hulle uitspattighede, ydel woorde en lasterlike taal. Die mense in Judas se gemeentes, wat met losse sedes lewe en nie God se oordeel daaroor verwag nie. sal nie aan die oordeel ontkom nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan