Bou jou platform

In vain shall indolent and sluggish persons lament that they had been deprived of that grace which they rejected.– John Calvin

Bou jou platform

Ons hoor leiers praat van dinge soos platform en invloed. Ons moet baie versigtig wees, want in ons pogings om ons platform en invloed te bou, kan ons in werklikheid net ons eie ego bou. Ken Blanchard en Phil Hodges sê: EGO stands for Edging God Out.

In plaas daarvan om ons platform te bou, moet ons eerder ons karakter bou. Luister wat sê Paulus vir Timoteus (1 Timoteus 3:1 – 7 – Die Boodskap):

 

1Wat ek nou sê, staan soos ’n paal bo water: as iemand baie graag ’n leier in die gemeente wil wees, wil hy ’n belangrike en goeie werk in die gemeente doen.

2Daar moet niks slegs oor so ’n persoon gesê kan word nie. Hy moet getrou wees aan sy vrou en nie uitspattig lewe nie. Hy moet nie ongeërg wees en niks omgee vir wat hy doen nie. Hy moet ordentlik leef en ander Christene help waar hy kan, selfs al vra hulle hom vir blyplek. Verder moet hy ’n goeie onderwyser wees, want hy sal ander van God moet leer. 3Hy moet ook nie ’n drinker of ’n bakleier wees nie. In plaas daarvan dat hy die hele tyd skoorsoek, moet hy eerder vriendelik wees. Geld moet ook nie sy baas wees nie. 4Hy moet ook mooi na sy gesin kyk en sorg dat sy kinders respek vir hom het en na hom luister. 5(As iemand nie eens sy eie gesin goed kan hanteer nie, hoe op aarde sal hy dan na die gemeente kan kyk?) 6Dit moet ook liefs iemand wees wat darem al ’n rukkie ’n Christen is. Die gevaar is dat iemand wat onlangs ’n Christen geword het, dalk te veel van homself sal begin dink as hy so gou ’n leier word. Dit sal sy verhouding met die Here natuurlik baie sleg doen. Die duiwel het ook mos te veel van homself begin dink. 7Nie-Christene moet niks slegs kan sê van die leier van die gemeente nie, want anders sal die duiwel alles in die wiele ry wat die leier doen.

Hier praat Paulus oor die eienskappe van leiers in die gemeente. Let wel: hy fokus op karakter.

Maar hoe bou jy jou karakter? Derwin Gray in ‘n artikel in Pastors.com noem drie praktyke wat karakterbou uitdaag en aanmoedig. Hy bespreek nie die klassieke geestelike dissiplines nie.

Praktyk#1: Die teenwoordigheid van mense

  • Hanteer elke persoon met wie jy in aanraking kom asof Jesus vir hulle gesterf het.
  • Hanteer elke persoon asof Jesus die hemel verlaat het om hom te red.
  • Hanteer elke persoon asof hy na die beeld van God gemaak is en vir Hom belangrik is.

Praktyk #2: Wees ‘n dienaar

  • Mense is nie daar om jou te dien nie – jy is daar om hulle te dien.
  • Soek maniere om mense te dien.
  • Jesus het sy dissipels se voete gewas – wie se voete was jy?

Dit sal jou nederig en toeganklik hou.

Praktyk #3: Die teenwoordigheid van Christus

  • Woon in Christus; geniet Christus.
  • Leef in voortdurende afhanklikheid van Christus.

Dit beteken dat jy op Christus as jou bron van krag vetrou.

Leiers bou jou karakter en laat God jou platform en invloed uitbou.

 




Karakter en vaardigheid

 

Above all, trust in the slow work of God, our loving vine-dresser – Pierre Teilhard de Chardin

Karakter en vaardigheid

Leierskap word op karakter en vaardigheid gebou. Charisma is opsioneel. Van die mees charismatiese mense van die vorige eeu was ook van die slegste: Hitler, Mao, Marx en Mussolini was almal charismaties.

Paulus skryf aan Timoteus: Net so moet diakens ook mense van goeie karakter wees … Vooraf moet ondersoek ingestel word na hulle geskiktheid, en as niemand beswaar teen hulle inbring nie, kan hulle as diakens dien (1 Timoteus 3:8 – 10). Die probleem is dat daar kerkleiers is met baie talent en charisma, maar  nie altyd die nodige karaktereienskappe het nie – hulle wortels is nie diep in die grond van God se woord geplant nie.

