‘n Nuwe Kategismus: Vraag 9

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 9

Vraag:

Wat vereis God in die eerste, tweede en derde gebod?

 

Antwoord:

Dat ek God as die enigste ware en lewende God ken. Tweedens, dat ek alle afgodery vermy en God nie onbehoorlik sal aanbid nie. Derdens, dat ons God se Naam met vrees en  eerbied hanteer en ook sy Woord en werke eer.

[Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

Teksvers:

Jy moet die Here jou God eer en dien en net in sy Naam ‘n eed aflê. Jy mag nie ander gode aanhang nie, ook nie gode van die volke in jou omgewing nie (Deuteronomium 6:13 – 14).

 

Kommentaar

God lei mense om te sien dat die God wat in die Skrif geopenbaar word en in die persoon van die Here Jesus gemanifesteer word, die God is wat die hemel en die aarde gemaak het. Die mens maak vir hom ‘n god waarvan hy hou; hy maak vir homself, as dit nie uit hout of klip is nie, van sy eie bewustheid of sy denke, ‘n god waarvan hy hou. Hierdie god  is nie ernstig oor die mens se oortredings nie of straf nie die ongelowiges  te streng nie. Hy verwerp vir God soos Hy is en brei uit oor ander gode – soos hy dink God behoort te wees. Die Heilige Gees, as Hy ons denke verlig, lei ons om te sien dat Jahwe God is en naas Hom is daar geen ander gode nie. Hy leer sy mense om te weet dat die God van hemel en aarde die God van die Bybel is – ‘n God wie se eienskappe gebalanseer is: barmhartigheid en geregtigheid, liefde gepaard met heiligheid, genade in waarheid en mag gekoppel aan teerheid. Hy is nie ‘n God wat net oogknip oor sonde nie, nog minder daarmee gelukkig is … maar ‘n God wat nie ongeregtigheid kan verdra nie en nie die skuldiges sal spaar nie. Dit is die groot argument vandag tussen die filosoof en die Christen. Die filosoof sê: “Ja, ‘n god as jy dan wil, maar dit is wat sy eienskappe moet wees – soos ek dit beskryf.” Die Christen antwoord: “Dit is nie ons besigheid om ‘n god te ontwerp nie, maar om die een God wat in die Skrif geopenbaar word te gehoorsaam.”

 

Hierdie kommentaar is deur Charles Haddon Spurgeon (1834–1892), ‘n Engelse Baptiste prediker, geskryf. Spurgeon word pastoor van die New Park Street Church (later Metropolitan Tabernacle)  in Londen. Hy was slegs 20 jaar oud. Hy het dikwels vir meer as 10 000 mense sonder enige klankversterking gepreek. Hy was ‘n vrugbare skrywer en sy gedrukte werke is omvangryk. Ten tye van sy dood het hy amper 3 600 preke gepreek en 49 volumes kommentare, gesegdes. liedere gepubliseer.

Hierdie kommentaar kom uit die preek  “Heart-Knowledge of God” in The Metropolitan Tabernacle Pulpit: Sermons Preached and Revised by C.H. Spurgeon During the Year 1874, Volume XX (London: Passmore & Alabaster, 1875), 674–675.

 

Verdere leesstof

 “Self-disclosure” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

U beveel dat ek geen ander gode voor u aangesig mag hê nie. Dit wil sê, U is my Here en my God en ek moet vir alle dinge na u hande kyk. Daarom moet ek al my vertroue in U stel, dankbaar teenoor U wees, U liefhê en vrees en gehoorsaam. In al my behoeftes moet ek u heilige Naam aanroep. Ek moet hierdie geloof, liefde, gehoorsaamheid, dankbaarheid en gebede aan niemand anders behalwe aan U gee nie. O Here, dit moet ons alles met ‘n hart vol vreugde doen. Ek het goeie rede hiervoor:   watter wonderlike ding is dit dat U ingewillig het om u Seun vir my te gee om my God te word.

 Maar ag, liewe Vader, wat sal ek sê?  In die verlede het ek u wet verbreek deur in u skepsels te vertrou, hulle aan te roep, ek het hulle liefgehad, gevrees en gehoorsaam eerder as U. In u goedheid en genade vergewe my en my afgodery van die verlede. Gee dat ek geen ander God in my hart het as net U nie, om niemand anders behalwe U te dien nie. Laat ek u Naam nie tevergeefs aanroep nie deur te vloek of om u Woord nalatig te hoor en te lees nie. Laat ek nie u waarheid en Woord ontken nie. of dit verberg as ek die geleentheid kry om u heerlikheid te bevorder en u waarheid te bevestig nie. Laat ek sien dat U wil hê dat ek my tong moet gebruik om in alle nederigheid u en u woord en u waarheid te bevestig. Laat ek met oorgawe bid en u Naam aanroep; laat ek in nederigheid u woord lees en hoor en daarvan met eerbied, trou en aandag praat; laat ek U dank en loof vir u groot barmhartigheid. Here, ek oortree U heilige, geseënde gebod soos ek dit ook in die verlede gedoen het. God, vergewe my sondes van die verlede en my huidige sondes waarvan hierdie gebod my aankla. Barmhartige Vader gee dat ek met u Heilige Gees vervul sal word om u heilige Naam, woord en waarheid in Jesus Christus lief te hê en te ken. Dat ek in al my behoeftes U heilige Naam sal aanroep; dat ek aan U al my dank gee; dat ek U sal loof en U grootmaak en U heilige Naam sal heilig as werktuig van u genade vir ewig en ewig.

 

Hierdie gebed is deur John Bradford (1510–1555), ‘n Engelse Protestantse Hervormer  geskryf. Bradford het aan die universiteit van Cambridge gestudeer. Hy word die koninklike kapelaan vir Koning Edward  VI. Toe Mary Tudor, ‘n Katoliek, die troon bestyg word hy saam met  Latimer, Ridley and Aartsbiskop Cranmer gearresteer. Hy het ‘n groot reputasie as prediker gehad en ‘n groot skare het sy teregstelling bygewoon. Hy word veral onthou vir sy stelling:  “There but for the grace of God goes John Bradford.”  Sy werke waarvan sommige in die tronk geskryf is, sluit in briewe, oproepe, lofredes, preke en verhandelings.

Hierdie gebed kom uit  “Godly Meditations: A Meditation upon the Ten Commandments” inThe Writings of John Bradford, edited by Aubrey Townsend (Cambridge: University Press, 1868), 150–157.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 8

Blog39k

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 8

Vraag:

Wat is God se wet soos ons dit in die Tien Gebooie kry?

 

 

Antwoord:

Jy mag naas My geen ander gode hê nie. Jy mag nie vir jou ‘n beeld in die vorm van iets wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is, maak nie. Jy mag nie voor hulle buig en hulle aanbid nie.  Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie. Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.  Eer jou vader en jou moeder.  Jy mag nie moord pleeg nie. Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie. Jy mag nie begeer nie. [Onderstreepte gedeelte is antwoord vir kinders.]

 

Teksvers:

Jy mag naas My geen ander gode hê nie (Eksodus 20:2)

 

Kommentaar:

Thou shalt not have another God than me:
Thou shalt not to an Image bow thy Knee.
 
Thou shalt not take the Name of God in vain:
 
See that the Sabbath thou do not profain.
 
Honour thy Father and thy Mother too:
In Act or Thought see thou no Murder do.
 
From Fornication keep thy body clean:
Thou shalt not steal, though thou be very mean.
Bear no false Witness, keep thee without Spot:
What is thy Neighbours see thou Covet not.

 

Die gevaar lê nie slegs in die breek van een of twee van hierdie tien gebooie nie, maar in die  oortreding van enigeen van hulle. Soos jy weet, as ‘n koning tien besondere opdragte strafbaar met die doodstraf vir sy onderdane gee om te gehoorsaam, sal enigeen wat een van hierdie tien opdragte verontagsaam, skuldig aan hoogverraad wees – asof hy al tien verbreek het. Hy kan dus verwag dat die doodsvonnis voltrek sal word asof hy elkeen van hierdie opdragte verbreek het … As ‘n mens nege van die gebooie vervul en een verbreek, sal die een wat hy verbreek hom vernietig – hom uitsluit uit die vreugde van die hemel asof hy hulle almal oortree het.

 

Jy moet hierdie verbond en wet vervul, alles daarvan, vir ‘n lang tyd, tien, twintig, dertig, veertig of sestig jaar. Tog, as jy gly en een van hulle verbreek slegs een maal voor jy sterf, is jy verlore. My vriende, julle moet verstaan dat omdat julle onder die genadeverbond is julle beslis gered sal word. As julle onder die verbond van goeie werke en die wet is, sal julle sekerlik veroordeel word as hulle daarmee voortgaan.

 

Die wet veroordeel nie net woorde en optrede nie, maar het die gesag om die geheimste gedagtes van die hart wat boos is, te veroordeel. As daar een verkeerde gedagte deur jou hart gaan, een in jou hele lewe,  vat die wet dit, kla jou aan en verdoem jou daarvoor.

 

Net so met al die ander gebooie, as daar een gedagte wat boos is, of dit teen God is of teen die mens is, of jy dit agterkom of nie, tree die wet in werking en deur die gesag van die wet word jy veroordeel, uitgewerp en tereggestel.

 

Hierdie kommentaar kom van John Bunyan (1628 – 1688).  Hy was bekend as die blikslaer (tinker) van Elstow. Hy kom dramaties tot bekering en word ‘n Puriteinse prediker. Soos sy gewildheid toegeneem het, word hy die teiken van skinderstories en laster. Uiteindelik word hy in die tronk gegooi. Tydens sy tyd in die tronk begin hy sy bekende werk,  The Pilgrim’s Progress. Dit word vir die eerste keer in1678 gedruk.

 

Die gedig aan die begin is “Upon the Ten Commandments” in A Book for Boys and Girls, or, Country Rhymes for Children (London: Elliot Stock, 1890). Die aanhaling is uit “The Doctrine of the Law and Grace Unfolded” in The Works of that Eminent Servant of Christ Mr. John Bunyan, Volume 3 (Edinburgh: Sands, Murray & Cochran, 1769), 245–247.

 

Verdere leeswerk

 “Revelation” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed

O my God en Here, help my om u gebooie  deur u genade elke dag beter te verstaan en uit te leef. Bewaar my hart dat ek nooit sal vergeet en ondankbaar word nie, dat ek nooit ander gode sal soek nie of ‘n ander vertroosting hier op aarde of in enige skepsel.  Dat ek slegs aan U vashou, my enigste God. Amen, liewe God en Vader. Amen.

 

Hierdie gebed is geskryf deur Martin Luther (1483 – 1546). Hy was ‘n Duitse Protestantse leraar en professor van teologie.  Sy vader was ‘n mynwerker. Hy wou leer vir ‘n regsgeleerde, maar sluit later by ‘n klooster aan. Op 31 Oktober 1517 spyker hy sy vyf en negentig leerstellings aan die deur van die kerk in Wittenberg.  Dit was die begin van die Hervorming. Sy weiering om die leerstellings na Pous Leo X en Keiser Karel V se opdrag terug te trek, lei tot sy uitbanning uit die kerk. Hy het baie werke geskryf, insluitend klein en groot kategismusse, en duisende preke in kerke en universiteite gepreek.

 

Hierdie gebed kom uit  Luther’s Prayers, geredigeer deur Herbert F. Brokering, en vertaal deur Charles E. Kistler (Minneapolis: Augsburg Books, 1967), 51.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 7

Blog34k

Augustinus oor die kerk.

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 7

Vraag:

Wat vereis die wet van God?

 

 

Antwoord: 

Persoonlike, volmaakte en volgehoue gehoorsaamheid: dat ons God met ons hele hart, siel, verstand en krag sal liefhê en ons naaste soos onsself sal liefhê. Wat God verbied mag nooit gedoen word nie en wat God gebied moet altyd gedoen word. [Deel wat onderstreep is, is die antwoord vir kinders.]

 

Teksvers:

Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat (Matteus 22:37 – 40).

 

Kommentaar:

Om die Here God met jou hart, verstand, siel en krag lief te hê, is die eerste groot aspek van Christelike geregtigheid. Jy sal jou vreugde in die Here jou God vind; jy sal alle geluk in Hom soek en kry. Jy sal sy woord hoor en vervul: “My seun, gee my jou hart.” En as jy jou siel aan Hom gegee het om daar sonder mededingers te heers, kan jy uit die volheid van jou hart uitroep: “Ek sal U liefhê, o my Here, my krag. Die Here is my sterk rots; my Verlosser, my God, op wie ek vertrou.”

 

Die tweede gebod, die tweede groot aspek van Christelike geregtigheid, is ten nouste en onlosmaaklik verbind aan die eerste een. “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Liefde – met tere welwillendheid, eerlike en hartlike toegeneëntheid, die hartlike begeerte om die bose te voorkom of te verwyder en om alles wat goed is te doen. Jou naaste – nie jou vriende of familie of kennisse nie; nie net die voortreflikes wat jou eerbiedig, wat aan jou goedheid terug bewys nie – maar elke persoon. Dit sluit nie diegene wat jy nog nooit gesien of wie se naam jy nie eers ken nie, uit nie; dit sluit diegene wie jy weet boos en ondankbaar is en diegene wat jou misbruik, in. Selfs hulle sal jy soos jouself liefhê – met dieselfde dors dat hulle geluk sal ervaar. Gebruik dieselfde sorg om hulle te beskerm teen wat ook al hulle siel en liggaam hartseer of seer sal maak. Dit is liefde.

 

Hierdie kommentaar is deur John Wesley (1703 – 1791) geskryf. Hy was ‘n Engelse prediker en teoloog. Hy en sy broer, Charles, was die stigters van die Engelse Metodiste beweging. Hy het baie gereis – te perd – en het twee of drie maal per dag gepreek. Daar word gesê dat hy meer as 40 000 preke gepreek het. Hy was ook ‘n bekende skrywer van liedere.

Uit:  “The Two Great Commandments” in Renew My Heart: Classic Insights by John Wesley (Uhrichsville, Ohio: Barbour, 2011).

 

Verdere leesstof:

 “Law” in Concise Theology, by J. I. Packer.

 

Gebed:

Ons dank U, hemelse Vader, dat U ons nie in die donkerte laat rondtas sonder ‘n lig om ons die pad te wys nie. Ons dank U dat u Woord ‘n lamp vir ons voete en ‘n lig vir ons pad is. Ons dank U dat U die Heilige Gees as interne Vertrooster en Versterker vir ons gegee het – Hy wat u wet op ons harte skryf het en ons so in staat stel om u wet lief te hê en te gehoorsaam. Gee aan ons in toenemende mate die volheid van u Gees sodat ons ‘n lewe mag leef wat vir U tevrede sal stel. Alles tot heerlikheid van u grote Naam. Amen.

 

Hierdie gebed is deur John Stott (1921 – 2011) geskryf. Hy was ‘n Engelse Anglikaanse prediker wat vir baie jare as rektor van die All Souls Church in London gedien het. Hy was een van die hoofopstellers van die Lausanne Covenant (1974). Hy het baie boeke geskryf, insluitend Why I am a Christian en The Cross of Christ.

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 6

(Martin Luther).

‘n Nuwe Kategismus: Vraag 6

Vraag: Hoe kan ons God verheerlik?

 

Antwoord:  Ons verheerlik God deur Hom te geniet, lief te hê, te vertrou en deur sy wil, voorskrifte en wet te gehoorsaam. [Onderstreepte gedeelte is die antwoord vir kinders.]

 

 

Teksvers:

Julle moet die Here julle God liefhê en altyd sy opdragte gehoorsaam: al sy voorskrifte en bepalings en gebooie (Deuteronomium 11:1).

 

Kommentaar:

Die hele lewe van ‘n Christen moet net lof en dank aan God wees. Ons moenie eet of drink of slaap, maar ons moet tot God eet en werk en slaap en praat. Dit alles doen ons tot sy lof en verheerliking … Omdat ons alles van God ontvang, moet ons alles voor sy voete neerlê en sê: “Ek sal nie in sonde  wat vir U onaanvaarbaar is, lewe nie.” Ons verheerlik God as ons Hom in ons siel bo alle ander skepsels in die wêreld grootmaak; as ons aan Hom die hoogste plek  in ons liefde en vreugde gee; as ons alles op Hom gerig is. Ons sal nie God deur enige skepsel aanstoot gee nie. Ons vra in liefde: “Wie het ons in die hemel behalwe U?”

 

God is deur die verbond ons God. Elke gelowige het die titel Christen aan hom oorgedra – hy erf dit van God. Daar is baie meer gerusstelling in God ons God as wat die hart van die mens kan begryp. Dit is groter as die mens se hart. Daarom, al kan ons nie sê dat rykdom of eer of vriende ens. ons s’n is nie, kan ons wel deur die Gees sê dat God ons s’n is. Nou is sy wysheid ons s’n … onder die skuldlas van sonde is sy genade daar om ons te vergewe; in enige behoefte is Hy daar om vir ons te voorsien of om dit goed te maak. As God ons s’n is, is alles wat Hy kan doen ook ons s’n en wat Hy het, is ook ons s’n. God wil hê dat sy heerlikheid ons doel moet wees sodat Hy Homself aan ons kan gee.

 

Hierdie kommentaar is deur Richard Sibbes (1577 – 1635) geskryf. Hy was ‘n Engelse Puriteinse teoloog. In die vroeë 17de eeu staan hy in Londen bekend as the heavenly Doctor Sibbes. Hy was die leraar by Gray’s Inn in Londen en  meester  van Catherine Hall, Cambridge. Sy bekendste werk is The Bruised Reed and Smoking Flax. Hierdie kommentaar kom uit Divine Meditations  in The Complete Works of Richard Sibbes, Volume VII (Edinburgh: James Nichol, 1864).

 

Verdere leesstof:

 “Glory”, “Enterprise”, and “Holiness” in Concise Theology, deur J. I. Packer.

 

Gebed:

God gee dat ons almal van daardie gelukkige mense sal wees.  As ons God ons God kan noem, sal ons probeer, deur die Heilige Gees, om soos God te wees. Sy Goddelike beeld sal op ons siele gestempel wees; ons sal probeer om volgelinge van God, ons Vader, te wees. Of ons nou eet of drink of wat ons ook al doen, sal ons dit tot eer van God doen. Jy wat God joune kan noem, mag God jou van hierdie oomblik af help om Hom meer en meer te verheerlik; As God jou God is en sy liefde jou hart oorstroom, sal jy by elke geleentheid bereid wees om sy eer en heerlikheid te bevorder. God, wees U hulle God en gee dat hulle God hulle eer mag wees. Here Jesus. Amen.

 

Hierdie gebed is deur George Whitefield (1714 – 1770) geskryf. Hy was ‘n Engelse Anglikaanse predikant. Hy het 13 maal oor die Atlantiese Oseaan gevaar en vir 34 jaar preek hy in Engeland en Amerika (as deel van wat as die Groot Ontwaking bekend staan). Jy kon sy stem oor groot afstande hoor. Dit word gesê dat hy by geleentheid deur meer as 30 000 mense in die buitelug gehoor is. (Onthou dit was voor die dae van mikrofone!) Hy het in sy lewe meer as 18 000 preke gelewer. Minder as 90 het behoue gebly.

 

Hierdie gebed kom uit:  “Sermon LXXIII: God a Believer’s Glory” in Sermons on Important Subjects by the Rev. George Whitfield (London: Fisher, Son & Jackson, 1832), 764–768.

 

Copyright © 2012 by Redeemer Presbyterian Church