 

As jy karakter sonder vaardighede het, is jy ondoeltreffend. As jy vaardighede sonder karakter het, is jy ‘n bedreiging vir die kerk. Om jou vaardighede te verbeter moet jy lees. Die volwassenheid wat jy as kerkleier moet hê, het ook met karakter te doen. Volwassenheid van karakter het niks met ouderdom te doen nie. Ook nie met jou voorkoms en prestasies nie. Dit gaan onder meer oor gesindheid. Karakter is die manier waarop jy op die omstandighede van die lewe reageer; karakter is nie wat ander mense dink jy is nie, maar wat jy werklik is. Character is who you are in the dark (D. L. Moody). Karakter is wie jy is as niemand kyk nie – dit is die ware jy. God ken jou karakter.

Charisma beïndruk nie vir God nie. As dit jou beïndruk moet jy baie versigtig wees. Jou hart moet ‘n dieper karakter en meer vaardigheid verlang. Karakter en vaardigheid is die twee spore waarop leierskap hardloop.




Die karakter van die gelowige

The Lord dislikes the yawning mouth and folded arms, the signs of sleep, which commonly follow the careless man, who doth neglect the state and condition of his house and family – Henry Bullinger

Die karakter van die gelowige

God se karakter word gekenmerk daardeur dat Hy Homself gegee en verneder het. Daarom moet gelowiges verwag dat hulle eie reis Jesus Christus se karakter moet weerspieël – hulle moet hulleself gee en vrygewig wees. In sy Brief aan die Filippense vra Paulus dat Jesus se volgeling nie net aan die nou en hier moet dink nie, maar ‘n ewigheidsiening moet hê.

Paulus praat nie van voorspoed en sukses nie, maar oor vennootskappe in die stryd en lyding wat die lewe van ons Verlosser gekenmerk het. Paulus se nadenke oor sy eie lewe help die Filippense om sin te maak van hulle eie situasie.

Ons het die ware besnydenis, ons wat God deur sy Gees dien, ons wat ons op Christus Jesus beroem, en nie op uiterlike dinge vertrou nie (3:3). Paulus is vas oortuig dat Jesus se opstanding ‘n nuwe, veranderde lewe vir sy volgelinge beloof.

Jesus se storie vorm ons storie. Gelowiges se verlede, hede en toekoms kry nuwe betekenis soos Jesus se storie ons storie vul. Ons storie kry nou ‘n ewigheidsbetekenis, want Jesus se storie neem ons storie in sy storie van verlossingsliefde op. Jesus se verheerliking beteken dat die gelowige se verlede nie sy toekoms hoef te definieer nie. Ons is van ons sonde verlos en ons verhouding met God is herstel. Jesus se storie van gehoorsaamheid en lyding beteken dat ons ons huidige storie van stryd, pyn en hartseer moet herïnterpreteer. 

Jesus se storie herinner ons dat die finale oorwinning oor sonde en dood in die toekoms lê – al weet ons nou reeds wat die uitslag gaan wees. Jesus Christus se storie eindig nie by die kruis nie, maar by sy opstanding en verheerliking.




Die deugde van Romeine 5:3 – 4: Karakter

What amazes me is not that God does not choose everybody, but rather that he chose me – Charles Spurgeon

Die deugde van Romeine 5:3 – 4: Karakter

Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertrou. En wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ‘n sterk Christelike karakter te vorm (Die Boodskap).

Paulus sê dat volharding vorm karakter. Swaarkry wys die ware aard van my persoonlikheid. Karakter word deur eksterne kragte gevorm, maar dit ook iets wat ons vorm deur te kies om dit te doen.

 

Elemente van ons persoonlikheid word deur beide die natuur en ons omgewing beïnvloed, maar daar is eienskappe wat ons doelgerig moet ontwikkel. As Christene moet ons ‘n heilige karakter wat meer en meer soos Christus s’n lyk ontwikkel. Hier is ‘n mooi stukkie van Pastoor Craig Corkill:

If you sow a thought, you reap an act.
If you sow an act, you reap a habit.
If you sow a habit, you reap a character.
If you sow a character, then you reap a destiny.

Christene moet gedagtes, optredes en gewoontes saai, wat ‘n karakter wat ‘n erfenis in die ewigheid werd is, ontwikkel. Dan mag ons karakter deur God goedgekeur word.

(2 Timoteus 2:15).